Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
JOHANNES 15: 1 – 8 Dit is winter. Al is die grasperke vreemd genoeg nog groen, lyk my vrugtebome dood. Die blare het afgeval. Dit lyk regtig of daar niks aangaan nie. Maar nou is die tyd om kompos in te werk. En oor ‘n ruk moet ons begin bome snoei. Deurlopend moet ons dinge doen, die nodige voorbereidings tref sodat wanneer die lente kom, en later oestyd kom, daar ‘n goeie oes van vrugte sal wees. Min dinge is so frustrerend, so telleurstellend as oestyd kom en jy dink jy het mooi vrugte en jy ontdek dis alles vrot. Ook wat dit betref moet ons voorsorg voor tref. Om dit nie te doen nie is om kortsigtig te wees, God, ons Vader is nie kortsigtig nie. Ons kan God nie blameer as hier niks aangaan nie. As hier nie vir Hom ‘n oes is nie. Hy snoei ons. Hy versorg ons. Hy gee ons krag. Hy bly deur Sy Gees in ons. Hy bewaar ons van die bose. Hy lei ons weg van versoekings af. Wat beperk die oes? Of, wat bederf die oes? Onversorgde wingerdstokke met wilde lote. Bome wat wild groei en al die energie gebruik in groei en self groot word in plaas van om te fokus op vrug dra. Bome, wingerdstokke wat nie versorg word teen peste en plae nie. Waar die pestelensies kan kom en maak soos hulle wil. Hier is ‘n geheim. Of noem dit die sleutel. • Bly in Jesus. Jy in Hom en Hy in jou. • Laat God jou snoei. • Dit gaan nie oor jou nie. ‘n Boom eet nie sy eie vrugte nie. ‘n Loot ook nie. As Jesus dan die wingerdstok is in Sy beeld, dan sien jy die vrug wat Sy lewe as mens op aarde, gedra het en ons het die vrugte kon geniet. Nie Hy nie. Ons. Ons het die vrug van Jesus se lewe geniet. Nou is dit vir ons om in Hom vrug te dra vir ander om te geniet. Ons dra vrug vir God. ‘n Stroom drink mos nie haar eie water nie. Nou kan jy dalk dink: Maar vers 7. Wat van vers 7? 7 As julle in My bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry. Joh 15:7 Kyk, “vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry.” Dit gaan dan mos oor ons! Dit is waar geloof godsdiens word. Waar geloof skeefgetrek word, verwronge word. As dit oor jouself gaan. Waar dit in hoofsaak gaan oor wat ek hier uit kan kry. Wat ek geniet. So vertel ‘n pa my eens op ‘n tyd, hy is ook nou al oorlede, sy dogters dink hy is ‘n OTM. Want as hulle hom sien wil hulle geld hê en al wanneer hy hulle sien is … as hulle geld wil hê. Hy was lief vir hulle so, dit was, neem ek aan, tong in die kies gesê. Ek is ernstig as ek sê: God is met alle respek gesê nie ons OTM nie. God is die eienaar van die wingerd. Jesus is die wingerdstok. En ons, ons is altyd die vrug, die oes, ook die vroeë vy wat God by ons kom soek. Dink maar aan Jesus wat daardie vyeboom verdroog het omdat daar nie eers ‘n vroee vy aan was nie. Hier is die onpopulêre siening: Ons lewe draai om God en om diens aan God. En nie andersom nie. So, moet nie vaskyk teen “vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry.” Dit gaan van die begin af oor God en Sy Skepping en Sy vreugdes. God laat Sy koninkryk kom. Hy bou Sy koninkryk deur ons ... Kyk maar na vers 8: Dit gaan oor die Vader en die Vader word verheerlik as die Here vir ons die dinge gee wat in lyn is met wat Jesus gedoen en geleef het. En die Here gee die dinge wat ons vra as ons in Hom bly en Sy woorde in ons bly. As ons leef vanuit Sy woorde. As ek dit wat ek lees in die Bybel, leef. Ek het nie druiwestokke nie, so ek praat maar van vrugtebome. As my vrugtebome kon praat en vir my vra vir bemesting, water, en om die goggas weg te hou. Gaan ek dit ignoreer? Of gaan ek alles doen om hierdie mooi oes aan die bome te hê net sodat die boom kan goed voel oor haarself? Nee. Dit gaan oor die oes. En ons wil graag genoeg vrugte aan ons bome hê sodat ons kan uitdeel. Vir ander kan gee. So, gee God ons … om ander te help. Soos God Sy Seun gegee het twv ons. Nou leef ons Christus by ander. Nou dra ons die vrug van Jeus se lewe en offer by ander mense. Ons is lig, sout twv ander. Ons dra die vrug van die Gees, liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Gal 5:22-23. En dit is so ‘n mooi vrug dat mense dit raaksien en begin voel maar ek wil dit ook hê. En ja, dit is die vrug van die Gees, letterlik, dit wat die Heilige Gees in ons bewerk. Dit pas presies in by Jesus se beeld: As ons in Hom bly en Hy in ons dan sal ons baie vrug dra. Dan sal die Heilige Gees dit in ons voortbring. Mag ek weer sê? Dit gaan oor God. Die klem is op ons wat vrugte dra vir God. Ons wat die dinge doen wat God wil sien. Die Vader in die deel, ... is die Een wat ons snoei waar nodig ... en ons versorg met die oog op die groot vrugte-oes wat ons kan lewer vir Hom. Die Vader gee vir ons dit wat ons nodig het sodat ons kan vrug dra. Kyk na ons voorbeeld: Jesus. Jesus is die ware wingerdstok. Hy eer die Vader. Hy doen net wat Hy by die Vader gesien het en sê net wat Hy by die gehoor het (Joh 5: 19). Vir Jesus het dit absoluut om die Vader gegaan. In Johannes 15 sien mens weer die verhouding met die Vader. Die Vader is altyd waar Jesus is. Hier is Hy die boer. Jesus is die wingerdstok en ons die lote. Soos Jesus in die Vader bly en Hom verheerlik moet ons in Jesus bly en ook so die Vader verheerlik. Kan ek dit maar weer sê: Dit gaan nie oor ons nie. Die klem is op vrugte dra. Soos 'n boer sy wingerd fyn dop hou en alles moontlik doen om seker te maak dat elke wingerdstok die beste drag kan lewer ... so is dit met die Vader en ons. Die versoeking is om te dink oor waar ons onnodige groei krag in ons lewens verkwis. Watter dinge keer dat ons nie die mooi voortbring wat God soek nie. Dit klink na 'n goeie idee maar ... Die probleem is ons wil besluit ... En dit is nie vir ons om te besluit nie. ‘n Boom, ‘n wingerdstok sê nie snoei my hier of snoei net daardie tak nie. Dit veg daarteen. Netso is dit vir ons om in Jesus te bly en Sy leiding en Sy krag te ervaar. En om dan vanuit die krag wat Hy gee te groei en vrugte te lewer. Vrugte het nie 'n definisie in hierdie deel nie. Dit lyk ook nie vir my of Jesus die klem wou lê op 'n lys van moets en moenies nie. Want dan sou ons in die moets en moenies opgegaan het en nie in Hom gebly het nie. Paulus is later aangestel om sulke lysies te plaas as rigting gewers. As jy 'n definisie soek, blaai dan terug na Joh 14: 12 “sal ook die dinge doen wat Ek doen; en hy sal nog groter dinge as dit doen.” Kom ons fokus op die “in” wees in Johannes 15. En “in” bly. Dit gaan oor te leef intens bewus 'n nuwe verhouding met Jesus waardeur dinge moontlik kan raak. Bly, die woordjie “bly” wat met herhaling hier gebruik word, wie in My bly en Ek in hulle, soos dit hier in die Grieks gebruik word, beteken, 'n aksie wat aanhou. Om aan te hou met ‘n aktiwiteit of aan te hou bly in ‘n sekere toestand. Om hierdie aksie van “bly in Jesus” oor en oor te aanhou herhaal. Dit is om konstant in afhanklikheid van en uit die Here te leef omdat ek nie sonder Hom kan of wil nie. Deel hiervan is dat Jesus ook in jou moet bly. (Vers 4 en 5 en 7) Met herhaling word gesê dat ons in Hom moet bly en Hy in ons. Vers 7 sê Sy Woorde moet in ons bly. Maw ons moet Sy woorde leef. Gehoorsaam doen wat Hy sê. Soos ‘n boer beter weet as sy wingerdstokke wat vir hulle goed is, wat afgesny moet word en wat nie, so weet die Here beter as ons wat nou Sy lote is, hoe ons ons eie lewe moet leef. Vers 7 en 8 sê: As ons nie in Jesus bly en Hy in ons en as Sy woorde nie in ons leef nie, sal ons nooit as te nimmer vrugte dra nie. En sal die bietjie wat daar is, waarskynlik vrot wees vanweë verkeerde versoekinge wat geduld is. Mooi gesonde vrugte is wat God verheerlik. Meer as ons sang en mooi gebede. Vrugte gedra wat God verheerlik is wat belangrik is. Kyk gerus weer na vers 7 en 8: 7 As julle in My bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry. 8 My Vader word juis daardeur verheerlik dat julle baie vrugte dra en my dissipels is.” In Joh 13:31 ev lees ons dat die Vader verheerlik is deur wat die Seun gedoen het. In Johannes 15: 8 volg die logiese dat die Vader verheerlik word deur dit wat die mense doen wat in Sy Seun bly. En weet jy wat ontdek ‘n mens ... jy ontdek dat God vir jou keurig en met sorg versorg. God sorg vir Sy wingerd. En God bederf dikwels Sy kinders ... vir ons. Daarom kon Dawid so mooi skryf in Psalm 23: “Ek kom niks kort nie.” Onthou jy nog my beeld van as my vrugte boom kon praat? Wel ons ontdek dat God ons gee wat ons nodig het. Dat God gee dit en meer wat ons help om in Jesus te bly en vrugte te dra en meer. En God versorg ons en gee vir ons Jesus en Sy Heilige Gees. Daar waar ons in Jesus bly en Hy in ons. Daarom moet ons meer gaan dink en bid oor verse wat gaan oor Jesus in ons. En meer leef bewus van maar Hy is in my en ek kan leef uit Hom uit. Meer bid vir Hom om ons te lei want ons glo Hy is die weg. En Hy is die waarheid en Hy is die Lewe. In Christus is ons nie meer niks nie. Ons kan vrug dra.