Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
ROMEINE 12: 11, en 3 – 8 Dinsdag 'n Mens lees nogal vinnig oor die vers. Hiers niks snaaks aan nie en ons stem 100% saam. Mense moenie in hul toewyding verslap en jy moet altyd geesdriftig bly en die Here dien. Maar kom ons maal die vers so 'n bietjie. Kom ons begin by die oorspronklike teks … in die Grieks: • Toewyding. “spoudei”. In Engels: “To be eager to do something, with the implication of readiness to expend energy and effort.” Toewyding sluit in hierdie deel dan in dat ons gretig is om iets te doen, reg om energie en moeite in te sit om dit te vermag. Gretig om die Here te dien. Kan nie wag om dinge vir Hom te doen nie. • Geesdriftig. “So to pneumati”. In die Grieks is “so to pneumati” soos 'n idioom. As ek dit letterlik in Engels moes vertaal, dan sou dit wees “to boil in the Spirit”. Om entoesiasme te hê vir en jouself totaal te “commit”. Jy sou dit ook kon vertaal met “om te wys hoe baie jy daarvan hou om dit te doen” of selfs “om te wys jy doen dit met jou hele hart.” Dit lê nogal mooi in lyn met vers 1 se om jouself totaal te gee as 'n lewende offer aan God. In die Grieks is die woord Gees (pneumati) opmerklik. Dit word nie hier gekoppel aan die Heilige Gees nie. Tog is dit dat toe die Heilige Gees uitgestort is, het bang dissipels vreesloos en entoesiasties die evangelie verkondig. Die Nuwe Lewende Vertaling: “Moenie sleepvoet wees in julle toewyding nie; wees entoesiasties; wees werklik diensbaar vir die Here.” Die 2020 Afrikaanse Vertaling, wat meer getrou aan die oorspronklike tekste probeer wees, lui, “Moenie traag wees in julle toeweiding nie; bly geesdriftig; hoy vol om die Here te dien.” (2020 Vertaling Rom 12: 11). Hulle sê “entoesiasme is aansteeklik”. In daardie geval impliseer die teks “gaan wees aansteeklik.” Die goeie soort aansteeklik natuurlik. Dr EP Groenewald skryf in sy kommentaar op die gedeelte: “Die liefde gee mens 'n nuwe persoonlikheid want dit maak jou ywerig, vurig en bereid om te dien.” Dit is hoekom ons, terwyl ons bid vir herlewing, ook bid, Here, begin by my. Vir ingeval die moedeloosheid en die woede van mense in hierdie land oor die loadshedding en die misdaad en die mislukte regering, ons ook afgetrek het en ons ons uitsig op God verloor het. Daarom bly ons bid vir herlewing en vra dat die Here ook by ons kan begin. Ek kan slegs hierdie dinge wees, en dit die heeltyd wees as ek myself volkome as ‘n lewende offer vir God gegee het. Soo God dit wil hê (Vers 1 2n 3). So baie keer as ons bid vir herlewing dan dink ons nuwe bekerings reg deur die land. Ons dink ander moet verander. Die besef hierdie week is, ek moet verander. Ons moet leiding neem deur self ook vernuwe te word deur God. Kom ek verduidelik: In my bediening en net deur te luister na Ringskollegas, gaan ek sê daar is twee groepe mense in gemeentes: Dit is ‘n oorvereenvoudiging, ja. • Groep 1. Dit is mense wat alles laat afhang van wat ander doen en hoe ander is. Hulle sal bv sê: Ek sal nooit weer daar help of dat doen nie want die mense was nie vriendelik genoeg of dit of dat genoeg nie. Of solank so en so in die kerk is gaan ek nie weer soontoe nie. Hulle toewyding aan God, so kan mens redeneer, word bepaal deur hoe goed die ander gelowiges voor God leef. Ander gelowiges se gebreke word hul verskoning. Mens sou ook kon sê: Hulle seerkry aan die hand van ander gelowiges keer dat hulle in hulle gemeente kan dien. • Groep 2. Hierdie gelowiges kyk nie vas in ander se sondes nie. Hulle misbruik nie ander se onvriendelikheid of watse gedrag ookal om hulle af te sit van om God met entoesiasme en toeweiding te dien nie. Hulle bou ‘n brug oor hulle seerkry, hulle vergewe soos God hulle vergewe. Want hulle wil die Here dien en dit doen hulle so goed hulle kan. Hulle maak nie hulle dienswerk afhanklik van hoe ander mense is nie. Ek gebruik die twee groepe (daar is seker ander ook) om te vra: As jy die 2 groepe vergelyk, watter een is in lyn met Romeine 12: 11 en watter een nie. 11 Moenie in julle toewyding verslap nie, bly altyd geesdriftig, dien die Here. Rom 12:11 Kom ek vat dit nou verder terug. In vers 1 en 2 het ons ontdek ons moet onsself gee aan God as lewende heilige offers wat vir God aanneemlik is. Ons het onsself gegee. En as jy iets gegee het dan is dit weg uit jou hand en dis nou Iemand anders s'n. Nie waar nie? Hierdie Iemand anders – God – neem nou vir jou en my as Sy besitting en stuur ons om te gaan dien. Na aanleiding van vers 9, oa, om met die liefde te gaan dien. As jy sit en wik en weeg of jy sal dien of nie dien nie – het jy dan jouself werklik gegee vir God? Ten volle gegee? Dis God wat besluit hoe jou toewyding daar gaan uitsien. Maak dit vir jouself visueel: Sien hoe gee jy jou lewe vir God soos ek hierdie boek gee. Dis nou daar. Dis nie meer in my hande nie. Ek het nie meer beheer oor dit nie. So kan God besluit hoe en waar jy Hom moet dien. Ons moet met geesdrif Hom dien daar waar Hy ons roep of beveel om te dien. Doen ons dit nie, of deins ons terug, neem ons nie net 'n stukkie van ons lewens terug nie – en is ons nie meer regtig 'n lewende offer nie – maar ons het ook in ons toewyding verslap. Paulus noem 'n paar gawes in verse 3 tot 8. Let daarop dat God die gawes gee soos Hy wil (1 Kor 12). En dat God jou gee wat jy gaan nodig het … maar nie noodwendig in oormaat vooruit nie. Hy hou jou afhanklik van Hom. Kyk na hoe Paulus uitwys dat dit nie halfhartig gedoen kan word nie. As God jou roep vir 'n spesifieke taak dan doen jy dit met oorgawe – met “real commitment” – en met liefde. Die liefde val nooit weg nie. Byvoorbeeld vers 7: As dit is om ander te dien, doen dit met oorgawe. Wat selfs meer vir my uitstaan is hoe hy sekere dinge skryf. Dis asof hy redeneer dat jy nie jou gawe moet verwaarloos nie. As jy die gawe het, gaan woeker dan daarmee. As dit die gawe van ondderrig is, gee dan ondderrig. As dit is om te bemoedig, laat ons hulle bemoedig. As dit is om te gee, laat dit sonder bybedoelings wees. As ons help dan met blymoedigheid. Wat ookal jou gawe, doen dit asof vir die Here self. Trouens doen alles asof jy dit vir die Here doen. Nie vir die gemeente nie. Doen dit vir die Here. Dan sal jou geesdrif nie kwyn nie. Al word die werk hoe moeilik en al maak mense dit hoe onaangenaam of moeilk, as jy dit vir die Here doen sal jy kan deurdruk. En as dit regtig swaar gaan … dink dan net hoe swaar was dit vir die Here aan die kruis toe Hy in jou plek daar gehang het. Dit is nie eenvoudig nie. Soms voel dit dat hoe harder jy probeer en hoe meer jy probeer energie opwek hoe swaarder word dit. Dink anders daaroor. Toe ons jonk was en verlief, sou ons niks gedink het om kilometers ver te loop, of fiets te ry om by die meisie te gaan kuier nie. Jy het sonder dat jy agterkom baie oor haar vertel. Jy sou met geesdrif amper enigiets doen wat jy weet haar hart sal bly maak. Dis hoekom die ou gesegde bestaan: Wat die hart van vol is loop die mond van oor. Die sleutel is om jou hart so met God te vul, jou dankbaarheid te laat oorloop, om jou self te bly gee as ‘n lewende heilige offer wat vir God aan neemlik is. En dan begin die res in plek val. Daarom bid ons want ons weet uit eie krag kan ons dit nie doen nie. Vra ons elke dag: Here help ons om onsself vir U te bly gee. God sal dit vir ons so laat wees. Gebedsvoorstelle. • Herlewing. • Bid rondom ons eie toewyding aan God. • Die Heilige Gees ons sal vul met entoesiasme vir God. • Getrouheid en gehoorsaamheid. • Dat ons ons lewens elke dag opnuut vir God sal gee. • Soos die Heiige Gees jou lei.