Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Lukas 17: 5 – 10 Ons is vandag tussen 2 vakansiedae: Die sg Vryheidsdag (Donderdag gewees) en more se sg Werkersdag. Ons Skriflesing sny deur albei. Kom ons hoor die Here. Gee ons meer geloof. Eintlik sê die dissipels: Here, dit wat U van ons verwag is te moeilik. Help ons. Nou maar wat is so moeilik? Twee goed: • Moet nie iets doen wat ‘n ander van geloof af sal sit nie. Moet nie die rede wees hoekom iemand anders niks met God of kerk te doen wi hê nie. • Vergewe mense wat verkeerd teenoor jou optreë. Selfs as dit 7 keer gebeur. Maw maak nie saak hoeveel keer nie, as hule vra vergewe my, dan vergewe jy. Ek kan al reeds al die besware hoor. Maar dit is wat die Here sê. Die dissipels het verstaan dat dit is wat die Here nou van hulle verwag. Dit is hoe dit moet wees in hulle lewens. Teveel keer dink ons dis opsioneel. Ek kan kies watter woorde van Jesus ek my eie gaan maak en watter nie. Dit is nie opsioneel nie. Of ons bluf onsself deur te dink ons is te swak om dit of dat te doen. Ons het nie so ‘n groot genoeg geloof nie daarom los ons dit liewers. Ek herinner my aan iemand wat jare gelede gesê het hy is nie soos die meer vromes nie. Hy probeer nie ‘n onderskeiding in geloof kry nie. Kyk net weer na die apostels se reaksie: Vers 5: 5 Die apostels sê toe vir die Here: “Gee ons meer geloof.” Luke 17:5 Nou, kom ons kyk na Jesus se antwoord op hulle versoek. Hy gebruik 2 beelde. Die eerste sê meer geloof gaan nie die ding doen nie. Selfs ‘n geloof so klein soos van die kleinste saadjies kan ding doen wat ‘n mens jouself nie kan indink nie. Byvoorbeeld jy sou vir ‘n boom kon sê, trek jou met wortels en al uit en gaan plant jou in die see en die boom sal dit doen. ‘n Hiperbool. Jesus wat met hierdie beeld oordryf, iets groter as groot maak, om Sy punt hard en duidelik te maak. Jy het geloof nodig. Nie ‘n groot geloof nie. Net geloof. Jesus gee hulle moed. Dis nie die grote van jou geloof wat tel nie maar eerder hoe groot God is. Wat tel is Jesus in jou lewe. Jesus aan die werk deur Sy Heilige Gees in ons lewens. Dit is waar die verskil lê. Hudson Taylor wat in die vorige eeu China Inland mission begin het is na sy dood vereer. Spreker na spreker het gepraat oor Hudson se groot geloof. Toe staan sy seun op en sê julle is almal verkeerd. My pa het nie ‘n groot geloof gehad nie. Hy het geloof in ‘n groot God gehad. Die tweede beeld waarmee Jesus die apostels se versoek vir meer geloof beantwoord is: Gaan dink anders oor jouself. Die apostels vra: Gee ons meer geloof. Jesus sê wat jy het is genoeg. Gaan julle en dien onselfsugtig. Gee ons meer geloof. Jesus sê wees jy net God se slaaf. Verander jou ingesteldheid. Op ‘n manier sê Hy, as ek so kyk, hou op om jou te bekommer oor die resultaat. Of dit gaan werk. Konsentreer jy op gehoorsaam wees. Vers 6 tot 10 is ‘n pragtige voorbeeld van selfverloëning. Jy vra nie vir erkenning vir wat jy gedoen het nie. Jy wys selfs die erkenning van die hand. Ons is slawe wat niks verdien nie. Ons het gedoen wat ons verplig was om te doen.” Luke 17:10 Kom ek klaar net iets gou op. In daardie era, as jy onder jou skuld verdrink, kon jy jouself verkoop as ‘n slaaf vir ‘n tydperk. Die Ou Testament het ‘n klomp wette rondom dit. Ander was slawe agv oorlog. Dis anders as slawerny in die moderne en postmoderne era. Met dit gesê, ‘n slaaf voer opdragte uit. ‘n Slaaf het nie ‘n sê nie. Ek en jy is vrygekoop deur die bloed van Jesus en ons behoort aan Hom. Ons is Sy diensknegte. Sy slawe. Ons ingesteldheid is dan om Jesus te gehoorsaam. Om te doen presies soos Hy sê. Maar daar is iets anders wat Jesus by sit. Ek gaan dit plat sê, sonder watte om: Jesus hoef jou nie dankie te sê nie. Jesus hoef jou nie te beloon vir dit wat jy doen nie. Of ‘n ophef daarvan te maak nie. Ons doen wat ons doen en ons doen alles asof vir Hom en ons benader dit as ons doen net ons plig. Jesus hoef my nie dankie te sê nie. Want dit gaan nie oor my nie. En dit wat ek doen, en dit wat jy doen, is uit dankbaarheid uit. Ons leef vir Jesus en doen wat Hy vra omdat ons daarmee sê dankie Here dat U ook vir my gered het. Paasnaweek was alles oor Sy kruis in ons plek. Sy opstanding in ons plek. Paulus sê dit so mooi 7 Niemand van ons leef tog vir homself nie, en niemand sterf vir homself nie. 8 As ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here. Of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here. Romeine 14:7-8. Dit vra nie ‘n groot geloof om dit te bely nie. Of om dit te leef nie! Dit vra net die keuse om Jesus te glo en daarom te doen wat Hy wys. Dit is niks anders as selfverloëning nie. En ons verloën onsself omdat ons dankbaar is dat ons uit die kake van die hel gered is. Ons is vry. Vry van die mag van sonde en van die Bose. Dit is die een kant van vandag. Die ander kant is ons is nie werkers wat demand nie. Ons is slawe van God wat uit dankbaarheid vir ons vryheid kies om God te dien en eer. Kom ons kyk net weer. Jesus vertel die gelykenis van 'n slaaf wat sy meester bedien. 'n Slaaf wat gedoen het wat hy moes, word nie bedank nie. Jesus pas dit toe op dissipel wees. Wanneer die dissipels al die opdragte uitgevoer het wat Jesus hulle gee, moet hulle nie meer van hulleself dink as wat hulle moet nie. Hulle moet bloot aan hulleself dink as slawe wat hul plig nagekom het (10). Jesus begeer 'n gemeente wat nie struikelblokke vir ander is nie (1-2) en wat geleer het om te vergewe (3-4). Hulle het geleer om al Jesus se opdragte na te kom. Hulle kry dit reg deur oortuig te wees dat Hy hul Here en Meester. En dat Hy beter as hulle weet hoe om te leef. En as ons klaar gedoen het wat Hy vra, klaar geleef het soos Hy ons voorsê, moet ons onthou dat ons geloof en ons persoonlike verhouding met Jesus, 'n geskenk is. Ons het dit nie verdien nie. En ons kan niks doen om dit te verdien nie. In Lukas 10:19-20 is dit dieselfde. Jesus het hulle instaat gestel om wonderlike dinge te doen: ek meen, selfs die duiwels het hulle onderwerp aan die gesag van Jesus se gestuurdes. Waarop Jesus hule opgewondenheid temper met … 20 En tog moet julle nie bly wees net omdat die geeste hulle aan julle onderwerp nie, maar wees veral bly omdat julle name in die hemel opgeskryf is.” Luke 10:20 Daar is meer aan ons lewens. Ons raak nie meer opgetrek met erkenning, eer betoon en dankies nie. Ons vreugde lê in ons kind van God wees. In die feit dat ons name in die hemel opgeskryf is. En nee ons het dit nie verdien nie. Dit was ‘n geskenk van God. Jesus het deur Sy dood en opstanding dit vir ons gegee. Dit maak ons nie verwaand nie, ons dink nie ons is beter as ander nie. Ons is net intens dankbaar. Ons weet dat God se geskenk van geloof aan ons, is meer belangrik as selfs die wonderwerke wat ons geloof sou kon vermag. Dit is tog deel van slaaf wees. Ons dink nie ons meester skuld ons enige ekstra gunste net omdat ons geleef en gedoen het soos wat ons in die eerste plek veronderstel was om te doen nie. Want dit kon anders vir ons geeindig het. Daarom soek ons nie dankies nie. Ook nie belonings nie. God skuld ons niks. Maar ons, ons skuld God ons lewe en ons vryheid. Daarom werk ons vir Hom.