Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1 Tessalonisense 1: 1 – 10 Ek bid vanoggend dat daar altyd mense sal wees wat vir God sal dankie sê vir ons almal. En ook vir ons sal bid soos Paulus in hierdie verse bid. Ek hoop hulle sal bly bid vir die werk van ons geloof, dws hoe ons geloof oorgaan tot doen, sal bly bid dat ons onsself sal inspan, hard sal werk daaraan, om liefde te leef en te volhard in die hoop wat ons Here Jesus in ons geplaas het. Ek vir een het sulke gebede nodig. Ek glo jy voel ook so oor jouself. Daar is ‘n paar goed wat ook ons van onsself moet weet: God het jou lief en God self het jou uitverkies. Ons is God s’n/ dit is wie ons is: God s’n. Vergeet die res wat jy oor jouself dink, en onthou aan Wie jy behoort. Onthou Wie het jou uitgekies. Ons is volgelinge van die Here Jesus. Ons is mense wat vanuit God se Woord leef. In ander dele hoor ons dat ons deel is van Jesus se liggaam. Ons is kerk. Sy kerk. Ons is hierdie goed nie in ‘n lugleegte of in ‘n spirituele wêreld nie. Ons is al hierdie dinge te midde van misdaad, swak dienslewering, loadshedding, dood, oral waar ons is en gaan. Die vraag is vanoggend: Hoe kan die voorbeeld van die Here se gemeente in Tessalonika ons inspireer? Hoe moet ons kerk wees in Deneysville en Suid Afrika? Maw, Ek vra: Hoe wil God hê moet ek en jy wees, leef, in Deneysville in 2023? Dit is ‘n gesprek met God wat ons elke dag oor daardie dag moet hê. Bv Here, hoe wil U hê moet ek vandag leef? Wat kan ek vandag vir U doen? Ek dink Martin Luther was reg toe hy geskryf het: “God se Woord is nie ’n Leeswoord nie, maar ’n Leefwoord!” Tessalonika was 'n lewende gemeente. Hulle het al die evangelie en al die gawes wat die Heilige Gees gegee het, gevat, hulle eie gemaak ... en dit geleef. Hulle het gekies om teen die stroom in te leef ... ongeag van wat ander sê ... gekies om radikaal vir God te leef. Hulle het nie kerk gespeel nie. Hulle was die kerk van Christus. Hulle het nie net oor Jesus en die genade gepraat nie, hulle het dit beliggaam. Prakties na geleef. En die gevolg? Vers 7 en 8. Hulle het self 'n voorbeeld geword en oor die hele streek het mense oor hulle geloof gepraat. Ek het Woensdag gedink aan die Engelse gesegde: “Many a slip between the cup and the lip.” As iets nie gebeur tussen die bord kos en jou mond nie gaan jou honger nooit gestil word nie. Is dit nie hoe baie gelowiges geword het nie? Ons praat so baie oor die bord kos en hoe wonderlik dit is, maar niemand sien ooit dat ons dit geëet het nie. Kom ek verduidelik: Ons lees die Bybel. Ons sê 'n preek was aangrypend of baie interessant. Ons dink selfs daaroor. Maar ons leef dit nie. Dit lê nog net so in die bord. Onaangeraak. Kom ons gaan leef die volgende dinge: 1. Ons begin aan ons binnekant. Ons leef “inside out” Van binne na buite. Ons laat die mond oorloop waarvan die hart vol is. Nl. Die besef dat ek aan God die Vader behoort. Dat Jesus Christus my met Sy liefde volgemaak het en ek dit nou kan uitdeel aan almal waarmee ek te doen kry. Ons doen dit omdat ons weet dis Jesus se liefde vir ons wat gemaak het dat God ons uitgekies het om Sy seuns en dogters te wees. Ons laat hierdie besef so groot in ons lewens word dat dit ons elke dag oor en oor oorweldig: God het my vergewe. Ek is gered. God woon in my. Dis te groot om te hanteer maar ek is so dankbaar. Ek wens daar was net nog iets wat ek kan doen om vir God te wys hoe dankbaar ek is. 2. Na buite. Ons laat nie net die mond oorloop nie, maar ook ons dade. Ons leef Jesus tussen mense uit Hoe weet mense julle is Christene? Hulle kyk na wat jy doen. Na wat jy leef en hoe jy leef. Thornton Wilder, die bekende skrywer, het 'n waar ding gesê: “Moet nooit vir ’n man vra of hy glo nie. Kyk eerder na wat hy doen!” Dis presies die storie van die gemeente daar in Tessalonika. Vers 7 som eintlik hulle storie op: “So het julle ’n voorbeeld geword vir al die gelowiges in Masedonië en Agajé” (m.a.w die hele Griekeland). ’n Voorbeeld. Die Griekse woord wat hier gebruik word vir ‘voorbeeld’ is ook gebruik vir wanneer ’n merk agtergelaat is deur ’n harde hou (byvoorbeeld wanneer ’n motief op ’n muntstuk geslaan is). Dit beteken dus Christus is in hulle lewe ingebrand. Hulle is gemerk deur Christus. Wat hulle elke dag doen en wat gebeur in hulle lewe, is Christus se besluit. Alles word bepaal deur die beeld wat op hulle ingeslaan is! Wat is die gevolge van ’n goeie voorbeeld? Mense sal besef Christenskap is nie net goed op papier nie. Almal het gepraat van die geloof van die Christene in Tessalonika. Dit het soos ’n veldbrand versprei deur die destydse Griekeland! Mense het deur die voorbeeld van die Christene van Tessalonika besef dat Christenskap elke dag werk! Paulus sê in vers 8 dat dit selfs nie eens meer vir hom nodig is om nog iets te kom sê oor die evangelie nie, want hulle voorbeeld het helderder gepraat as wat woorde ooit kon! Dis die uitdaging wat hierdie teks in ons midde gooi: “Wees ’n voorbeeld van die beeld van Christus wat in jou lewe ingebrand is deur die Heilige Gees!” Dit is wat ons gemeenskappe meer as ooit nodig het om te beleef. Christene wat Christus leef. 3. Moenie dit net preek nie. Leef dit. Kom ons gebruik 'n maklike voorbeeld. As jy vir jou kinders leer om nie met hulle elmboë op die tafel te sit nie ... maar jy doen dit self .... gaan hulle dit leef? En as jou kind sê “ uuh pa, jou elmboog is op die tafel ... “ gaan jy kwaad word en haar skerp antwoord of gaan jy om verskoning vra en sê: “Jammer” en jou elmboë van die tafel afhaal? Punt is: Meer doen ... meer voorbeeld stel en meer mense gaan “actually” Jesus begin leef. Pous Johannes XIII het hierdie veelseggende woorde gesê: “Dit sou byna onnodig wees om dogma te verkondig indien ons lewens volkome reg was. As ons ons gedra soos ware Christene, sal daar geen heidene wees nie.” Kom ek sluit met 'n verhaaltjie: Die sesjarige Len was gedurig op sy ma se hakke, so veel so dat sy selfs amper op ’n keer oor hom geval het! Sy raas toe en vra hom of hy nie liewers buite wil gaan speel nie. Sy antwoord aan haar was dat hy liewer saam met haar wil wees! Toe sy egter die hoeveelste keer op sy tone trap, het sy haar geduld verloor en gevra: “Hoekom tree jy so vreemd op?”Toe kyk Len sy ma in die oë en antwoord: “Wel, juffrou het gesê ek moet in Jesus se voetspore loop. Maar ek kan nie vir Jesus sien nie, so nou loop ek maar in Mamma s’n!” Ek vra jou nie vandag om 'n voorbeeld te gaan wees nie. Ek sê maar net wat Jesus wil hê ... dat jy 'n christen sal wees. Nie 'n vlek op Sy skoon Naam nie ... maar 'n christen. In die volle sin van die woord ... dat Jy Jesus sal gaan wees. En ons doen dit soos klein Len. Ons leef absoluut agter Jesus aan. Ons stap so in Sy voetspore dat ons word soos Hy. Mag die mense dan oor ons geloof sê: Hulle is bekeer. Hulle dien nou die Lewende God. Hulle is deur Sy Seun wat uit die dood opgewek is en nou uit die hemel verwag word, gered en lewend gemaak. Hulle dien God. Amen.