Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1. Die opstandingsverhaal in Markus se evangelie is vreemd. Baie vreemde dinge gebeur in aanloop tot Jesus se dood. Maar na die kruisiging gebeur nog ‘n paar vreemde dinge. Die feit dat sy liggaam aan sy vyande gegee word en ook die feit dat die getuies van sy opstanding eintlik geen kredietwaardigheid gehad het nie. En tog is al hierdie vreemde dinge wat gebeur juis die dinge wat die opstandingsverhaal so kredietwaardig maak. 2. Wanneer ons van nader kyk is dit opmerklik dat niemand eintlik verwag het dat Jesus uit die dood sou opstaan nie. Almal is besig om voorbereidings te maak asof sou Jesus dood wees en dat Hy dood sou bly. Niemand sit by Jesus se graf met die verwagting dat Hy gaan opstaan nie. Geeneen van die dissipels keer terug met die wete dat die kruisiging maar net ‘n tydelike verlies was nie. 3. Op Paassondag is daar geen teken dat enige van die vroue wat graf toe gekom het enigsins verwag het dat Jesus sou leef wanneer die steen weggerol word nie. Inteendeel, Joodse literatuur vertel vir ons dat die speserye wat hulle saamgebring het ten doel gehad om die slegte reuk teen te werk wat gepaard gaan met ‘n liggaam wat ontbind. Dit wys net vir ons dat die vroue beslis nie ‘n lee graf verwag het nie. 4. Ek meen, Jesus het sy dood 3 keer voorspel. Wat beteken dat hulle Hom of nie verstaan het nie of nie geglo het nie. 5. Verder is dit nogals ‘n groot ding as Markus vir ons vertel dat vroue die eerste getuies was van die opstanding. Die getuienis van ‘n vrou was totaal sonder waarde gewees in die Bybelse tyd. Dit was so waardeloos dat vroue nooit eens toegelaat is as getuies in ‘n hofsaak nie. 6. So, as jy die evangelis was en jou doel was om vir die wereld te verduidelik dat Jesus uit die dood opgestaan het, waarom op dees aarde sou jy dan vroue as getuies hiervan gebruik? Jy sal moet aanvaar dat niemand jou sou glo nie. 7. Die enigste moontlike rede waarom jy dit in jou evangelie sou skryf is omrede dit die waarheid was. Ek meen, dis so vreemd dit MOET waar wees. As jy as evangelieskrywer die verhaal van die opstanding wou opmaak, sou jy beslis meer geloofwaardige getuies gebruik het hiervoor. 8. Verder moet van die twee vroue gese word dat hulle nie ‘n baie goeie beeld uitstraal nie. Vgl vers 2 het hulle eers begin wonder wie die steen voor die graf gaan wegrol toe hulle reeds by die graf aangekom het. Is dit nie iets waaroor hulle moes gewonder het selfs voor hulle vertrek nie? Miskien een of twee manne saamgevat het vir die doel nie? Maar nee, by hulle aankoms besef hulle eers dat hulle nooit hiervoor voorsiening gemaak het nie. 9. En alhoewel hierdie vrae is wat Markus se kritici sou vra, teken hy dit steeds so aan. En dit kan net om een rede wees. Want dit is presies hoe dit gebeur het. Dis detail soos hierdie wat niemand sou opmaak nie en dit terwyl hulle weet dit gaan hulle verhaal in ‘n slegte lig stel. 10. Dan is daar die beskrywing van die man by die graf wat ‘n probleem skep. Markus se in vers 5 vir ons ; “Toe hulle in die graf ingaan, sien hulle 'n jongman aan die regterkant sit met lang wit klere aan, en hulle het groot geskrik.” Maar kyk na die vroue se interaksie met hierdie man, wat terloops, meeste geleerdes ooreenstem dat dit ‘n engel was. Hulle interaksie met die man bevestig net nog meer hulle twyfel. Die vroue is bang en nie net agv die vreemde man in die graf nie. Hulle is bang want Jesus is weg. 11. Hulle het nie opstanding verwag nie. En hulle het geen idee wat met Jesus gebeur het nie. Die engel moes hulle selfs hieraan herinner. Hy haal Markus 14:28 aan wanneer hy hulle herinner dat Jesus hulle geleer het dat Hy sou opstaan. Niks hiervan gee werklik kredietwaardigheid aan hulle getuies nie. Eerlik ja, maar glad nie kredietwaardige getuies van die opstanding nie. 12. Markus gee nie vir ons wetenskaplike data oor die opstanding nie. Hy gee geen bewyse of data of enigiets om die opstanding meer geloofwaardig te maak nie. Hy vertel dit soos dit gebeur het. 13. En dan kom die afsluiting van Markus se evangelie, wat ewe vreemd is. Markus se in vers 8: “Hulle het uit die graf uitgegaan en weggehardloop terwyl hulle gebewe het van die skrik. Hulle het vir niemand anders iets daarvan gesê nie, want hulle was bang.” Eintlik doen die vroue dieselfde wat ons in die week gesien het die dissipels gedoen het in hfst 14. Hulle is bang en hulle vlug weg. 14. En die interessante is dat Markus regdeur sy evangelie die woord bang of vrees gebruik wanneer iemand iets nie verstaan nie. Onthou die vroue is die enigste getuies van die opstanding. En hulle getuienis is dat hulle dit nie verstaan nie. Hulle het gesien die graf is leeg, maar hulle verstaan dit nie. 15. En dan hou die evangelie net op. Dit stop net!! Daar is beweringe dat daar ‘n verdere gedeelte ingevoeg is later, maar dit is hier waar die oorspronklike evangelie van Markus eindig. Sommige bybels het wel ‘n vers 9-20 in, maar dit is verse wat later bygevoeg is deur oorskrywers en daarom verskyn hulle eers in baie latere manuskripte. Maar die evangelie eindig hier, met baie vrae. 16. Maar Markus het dit met ‘n doel gedoen. Hou in gedagte dat die evangelies nie gelees is deur mense in hul binnekamer of iewers waar hulle alleen was nie. Dit is voorgelees in gemeentes vol mense. En hulle het besef dat wanneer dit klaar gelees is sou daar baie vrae wees. 17. Mense sou nog wou weet. Dit kan nie net hier eindig nie. Ons weet nou wat gebeur het maar nou wil ons weet wat dit alles beteken. Maar hiervoor het Markus reeds in hoofstuk van sy evangelie voorsiening gemaak. Sommer in vers 1. 18. “Die evangelie van Jesus Christus, die Seun van God, begin só”. En dan besef ons dat alles wat Markus opgeteken het maar net die begin was. Daardie goeie nuus gaan aan. Want wanneer ons die evangelie in totaliteit na kyk, wanneer ons dinge onthou soos Jesus wat gese het Hy is die Seun van God, sy beloftes van redding vir nou en in die toekoms, al sy illustrasies wat Hy gebruik het om sy dood te beskryf, toe Hy die ongesuurde brood opgehou en die mense herinner het dat sy liggaam vry sal wees van suurdeeg, van verrotting, dan besef ons dat dit alles heengewys het na hierdie oomblik! 19. Jesus se kruis was die finale opoffering vir ALMAL. Wit, swart, bruin, chinees, japanees, libanees, wie ookal. Dit het ons gesien in die geval van die Romeinse soldaat voor die kruis ook. Sy dood was nie net vir Jode nie, of net vir ‘n uitgesoekte groepie Afrikaners of Engelse nie. Openbaring se vir ons daar was mense van ELKE stam, volk, taal en nasie voor die troon. 20. Maar die kruis alleen sou nie genoeg gewees het nie. Anders sou elke evangelie slegs by die kruis geeindig het. Nee, ons geloof staan en val by dit wat ons vandag gedenk geliefdes. By die opstanding. As Jesus al die lyding deurgemaak het en sy liggaam was vandag nog in die graf, sou dit vir ons geen waarde gehad het nie. Maar Hy moes dit deurgaan sodat vandag kon gebeur. Sodat daar ‘n lee graf kan wees. 21. “En as Christus nie opgewek is nie, is julle geloof waardeloos en is julle nog gevange in julle sondes.” Skryf Paulus aan die gemeente in Korinte. En in Romeine skryf Paulus “Hy is vanweë ons oortredings oorgelewer en Hy is opgewek sodat ons vrygespreek kan word.” Ons geloof in ‘n opgestane Here staan en val by die lee graf geliefdes. Dit wat ons vandag herdenk. 22. Aan die kruis het Christus die offer vir ons sonde gebring. Maar God moes hierdie offer aanvaar. Daarom wek God Christus uit die dood op om daarmee te sê dat Hy Christus se offer aanvaar het. Hy is opgewek sodat ons vrygespreek kan word aldus Paulus. As Christus nie opgewek is nie het die kruis geen waarde gehad nie. 23. As Christus nie opgewek is nie, was klein Ewan se doop vanoggend ‘n dooie ritueel. Met geen doel nie. Maar omdat ons weet dat Hy leef, het klein Ewan vanoggend deel geword van die liggaam van Christus, het hy deel gekry aan Christus se sterwe en opstanding. 24. Maar hier is die belangrikste vraag vanoggend. Het Christus al opgestaan in u lewe? Anders gestel, is u en my lewe ‘n toonbeeld daarvan dat God Christus se offer in my plek aanvaar het? Want anders was dit alles pure verniet. Al die lyding, al die seer, al die emosionele lyding wat Jesus moes deurgaan vir God om net hierdie offer deur die opstanding te aanvaar, was dan pure verniet. 25. Hoe verander die opstanding van Christus my lewe elke dag? Doen dit? Want anders was sy lyding, sterwe en opstanding verniet gewees. En dit kan tog nie. Ons kan nie toelaat dat dit verniet was nie. Die prys was te duur. Iets moet gebeur met dit wat met Christus gebeur het. En dit moet in ons, u en my lewe, gebeur. 26. Want dit was alles die doel daarvan geliefdes. Dat die opstanding van Jesus in ons lewens sal posvat elke dag. Dat elke dag van ons lewens nie Goeie Vrydag sal wees nie, maar Opstandingsondag. Ek wil ‘n uitnodiging maak vanoggend. As u vanoggend voel dat Christus nie elke hoek en deel van u lewe beheer nie, maak vanoggend daardie stap. Gee ook dit wat nog in u hande is aan Hom oor. Aanvaar dat daar ‘n lee graf is en dat dit oor as genoeg bewys is dat Hy oor alles in jou en my lewe wil regeer.