Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
JOHANNES 8: 21 – 30 Fokus op verse 26 ev 'n Vlienier het eendag geoefen om net met sy instrumente te land. Die beheer toring het vir hom mooi helder en duidelik 'n roete gegee tussen twee bergpieke deur. Die twee bergpieke is taamlik naby aan mekaar gewees. Daarna is dit tussen hoë geboue deur en dan in vir landing. Die vlieenier het vir 'n oomblik paniekerig geraak en gevra: Herhaal asb die roete aanduiding. Waarop die toring hom geantwoord het: Volg jy net my instruksies en ek sal sorg dat jou obstruksies nie 'n probleem raak nie. Is dit nie wat die Here vir ons sê nie? Volg jy My Gees se leiding en jy sal okay wees. Ek weet dit vra vertroue in God. Die soort vertroue wat God sal volg deur vuur, oor obstruksies, selfs op 'n roete wat nie sin maak en jou laat wonder “het ek reg gehoor?” ... tot jy veilig land voor Sy troon. Helder en duidelik hoor is meer kere ons probleem. 'n Vlienier se radio se sein kan opbreek. En as dit gebeur dan kan hy nie die aanwysings mooi hoor nie. Ons almal het al iets soortgelyks beleef met ons selfone. Jy verloor sein en dan hoor jy net so elke derde of vierde woord van wat die ander persoon sê. Maar hier is nou die probleem. Die Heilige Gees woon in ons. Hier is niks waar seine kan wegraak nie. Hoe is dit dat ons nie ons Vader se stem hard en duidelik kan hoor en herken nie? Die antwoord lê in die volgende vraag: 1. Wie sit in jou beheertoring? Wie neem die besluite in jou lewe? Wie dikteer wat gaan gebeur? Jou antwoord gaan sê wat al die steurings veroorsaak. In ons storie is die regte een die beheertoring. Vir baie mense is gemak wat bepaal wat hul besluit. Gemak en begeerte dalk. Wat as ek sê: Daar is dit wat jy wil. Daar is dit wat ek wil. En dan is daar dit wat God wil. Wie se wil gaan ons doen? Joune? Myne? God se wil! Wat dit nog moeiliker maak is ons behoeftes en drange. Ons is geneig om slawe te wees van ons behoeftes. As jy honger is eet jy. As jy dors is dan drink jy. As jy koud kry trek jy warmer aan. Besluite word geneem volgens behoeftes en drange. Vir ander is erkenning. Byvoorbeeld: Hulle jaag die een sukses na die ander na net sodat hulle pa dalk sal sê: Ek is trots op jou. Dit selfs lank na die pa oorlede is. So 'n mens verstaan dit nie. Hulle gaan net aan: jaag die een sukses na die ander na sonder om ooit tevrede en gelukkig te voel. Onbewustelik speel die goed 'n rol in jou besluite. Johannes het geskryf (1 Joh 2:16) “Die wêreldse dinge – alles wat die sondige mens sien en begeer, al sy gesteldheid op besit – kom nie van die Vader nie, maar uit die wêreld. En die wêreld en sy verleidelike dinge gaan verby, maar wie die wil van God doen, bly ewig lewe.” Miskien moet ek gaan byvoeg by dit wat ons aan die begin gesê het: Daar is dit wat jy wil. Dit wat ek wil. Dit wat die wêreld wil. En dit wat God wil. En nie een van ons kom agter dat ons die vryheid het om te kies vir dit wat van die wêreld is of vir dit wat God wil. Kom ek wys ons op ‘n beter alternatief. Ek wys hoe dit gedoen moet word. 2. Hoe het Jesus dit reg gekry? Hoe het Hy dit oorkom? Hoe het Jesus dit oorkom? Hoe het Jesus, as mens op aarde, dit reg gekry om te weet wat God wil hê? En hoe het Jesus dit reg gekry dat God so volledig deur Hom kon werk? Jesus het nie geval vir dit wat die mense wou hê nie. En Jesus het ook nie gegaan vir dit wat Hy wou hê nie. Vir Jesus het dit abosluut gegaan om wat wil God hê. Dink maar aan Sy angstige gebed in Getsemane … U wil nie My wil nie. Jesus het dit oor en oor vir die Jode gesê: Toe het Hy Hom verweer en vir hulle gesê: “Dít verseker Ek julle: Die Seun kan niks uit sy eie doen nie. Hy doen maar net wat Hy die Vader sien doen; wat die Vader ook al doen, doen die Seun ook net so. (Joh 5: 19) “Uit my eie kan Ek niks doen nie: Ek oordeel soos Ek dit van die Vader hoor, en my oordeel is regverdig, omdat dit nie my wil is wat Ek nastrewe nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het.“ (Joh 5: 30) Miskien moet ons eers by die punt kom waar ons besef ons kan niks sonder God doen nie. Solank ons alles soos 'n kleutertjie self wil doen en sonder hulp, gaan ons vasgedraai bly waar ons is. Hoe meer ons uit God en onder Sy leiding alles in ons lewens probeer doen hoe gouer gaan die lewe in oorvloed waarvan Jesus gepraat het deurbreek in ons lewens in. Kyk na Jesus se gesindheid ... Sy lewensuitkyk in die volgende vers: “Ek het van die hemel af gekom nie om my wil te doen nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het.” (Joh 6: 38) “Ek kan baie dinge oor julle sê en 'n oordeel oor julle uitspreek; maar Hy wat My gestuur het, is geloofwaardig, en net wat Ek by Hom gehoor het, sê Ek vir die wêreld.” (8:26) “Daarna sê Jesus vir hulle: “Eers wanneer julle die Seun van die mens verhoog het, sal julle begryp dat Ek is wat Ek is, en dat Ek niks uit my eie doen nie, maar net verkondig wat die Vader My geleer het.”(Joh 8:28) Wat was Jesus se benadering tot alles? Die Vader se wil ten alle koste. Jesus het duiwels uit gedryf, siekes gesond gemaak, wind laat bedaar, storm gestil en en en ... en ons wat dit nie kan nadoen kies ons wil en nie soos Hy die Vader se wil in alles nie. Maak net nie sin vir my nie. 3. Die gevolg van 'n God-beheerde lewe. Kyk na Jesus se stelling en sê my hoekom is God altyd by Jesus? (Joh 8: 29) Jesus het hierdie stellings gemaak tydens gesprekke met die Jode. Kyk en sê my wat jy sien: “Hy wat My gestuur het, is by My. Hy het My nie alleen gelaat nie, omdat Ek altyd doen wat Hy wil.” (Joh 8:29) Ons is intelligente mense. Dink self: Is daar 'n verband tussen ons gehoorsaamheid aan God en ons vermoe om God se stem te hoor? As ons vlienier (van die begin van die diens) nie in mooi weer ingeoefen het om die beheertoring te vertrou en hulle aanwysings slaafs te volg nie ... hoe sou hy dit regkry in digte mis of ander noodtoestande? As ek nie elke dag die Vader se wil vir my soek in elke aspek van my lewe nie, hoe gaan ek dit gedoen kry in krisis? Hoe gaan jy 'n verhouding met Hom kan hê? Ek sien in vers 29: Jesus het net gedoen wat Hy by God gehoor het. Hy het net gesê wat Hy by die Vader gehoor het. Jesus het die Vader se wil netso geleef soos in die hemel. DAAROM het Hy by die Vader beleef wat Hy ervaar het. “Omdat Ek altyd doen wat Hy wil”. Wil jy rerig God se stem ken en kan onderskei wat is van God en wat nie, wat is Sy wil en wat is maar jou eie onderbewuste wat raas? Doen wat God wil. Begin in die klein dinge die Bybel leef. Amen.