Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
EFESIëRS 5: 21 – 32 Vanoggend is vadersdag. Ek het vir jou ‘n uitnodiging. Nie ‘n Uitnodiging na iets groots nie maar ‘n uitnodiging om groots te word. Ons het God ons Vader geloof en bewonder. En nou ontvang ons die uitnodiging wat God se Seun vir ons gemaak het. Ja, dis ‘n oorbekende deel. En ja die meeste mense lees dit verkeerd. Meeste van ons weet soms moet jy om ‘n ding loop, bv as jy ‘n kar koop. En dan kyk jy ook van onder af kyk en selfs van bo af. Want elke kant lyk dalk net anders. Ons lees die Bybel te veel in terme van moets en moenies. Selfs in terme van reg en verkeerd. En veral wat hierdie deel betref: Kyk ons teveel in terme van wie kom beter daaran af en wie slegter. Jesus het ons vrygemaak. Jesus het die swaar las van godsdiens, al die reëls en regulasies wat mense so van hou maar nie self wil hou nie, weg gevat. En Hy het ons uitgenooi om God werklik net lief te hê en daarmee saam die mense wat ons pad kruis lief te hê soos Hy, Jesus, ons lief het. Die Bybelskrywers laat ons keer op keer na God kyk en dan sê hulle, wees jy ook so. Bv “Wees heilig want Ek is heilig.” Die “Ek” is dan ons hemelse Vader. Vanoggend word ek en jy as pa’s uigenooi om soos Jesus te wees in ons huisgesinne. Die uitnodiging sê vir ons eers hoe Jesus met Sy gemeente leef en dan, sodra ons dit snap, word dit deurgetrek na ons huwelike toe. Kom ons kyk eers na die Here se voorbeeld. Jesus gee Sy lewe. Hy offer alles op. Hy hou nie terug in Sy liefde nie. As dit by jou en my kom, by Sy kerk is niks teveel gera nie. Hy gee letterlik Sy lewe in een van die wreedste teregstellings as offer vir ons sondes. Maw Jesus gee Sy lewe om reg te maak wat ons verkeerd gekry het, vir ons foute en die hartseer selfs wat ons God aangedoen het. Al die rykdom en glans van die hemelse; die mag en die heerlikheid by die Vader waar Jesus aan die regterhand van God op die troon in beheer was. Wat Jesus nie doen is om te redeneer dat mense is almal deur Hom geskep (Joh 1) en vir wat sal Ek nou soos een van hulle word. Jesus is soveel groter as dit. Sy liefde ook. En Hy kies om gebore te word as ‘n mens en om mense te kom dien. En hier op aarde? Op aarde geen roem, geen gemak, geen mooi luukse paleise – net teenkanting en verwerping deur Sy eie mense. En uiteindelik die kruis. Onskuldig, so het die aardse regter in sy uitspraak verklaar, sterf Jesus om vir jou sondes te betaal. Om jou te red. Weet jy wat? Nêrens vra ons Hemelse Vader van ons enigiets wat enigsins die opoffering vra wat Jesus moes maak ter wille van jou en my nie. Wat God wel vra is kom word soos My Seun. God nooi ons in Sy gesin in. En nou nooi Hy ons uit om ons gesinne te hanteer soos Jesus vir ons wys hoe. Maar Jesus was nooit getroud nie? Maar Jesus se kerk is Sy bruid. En as ek so begin kyk dan besef hier word net 'n wonderlike voorreg vir ons gegee. Ons het 'n wonderlike geleentheid. Dier Here gee vir ons die kans – die voorreg om Hom na te boots – om Hom te modelleer – in ons huise. Die Here vra dit van jou meneer, en van my – van ons as mans – kom vra Hy – gaan maak My sigbaar in jou huis. Gaan wys vir die vrouens en kinders hoe Ek, jou Here en Verlosser, My lewe vir jou gegee het. Gaan leef dit teenoor jou gesin sodat hulle kan voel hoe voel dit as die Christus hulle met Sy lewe dien. Dit is vir my 'n groot voorreg. Dink net: God nooi ons uit om Christus te “copy” en te “paste” in ons gesinslewe in. Jy kry die kans om 'n kopie van Christus by jou vrou en kinders te gaan wees. Jy kry die kans om die een te wees waarmee hulle spog. Want jy is nou die een wat bv jou vrou se behoeftes raaksien en aanspreek. Jy is die een wat vir haar sorg soos die Here vir jou sorg. Jy is die een wat haar laat heel word … of ruimte gee om te groei … of doodgewoon net veilig laat voel. God gee jou die eer om dit te doen! Dit sê vir my dat die Here reken jy het die vermoe om dit te doen. Anders het Hy dit aan die vrou opgedra. Maar dis vir die mans wat die Here vir Paulus laat skryf: “ 25 Mans, julle moet julle vrouens liefhê soos Christus die kerk liefgehad en sy lewe daarvoor afgelê het. 26 Dit het Hy gedoen om die kerk aan God te wy, nadat Hy dit met die water en die woord gereinig het, 27 sodat Hy die kerk in volle heerlikheid by Hom kan neem, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks, heilig en onberispelik. 28 Die mans behoort hulle vrouens so lief te hê soos hulle eie liggame. Wie sy vrou liefhet, het homself lief, 29 want niemand het nog ooit sy eie liggaam gehaat nie. Inteendeel, hy voed en versorg dit, soos Christus met sy kerk doen 30 omdat dit sy liggaam is, waarvan ons lede is.” Die Here kies hier die mans uit, om iets besonders uit te leef. Om in hoe jy jou vrou hanteer en versorg, te wys hoe Jesus Sy kerk – en dus vir jou ook – versorg. Ons uitnodiging sê die heeltyd … soos Christus met Sy kerk. In effek sê die Here “gaan wees by jou vrou en kinders soos Ek, jou Here, by My gemeente is.” Gaan gee jouself netso onselfsugtig soos Jesus Homself vir ons gegee het. Gaan dien hulle met opofferings en met hoe jy jouself te kort doen twv hulle, en gaan dien hulle selfs al kos dit jou jou lewe … maar gaan doen dit sodat hulle kan weet hoe lief God jou en vir hulle het. Jou man wees – jou gesinslewe gaan nie maar net oor jou nie. Toe jy jou lewe vir God gegee het het ook dit God se besigheid geword. En nou nooi God jou uit om Sy Seun te gaan nadoen, te “copy en paste” by jou gesin deur netso jouself te gee vir hulle soos Jesus Homself vir jou gegee het. Dit beteken dat jy, al het jy nie so groot geword nie, jy vir jou kinders gaan sê jy is lief vir hulle en jy is trots op hulle. Ek het al met 'n hele paar groot fris manne gepraat wat begin huil as hulle my vertel hul pa's het nooit gesê hulle is lief vir hulle of selfs net trots op hulle. En ek ken dogters wat hulle lewe lank net ‘n pa wou hê wat hulle lief het en nie skaam is om dit te sê nie. En as jy nog wil vaskop gaan lees bv Jesaja 43 en Joh 3:16 en kyk hoe doen die Hemelse Vader dit. Oor en oor sê God, ons Vader, “Ek het jou lief.” Gaan en gaan sê dit. En daarna gaan leef dit. En al is dit jou vrou se behoefte om elke dag te hoor hoe lief jy vir haar is en hoe wonderlik sy vir jou is … gaan sê dit. Onthou dit gaan oor haar … jy wat haar dien … dit gaan nie oor jou nie. Dis jou voorreg om dit te gaan doen en kan doen. Die Here het jou gekies om dit soos Hy te doen. Jesus sê in Matteus 6 dat ons hemelse Vader reeds weet wat ons nodig het nog voor ons daarom vra. Vanoggend word ons uitgenooi om so by ons vrouens te wees. Hulle so te ken, so na hulle te luister, dat ons weet wat hulle nodig het. Paulus skryf dat soos ons ons eie behoeftes ken so moet ons in voeling bly met ons vrouens. Ek weet dit voel onmoontlik. Maar ons kan daartoe werk. Eintlik word dit ‘n keuse om nie in te koop op al die stories oor getroud wees en oor vrouens en ‘n nuwe storie te leef. God se bedoeling te leef. Dit is ‘n keuse om meer en meer soos Jesus te wees. Ek gee aan Paulus die laaste woord: 31 Daar staan in die Skrif: “Daarom sal 'n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe, en hulle twee sal een wees.” 32 Hierin lê daar 'n diep geheimenis opgesluit, en ek pas dit toe op Christus en die kerk. 33 Maar dit is ook op julle van toepassing. Elkeen moet sy vrou so lief hê soos hy homself liefhet, en 'n vrou moet aan haar man eerbied betoon. Ons Vader sou ons nie hierdie groot uitnodiging gegee het, as Hy nie geweet het dat ons deur Sy Heilige Gees dit kan vermag nie.