Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Romeine 12: 12 en ander dele Woensdag Ons bid vir herlewing. Ons bly sê: Here, as U wil, begin by ons. Begin by my. Hier is ‘n foto’tjie van waar die Heilige Gees met ons wil kom: “Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.” (Gal 5: 22) Paulus skryf vir die gemeente in Filippië: Verbly julle. In Johannes 15: 11 wil die Here hê dat Sy blydskap in elkeen van Sy dissipels moet wees. En hier in Romeine 12 vers 12 skryf Paulus verbly julle in die hoop. As jy mooi kyk dan besef jy ook in tye van verdrukking, verbly jou in die hoop. En dan koppel Paulus dit vas aan gebed. Volhard in gebed. Hier is ‘n gedagte wat my ontkant gevang het. Selfs te midde van loadshedding en misdaad en al die lelik wat in hierdie wêreld gebeur, wil God hê ons moet ons verbly. Kyk gerus weer na vers 12: 12 Verbly julle in die hoop; staan vas in verdrukking; volhard in gebed. Nie oor die dinge wat ons lewens bemoeilik of seer maak nie. Nee. Dis geen rede tot verbly nie. Maar oor God in ons lewens is. Ons kan bly wees oor ons verlossing, dat ons nou kinders van God is. Ons kan bly wees dat ons in God se teenwoordigheid kan leef, saam met God ons lewens kan aanpak. Hierdie blydskap kyk ook vorentoe na Christus se wederkoms, na eendag volledig by God te wees. Die ewige lewe. Dit is ‘n hoop wat weet dat die swaar en die lelik wat ons nou beleef sal verby gaan en die mooi wat Christus beloof het en voor Sy lewe gegee het, waar sal word vir ons. Dit is nie ‘n verbly soseer oor die mooi wat eendag sal wees nie. Dit is ‘n verbly want die Here is naby (Fil 4). Dit is ‘n blydskap oor ek nie alles alleen hoef te trotseer nie. God is by ons. Dit voel of hierdie vers ‘n mens so ‘n bietjie wil inspireer. Iets soos, byt vas. Nog net ‘n entjie. Ons is amper daar. Die ergste is amper verby. En dan: Bid. Dit is waar ons krag is. Moenie ophou bid nie. Ek weet ek sê dit baie. Vergewe my daarvoor. Ons moet tuiskom in die feit dat God vir ons baie baie lief het. En dat God se liefde ‘n doen liefde is. ‘n Liefde wat jou bystaan en jou help dra aan alles in jou lewe. ‘n Liefde wat saam met jou bly is en ook saam met jou huil. Ek dink aan hoe Jesus saam met Martha en Maria gehuil het (Johannes 11) al het Hy geweet Hy gaan hulle brer binne ‘n uur of so weer lewend maak. God het ons oneindig lief. So lief dat selfs die Bybelskrywers van Dawid se tyd al gesukkel het om te kan sê presies hoe groot God se liefde vir ons is. God se liefde is groter en intenser as mense se woorde en gevoelens. As jy jou oorgee aan Sy liefde dan begin jy besef Hy wens niks slegs oor my nie. God sal by my wees ook as die lewe gebeur. Dan kan jy laat los wat ookal jy so krampagtig aan vasklou. Dan kan jy jouself werklik vir God gee. Met God by ons, in ons, kan ons die soort blydskap in ons hê wat niks met ons omstandighede uit te waai het nie. ‘n Blydskap suiwer omdat God by ons is. Dink net die Skepper van hemelruime en planete, skepper van molekules en wie wat alles, ook van ons, Hy het ons lief en leef intens met ons saam. Kom ek vat ons terug na vers 1. Na daar waar jy jou lewe vir God gegee het. Ek herinner my dat toe ek my lewe vir God gegee het, en 'n paar keer daarna toe ek besef ek het weer my lewe terug gesteel, en toe dit gaan terug gee het vir God, het dit gevoel of ek op wolke loop. Dit was onbeskryflik. Beter as verlief wees. As jou sondes weg gevat word en God jou “aanraak.” Onbeskryflik. Daar was hoop. Alles het anders gelyk. Jy kon sien dat dinge nou kon reg uitwerk. Jy het jou verbly in die hoop. Die hoop op die ewige lewe. Die hoop op God. Hoop is 'n stuk sekerheid. En daardie sekerheid lê in die Een waarop jy jou hoop plaas. In ons geval is dit God. God is oneindig lief vir jou (Joh 13:1) En omdat jy weet hoe lief Hy jou het, tot die dood aan die kruis, kan jy jou lewe onvoorwaardelik as lewende heilige offer vir Hom gee. Jy weet tog dat God kies om jou Vader te wees. Ons Vader wat sorg en voorsien (Matt 6) vir sy kinders op maniere wat Hy nie eers vir die lelies van die veld sorg nie. Hy sorg so volledig en is so betrokke by ons dat Paulus kon skryf “dat alles ten goede meewerk vir die wat in Hom glo. Die wat Hy geroep het om gelykvormig te word aan die beeld van Sy Seun.” Dis ons. Trek nou Romeine 8: 31 en verder hierby. Niemand maar niemand, absoluut niks, kan jou uit God se hand ruk nie. Niks op hierdie aarde – al skyn dit ook hoe sterk of hoe magtig te wees – kan keer dat God vir jou daar is nie. Gaan lees gerus weer Rom 8: 31 ev En gaan lees die uittog uit Egipte verhaal. Of die boek Daniel en kyk wat het God met die wêreldmoonthede van daardie tyd gedoen en hoe maklik Hy dit gedoen het. Sien raak hoe groot en hoe magtig God is. Jou Vader, ons Vader is. Matt 28: 18 staan daar dat God aan Jesus al die mag, let wel, al die mag, in die hemel en op aarde gegee het. Hierdie Jesus wat Sy lewe aan die kruis vir jou gegee het, en die dood oorwin het … Hy sê vir jou: “En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.” (Matt 28:20b) Die goed wat keer dat jy gelukkig kan wees: Is dit iets onmoontliks vir God? Is dit van so 'n aard dat God jou nie daardeur kan kry nie? Nie. Hou dan jou oë op God. Bly by Hom. Klou aan Hom vas as jy moet. Hy is ons hoop. Moet ek weer die vrug van die Gees lees? (Liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing). Dit en nog baie meer is wat God jou gee. So ons kan, ons verbly in die hoop. En ja, die verbly het niks te make met wat om of in ons gebeur nie. Dit het alles te make met die hoop wat in ons leef: dat ons hemelse Vader vir ons genade gee, kies om in os tee woon en die ewige lewe, wat in my oopinie ‘n bonus is. Dis die hoof ding: Fokus op God. Vers 12 se laaste deel vra nog so ‘n bietjie aandag. Daar staan: “Volhard in die gebed.” Gebed is om God in te nooi in ons dag in. Gebed is deel van ons gee van onsself. Gebed en die leef van God se wil, help om vorm te gee aan die vrug van die Heilige Gees in ons. Ek praat van geduld, vreugde, vrede en en …. Staan vas in verdrukking. Verdrukking maak dat ons hoop-loos voel. Timoteus het so gevoel toe Paulus gearresteer en in die tronk gegooi is. Hy wou tou opgooi. Kon nie meer aangaan nie. Ek neem aan dat hy homself nie meer kon verbly in die hoop nie. Vir hom skryf Paulus: Vat jou gawe en blaas dit soos 'n vuurtjie weer aan die gang. Lig jou Timoteus en begin met jou gawe die Here en die mense dien. Raak besig met jou gawe. Steek die wêreld aan die brand daarmee. En dis hoe jy jou verbly in die hoop en vas staan in die verdrukking. Jy dien God en jou medemens met jou gawes. Jy gaan leef die liefde in al sy fasette. Onthou, hier is een gawe wat jy definitief het, en dit is ook ‘n opdrag van God af. Paulus meen ons moet onsself veral op hierdie spesifieke gawe toe lê: Die Liefde. God se liefde. Gaan jaag dit na. Gaan maak dit sigbaar vir ander. Gaan wees God se liefdevolle hande waar daar nood is. En onthou: “Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig is nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing.” Om te volhard in gebed beteken letterlik “to do something with intense effort.” Hou aan bid met “intense effort. Kom ons bid. Gebedsversoek • Dat die Heilige Gees ons fokus op God sal hou. • Dat ons as gelowiges ons vreugde in God sal soek en nie in dinge nie. • Bid dat God ons so vernuwe dat die volle vrug van die Gees in ons lewens gesien kan word. • Herlewing. • Eredienste weer vol gelowiges sal word wat God met hart en siel wil dien.