Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Genesis 28: 10 – 22 Dalk is God net anders as wat jy dink. Dalk verras God jou met hoe Hy is en met wat Hy doen. Daar waar jy dit nie verwag nie, op ‘n doodgewone aand of dag, dalk in hierdie week, beleef jy dalk net, hier staan God nou reg langs my. En anders as wat jy verwag is daar net liefde. Geen veroordeling. Nie ‘n enkele verwyt. Nie eers ‘n uittrap oor jou nuutste sonde nie. Al wat God doen is om jou te seën. Jy is oorweldig. JY is bang. Skielik is ‘n doodgewone plek vir jou ‘n heilige plek. Niks anders as die huis van God nie. Jy besef ek kan van hierdie God nie weg kom nie. Ek kan van mense af weg vlug, selfs van my verlede af, maar ek kan nie van God af weg vlug nie. En jy lê ‘n gelofte aan die Here af. Dit is ‘n menslike ding om aan God in die oomblik van krisis of paniek allerlei beloftes te maak. Byvoorbeeld as iemand naby jou sterwend is of ernstig siek is, of jy besef jou einde kom nader, dan sê jy goed soos as U, Here, my gesond maak dan sal ek dit of dat vir U doen. Of ek sal dit of dat gee … Luister maar na Jakob: As U my beskerm en vir my kos en klere gee en ek terugkom by my ouerhuis dan … en dan kom die beloftes, … dan sal U my God wees. Dan sal ek tiendes gee van alles wat ek inkry. Klink dit bekend? Ons moet net vanoggend bewus raak van waar is heilige plekke. Plekke waar jy in God kan vasloop. En oor geloftes. En ons elke dag se reaksie op God. 1. Heilige plekke Ek hoop jy hoor in hierdie gedramatiseerde weergawe van Jakob se storie dat God jou enige plek kan onkant vang. Dat doodgewone plekke heilige plekke word. Beter gestel: Gewone plekke is ook heilige plekke. God is oral. Jakob is besig om te vlug. Sy broer Esau het gereken sodra my pa oorlede is raak ek ontslae van my broer Jakob. Rebekka het dit te hore gekom. En nou is Jakob op die vlug. Hy vlug Haran toe. Haran is so 800km vanaf Berseba. Hy is stoksielalleen op 'n vreemde plek tussen niks en nêrens. Dit is duidelik dat toe dit sononder raak het hy ‘n geskikte plek gekry om te oornag. Net ‘n plek waar hy gedink het hy veilig sal wees. Hy het ‘n klip gebruik as kopkussing. Die woordjie “plek” word 5 keer herhaal. So asof jy dit net moet raaksien. Jakob se geskikte plek om te oornag word vir Jakob na die Here se verskyning by hom, ‘n skrikwekkende plek (vers 17). ‘n Geskikte plek om te oornag word skielik die huis van God. ‘n Plek vol geloftes. Jakob het God nie daar verwag nie. Dit is dood duidelik: Jakob het God nie daar verwag nie. God was in elk geval daar. Jy kan nie iewers kom of wees waar God nie reeds is nie. Aanvaar dit. Leef uit God se teenwoordigheid uit. Ons het nie sulke geloftes nodig soos wat Jakob ontvang het nie. Ons is reeds God se tempels. Christus is reeds in ons. Ons is God se geliefde kinders. Wat meer wil ons dan hê? 2. Geloftes God se gelofte aan Jakob is onvoorwaardelik. Geen as, maar’s of klein skrif nie. God neem die inisiatief. God kom staan by Jakob. God begin die gesprek. God gee sonder om gevra te word, ‘n belofte aan Jakob. “Ek is die Here die God van jou voorvader Abraham, die God van Isak. Ek sal die grond waarop jy lê, vir jou en jou nageslag gee. 14 Hulle sal so baie wees soos die stof van die aarde, en jy sal jou gebied na alle kante toe uitbrei, en in jou en jou nageslag sal al die volke van die aarde geseën wees. 15 Ek is by jou en Ek sal jou beskerm waar jy ook al gaan. Ek sal jou na hierdie land toe terugbring. Ek sal jou nie in die steek laat nie. Ek sal doen wat Ek jou beloof het.” Genesis 28:13-15 God praat verbondstaal hier. Hy is die God van Abraham en Isak. God herhaal die beloftes wat Hy aan Abraham al gemaak het, nou aan Jakob. In vandag se taal, die God van jou doop en die God wat by die nagmaalstafel is. Hy is die Vader van al die gelowiges. Dit is Hy wat nou hier by jou is. Ek bedoel dit letterlik op hierdie oomblik ook: God is nou hier by jou. Dalk het jy dit nie agter gekom nie? Hy is die God wat nie tuis gebly het by Jakob se ouerhuis nie. Hy het stil stil saam met Jakob beweeg tot hier. En hier, by ‘n gewone plek wat geskik gelyk het om te oornag, ontdek Jakob, God is nooit vêr nie. Die hemel en die aarde is baie naby aan mekaar. Die bedrieer ontdek iets vreemds. God hanteer nie mense soos hulle dit verdien nie. God hanteer mense volgens Wie God self is en volgens Sy beloftes van ewigheid af. Die Here gee vir Jakob 5 geloftes. En Jakob ontdek dat God van nuuts af oorbegin met hom. Kyk mooi na wat God sê. (verse 13 -15). “Ek is die Here die God van jou voorvader Abraham, die God van Isak. Ek sal die grond waarop jy lê, vir jou en jou nageslag gee. 14 Hulle sal so baie wees soos die stof van die aarde, en jy sal jou gebied na alle kante toe uitbrei, en in jou en jou nageslag sal al die volke van die aarde geseën wees. 15 Ek is by jou en Ek sal jou beskerm waar jy ook al gaan. Ek sal jou na hierdie land toe terugbring. Ek sal jou nie in die steek laat nie. Ek sal doen wat Ek jou beloof het.” Genesis 28:13-15 Wat sien jy? Hier is nie ‘n fynskrif nie. Geen voorwaardes. Geen “as dit of dit dan …” nie. Onvoorwaardelik. Ek sal doen wat Ek jou beloof het. Kom ons kyk na Jakob se gelofte aan God. 20 Jakob het toe 'n gelofte afgelê en gesê: “As U, o God, by my is en my beskerm op my reis en vir my kos en klere gee, 21 sodat ek behoue terugkom by my ouerhuis, sal U, Here, my God wees. 22 Hierdie klippilaar wat ek regop gesit het, sal 'n tempel wees, en van alles wat U my gee, sal ek vir U 'n tiende gee.” Genesis 28:20-22 “As”. Hy begin sommer met “as”. Jakob stel voorwaardes. As die Here dit en dat doen dan sal die uwe, dis nou meneer Jakob, God as sy God aanvaar. Dit is vir my die kersie op die koek, dat Jakob, wat is waar hy is, wat vlug vir sy lewe, omdat hy sy pa bedrieg het, so vermetel kan wees. Hy verdien tog sekerlik net mooi niks. En die Here, verdien die Here dit dat ‘n bedrieer vir Hom, die Almagtige sê: “as”, as U dit en dat doen … dan sal ek glo. ‘n Mens staan stom geslaan oor God se geduld en genade met ons almal. Jakob in kluis. God gee nie op op Sy plan met ‘n mens se lewe nie. Jy kan jou keuses maak. Hy sal jou vergewe en koers hou met jou maar die gevolge van jou optredes bly party keer ook by jou. In Jakob se geval het sou hy nog ontdek hoe dit is om aan die ontvang kant van bedrieg te word te wees. As hy dink hy trou met Ragel en dan is dit al die tyd Lea. Tog het God hom tussen deur geseën. 3. Hoe sal ons reageer vanoggend? Wat was Jakob se reaksie? Jakob het bang geword. Hy noem die plek skrikwekkend. Ja, die plek wat hy gereken het is ‘n veilige oornag plek is nou ‘n skrikwekkende plek. Die ontdekking dat God daar is en God hom ingehaal het, as ek dit so mag uitdruk, is sekerlik ontstellend. God is so groot, mense is nog altyd oorweldig deur Sy teenwoordigheid en het angsbevange geraak deur Sy blote teenwoordigheid. En dan dink mens aan Hebreers 10, eintlik die ganse Nuwe Testament, Jesus, God by ons en dan die Heilige Gees en nooit maar nooit is daar ‘n afstand tussen God en mens nie. Ons hoor van Christus in ons en ons in Hom. Ons wat God se tempels word. God wat teenwoordig is by ons. Immanuel. Dis groots. Ons is bevoorreg. Wat hartverskeurend is, is as ons nie ons geloftes aan God hou nie. Doopbeloftes. Belydenisafleggings beloftes. Ander geloftes. Nog erger: Dat ons nie die geleentheid om so met God te mag saamleef met albei hande aangryp nie. Dit is wat ons het om te doen. Om anders na die lewe te kyk. Om uit te kyk vir God en bewus te bly van Sy heilige teenwoordigheid. En ja, orals is eintlik heilige plekke. Mag die Here soos vir Jakob, ook ons nooit los nie.