Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
2 TIMOTEUS 1: 1-11 ‘n Huis is ‘n ander ding. Dit het ‘n lewe of ‘n wil van haar eie. Dit wil opgepas wees en vra baie aandag. En as jy haar ignoreer kry jy groter en meer probleme. Ry jy deur Deneysville dan sien jy wat ek bedoel. Daar is nuwe huise wat amper oornag opskiet. En dan vir maande staan die bouwerk stil. Soms jare. Daar was jare terug ‘n groot ontwikkeling maar staan steeds leeg. En jy sien hoe die verval intree. Ek self het hierdie week ‘n lysie deurgewerk aan goed in en om die huis wat moes reg kom of net die normale aandag moes kry. So skiet daar in my voorbiddingstyd ‘n vraag my te binne: Is ’n huis ooit klaar gebou? Word daar nie in alle huise van tyd tot aangebou of mure uitgebreek? Matte vervang of die hele kombuis oorgedoen? ’n Verflaag of twee gebeur meer dikwels. Dis lekker om soms hierdie programme te kyk of Youtube videos waar huise oorgedoen word, of bouvalle omskep word in mooi wooneenhede. Wat my by my punt bring: Ek dink nie ’n huis is ooit kant en klaar gebou nie. ’n Huis is altyd in die een of ander stadium van voltooing, maar nooit klaar nie. Ek en jy is die huis wat God eienaar-bouer voor is. Ek praat nou van ons eie lewens. En dalk ook sommer van ons as gemeente. As ons dan bestek wil opneem dan vra ‘n mens: Waar in die bou proses is ek? Waar trek God in Sy opbou van ons as gemeente? Elkeen individueel maar ook ons almal saam as een deel van Sy liggaam. Is daar nog bou-bedrywighede? Of het jy alle verdere aanbouings of selfs instandhouding begin staak? Dink aan jou huwelik. In die begin het alles asof vanself gekom. Dit was ’n plesier om mekaar te help en vir mekaar dinge te doen en saam tyd te spandeer. Maar later word dit werk en verpligting en nog later maak soveel werksdinge indruis op mens se verhouding dat julle nie meer die basiese goed doen wat ’n verhouding instand hou nie. Maw die bouwerk het tot stilstand gekom. En as dit te lank voortduur dan volg ... (murasies) Dit geld netso tov ander fasette van jou menswees. As jy nie aanhou met die opbou proses nie dan kom alles tot ’n stilstand, jy hou op met groei en ... Wat die Here ons vandag aan wil herinner is dat ons nie moet ophou bou nie. Maak nie saak wat nie. Daar is altyd ruimte vir verbetering. (“The biggest room in the house is the room for improvement”) Die jong Timotheus wou knak onder die druk van vervolging. Hy het moed geskep uit Paulus wat as geloofsreus hom gedra het. Met Paulus in die tronk raak dinge teveel. Paulus het agtergekom dat Timoteus tot stilstand gekom het. Sy bouwerk het gestop. En nou skryf Paulus aan hom om hom te bemoedig. Hy sê vir Timoteus, verskuif jou fokus. Hou op kyk na wat om jou gebeur en wat negatief op jou inwerk en die lewe vir jou moeilik maak. Fokus op jou roeping. Raak weer besig met dit wat God jou voor geroep het. Vers 9 sê dan mooi waarvoor ons geroep is. Ons is gered met ’n doel. Gered loop hand aan hand met geroep. Jy word nie net gered twv gered wees nie. Jy word gered EN geroep. Gered wees is geroep wees. En geroep wees vereis gered wees. Ons word gered en geroep om aan God toegewy te wees. Het jy dit raak gehoor? Lees dit dalk self! Vers 9. 9 Hy het ons gered en ons geroep om aan Hom toegewy te wees. Dit het Hy gedoen, nie op grond van ons dade nie, maar op grond van sy eie besluit en die genade wat Hy van ewigheid af in Christus Jesus aan ons geskenk het. 2 Tim 1:9 Die Here sê: Ons is hier – gered en geroep – om aan Hom toegewy te wees en nie anders om nie. Ons lewens moet gefokus wees op Hom en wat Hy wil hê en nie op hoe ons Hom kan kry om te doen wat ons graag wil hê nie. Dis belangrik en ek wil dit herhaal. Ons is gered en geroep om ons lewens aan God toe te wy. Ons is NIE gered en geroep sodat God aan ons toegewy kan wees nie. Party keer klink ons gebede so. Timoteus was geroep om soos Paulus prediker en leraar te wees. Wat ons betref – kyk na vers 6 – jy is geroep om met jou genadegawes te dien. So hier is dit hoe dit werk: 1. Stof jou geloof en jou redding af. Onthou weer dat jy sondig en verlore was en dat net Jesus se kruisdood en genade jou gered het. Wat jy nou is is uit en uit Sy genade. 2. Stof jou roeping af. Gaan dien God met jou gawes daar waar jy werk, speel, bly en kuier. 3. Besef God het jou gegee wat jy nodig het om stap 1 en 2 te kan leef. Nie net het die Heilige Gees vir jou genadegawes gegee nie maar Hy het jou ook volgepak met die nodige krag en liefde en selfbeheersing. (Die vermoë om vir jouself nee te sê). Dalk ook om nee te sê vir die gedagte dat God vir my daar moet wees maar ek hoef nie voluit vir Hom te leef nie! Ons het nou eers na onsself gekyk. Ons het elkeen onder God se vergrootglas beland. Nou sit Hy ons bymekaar en onder die vergrootglas. ’n Groepfoto as jy wil. Hoe sien die God die gemeente. Hoe sien Hy ons waar ons saam is. Ons is die tempel van die Heilige Gees. Is ons die beste wat ons kan wees vir Hom? Moet ons nie weer opnuut begin verbou en verbreek nie? Kan jy nog onthou wat God met die christene in Jerusalem gedoen het na die hemelvaart? Toe hulle mekaar lekker warm gebroei het in Jerusalem en nie uit hulle gemaksones wou beweeg – uit na almal wat nie die Here ken regoor die wêreld nie? Hy het vervolging toegelaat en hulle is deur die vervolging uit Jerusalem gedwing. Hulle het gevlug vir hulle lewe reg oor die wêreld in. En so het hulle die woord begin gehoorsaam. En ek wonder of die tye waarin ons leef nie oor ons gekom het sodat ons weer toegewy aan God kan leef nie. Die misdaad, die armoede, die middelklas wat aan verdwyn is, die swak regering, laat God dit toe om ons te dwing om weer kerk van Christus te word en nie kerk van mense nie. Om weer as gemeente te begin bou aan dinge wat vir God belangrik is. [Wys halfgeboude huis] Wie sal hierin wil bly? Nou toe laat ons begin werk. As elkeen sy haar deel doen dan word die liggaam opgebou in liefde en tot geloofsvolwassenheid. (Efes 4). En ja, dis nie ’n tyd vir bang wees en terug staan nie maar juis ‘n tyd om aan mense die hoop van Christus te bring. Juis ’n tyd om vir mense te sê al maak hierdie land of jy minderwaardig is – jy is vir God belangrik. Dis juis ’n tyd om mense uit te nooi om saam met jou te kom deel in Sondagoggende se ontmoetings met God, of in jou bybelstudiegroep of gebedsgroep. Dis juis die tyd om vir mense te sê presies wat Jesus vir jou beteken. God het jou reeds die krag gegee om dit te gaan doen. Ook die liefde en die selfbeheersing. Ons kan. Want ons is gered en geroep en aan Hom toegewy. Kans om met God in stilgebed te praat.