Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
DEUTRONOMIUM 6: 1 – 15 Hierdie is ‘n ongelooflik belangrike deel. Dit is die Ou Testament se heel eenvoudigste stelling oor God en Sy mense. ‘n Mens kan seker sê dat dit die Ou Testament weergawe van Johannes 3: 16 – 18 is. Hierdie deel sê dit is ons ding die. Dit is hoe ons leef en beweeg. Dit is wat ons uit die bed uithaal elke oggend en moed gee vir elke dag. Dit sê presies wie ons is. So tussen al die rugby deur kan ons vir mekaar sê hierdie is die basiese goed wat ons moet reg kry. Hoekom ons glo en die hoekom ons hier kom bid en hoekom ons God aanbid. En hoekom ons lewens anders is as die res van die dorp en die land s’n is, is omdat: Ve'Shema Ya' Israel. Luister, Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here. Daarom moet jy Hom liefhê met hart en siel, met al jou krag. Ek raak sommer opgewonde as ek die deel lees. Want ek het kon sien wat die Here se liefde doen en ek kon die kruis “sien” en die opstanding. En ek, het saam met jou al soveel keer God se liefde beleef. Dink maar aan hoe die Here hierdie gemeente keer op keer gered het, versorg en ‘n pad met ons stap. Dink aan genesings en genade en lewe in oorvloed. En ewige lewe. Ek is opgewonde want ek sien hoe God se liefde al die aspekte van mense se lewens raak. En dit is wonderlik en positief en gee my tonne hoop. En as die opgewondenheid oor alles wat God doen en is, begin bedaar, dan lees ek weer die vers. En ek lees die voorreg raak om hierdie wonderlike God, wat kies om ons Vader te wees, te mag naleef in elke aspek van ons lewens. Om God te mag liefhê met ons ganse mens wees. En ek sien hoe in hierdie twee sinne die wêreld voor mens oopgaan. Die 2 sinne is ingebed in 'n deel wat die toekoms oop maak. Hier word vir die mense van toe, gesê, dat as jy die pad met God loop dan sal jou lewe goed afloop. In vers 3 belowe die Here voorspoed en seën. Oorwinnings. Alles gebou op a) gehoorsaamheid, stiptelike gehoorsaamheid en b) God se liefde vir jou (hfst 7). En ja, daar sal vyande wees wat verdryf moet word. Wat my opgewonde maak is die besef dat God 'n God vir mense is. Kyk maar: Hy is die God van ons voorvaders (vers 3). As die Here Hom aan Moses bekendstel dan sê Hy nie Hy is die Almagtige, Skepper van hemel en aarde nie. Hy doen nie die powerplay ding nie. Hy sê Ek is die God van Abraham, Isak en Jakob. Hy is die God van oupas en oumas, ouers en kinders. Hy is die spesialis as dit by jou en my kom. En Hy het jou lief. Sy hart klop warm vir jou en my. Hy is ook nie die God wat van ver af toekyk nie. Hy is die God wat by Abraham was, en by Isak en by Jakob en by jou en by my. Hier! By ons! Tot aan die voleinding toe. Hy is hier daarom is ons hier om Hom te aanbid. Kom ons breek die sinne op: Luister. Die Here IS ons God. Daarom. 1. Luister. Ek weet ons leef in 'n tyd waar elkeen maak soos hy of sy wil. Mense wil nie voorgesê word nie. Hulle wil nie vertel word hoe om te leef en wat om te doen of nie te doen nie. So hoekom sal ons in hierdie geval luister? Wel, ek sal Sy elke Woord wil indrink, soos wanneer ek ‘n groot dors het, sal ek Sy woorde wil indrink want Hy het die woorde wat ewige lewe gee. (Joh 6: 68) Hy is die God wat gee. Hy gee Sy Seun. Hy gee lewe. In Deutronomium luister ons na die God wat vir Sy mense grond gee. Wingerde, stede wat hulle nie self gebou het nie, huise vol voorraad. In Johannes 10 is Hy die goeie Herder wat lewe in oorvloed gee. Hy is die God wat vir Sy mense sorg. God bly nie net by woorde nie. Geen leë beloftes nie. Hy bly getrou al is ons ontrou. Hy gee eN Gee eN Gee. Daarom: Luister na die Here. Leer opnuut om Sy wil te soek. Leer weer om werklik te luister. Te luister met die doel om te gaan doen. Want ons het geleer dat God beter as ons weet hoe om vandag ons eie lewe te leef. En more luister ons weer. Daarom volg ons Hom. En ons volg die Here ... omdat ons Hom lief het. Ons dryf nie ankerloos op hierdie aarde nie. Ons het 'n God. Hy is die enigste God wat regtig leef. Al die ander goed waarop mense hulle hoop plaas, werk nie. Dit kan hulle nie red as hulle die dood in die oe kyk nie. Maar God kan. Dieselfde Here wat vir Paulus, toe hy moed opgegee het en gedink het “nou is dit klaar met my”, gered en gespaar het vir nog 'n klompie jare (2 Kor 1) Ons vertel nie genoeg vir mekaar en vir ander wat God in ons lewens doen nie. Ons is stil oor die deure wat God oop maak, oor uitkomste en bederfies wat Hy ons gee. En Sy liefde deur mense oa aan ons bewys. Ek het dit weer eens in hierdie week beleef. God se kinders wat ‘n verskil maak in my lewe. Kom ons gaan kyk hoe kan ons elke dag iemand anders se lewe mooier maak. Dat hulle God ook so mag beleef. Omdat God liefde is. En meer spesifiek: omdat Hy ons God is. 2. Die Here is ons God. Dis persoonlik. Persoonlik soos in die Nuwe Testament mooi raak gevat word: 'n Vader kind verhouding. Hy is ons God. Ons dien Hom. Ons gehoorsaam Hom. Kan ek dit weer sê want dit is baie belangrik: Jou kind en jou huismense moet weet: God is ons God. Ons leef vir Hom. Niks anders is vir ons so belangrik soos Hy nie. Jy kan dit sien in ons keuses en jy kan dit sien in ons prioriteite. Ons kies vir wat vir God belangrik is. Want Hy is ons Vader. Ons volg Hom. En daarom kom ons niks kort nie (Ps 23). Deutronomium 6 help ons hoe om dit by ons gesinne tuis te kry. Ons geloof in ons God, ons vertrou in ons God, ... is ... die inspirasie vir hoe ons ons werk doen. Dit is die dryfveer vir alles wat ons aanpak. Dit gee rigting aan hoe ons tussen mense leef. Dit is ons identiteit. Dit bepaal ons bestaan. Ons hou dit altyd voor oë. Nie op kunsmatige maniere nie. Ons bind nie goed om ons polse vas, soos Israel van ouds nie, ons wys dit in ons keuses en in ons gedrag en jy hoor dit in ons woorde echo. Kinders doen soos jy doen. Hulle praat soos ons praat. Hulle loop soos ons loop. Hulle probeer klein kopiee van ons wees. Want hulle het ons lief. En hulle dink ons is die beste (okay net tot hulle tieners is en dan eers baie jare later weer.) So moet ons ons hemelse Vader naboots. En as jy hier vashak ... en nie prakties weet hoe is Hy nie, gaan lees die evangelies en kyk hoe het Jesus gedoen, en hoe het Hy teenoor mense gevoel. Kyk hoe het Jesus mense hanteer en hoe het Hy oor ander gepraat. Kyk veral die bergrede in Matteus 5. Jesus wys vir ons hoe die Vader is. Boots Hom na. Boots Hom na soos jou kleuter jou naboots. Net omdat jy die Here jou God lief het. Ons het Hom innig lief. 3. Daarom. Daarom het ons God lief. Dit is moeilik om te weet hoe om God lief te hê. Hy is 'n Wese. Gees. Anders as ons en ons het niks om Hom mee te vergelyk nie (Jes 40: 18, 25; Ps 86: 8, 89:7). Daarom sê die Here ons hoe lyk liefde teenoor Hom. En dis eenvoudig. Niks of niemand kan ooit vir jou belangriker wees as Hy nie. Hy moet die een wees waar jou hart is. Jou alles moet om Hom draai. Hy is die Een na Wie jou gedagtes dwaal in die loop van die dag. Die ding wat ons definieer en anders maak is ons liefde vir God. God is nie ons stokperdjie nie. Hy is die Een op Wie ons ons energie rig, Hy is die Een vir Wie ons voel ons nooit ooit genoeg sal kan doen nie en daarom hou ons aan om onsself vir Hom te gee. Dis nie vir ons swaar of 'n straf om dit te doen nie. Niks is vir ons teveel gevra as dit by die Here kom nie want ons het Hom lief met ons hart en siel en met al ons krag. Ons het God lief. Wat ons doen, doen ons vir die Here.