Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Luk 22:31-34 Soveel keer fokus ons op Petrus in hierdie deel. Dit is nie verkeerd nie. Maar wat mis ons? Vers 31: 31 “Simon, Simon!” het Jesus gesê. “Luister! Die Satan het daarop aangedring om julle soos koring te sif. 32 Maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie begewe nie. As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou broers versterk.” Lukas 22:31-32 Ek het al gehoor hoe mense praat van God toets ons. Ek weet nie van jou nie, maar dit maak my onrustig want sê nou maar net ek dop die toets? Kan ons bietjie daaroor praat? Wat as die satan daarop aandring om ou onbenullige ek te toets? Te sif en uit te skud soos die kaf wat ek eintlik is? Soos ‘n Job van ouds, en soos die dissipels in hierdie gedeelte. Ek het twee vrae wat my gehelp het met hierdie teks. Wanneer het die Satan daarop aangedring om die dissipels te sif? Ek weet nie. Maar dit was voor die kruis. Voor die Donderdag waarop die Here die nagmaal saam met Sy dissipels gevier het. Wat het Jesus daaromtrent gedoen? Hierdie tweede vraag trek ‘n mens se aandag weg van die sif en toets na waar dit hoort: Op Jesus. Op God aan Wie ons behoort. Ek sien Jesus het voor dinge vir die dissipels en vir Petrus by name skeefgeloop het, nog voor hulle gesif is, al vir hulle by God ingetreë. Dit is belangrik. Laat dit insink. In enige toets, is Jesus aan ons kant. Dink maar aan Romeine 8 waarin ‘n bestek van ongeveer 10 verse Paulus skryf hoe die Heilige Gees om ons onthalwe pleit by God (Rom 8: 27). Bid volgens die wil van God vir gelowiges. En ook dat Jesus, lewend is en sit aan die regterhand van God en vir ons pleit by God (Rom 8: 34). Kom ons fokus net weer. Voor daar nog getoets word, voor die satan kans kry om te sif, het Jesus reeds by God gepleit om ons onthalwe. Kan ek jou verseker: God is reeds bewus van wat kom in jou lewe en Hy het reeds ‘n plan. Jesus het gebid dat Petrus se geloof hom nie sal begewe nie. En Hy het gebid dat Petrus, na hy tot inkeer gekom het, die ander sal versterk. Kyk Jesus se sekerheid hier. Hy weet God verhoor Hom. Daarom weet Hy Petrus sal tot inkeer kom. Hy weet die Petrus storie gaan nie stop by die verloëning nie. As ek na Petrus kan kyk, dan sien ek sy val met twee woorde: onafhanklikheid en eie-ek. Een van die belangrikste skuiwe kom in ‘n mens se lewe as jy begin jou oë oopmaak vir die selfverloëning waarvan Jesus gepraat het. Selfverloëning is om jou eie ek te laat gaan en Jesus soos ‘n kind te vertrou en te volg. Selfverloëning is iets wat jy oor en oor elke dag doen omdat jy Jesus werklik lief het en Hom glo. Jy laat gaan jou wil, gerief, en maak die keuse vir wat Jesus wil hê. In Matteus 16 neem Petrus vir Jesus een kant toe en berispe hy vir Jesus omdat Jesus durf sê Hy gaan dood gemaak word en op die derde dag uit die dood opgewek word. En Jesus het vir Petrus gesê: Moenie in My pad staan nie, Satan! Jy is vir My ‘n struikelblok, want jy dink nie aan wat God wil hê nie, maar aan wat mense wil hê. (Matt 16: 23). Net daarna leer Jesus hulle van selfverloëning. Dus, Petrus was op daardie oomblik ‘n goeie voorbeeld van wat selfverloëning nie is nie. Op dieselfde manier sê Jesus in Lukas 22 vers 31: Simon, Simon. Dis so al asof Hy sê: Maar Simon, wanneer gaan jy eendag verstaan waaroor dit gaan? Hy wil waarskynlik vir Petrus sê dat Petrus moet besef hy is 'n mens vol swakhede en nie Petrus die rots van krag nie. Natuurlik was Petrus so seker van homself, van sy krag en sy lojaliteit aan Jesus, dat hy nie gehoor het wat Jesus hier vir hom sê nie. Moontlik het Jesus 'n oomblik lank teruggedink aan die dag toe Petrus so voortvarend uit die skuit geklim en op die water na Jesus toe geloop het - hoe Petrus se geloof hom daardie dag begewe het en die vrees in sy oë toe hy begin sink. Daarom bid Jesus dat Petrus se geloof hom nie (weer) moet begewe nie. En dan sê die Here ‘n baie interessante ding: "As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou broers versterk.” Die ou Afrikaanse vertaling het dit as: "En as jy eendag bekeerd is ..." Jy kan dalk wonder: Was Petrus dan nie bekeer nie? Hy was dan 'n dissipel. Hy het juis 'n dissipel geword omdat hy tot inkeer gekom het. Hy is dan die man met die belydenis waarop Jesus Sy kerk sou bou. "U is die Christus, die Seun van die lewende God." En Jesus het op sy belydenis geantwoord met: "Gelukkig is jy ... Ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou ... Ek sal aan jou die sleutels van die koninkryk van die hemel gee ..." (Matt 16). Nou hoe nou? Ons weet tog almal, so iets word nie vir enigiemand gesê nie. Tog kom Jesus in die gedeelte wat ons saamgelees het en sê: "Petrus, as jy eendag bekeerd is ..." (OAV). Hoekom moet hy nou tot bekering kom? Kom ons begin by Petrus se reaksie. As ek so kyk was hy half verontwaardig. Jesus moet nie eers aan hom twyfel nie. Ek wil amper waag om te sê Jesus hoef nie eers te gebid het nie. Petrus weet hy sal by Jesus bly staan. Die satan se sif gaan nie werk nie. Dit wil lyk asof hy glad nie Jesus se woorde verstaan nie. Hy vra nie eens na die bedoeling daarvan nie. Hy klink ook nie eens verbaas oor sy onbekeerde toestand nie. Trouens, 'n mens kry die indruk dat hy Jesus eintlik nie eens hoor nie. Of miskien, as hy gehoor het, luister hy nie. Petrus luister nie. Hy hoor nie, want hy is te haastig om te praat. Petrus se hart en gemoed is so vol van sy eie planne en sake, dat hy nie hoor dat Jesus vir hom bid nie. Hy is so gefokus op homself dat hy 'n kans op bekering mis. Ja, 'n mens kan sê jy is bekeer. Jy kan sê jy leef in afhanklikheid van die Here. Maar intussen is jy so gefokus op JOU EIE krag dat jy eintlik leef asof Jesus net ‘n byvoegsel by jou lewe is. Daarvan … wil die Here jou nog bekeer. Jy kan bekeer wees, maar onbekeer in JOU hantering van mense. Jy kan sê jy het die Here lief, maar intussen is jy nog geweldig onsensitief teenoor jou man of jou vrou of jou medemens. Die hardheid in jou hart maak dat jy dinge vir ander sê wat hulle verskriklik seermaak. Daarvan wii die Here jou nog bekeer. Van ons gedagte dat ons self kan … ons dom ideë dat onafhanklik van God kan reg kom … daarvan wil Jesus ons bekeer. Van die groot moeilikheid maker in jou lewe … jou eie-ek en trots … wil God jou bekeer. Wat Jesus vir Petrus, maar ook vir ons, wil leer, is dat bekering nie 'n boksie wat jy iewers in jou lewe moet aftik nie. Dis iets wat elke dag oor en oor afspeel. Hoe maklik praat ons nie. Hoe maklik bely ons nie. Petrus moes hom bekeer, maar so vinnig antwoord hy "Here, ek is bereid om saam met U selfs gevangenskap en dood in te gaan. Sien jy? Dis presies wat Christus nie wou hoor nie. Hy wou nie hoor waartoe die sterk Petrus in staat is nie. Hy wou net hê Petrus moes luister en hom bekeer. Onthou jy nog Petrus se optrede toe Chnstus die eerste keer sy dood aangekondig het? Petrus het Hom nie daaroor uitgevra nie, maar Hom bestraf. Hy het die Seun van God eenkant toe geneem en vir Hom gesê: "Mag God dit verhoed " En dan is dit asof Petrus self God speel as hy sê "Dit sal beslis nie met U gebeur nie" (Matt 16 21-23) Petrus verstaan so min, want hy luister nie. En dan sê Jesus vir hom "Moenie in my pad staan nie, Satan! Jy is 'n struikelblok. Petrus dink so wêrelds dat hy ‘n ander koninkryk sien kom as wat God in gedagte gehad het. Hy sien 'n sterk koning wat sal heers en vyande voor Horn sal wegvee. Hy sien nie 'n lydende Here nie maar 'n kragtige, seevierende heerser. Daarvoor wil hy veg en daarvoor trek hy sy swaard uit in Getsemane. As hy dan saam met die Here moet sterf, moet dit tog nie aan n vernederende kruis wees nie, maar vegtende, want so sterf 'n man.' Dis net, dis nie wat God wil hê nie. God wil hê ons moet glo in Sy Seun Jesus. Dat ons in Jesus sien hoe leef ‘n mens met God. Jy leef met jou ore oop, jy luister, jy is weerloosheid, jy is bereid om te sterf vir God. Bekering is om sagmoedig te leef soos God weet jy moet leef. Dis wat Jesus vir Petrus, maar ook vir ons, wil leer. Jesus het nie ons planne, ons krag, ons (eie)wysheid, ons selfversekerdheid, ons veglus nodig nie. Dit pas nie by die kruis van die Verlosser nie. Wat pas is om in nederigheid ten volle van Hom afhanklik wees. Hoe swaar leer ons nie hierdie les nie. Petrus se insig was nog nie daar nie. Hy het soveel kanse op bekering laat verbygaan, maar gelukkig is die Here geduldig. Hy hou aan totdat ons leer om te luister. Hy het met Petrus aangehou totdat hy in Kajafas se tuin stil geword het. Al wat hy daar gedoen het, was om te huil. En uiteindelik bely hy volgens die Johannes-evangelie "Here, U weet alles, U weet dat ek U liefhet" (Joh 21 17). So praat 'n bekeerde hart. Jesus het vir Petrus iets wonderliks gesê - hy moes sy broers versterk. Wanneer Christus ons teregwys, is dit om ons op te hef en ons te gebrulk. Petrus moes sy dirigentstok verruil vir 'n herderstaf. Hy moes sy swaard neerlê. Ja, Petrus word herder. Hy moes die lammers laat wei, die skape oppas Hy moes sorg vir die gemeente. In Johannes 10 is Chnstus die herder In Johannes 21 word Petrus die herder. Van berou, na bekering, na geloof, na liefde. "Here, U weet alles, U weet dat ek U liefhet". Ook ons moet herders word. Ook ons moet die lammers laat wei en die skape oppas. Dit kan net gebeur as ons ons stroop van ons eie krag en soos 'n koringkorrel aan onsself sterf, as ons ons (eie)wysheid en veglus aflê, as ons ons dirigentstok verruil vir 'n herderstaf, as ons weerloos word, as ons ons afhanklikheid van die Here besef en vol van sy liefde word. Amen.