Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Psalm 13 Vrydag het vroue van regoor die wêreld in gemeentes bymekaar gekom om te bid. Daar is goeie rede hiervoor. Oorloë elders in die wêreld. Die Oekraine. Sedelike verval. As ek dink aan wat mense deurgaan, krississe, landsake, persoonlike sake, dan is hierdie psalm vir ons. Dan moet ons bid. Tog kom daar ‘n punt wat jy twyfel. So vertel iemand my in die week dat sy bid al 8 jaar lank oor iets, en nog steeds is dinge onveranderd. ‘n Mens kan net soveel keer vir iemand sê: Vertrou God. Hou aan met bid. Wag op die Here. En tog is dit die beste wat ‘n mens vir iemand kan sê. En jy maak seker jy bid getrou saam met hulle. Psalm 13 ken hierdie innerlike stryd. Ons kan regtig maar luister na die digter. Hier is drie bewegings. • Hoe lank nog, Here? (verse 2 – 3) • Pleit. (verse 4 – 5) • Lof aan ons God! (vers 6) 1. Hoe lank nog, Here! Desperaat. Dit is die woord wat die man se hart die mooiste beskryf: Desperaat! Hoe lank nog, Here? Vier keer in ‘n paar kort versies klink dit: Hoe lank nog ...? Sy omstandighede het nie reg gekry om hom van God af weg te draai nie. Hy is nog “by God”. Maar sy moed en krag is op. Laer as dit kan die mens nie gaan nie. Hy kan nie verder nie. Ek weet nie wat hom tot hierdie punt gebring het nie. Dit kon vyande gewees het wat hom genadeloos vervolg het. Of ‘n ernstige siekte wat hom erg verniel het. Die psalm is stil oor die redes vir sy situasie. ‘n Mens hoor net die gevolg van sy seer in sy gebed. Wat ookal sy krisis was, dit vreet hom op. Hy sê drie dinge: a. Dit voel vir hom asof God hom verlaat het. 2” Hoe lank gaan U my nog bly vergeet, Here? Vir altyd? Hoe lank gaan U nog van my af weg kyk?” Vir hierdie man voel dit asof God geheel en al van hom vergeet het. Asof God nie sy swaarkry, sy lyding raaksien nie. Dit voel vir hom God het Sy rug op hom gedraai en weg gestap. Asof sy krisis nie erg genoeg is nie, is dit hierdie gevoel dat God anderpad kyk wat die man breek. b. Innerlike stryd. Die spanning vreet hom op. Al wat hy heeldag doen is om hom te bekommer. Die dinge vreet hom van binne af op en hy kan aan niks anders dink nie. c. Sy planne kom tot niks. Dis nie dat hy nie probeer nie. Hy probeer dinge. Hy maak planne maar alles kom tot niks. Asof dit nie swaar genoeg is nie, pla dit hom dat sy vyande lekker kry oor sy swaarkry. Is dit nie hoe ons baie keer voel nie? Oor siekte. Die loadshedding. Misdaad. Stygende pryse en rentekoerse. Elke stukkie slegte nuus maak ons rug net krommer en moeer. Soos ek na hierdie psalm kyk, lyk dit vir my na ‘n raak opsomming van baie van ons se gevoelens. Hier is iets positiefs. Sien jy? Sien jy dat ‘n mens by God kan kla hieroor. Versigtig kla. Geen mense is die ene onskuld nie. Ons sien dat in die donkerste tye kan jy selfs ook insinueer dat God die werke van Sy hande laat vaar het en dat dit voel asof hierdie krisis tussen ons en God se liefde kom staan het. In Klaagliedere en in Job word soms vreeslike aantygings teen God gemaak. En tog neem God nie daar aanstoot nie. Vernietig Hy nie die klaer nie. Maar dan lees jy ook dat God die klaer nader trek. Sy of haar oë begin oopmaak om anders te kyk. So kan Jeremia in Klaagliedere 3, nadat Hy God verwyt het vir alles sleg in sy lewe, omdraai en sê “Maar dit sal ek ter harte neem ... daar is geen einde aan Sy ontferming nie.” Vandag is nie ‘n glo net en dit sal goed gaan boodskap nie. Al die goed wat so negatief op ons inwerk ... ons kan dit nie weg wens nie, ons moet deur die innerlike worstelinge gaan wat dit in ons gemoed veroorsaak. Stoei maar hierbinne met jouself en met dit wat jy hoor en sien. Maar dan moet jy uitkom by sterker glo. Uitkom by die punt waar jy soos Habakuk kan sê “al sou die vyeboom nie bot nie ... ek sal nogsteeds glo.” Al sou die land nog brand en die Rand steeds val, ek sal in die Here my God bly glo. Wat jy nie kan doen nie is om vas te haak by negatiwiteit en kla en opstand en depressie. Jy kan jou nie aan alles onttrek nie. Los dit vir die ongelowiges. Ons taak is om te bly bid. Te bly in gebed stoei met ons gebrek aan verstaan oor God en oor hoe God dinge hanteer. Maak nie saak wat gebeur nie, jy hou nie op praat met die Here nie. Jesus moet my Here wees. Persoonlik. Ek en die Here op persoonlike vlak by mekaar. Hier kom ‘n skuif in die psalm in vers 4 en 5. Sy beskuldigings word al meer smeekgebede. 2. Pleit. (verse 4 – 5) Hy het hierdie gevoel van God het my vergeet, of God het my afgeskryf, deur gewerk. Miskien het hy, as ek vanuit die Nuwe Testament kyk, by die punt gekom waar hy weet dat God altyd by jou is. Dat hoe jy voel nie betroubaar is nie. Dat God jou nie sal verlaat nie.. Nou verander hy sy gebed. Dieselfde erns en dringendheid is steeds daar. Dalk moet ek sê, dieselfde desperaatheid is nog daar. Niks het nog om hom verander nie. Nou bid hy: Luister tog en antwoord my, Here my God! Ons moet dit nie miskyk nie. Dawid voel dalk God het hom vergeet maar Dawid, hier, hou nog steeds vas aan die Here. Die Here is nog steeds Sy God al verstaan hy wat Dawid is nie wat aan die gebeur is nie. As die Here hom tog net sal antwoord. As die Here vir hom nuwe lewenskrag sal gee. Hom sal help, want hy wil nie dood gaan nie. Hy wil nie sy vyande die kans gee om te dink hulle het hom ondergekry nie. Of dat hulle nog lekkerder sal kuier oor sy ondergang. In die Hebreeus sien mens baie duidelik dat sy gebed al hoe persoonliker raak. In die begin was dit net “Here”. Nou is dit “Here, my God.” Intens persoonlik. Dis asof hier ‘n verdieping in sy lewe gekom het. Asof hy na al sy worstelings nader aan God gekom het. Wat aangrypend is, is dat hy nie bid dat God sy krisis moet wegvat as sulks nie. Hy bid dat God teenwoordig sal wees. Dat hy kan ervaar maar God is by my. Hy wil kan weet, voel, God is steeds by my. Ek sal nog kan aangaan. Vir Israel van ouds het lofprysing, oor die lewe gegaan. Die mens is geskep om God te eer en om God se lof te besing. As jy doodgaan dan kan jy God nie meer prys nie. Maar nie net dood nie, ook enigiets wat jou weerhou om werklik God te eer, was vir hulle soos dood. En as jy dit verstaan dan verstaan jy dat hy met soveel erns kan pleit dat God tog net teenwoordig moet wees by hom. Dan verstaan jy die voorreg wat ons het as Jesus belowe Ek is by julle tot aan die voleinding van die wereld. Dan verstaan ek dat ek meer moet bid om God se teenwoordigheid in my lewe as wat ek gepla moet wees oor die omstandighede wat my so negatief kan raak. Ons sien in vers 6 hoe hierdie man bo sy probleme uitstyg. 3. Lof aan ons God! (vers 6) In vers 6 skuif sy gebed weer ‘n keer. Hierdie keer na lof toe. Sy vertroue in God breek weer deur. En al het niks nog juis verander nie, besing hy God se lof. Ervaar hy God se liefde en weet hy “niks kan hom skei van die liefde van God nie. In vers 6 het nog niks verander aan die digter se omstandighede nie: sy vyande steek nog steeds die vreugdevure aan. Dis steeds nag. Maar hy hou aan God se troue liefde. En so ook aan die uitkoms vas wat God gee. Dit het so ‘n impak op mense as jy te midde van swaarkry steeds God loof en prys. Positief bly en bly vertrou. Nie oor dit wat in jou lewe gebeur nie maar oor Hom wat in jou lewe is. By jou is. Die Almagtige God, ons Vader. Die dinge wat ons deur maak in hierdie land moet ons terugruk na opregte skuldbesef maar veral aan ware lof aan God. Uit die hart uit lof aan God. ‘n lof wat niks uit te make het met ons omstandighede nie maar alles met ons God. So kom ons loof en prys God. Die Here Jesus het by geleentheid gesê dat “Alles wat julle in gebed vra, glo dat julle dit al ontvang het, en dit sal vir julle so wees.” Vanoggend loof ons God al het nog niks op die oog af verander nie. Geleentheid vir gebed.