Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Lukas 19: 11-27 Paasfees kom nou vinnig nader. Vir die meer kompletatiewe gelowige is dit ‘n tyd van stil word. Verootmoediging voor God en hernuwde toeweiding aan ons Redder. Vir ons almal sal dit goed wees as ons ook rustig nadink oor ons lewens. Nadink oor waarmee is ons so besig en ook net weer seker maak waar staan ons ten opsigte van Jesus. Ek moet sê hierdie gedeelte het my gekonfronteer. Ek het bly vashaak tot ek besef het dat ons in die eerste plek nie moet blind staar teen die drie mense wat geldstukke ontvang het om mee geld te gaan maak nie. Daar is meer aan hierdie gelykenis. Kom ek gebruik ‘n beeld. As jy motorfiets ry en jy kom effe vinnig op ‘n draai af en jy dink jy gaan dit nie maak nie.Dan is die versoeking dat jy net gaan kyk na wat jy teen gaan vasry. Meestal die randsteen. Hoe nader die randsteen kom hoe meer is jou oë vasgenael daarop. Ons noem dit target fixation. Wel dan gaan jy teen daardie randsteen vasry. Net daar waar jy gekyk het. Jy moet jou kop oplig en jou kop mik en kyk na waar jou uitgangspunt moet wees. Na daar waar jy uit die draai uit wil kom. Dit is dan wanneer die mooi gebeur en die fiets koers kry weg van die randsteen af na die uitgangspunt toe. En jy ‘n sug van verligting gee. As ons in hierdie deel op die verkeerde plek fokus, gaan ons ons ter pletter loop. terwyl Jesus vir ons die uitgang wys. Hierdie deel gaan oor ‘n man, Jesus, wat weg gaan om gekroon te word as koning. Koning van die heelal. Jy moet dit nie mis nie. Dit gaan oor hoe hierdie man wat as koning terug kom, verantwoording vra van sy mense. Op hierdie man, Jesus, moet ons bly fokus. En met wat Hy ons gee moet ons woeker. Hy is ons redding. Hy is die een wat ons gaan oordeel. Hy is ook die een wat die genade vir ons verdien het en dit vir ons gee as ‘n geskenk. Om met die genade te woeker is om die genade jou lewe te laat vorm. Om so te leef dat Sy genade in ons nie tevergeefs was nie. (Paulus in 2 Korinthiërs 6: 1). Miskien koppel ons genade te min aan vergewe. God se genade beteken God vergewe ons. Toe Jesus die mense leer bid het het Hy God se vergifnis aan ons ten sterkste gekoppel aan hoe ons ander vergewe. Verstaan asb. Dit gaan nie oor iets wat ons moet doen om gered te word nie. Dit sê net hoe geredde mense leef. Hoe ons is. Hiermee saam, in hierdie gedeelte dink jy nie klein nie. Jy dink nie aan jouself nie. Jy dink aan Jesus. Jy woeker vir jou Koning. Maar as Jesus nie jou Koning is nie dan gaan jy in ek-moet-net-oorleef tipe leefstyl in. Die ruimte waarbinne hierdie drie mense moes woeker was nie noodwendig maklik nie. Daar was mense wat hierdie man vyandiggesind was. Selfs moeite gedoen het om Hom te keer om Sy koningskap te ontvang. Kom ons sê: in ‘n vyandiggesinde wêreld moet ek en jy werk met dit wat die Here ons gee. In die kerk praat ons baie van genade. En God wat ons lief het. Wel, ek praat baie daaroor. Dit is nogals ‘n wakker skrik oomblik as jy besef hierdie man in die gelykenis, wat Jesus verteenwoordig, die mense het ontsag vir Hom. Hulle dink aan Hom as ‘n harde man. Ons moet dit leer verstaan. Aan die kruis sien jy hoe ver Jesus gaan in Sy liefde vir ons. Ons leer deur die Heilige Gees dat Hy alles moontlik maak sodat ons kan slaag in dit wat Hy ons gee om te doen vir Hom. Ja, 1 Johannes 4 is reg. God is liefde. Maar God is ook meer as net liefde. God is ook regter. En regverdig. En heilig. Jesus was nog altyd duidelik dat daar ‘n oordeel kom. ‘n dag om verantwoording te doen wat jy met die nuwe lewe gemaak het wat God jou gegee het. En op daardie dag gaan dit neerkom op wat het jy met God se genade en liefde gedoen? Het jy die evangelie gaan uitleef? Was jy lig vir die wêreld? Sout vir die aarde? Of het jy jou lig onder ‘n maatemmer weg gesteek. Indien die antwoord ja is, jy het gewerk met wat God jou gee, dan word jy met meer vertrou. As jy dit vir jouself gehou het, die lig onder ‘n emmer weggesteek het, en God het geen groei beleef uit Sy belegging in jou nie, wel dan … sterkte ou maat. Daar is drie soorte mense in hierdie gelykenis. 1. In die eerste plek is daar die mense wat Jesus nie as koning erken nie; wat nie volgens Sy wil wil leef nie. Kom ons sê: dis mense wat nie Jesus die Christus aanvaar as die enigste weg tot saligheid; of dink hulle het nie ‘n Redder nodig nie. Hulle sal self reg kom. Dis die mense wat 'n boodskap stuur om te sê: Ons wil nie hierdie man as koning hê nie (vers 14). Dis van hulle wat hy sê: Bring hulle en maak hulle hier voor my dood! (vers27). Hulle lot word bepaal deur hulle houding teenoor Jesus. 2. Dan is daar die tweede groep. Mense wat verstaan wat van hulle verwag word. In hulle hande groei God se belange: Dat hulle die geld wat in hulle sorg geplaas is, nie net moet oppas en bewaar sodat dit nie verlore gaan nie – maar dat hulle daarmee moet handeldryf. Hulle verstaan dat hulle die belange van Jesus, die koning, moet dien. Daarom kom gee die een tien keer soveel terug van wat hy ontvang het, en die ander een vyf keer soveel. Nie een van die twee vra enige erkenning vir wat hulle gedoen het nie. Trouens albei sê dis die koning se een muntstuk wat die profyt opgelewer het. “Meneer, u muntstuk het 10 muntstukke opgelewer.” En U muntstuk het 5 keer soveel opgelewer.(verse 16+18). Dis duidelik, in hulle koppe was dit nie hulle nie, maar eerder dit wat die koning vir hulle gegee het wat die groei moontlik gemaak het. Hierdie groep is die wat woeker met wat God hul gee. Hulle word geprys en beloon; en die beloning wat hulle ontvang, is in verhouding met die opbrengs wat hulle een muntstuk gelewer het. 3. En dan is daar die derde goep. Die selfbeskermers. Die wat ingestel is op hulself en hul eie oorlewing. In hulle hande was die koning se geld so veilig soos in die Bank van Engeland. Hulle het dit wat hulle ontvang het, beskerm teen verweer, en teen diefstal en teen waardevermindering. Dit is belangrik om raak te sien hierdie dienskneg is nes die ander twee wat geld ontvang het, in diens van hulle Heer. Hulle is, as jy dit so wil stel, gelowig. Hulle geloof is egter veilig weggebêre en word nie gebruik nie. Hulle geloof is soos ons oumas se spesiale eetstelle wat net op groot feesgeleenthede gebruik is. Andersins het jy nie eers geweet daar is so ‘n eetstel nie. Elke dag is tog ‘n spesiale geleentheid. Om te leef is ‘n spesiale geleentheid. En God is elke oomblik by jou so daar is nog iets groots om te vier. So, haal die geloof uit en gebruik dit. Getrouheid in die derde groep mense het beteken: om te bewaar, om te behou, om te handhaaf, om vas te hou wat hulle het, dit toe te bind en ‘n veiligheidsheining daarom heen op te rig. Vir die eerste twee was getrouheid om dit wat hulle mee toevertrou is, meer te maak vir hulle meester. Vir die koning is dit dieselfde as ontrou wees. En daarom neem hy weg wat hy gegee het. By God, is dit wat tel, oa geloof, getrouheid, liefde, gehoorsaamheid. Wat ons mee moet sit is wil ons werlik Jesus as koning hê? Dis nie so ‘n dom vraag soos dit klink nie. Baie mense wil die genade hê en die ewige lewe maar hulle wil self koning in hul lewens bly. En daar is mense wat Jesus orals wil uit hê. Uit hul huise uit, uit hul skole uit. Dit gaan nie daaroor om vergifnis te probeer verdien nie. Of deur wat ons doen ‘n plek in die hemel te probeer verdien nie. Dit gaan oor wat maak jy met dit wat die Here jou gee. Wat doen jy met die gawes wat die Heilige Gees vir ons gee? Wat maak jy met die liefde wat van God af na jou vloei. As ek na hierdie deel weer kyk dan besef ek daar kom ‘n oomblik in tyd wat die genade stop. Die Koning is terug. Op sy te doen lys gaan wees: • Kontroleer of My belegging in hierdie mens gegroei het? • Oordeel. • Vernietig die vyand eens en vir altyd. Daarom is dit belangrik dat ek en jy elke dag die genade leef. En God se liefde leef. Belangrik om gehoorsaam aan God te lewe. En vrug vir Hom te dra. Christus moet meer word in ons. Gal 4: 19 ons moet groei sodat Christus alhoe meer sigbaar in ons kan word.