Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Gen 2: 18 ev MOEDERSDAG 2023 Vanoggend kyk ons na van die eerste woorde oor man en vrou in die Bybel. Ons vra: Wat was God se bedoeling? My eerste besef van Genesis 2 is dat die Here gesien het dat die man nie lekker funksioneer op sy eie nie. 'n Mens kan dit verstaan: Hier is hierdie hele nuwe wêreld, die skepping, en hy moet daaroor heers, maar hy is alleen. Daar is niemand met wie hy al die nuwe ontdekkings opgewonde mee kan deel nie. Niemand om die nuwe son of die eerste volmaan saam mee te bewonder nie. En niemand om hom aan te moedig as dinge bietjie swaar sou raak nie. Die mens moes God verteenwoordig. Dit is 'n groot taak. Sekerlik het hy hulp nodig gehad. Toe het God die vrou geskep. Vers 18 sê drie dinge van belang oor hoekom die Here die vrou geskep het: • Die mens moet nie alleen wees nie. • Sy is iemand wat die man kan help • Sy is sy gelyke. So in kort, iets oor elkeen van die drie. Nie alleen wees nie. Dis nie God se wil dat man of vrou vereensaam nie. Daarom het die Here vir die mens gegee: • Iemand wat al die mooi saam met jou kan deel. • Saam met jou kan veg teen moeilikheid. • Saam met jou kan bly wees oor suksesse. Iemand wat na jou sal luister. • Iemand wat keer dat jy eensaam en alleen voel ... al is daar mense om jou .... al is jy getroud en dus nie fisies alleen nie. Gelykes. Dit gaan hier oor die hart van die evangelie. God het nie 'n klasse stelsel nie. Almal is gelyk. Ook in die huwelik. Paulus het geskryf: Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig. Jy kry nie intimiteit, -- daardie sielsgenoot wees -- as die een op die ander neerkyk nie, of die ander hanteer as iets pateties of benede my of op die een of ander manier minder mens en minder waardig as ek nie. Dink oor vriendskap en jy sal sien ware vriende aanvaar mekaar as gelykes ... onvoorwaardelik. Onthou die woorde van ons Here Jesus: As jy in julle kring eerste wil wees moet jy die ander dien; en as jy die grootste wil wees moet jy die ander dien. By Hom praat jy nie van eerste en laaste nie maar van dien. Helper. Die Hebreeuse woord wat hier gebruik word is baie duidelik: Nie 'n nou en dan hulp nie. Soos 'n kierie wat ek gebruik as ek iets nodig het om op te leuen nie. Maar ten alle tye en onder alle omstandighede. Altyd daar aan mekaar se sy besig om mekaar te dien en te ondersteun. Kan ek iets voorstel? Gaan dink ‘n slag weer oor jou verhoudings en meet jouself hieraan. Mans en vrouens, wedersyds, dit is wat ons vir mekaar moet wees. Ek haal ‘n paar voorbeelde van vroue wees uit die Bybel uit. Goed en sleg. Ons begin met Salomo se vrouens, en ons vat hulle een vir een. Kom ons begin by nommer een. Haar naam was ... Nee. Okay, ek sal ernstig wees. Kom ons hou die volgende ingedagte. Ek gaan dit net noem, dis die meer negatiewe. Ek dink nie dit was die Here se bedoeling dat die vrou: • … al haar begeertes bevredig moes hê rakende sekere goed wat vir haar so aanloklik of mooi lyk nie. Soos Eva met die verbode vrug of keuse. Of as jy nou daardie paar skoene net moet hê, al is dit jou 100ste paar. Ps 23 sê so mooi ons het genoeg, ons kom niks kort nie. • … Of soos Herodias jou dogter gebruik om jou aanklaer se kop op 'n skinkbord te eis nie. Of soos Mikal wat vir Dawid dinge smalend dinge toe gesnou het oor sy dansery voor die ark van die Here. (Lg het ook positiewe dinge gedoen). (2 Sam 5: 20) • … Of soos 'n Delila verraad en dood probeer bewerk. Kom ons kyk eerder positief. En ons begin by Sippora. In Eksodus 4: 24 – 26 lees ons hoe sy haar man se lewe se lewe gered het. Die Here wou daardie nag vir Moses dood maak. Moses was so besig met wat hy in Egipte moes gaan doen het dat hy die basiese van die verhouding met God nie na gekom het nie. Hy het nie sy seun besny nie. Hy het die verbondshandeling nie na gekom nie. Dit is sy vrou Sippora wat die situasie red. Nie Moses nie. Sippora red Moses se lewe en haar gesin deur te besef wat aangaan en die seuntjie te besny en so die verbondshandeling te voltrek. Ragab, 'n dame met minder goeie sedes. 'n Prostituut. En tog gaan staan sy met haar besluit in vir die voortbestaan van haar familie. Nee, ek praat nie van haar ongure beroep nie. Sy het die twee verkenners weggesteek. En voor hulle kon verder gaan gevra dat hulle met 'n eed voor die Here onderneem om haar en haar gesin te spaar. Josua 2. So red sy haar gesin. Ek haal haar aan omdat sy in die Here se geslagsregister opgeneem word. Moet ek iets oor Rut sê? Sy bly getrou aan haar skoonma. Tenspyte van haar hartseer oor haar eie man se dood, dien sy God. Versorg sy Naomi. Al moet sy oorskot koringare optel saam met ander weduwees om te kan oorleef. En dit in 'n vreemde land, afgesny van haar eie mense. God het haar geseen. Ook sy is in die Here se geslagsregister al is sy 'n Moabiet. En vir haar trou aan haar skoonma. Ook Rut het 'n nuwe koers aan haar lewe en haar gesin gegee. Een van die mooiste voorbeelde van die waarde van 'n vrou en ma is Abigajil. 1 Samuel 25. Sy was eers getroud met 'n knorpot met die naam van Nabal. Die Bybel sê Nabal was “'n regte korrelkop en onbeskof”. En “hy is so 'n verkeerde man dat 'n mens nie met hom daaroor kan praat nie.” (vers 17). en “Hy is netsoos sy naam. Sy naam beteken dwaas, en dwaas is hy.” (vers 25) Nabal het van Dawid se manskappe grof beledig en weg gejaag. Vers 10, 11. En Dawid was sterk oppad om met vierhonderd gewapende mans hierdie ongure karakter te gaan uitsorteer. Weet u wat of wie het die situasie gered? Nabal se vrou. Haar vinnige optrede. Hoe sy Dawid tegemoet gegaan het met kos en voorraad en gaan pleit het dat Dawid haar en haar gesin sal spaar. Dawid het. Maar die Here het Nabal se lewe geneem. Dawid het haar later as vrou geneem. Van Abigajil word gesê “Die vrou het 'n goeie verstand gehad en sy was mooi ...” (vers 3) So dink ek aan die Siro-Feniese vrou. Die Bybel laat haar naamloos. Oorlewering uit die derde eeu na Christus beweer dat haar naam Justa, was. Die Here Jesus het haar weg gewys, tot driemaal, maar sy het aanhou pleit en aanhou glo dat Hy haar dogtertjie van duiwelsbesetenheid kan genees. En Hy het. Sy is die enigste vrou en net een van twee mense van wie Jesus ooit gesê het sy het 'n groot geloof gehad. (Mark 7: 24 – 30) En met daardie geloof het sy haar kind gered. “Mevrou, sê Jesus vir haar, “Jou geloof is groot. Jou wens word vervul.” Van daardie oomblik af was die dogter gesond. (Matt 15: 28) Gun my 'n laaste een: Dorkas. Ook genoem Tabita. Van haar wil ek net uitlig hoe sy vir die arm mense om haar gesorg het en hoe groot leemte daar was toe sy sterf. Soveel arm vroue was van haar afhanklik. (Hand 9:36 – 43) Ons kan vanoggend nog praat oor Lydia (Hand 16), of oor Petrus wat skryf hoe 'n vrou haar man vir God kan wen deur voorbeeldig te leef, selfs, sonder om “n woord te sê. Maar ek gaan hier volstaan. Dit is vrou wees 101. Dit is die waarde wat vroue kan toevoeg tot ons lewens. Ek dink ons moet om ons kyk en raak sien hoe vroue in God se hand, ons lewens verryk. Sien raak hoe hulle gesinne bymekaar hou. En besef dat hulle baie keer in die spervuur gaan staan vir ons. Soos Abigajil en Ragab. Meneer. Ons is wat ons is deur God se genade. Maar besef jy dat die vroue in jou lewe daarvoor gebid het? Jou ma. Dalk selfs ook jou vrou. Die lewe het baie duur geword. Vandag trek vrouens langs ons ook aand die spreekwoordelike ploeg: Hulle arbeid en inisiatief bring geld in die huis in soos die vrou van Spreuke 31. Hulle verdien regtig nie wat ons in hierdie land vir hulle gee nie: mishandeling, verkragting, dronk eggenote, afbrekende woorde, houe. En ja, dalk is dit nie jy wat dit doen nie. Maar ek en jy kan vir hulle 'n liefdes -ruimte skep waarin hulle kan gedy. Ons kan hulle gewaardeerd laat voel. Ons kan hulle gaan liefhê soos Jesus Sy kerk liefhet. Ons kan haar as gelyke hanteer en haar beste vriend gaan wees. Want dis wat die Here bedoel het toe Hy haar geskep het. En jy kan haar help soos die Here bedoel het ons mekaar moet help: in alle omstandighede ongeag wat ook al. Sy is God se geskenk aan jou. Hanteer as sulks. Kosbaar. Jou gelyke. Jou beste vriend. En mevrou, wees jy God se tipe geskenk: Helper, gelyke, beste vriend.