Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Matteus 24: 1 – 14 (in die lig van Jesus se intog in Jerusalem). Dit is vandag palm sondag. Ons dink terug aan Jesus se intog in Jerusalem in op die Sondag voor Sy groot offer aan die kruis om ons onthalwe. Ek kan net dink die spanning in Hom. Maar ook dat die eerbewys van ‘n Maria wat sy voete gesalf het en nou die eerbewys van ‘n skare wat Hom vereer, vir Hom baie moes beteken het. Selfs al was die skare se eerbewys effe misplaasd. Vandag, meer as 2000 jaar gelede het Jesus Jerusalem binne gegaan om die ou era af te sluit en ‘n nuwe een te begin. So, Hier is my vraag, wat as Jesus vandag terug kom? Wat as Jesus op hierdie dag van herdenking van die intog opdaag met die eindoordeel? Laat dit jou ongemaklik? Of skud jy jou kop hierbinne en dink nie in ons leeftyd nie? Ek sê nie dis vandag nie. Ek weet ook nie wanneer dit is nie. Maar dit kan ook vandag wees. 1. Wat as? Wat as dit vandag is? Vanoggend nog? Ek kan jou verseker: Dis moontlik!! Matteus 24 praat van die tekens wat daar sal wees vir die wederkoms. Die tekens is om ons. Die mensdom wat ophou glo. Dis om ons. Op ons. Ek weet ons is nie veronderstel om te weet die dag of die uur wat Hy weer kom nie. In een van Sy leringe sê Hy dis onverwags. Soos ‘n dief in die nag. Wat as Jesus net nou arriveer op die wolke? Kom ek gebruik ‘n beeld. As jy jonk is en julle eersteling is oppad, 9mnde in die swangerskap in. Dan vra almal jou: Is jou tas gepak? Jou ma sal dalk vra wat jy alles ingepak het. Jyself is opgewonde maar ook effe gspanne oor wat wag. Maar die belangrike is: Is jy gereed om onverwags jou sak te gryp en te ry? Ek vra jou dit vanoggend want ons karring voort op dieselfde trant jaar na jaar. Ons leef asof die wederkoms nie in ons tyd gaan wees nie. Eendag is nog vêr. Maar iewers word eendag vandag en vandag word nou. Dit is Jesus se laaste week voor die kruis. Dalk nog die Woensdag. Die dissipels het Sy aandag gevestig op die tempelgeboue. Waarop Jessus gesê het: “Julle sien al hierdie dinge? Dit verseker Ek julle: Hier sal nie een klip op die ander bly nie; alles sal afgebreek word.” Matteus 24:2 Toe hulle die middag terug kom by die Olyfberg het hulle alleen by Hom gekom en uitgevra oor Sy woorde. “Sê vir ons, wanneer sal hierdie dinge gebeur en wat sal die teken van u koms en van die einde van hierdie wêreld wees?” Hulle vra twee dinge: Wanneer sal die tempel afgebreek word? Wat sal die tekens wees van Jesus se wederkoms en van die einde van die wêreld. Jesus het nie datums gegee nie. Die val van Jerusalem was in 70 NC. Dit het gebeur. Jesus het ook nie ’n datum vir die wederkoms gegee nie. Teveel gelykenisse vertel dat die aangesteldes diensknegte) nie die tyd sal ken waarop die Eienaar terug kom nie. Ons is nie veronderstel om te weet nie. Kom ons kyk na die tekens. Die tekens is om ons te herinner dat ons reg voor Hom moet leef. Tekens wat vir ons sê: Die wederkoms kan enige dag gebeur... Is jy gereed? Is jy besig met die regte dinge? Is jou tas gepak? Ek het goeie nuus en slegte nuus. Die slegte nuus is: Die tekens is nie een positief of mooi nie. Dit is negatief. Swaar tye lê voor. Al hierdie dinge is soos geboortepyne. Sien uit na wat Hom wat kom. As ons lig soek te midde van die donker prentjie wat in Matt 24 geskets word, gaan ons skrik. Want die lig is maar min. Maar dit is tog daar. 2. Wat is die tekens? M.a.w. waarvoor moet ons op die uitkyk wees? • Mense wat ons wil mislei. Mense wat sê hulle is die Christus. (vers 4 en 11) • Oorloë. (Vers 6 en 7). Die een nasie sal teen die ander te staan kom en die een koninkryk teen die ander. • Hongersnode. (Vers 7) • Aardbewings. (Vers 7) • Die Christene sal mishandel word en dood gemaak word. (Vers 9 e.v.) • Al die nasies sal die Christene haat omdat hulle Jesus se Naam bely. • Baie mense sal ophou glo. (Vers 10) Hulle sal mekaar verraai en mekaar haat. • God se wet sal geminag word. (Vers 13) • Die liefde sal by baie verkoel. (Vers 13) In verse 9-14 gaan dit by uitstek oor die gemeente en die druk wat op hulle en dus ook op ons geplaas word. Hier word gepraat van baie mense wat van die geloof afvallig word. Hulle gaan van Christus vergeet. Hy sal vir hulle onbelangrik wees. Nog erger: hulle sal die ander gelowiges verraai en mekaar haat. Kom ons sit ’n paar dinge bymekaar. Gereeld hoor mens van plekke wat onder aardbewings deurgeloop het. Hongersnood is orals. Ook om ons. Gaan stap deur die plakkerskamp en selfs deur sommige blanke huise en jy sal besef hoe naby dit aan ons kom. Oorloë: Burgeroorloë in Afrika (Die Noorderlike dele van Mozambiek); ISIS. Rusland wat Ukraine aangeval het. Toestande tussen Israel en die Palestyne. Plaasmoorde. Vlakke van misdaad in Suid- Afrika. Minder ooglopend, omdat ons al afgestomp geraak het hiervoor, is die minagting van God. Aanslae teen die gesag van die Bybel; Verdagmakery binne die kerk; mense wat kerkskeuring verkondig of mee dreig; Mense praat maklik verkleinerend van Bybelse beginsels. Vloek raak die omgangstaal van baie mense. Menseregtegroepe wil allerhande vreemde dinge en denke afforseer op die kerk. Ek vir een lees nie meer die kommentaar in koerante nie want dit maak my siek. Hulle kraak alles wat mooi is en Christelik is af. Die haat teen die kerk is soms tasbaar. Genadiglik word ons nog nie soos die dissipels gevang en gemartel en doodgemaak, omdat ons Jesus verkondig nie. Mag die Here ons daarvan bewaar. Kom ek sê dit anders. Meer soos Mattheus dit sou sê: Dit gaan in vers 12 oor meer as net 'n blote sedelike verval. Dit gaan nie oor die oortreding van 'n tiental reëls nie. Dit gaan in die Mattheus evangelie en in hfstk 24 in besonder oor liefdeloosheid. Vir Mattheus is wetteloosheid altyd in wese liefdeloosheid. Gaan lees gerus die konteks van ons gelese gedeelte: Hfstk 25:31-46 as ek meer spesifiek kan wees. In vers 12 waarsku Jesus ons dat ons nie die sin van ons bestaan moet verloor nie. En ons verloor dit as ons liefde koud word. As Jesus dan sê ons moet volhard. Dan beteken dit nie as sodanig, dat ons moet sterk staan onder druk en vervolging nie. Meer spesifiek beteken dit: volhard in die liefde. Dis die slegte nuus. Nou kom die goeie nuus. Kom ek sê dit interme van my beeld van ‘n tas. Of soos Stephan Joubert se ouma altyd gevra het: Is jou tas gepak? God sal jou help met die inhoud, het sy blykbaar gesê. 3. Die Goeie nuus. • Vers 8: "Al hierdie dinge is geboortepyne, die begin van die nuwe tyd" 'n Vrou wie se swangerskap einde toe staan, voel ongemaklik, trek soms 'n bietjie swaar. Miskien is daar ook 'n mate van spanning oor wat voorlê. En tog sien sy uit daarna, of dan na die resultaat, na dit wat kom na die pyn. Die druk op ons as gemeente, die noodsaaklikheid om voortdurend op die uitkyk te wees vir die gevaar van verleiding, die oorloë ens., word draaglik as 'n mens weet dat dit tekens is van die nuwe tyd -- 'n baie beter tyd. Sien dit so: Christus het nie die wêreld, vir u en vir my vergeet nie -- al lyk en voel dit soms so. Hy regeer reeds -- al is dit vir die mens op 'n eienaardige wyse. En Hy kom weer......sommer gou ook......kyk die tekens is reeds daar. Hy is gereed om terug te keer om ons te kom haal. Soos ons al tot oorlopens toe al gehoor het: Moenie na die omstandighede kyk nie. Kyk op na Hom wat op die wolke kom. Na Hom wat reeds aan die kruis vir u sondes betaal het. Kyk op na Hom wat u vryheid gee. • Die tweede ligpunt lê in die feit dat ons gered word. Ons red onsself nie. Ons word deur God gered. Dit beteken dat ons nie staan of val by ons onvermoeë om waarlik liefde te lewe en die wet te onderhou nie. Ons bly staan in Jesus. Al ons sondes het Hy volkome voor betaal. Ons red onsself nie deur volharding nie. Nee, God self hou ons vas en bewaar ons. Daarin lê die troos: God sal ons dra deur al hierdie dinge heen. Deur werklik te glo in Jesus oorwin ons die moegheid en moedeloosheid wat oor 'n mens kom as dinge te lank swaar gaan. Dit gebeur omdat die geloof in Christus veral twee dinge in ons vermag: Die eerste kry ons in vers 12 + 13. As 'n mens glo in Christus se wederkoms dan volhard jy in die liefde. Met liefde maak ons 'n koue en ongenaakbare wêreld weer warm en leefbaar. Miskien moet ons sê: Volhard in alles wat die tekens teenwerk: vrede i.p.v. oorlog; getuienis teenoor valse leringe; voedsel waar daar hongersnood is, ens. Op die einde is dit maar net waaroor die liefde gaan. Die tweede saak is in vers 14: sending. As 'n mens glo in die wederkoms van Jesus Christus dan neem jy aktief deel aan die verkondiging van die evangelie. Dan praat jy tydig en ontydig met mense oor Jesus. Die tekens sê: dis moeilike tye, gevaarlike tye. Die druk is daar en dis groot. Jesus sê: Ontstel julle nie daaroor nie. Ek is met julle. Dit is maar net soos geboortepyne. Moet nie benoud word nie. Ek red julle. Is jou tas gepak? Kom ons sien uit na die Here se koms. Amen.