Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Johannes 12: 1 – 7 (en 8 – 11) Ons spoed af op Paasfees. 'n Fees wat vir God baie belangrik is. Dis die geleentheid waar Sy reddingsplan voltooi is. Waar God op 'n aangrypende manier dit laat uitroep het:Ek het julle lief. Dis ook die geleentheid waar God moes toekyk hoe nikswerd mense, mense wat net soos u en ek optree en aan gaan, Sy Seun wreed vermoor het. God het dit laat gebeur om ons te red. Dis tydens 'n Paasfees wat Jesus vir al my sondes in my plek gesterf het. En ek, vir een, gaan dit nie ligtelik vier nie. En ek hoop u ook nie. Ek nooi u uit om saam met my dood stil te word voor die Gees van God. Gebruik die vraag “As die Here aan jou 'n persoonlike brief sou skryf: Wat sou in die brief staan?” daarvoor. Kan ek u uitdaag: Gaan skryf die brief! Mens dink beter op papier. So vat 'n stuk papier. Word stil. Bid dat die Heilige gees die gedagtes deur jou sal laat vloei. En begin skryf. God se brief aan jou. Kom ek lees vir ons iets van hoe ons as mense is. LEES JOHANNES 12 Wat sê jy van Maria se optrede? Wat sou jy gesê het as jy daar was en nie geweet het wat die groter bedoeling was nie? Merk jy op hoe God Maria se liefdes daad gebruik vir iets groters? Ek moet vanoggend weer sê wat ek al van te vore gesê het: Dinge is nie wat dit voor gee om te wees nie. Reg deur Johannes kry jy twee lae in wat hy skryf. Bv By 'n troue word water in wyn verander. En later ontdek jy dat dit 'n profetiese voorskou was van hoe sondaar mense nuwe mense kan word. Johannes vertel die evangelie anders as die ander evangelie skrywers. Johannes steur hom nie aan die presiese volgorde van die gebeure nie. Hy wil jou iets dieper vertel – nie net 'n storie oor Jesus nie --- maar 'n dieper waarheid oor hoe God is … en oor hoe mense is. Jesus kuier hier nie maar net saam met vriende nie … Hy is die Paaslam wat geslag word vir die versoening van ons sonde. Sy bloed laat die doodsengel by ons verby gaan. Soos jy lees kom jy agter, dat Johannes wil eintlik net hê dat ons sal glo. Diep … alles oorheersend diep sal glo. Soms sny ‘n storie seer. Daarom moet ‘n mens hierdie deel lees asof jy Maria is. En dan weer asof jy Martha is wat al weer alleen regstaan vir al die mense. Terwyl jou suster Jesus se voete salf en met haar hare afdroog. En laastens moet ons in Judas se skoene klim. Hoekom kritiseer hy vir Maria so hard? Probeer vir Judas verstaan … Johannes wil ons nie vertel dat Judas eintlik skynheilig was nie. ‘n Regte dief boonop nie. Dalk, as ons vorentoe kyk besef ons hoe Judas se politieke aspirasies, maar veral sy liefde vir geld vir hom sy lewe gekos het. En ons moet dalk ook kyk wat vir ons die belangrikste is: ons eie drome? Geld? Of Jesus? As ek dit in die karakters moet inlees: Is ek ‘n Maria of ‘n Judas? Is ek ‘n Martha wat maar net die Here wil dien, en al wat ek ken is om iets prakties te doen soos kosmaak. As ons onsself kan eien in hierdie deel, kan ons dalk betyds werk maak met dit wat vir ons ongemaklik maak hier. Of, al is dit net ongemaklik maak vir wat ookal in jou lewe nie is wat dit moet wees nie. Net so is die storie nie soseer oor Maria as gasvrou saam met haar suster Martha nie … maar eerder die profetiese wat lê in wat sy gedoen het. Een van die grootste probleme in die kerk is dat dit wat ons moet wees, is ons nie – en dit wat ons is, is nie wat ons moet wees nie. Kom ek verduidelik: Judas het 'n mooi redenasie. Baie godsdienstig. Die nardusolie was so 'n jaar se salaris werd. Dis baie duur. Die geld sou baie armes vir lank kon versorg. Wat Judas nie sê nie is waarskynlik iets soos “man, as ek net my hande op daardie geld kon lê”. Johannes vertel Judas het nie net die beursie van die groep dissipels gedra nie – Judas het ook van die geld gesteel. ‘n Mens is geskok deur Judas. En later as hy Jesus verraai vir geld breek dit ‘n mens se hart. Was hy dan nie een van die 12 en dus ‘n vriend van Jesus nie? ‘n Mens moet jou ook hier nadink oor jou woorde, jou kommentaar op ander se lewe. Moet ons nie almal voorop die wa wees soos Martha hier en veral soos Maria nie? En tog hou ons terug en ons kritiseer die wat doen. Kom ek vra dit anders: As ek jou hierdie week fyn dop gehou het … sou ek nog, op grond van jou gedrag, nog 'n kind van God wou wees? Het alles hierdie week God se stempel van goedkeuring gedra of het jy 'n paar keer die engele laat bloos en die duiwel laat glimlag? Dalk is die dieper vraag: Waar is jou hart regtig? Dit gaan hier oor veel meer. Dit gaan hier oor wat in jou hart lê … dit waarvan jou mond spreekwoordelik oorloop. Maria se hart het oorgeloop van liefde en eer vir haar Here. Maria het net nie woorde gebruik nie. Sy het gedoen. Sy salf die Here se voete met die duurste en beste waarop sy haar hande kon lê. Ek dink Judas is baie lelik met Maria. Hy kritiseer haar genadeloos hier. En sy wou maar net haar beste vir haar Here gee.. En weet u wat? Jesus is nie eers lelik met Judas nie. Letterlik sê Hy in die Grieks vir Judas: Laat haar toe. Weet u, en so is Hy ook met my en jou. Ek wil dit by Jesus leer. Ek wil bid dat Sy Heilige Gees in ons al die lelik sal uitwas en ons sal leer om sagkens en mooi met mekaar te werk. Om nie ons skuldgevoelens op ander te projekteer nie maar eerder eg bly te wees vir wat elkeen vir die Here doen. En ja. Maria se daad kyk vorentoe. Sy eer nie net vir Jesus en erken Hom as haar Here nie maar dit wat sy doen gebruik God vir die koninkryk: Sy salf die Here se gestorwe liggaam as't'ware. Maria se nardusolie is nie 'n uitspattige of ekstravagante gebaar nie maar 'n grootse daad van aanbidding. En toe ek hierdie dinge raak lees toe voel ek so klein in my eie aanbidding. Ek wat so baie vra en so baie wil hê by God … wat gee ek in aanbidding? Wat van my lewe – dit wat ek elke dag doen en hoe ek ander hanteer … is dit 'n stuk aanbidding aan God? Is my lewe en my aanbidding nie dalk deurspek met my eie EK nie? Gaan dit nie dalk soos met Judas meer oor ek as oor God? Voel jy ook so? So nietig? Wil jy nie ook gaan stoei met jouself oor jou lewe voor God nie? Gaan sit met daardie vel papier, word stil en bid en begin dan skryf soos dit in jou kop in vloei: ‘n brief van God af na jou. Jy sal verbaas wees oor wat God wil sê. Maak seker, kan ek pleit hier? Maak seker dat ons nie soos die priesterhoofde in hierdie deel word nie. Hulle jaloesie en ongemak het gemaak dat hulle besluit het om Lasarus dood te maak. Net omdat sy blote bestaan mense na Jesus getrek het. Here, wees ons genadig. Here wees ons genadig. Amen.