Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1. Soos wat ons deur die res van Markus 15 werk besef mens dat al hierdie gebeure is bedoel om ons aandag te vestig op ‘n baie spesifieke Psalm. Psalm 22. Toe die soldate Jesus se klere verdeel het volgens vers 24 sou die Jode wat Markus se evangelie later gelees het dadelik Ps 22:19 onthou het: “Hulle verdeel my klere onder mekaar en trek lootjies oor my mantel.” 2. Wanneer Markus verduidelik in verse 29 en 31 hoedat die mense en die priesterhoofde en skrifgeleerdes Jesus gespot het, sou die Jode onthou van Ps 22:7 en 8: “Ek word deur die mense bespot en deur die volk verag. 8 Almal wat my sien, spot my, ……….en knik met voldoening die kop.” 3. En wanneer Jesus sy laaste woorde uiter dan kom dit uit vers 2 van Ps 22. “My God, my God, waarom het U my verlaat en bly U ver as ek om hulp roep?”. Daarom dat Psalm 22 soms na verwys word as Christus se lydingspsalm. 4. Maar hierdie was meer as net ‘n klompie verwysings. O baie meer. Hierdie was Jesus se laaste les aan diegene rondom die kruis, sy dissipels wat Hom in die steek gelaat het, maar ook vir u en my, duisende jare later. U sien, wanneer Jesus sy laaste woorde uitroep, My God, My God, waarom het U my verlaat, is Jesus besig met ‘n baie bekende Rabbiniese praktyk waarvan ons ook vroeer in die week na verwys het. 5. En dit was die praktyk om te verwys na ‘n gedeelte in die Skrif deur slegs ‘n deel daarvan aan te haal. Weereens, hou in gedagte dat in die tyd van Jesus is die Bybel nie opgedeel in hoofstukke en verse nie. Jesus kon dus nie hulle aandag vestig op Psalm 22 vers so en so nie. 6. Hy moes hierdie teksgedeelte letterlik aanhaal en kwoteer. En aangesien meeste mense dele van veral die Psalms woord vir woord geken het, het Jesus geweet dat deur na een vers te verwys sou sy hoorders beslis geweet het wat na hierdie vers volg. 7. Daarom dat Jesus nie eens die hele vers 2 aanhaal nie. Slegs ‘n gedeelte daarvan, en Hy verwag van die hoorders om die res in te vul. En Markus het u en my wat sy evangelie lees vandag ook voorberei om dieselfde te doen. Soos ons genoem het is Markus in die laaste klompie verse besig om ons aandag te vestig op Psalm 22. 8. En dit is nie toevallig nie. Jesus is besig om ons een laaste les te leer vanuit Psalm 22. Dis eintlik geweldig interessant. Kom ons kyk na hierdie les. In vers 7 vind ons die volgende: “Maar ek is 'n wurm, nie 'n mens nie. Ek word deur die mense bespot en deur die volk verag.” 9. Nou die woord wat vir wurm gebruik word is die woord “tola”. Maar tola is nie sommer enige tipe wurm nie. Dit het ‘n baie spesifieke doel gehad. Tola kan ook gebruik word vir die woord “bloedrooi” in Hebreeus. Miskien is die woord “crimson” beter bekend aan u. En dit was as gevolg van die tipe wurm waarna verwys word. Hierdie wurms is platgedruk en in warm water geplaas. 10. Dit het dan ‘n bloedrooi kleursel gevorm wat gebruik is vir die kleur van materiaal. Ons lees in Eks 26:1 dat hierdie bloedrooi kleurstof onder andere gebruik moes word vir die kleur van die materiaal in die tabernakel. En in die tempel het verskillende kleure verskillende betekenisse gehad. En hierdie bloedrooi kleur, of crimson kleur, het sonde verteenwoordig. 11. En hier is die rede waarom Jesus ons aandag hierop wil vestig op hierdie spesifieke oomblik. Jesus is besig om verskillende skrifgedeeltes saam te bind deur van een woord gebruik te maak. 12. Want een van die verwysings wat die eerste hoorders dadelik aan herinner sou word wanneer Jesus die woord “tola” gebruik, was Jes 1:18: “Kom tog, laat ons die saak met mekaar uitmaak, sê die Here: Al was julle skarlakenrooi (TOLA) van sonde, julle sal wit word soos sneeu. Al was julle purperrooi (TOLA), julle sal wit word soos wol.”. 13. Skielik sien ons die verband tussen al hierdie tekste. Want hierdie wurm is platgedruk. Ons bloedrooi sonde is nou wit gemaak. Omrede die Tola verneder en platgetrap is, is ons Tola nou skoongemaak, spierwit. Omrede Jesus soos hierdie wurm platgedruk is, is ons sonde weggevee en uitgewis. 14. Met sy laaste asem is Jesus besig om vir ons te vertel waaroor alles gegaan het. Die ware seun van die Vader, die ware Bar-abbas, Jesus van Nasaret, Hy is die redder wat ons verlos. Nie deur die bloed van andere te laat vloei nie, maar deur sy eie bloed te laat vloei. 15. Hy gee Homself om gemartel te word sodat ons gereinig kan word. En ek wil nie he ons moet hierdie boodskap mis nie. Ek wil nie he ons moet mis hoe hard Markus gewerk het om hierdie punt so duidelik te maak. Dit is hoe ons Verlosser lyk. Dis hoe onbeskryflik lief God elkeen van u en my het. 16. Ons dien ‘n God wat nie net vra dat ons Hom met alles sal dien nie, maar ‘n God wat eerstens sy lewe gegee het voordat Hy dit van ons vra. En die redding wat Hy bring is nie een wat lewe neem nie soos in die geval van Barrabas nie, maar lewe gee. En nie net vir ‘n oomblik in die geskiedenis nie, maar vir alle ewigheid. 17. En vandag, op hierdie oomblik, nooi Jesus elkeen om hierdie geskenk te aanvaar. Om gereinig te word, om jou sonde af te was, om ‘n ander, nuwe lewe te he. Maar daar is nog ‘n les wat ons in Markus 15 vind. Kyk wie is die eerste persoon wat besef wat is werklik hier aan die gang. 18. Markus vertel vir ons dat die eerste persoon wat verstaan het wat besig was om te gebeur daar op Golgota was nie ‘n Joodse omstander nie, dit was nie ‘n godsdienstige leier nie. Die persoon wat die woorde uitspreek “Hierdie man was werklik die Seun van God” was ‘n Romeinse soldaat. 19. Hierdie is een van die kragtigste gebeure in Markus se evangelie. Die dissipels verstaan dit nie, die skrifgeleerdes verstaan dit nie, maar ‘n Roemein doen. ‘n Heiden. Iemand wat aan die kant van die vyand behoort. 20. En dit gaan verder. Want kyk wat noem hierdie heidense soldaat Jesus. Hy se dat hierdie man was werklik die Seun van God. Hierdie was werklik die regte Bar-Abbas. Nie Barabbas die rewolusionere kryger nie, nie daardie seun van die vader nie. Jesus was die werklike Seun van die Vader. 21. En op hierdie een oomblik is Markus besig om ‘n punt te maak wat hy regdeur sy evangelie probeer doen. Van die oomblik af wat Jesus ‘n heidense man van duiwels bevry het tot by die Romeine langs die kruis bring Jesus een baie belangrike boodskap. Die evangelie van verlossing, die afwas van sonde, is nie net beskikbaar vir die Jode nie. 22. Jesus het gekom vir die heidene ook. Hy het nie net gekom vir vriende nie maar ook vir die vyande. Die evangelie van verlossing is vir almal. Dit maak nie saak of jy nog worstel met jou geloof nie, dit maak nie saak of jou verlede jou nog ry in die nag nie, maak nie saak of jy soos ‘n buitestaander in die kerk voel nie. 23. Hierdie goeie nuus evangelie is vir almal. En Jesus nooi elkeen van ons om hierdie gawe van verlossing te ontvang, om bevry te word van wat jou ookal vashou en verhoed om ‘n lewe van oorwinning saam met die ware Bar-Abbas te leef. Jesus nooi u en my om te doen wat Hy aan die begin van die Markusevangelie reeds gese het: In hoofstuk 1 vers 15: Bekeer julle en glo die evangelie! 24. Ek wil u uitnooi om vanoggend, om uself net weer opnuut aan Hom te wy. Om hierdie paastyd net weer oor te begin met God. Onthou dat Hy die God is wat vir ons wag om terug te kom. Gebruik die geleentheid hierdie paasfees om weer by Sy voete te gaan sit, wagtend. God se belofte is dat die wat na Hom soek nooit teleurgestel sal word nie.