Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
ROMEINE 12: 1 – 2 Alles wat ek die week moet sê gaan vas gehaak word aan die twee verse. Die riglyne wat Paulus gee gaan: • of vir jou dwars in die krop steek • of onprakties wees • of te veel gevra wees • of, dit gaan vir jou inspirasie wees. Alles hang af van wat hier in vers 1 en 2 staan. Hoe meer jy jouself as 'n lewende offer gee --- des te meer gaan jy ontdek die res van Romeine 12 – 14 gebeur in jou lewe. Ek wil sover gaan om te sê: Al Jesus se beloftes word sigbaar in die mate wat ons vers 1 en 2 onder die knie kry. Beloftes soos: • Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, … (Joh 15: 5) • Wie in My glo, sal ook die dinge doen wat Ek doen; en Hy sal nog groter dinge doen … (Joh 14: 12) • “ … My vrede gee Ek vir julle ...” (Joh 14: 27) • “As julle iets in My Naam vra sal ek dit doen.” (Joh 14: 14) • “As julle in My bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry. (Joh 15: 7) Alles hang af van ons oorgawe aan God. Hier is die resep vir die selfverloëning waarvan Jesus in Matteus 16 gepraat het. Kom ons kyk van naderby. 1. God gee eers. Alles begin by wat God vir jou gedoen het. Nêrens word God se liefde vir jou so duidelik uitgespel soos toe Jesus aan die kruis in jou plek gesterf het. Een van die wreedste maniere om iemand tereg te stel … Hy het dit in jou plek vir jou en my sondes gaan dra. Dit kos Jesus Sy lewe dat jy vandag 'n kind van God mag wees. God het dit gedoen. Paulus noem dit die groot ontferming van God. Die ontferming gaan verder: God los jou nie maar net oor aan jou lot nie. God is ernstig oor jou en loop die pad met jou. Maak nie saak hoe moeilik of swaar … God los nie jou hand nie. As jy dit nou nog nie weet nie, jy is vir God belangrik. Hy het jou lief. Die nagmaal onderstreep dit so mooi: Ons is vir God belangrik. Hy kon ons vernietig het. Soos in Noag se tyd oor begin het met ander mense. Ons verdien dit 100 maal oor. Maar Hy kies om ons te red. Dit kos Jesus Sy lewe. Hoe antwoord jy daarop? Paulus kom doen sy beroep op grond van God se ontferming aan jou. En dit is wat van jou gevra word … Van jou vir Wie Jesus Sy lewe gegee het … van jou word gevra: Gee jou lewe vir God. Nee. Gee jou lewe lewend. Jy hoef nie soos Jesus te sterf nie. Jy hoef maar net elke dag jouself te gee vir God. Hoe? As 'n lewende en heilige offer wat vir God aanneemlik is. Kom ons breek dit op. • Lewend. Met elke stukkie lewe in jou … met elke asemhaal – wys jou oorgawe aan God. Jy moet bly lewe, want jou lewe is God s'n. Wat jy leef, leef jy vir God. • “Agios” heilig.Toegewyd. “Dedicated”. 'n Heilige offer. Jy is eenkant gesit vir spesiale gebruik en dis om God se lig te laat skyn. • Offer. 'n Offer sluit in “verlies”. Opoffering. Dawid het dit seker die mooiste verwoord toe hy Arauna se dorsvloer wou koop om offers vir God te bring. Toe sê hy: “ … Ek bring nie 'n brandoffer wat my niks kos nie.” (1 Kronieke 21: 24) Ons moet wegkom van die idee dat jou geloof … jou christenskap jou niks kos nie. Dit het Jesus Sy lewe gekos. Dis kos jou jou lewe lewend gegee … geleef vir Hom. En dan die belangrike begrip of voorwaarde: “aanneemlik vir God”, “pleasing to God”. Jy gee jouself op maniere wat vir God vreugde verskaf. Nie soos dit jou pas nie. Nie op maniere wat vir jou gemaklik is nie. Maar soos God dit wil hê. Hier val baie mense van die wa af. Hulle wil dit doen soos hulle voel of goed dink. Nee, mens doen dit soos God dit wil hê. Nou moet jy gaan sit en besluit. Jy moet by die Here gaan sit, Romeine 12 weer lees en vir die Here sê: “Ek's in”, of, “ek's uit.” Dit is hier wat die Here wil hoor jy sê: Ek koop dit. Hier's my lewe. Totaal. Ek hou niks terug nie. Dis die keer alles. Niks meer van die afskeep stukkies nie. Alles. Vandag Vader, stop ek my nonsens. Vandag, Here, hou ek op om U te dien op my manier. Vandag begin ek soek na hoe U gedien wil word. En ek erken, ek kan dit nie self doen nie. Lei U my. As jy dit doen dan is jy besig met wat godsdiens eintlik is. Paulus sê dis die wesentlike van die godsdiens wat ons moet beoefen. (vers 1c) 2. Jy kan dit nie self doen nie. Ja ek weet daar staan: “Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie.” maar kyk mooi na hoe jy moet seker maak dat jy nie soos die res van die mensdom lyk nie. Jy doen dit deur God toe te laat om jou gedagtes te vernuwe. In hierdie proses waar jy uit dankbaarheid uit jouself vir God gee as 'n lewende heilige offer wat vir Hom aanneemlik is … ontdek jy … maar iets is besig om met my te gebeur. Wel, dis wat begin gebeur: God begin jou denke te vernuwe. Letterlik: om die mees basiese vorm van 'n ding te verander. As God jou denke vernuwe dan is dit so goed soos jy leef nou uit ander denke uit. Jy dink anders oor mense en dinge en situasies as wat jy vante vore sou gedink het. Jy tree ook anders op. Jy word bruikbaar vir God. Alles gaan tog net oor Hom. Nou moet jy besluit of jy net vir die mooi wil rondhang en of jy iets gaan wees waarmee God Sy beloftes in kan sigbaar maak. Gaan jy stof opgaar en almal moet ligloop dat jy nie breek nie … of gaan jy in die Heilige Gees se hande iets bruikbaars vir God word. Gee jouself as 'n lewende heilige offer wat vir God aanneemlik is. En die gevolg? “Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is” (vers 2b) En dan kan ek myself nog meer gee soos God dit wil. Is jy in? Of, is jy uit? Ek gee geleentheid vir ‘n besluit. Leef vir God, of leef vir jouself?