Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
MAANDAG PINKSTER 2023 ROMEINE 12: 9 – 10, 13 Ek het gister gevra dat ons elkeen met die Here moet gaan praat en vir Hom sê of ons dit wat ons in hierdie hoofstuk lees aanvaar as bindend vir ons. Dat ons onderneem om dit te leef. My presiese woorde was: Ek's in of ek's uit. Het u dit gedoen? Is jy reg om dalk te hoor wat jy nie wil hoor nie? Die gedeelte is moeilik in die sin van dat dit mens vat waar jy dit nie wil hoor nie. Wat ons vanaand oor praat is seker die mees ooglopendste verskil tussen ons en die wêreld. En as ons nie dit reg kry nie dan lyk ons net soos die wêreld --- nee, dan is ons net soos die wêreld. En dit is nie 'n mooi prentjie nie. As jy die opskrif net voor vers 9 ignoreer – dis in elk geval later ingevoeg – as jy die opskrif ignoreer en Romeine 12 as een hoofstuk lees --- wat sien jy? In verse 3 – 8 skryf Paulus oor die gawes. En in vers 9 skryf hy oor die grootste gawe (vlgns 1 Kor 13) – oor daardie een gawe wat elke gelowige ontvang het … die liefde. Kom ek lees Paulus se beskrywing van hoe hierdie gawe in die elke dagse lewe werk. En terwyl ek 1 Kor 13 lees, toets jouself. Vra, waar of in watter opsig verwaarloos ek hierdie gawe. LEES 1 KOR 13 Ek sê weer: Ons staan by die grootste verskil tussen dit wat van God is en dit wat wêrelds is. Die wêreld … • hou graag boek van wat ander verkeerd doen; • vergewe selde indien ooit • verkies terug kry aksies of wraak neem • haat vinnig en sal jou net liefhê solank daar iets vir hulle daarin is • verlekker hulle in 'n ander se ellende • is selfsugtig en grootpraterig. Dit gaan in die wêreldse mens net om wat ek wil en hoe ek dinge sien en net ek is altyd reg. Kyk maar al ons grappies oor “my vrou is altyd reg al is sy verkeerd of … Maar by God – in God se koninkryk is dit anders. Hier word lief gehê. Hier is daar tonne vergifnis en geduld. God se kinders is beskeie, vriendelik en geduldig en hulle verdra mekaar in liefde. (Efes 4: 2). Hulle dien mekaar sonder om iets terug te verwag. In God se koninkryk ervaar jy dat mense jou onvoorwaardelik lief het. Ek sê weer: Die groot verskil tussen 'n mens wat hulself volledig vir God gegee het as 'n lewende heilige offer soos dit vir God aanneemlik is, en die sondige mens, is: Hoe jy en of jy liefde leef. Jesus het gesê ons sal herken word as Sy dissipels aan ons liefde (Joh 13:34, 35). Ek is besig met vers 9: “Die liefde moet opreg wees.” Een van dinge waaroor mense baie gepraat het in die tyd van Petrus en die dissipels was: Kyk daardie mense. Kyk hoe gee hulle vir mekaar om. Kyk hoe deel hulle die bietjies wat hulle het met mekaar en ander. Kyk hoe lief is hulle vir mekaar. In Handelinge 9:2 word hulle mense van die Weg genoem. Nie Christene of gelowiges nie. Die term sou eers later kom. Maar wel mense van die Weg. Die eerste gelowiges was nie in die eerste plek bekend vir dit wat hulle geglo het op papier nie, maar vir hoe hulle hul geloof in Jesus uitgeleef het. Gaan lees gerus weer Handelinge. Hoe hulle Jesus geglo het toe Hy gesê het Hy is die weg, die Waarheid en die Lewe. En hulle het so geleef. Hulle lewens het namens hulle gepraat. En nie soveel hulle woorde nie. Hulle lewens het op die regte maniere harder as hulle woorde gepraat. Ander het gesien hoe hulle die Here en mekaar liefhet en hoe hulle mense bystaan wat swaarkry. My vraag van gister, of jy in of uit is, word vandag ‘n vraag of jy werklik agter Jesus aan leef. Ek vra nie na ons belydenis nie. Ek vra kan mense in ons lewens sien ons glo dat Jesus is die Weg, die Waarheid en die Lewe self. Die koninkryk van God is gebou op liefde --- jouself-prys-gee-liefde. Volgens die voorbeeld van Jesus. Hy het alles in die hemel gering geag, agtergelaat – Hy het nie aan Sy posisie as Seun van God op 'n hemelse troon vasgeklou nie … maar Homself verneder om soos iets te word wat deur Hom geskep is. (Fil 2: 5-) En dan praat ek nog nie van die kruis en hoe Hy Sy lewe daar gegee het nie. Dis die voorbeeld. Dis hoe ons dit doen in die koninkryk van God. Jy verdwyn uit die prentjie, jy vergeet wie jy is en hoe belangrik jy is en jy gaan offer jouself, jou tyd, jou ego en jou wat ookal op twv God en ander. Paulus noem dit opregte broederliefde. Dit wat jy vir jou dierbaarste familie sou doen, doen jy nou ook vir ander mense, gelowiges en selfs vir vreemdelinge. Jou liefde moet opreg wees. Dit moet nie voorgee wees nie. Moenie net maak asof jy ander lief het nie. NLV “Moenie veins dat jy ander liefhet nie; doen dit uit die hart uit.” Onthou: Wat in jou leef, kom altyd iewers uit. As dit net voorgee is dan gaan wat binne leef iewers uitkom en dan gaan almal weet jy is 'n “fake”. Gaan die mense deur jou sien. So!! Ons praat nie van 'n beeld-poetsery nie. Dit gaan nie hier oor jy wat mense wil beindruk of wil naam maak met jou goedheid nie. Dit gaan oor 'n opregte toegeneentheid. Hartlikheid teenoor mekaar. Ons praat van die soort liefde waar jy jouself op die agtergrond plaas – kan terugstaan en jou opreg verlekker in 'n ander se voorspoed en geluk. Dis die soort liefde wat jy alles in jou vermoë doen om by te dra tot 'n beter lewe vir ander. Waar jy jouself sien as 'n bydrae om ander se lewens mooier en gelukkiger te maak. En dit kan net gebeur as jy jouself werklik as 'n lewende heilige offer vir God gee … elke dag opnuut weer … net vir ingeval 'n stukkie eie-Ek terug ingeglip het of jy iets terug geneem het. Net as jy werklik vir God jou lewe gegee het kan jy genoeg ophou skerm vir jou ego en wat ookal mure bou tussen jou en ander … en kan jy hulle in liefde gaan dien al is dit een van die geringes van die wêreld. Daarom kyk ons ook in ons poging om vers 9 en 10 te verstaan na vers 13 en 1 Joh 4: Vers 13: “Help die medegelowiges in hulle nood en lê julle toe op gasvryheid” 1 Joh 4: 7 “Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is 'n kind van God en ken God. 1 Joh 4: 10 “Werklike liefde … (is) die liefde wat Hy aan ons bewys het deur Sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes.” Hoe sal ons weet of iemand 'n kind van God is? Ons sal dit kan sien in hoe hulle Jesus se liefde leef. In die lig van Rom 12: Hoe sal jy weet of jy jouself volledig vir God gegee het as 'n lewende heilige offer wat vir Hom aanneemlik is? As jy onvoorwaardelik liefhet. Opreg lief het. Nie jouself nie maar ander liefhet. En hoe lyk hierdie opregte liefde? Soos God wat ons liefgehad het toe ons nog Sy vyande was (Rom 5: 8, 10). Nie net die wat hulle liefhet nie, maar ook selfs die vyand liefhet. (Matt 5: 43 – 48) Dis 'n gawe. Die allerbelangrikste gawe. God het jou die gawe gegee. Jy kan dit doen. En dit sal groei en groter word namate jy jouself aan God bly gee as 'n lewende en heilige offer. Dis nie onmoontlik nie. Ons kan dit doen. Gee jouself aan God, hou vas aan die Heilige Gees. Hy sal jou die krag gee en die moed en die passie om uit die hart uit, opreg lief te hê … selfs die mense wie se gedrag jou dwars in die krop steek. Gaan wees lief. Gaan hanteer alle mense, selfs bedelaars met eerbied. Gaan begin jy … wees jy die voorbeeld vir ons ander om te volg … die voorbeeld van Jesus wat jy naleef … vir wie jy jouself prys gegee het as 'n lewende heilige offer. Amen. Gebedsvoorstel: • Herlewing • God ons vul met egte liefde. • Dat ons nie die kwaad of slegte in ons self sal duld nie. • God Sy gemeentes sal groei in liefde en fyn aanvoeling.