Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1 Kronieke 29: 10 – 13 Verlede jaar nog gesels ek met ‘n dame wat sukkel om in God te glo. Hoe kan ‘n goeie God, ‘n God van liefde toelaat dat daar soveel lelik in die wêreld kan wees. Sy sal eerder haar lewe vir haar kinders gee om hulle te beskerm. Ek sê toe vir haar dankie. Dankie, want jy het so pad die goeie nuus wat Jesus Christus gebring het, verduidelik. Jy sal jou lewe vir jou kinders gee. Kyk na die kruis. Dit is wat God daar doen. In Jesus gee God homself om ons te red. Ons vier vanoggend nie net die genade wat ons ontvang het nie. Ons vier God. Kleuters weet instinktief hulle pa is die grootste en die beste en die sterkste. Miskien verander hulle opinie soos hulle groter word maar as dinge gebeur bel hulle hul pa. Pa help! ‘n Goeie pa is altyd daar. Neem nie oor nie. Is bereid om te help met raad maar neem nie jou besluite vir jou nie. En jy kan krag uit jou pa se teenwoordigheid put. Ons is kleuters in God se huis. Mag ek vra hoe jy voel oor God, ons Vader? Ek gee jou ‘n geleentheid om in stilte hieroor te dink. Kom ons beweeg van dink na ervaar. 1. Aan U! 11 Die grootheid, Here, die krag, die glans, die roem en die majesteit behoort aan U, ja, alles in die hemel en op aarde. Aan U, Here, behoort die heerskappy; U is bo almal verhewe. (1 Kronieke 29:11) Lees die vers weer. Voel die vers. Maw wat beteken grootheid hier? Hoe lyk grootheid? Dink oor God se krag. Hy kan oneindig meer doen as wat ons kan bid of dink (Efes 3:20). Hoe lyk God se glans? Die Northern lights is ‘n skouspel soos min, hoor ek. Geen video laat dit tog haar reg kom nie. Hulle sê jy moet daar wees om dit te ervaar. … en dit is maar iets kleins, gerings, een van baie aangrypende skouspelle wat God geskep het. Die roem en die majesteit behoort aan U Here. Alles in die hemel en op aarde behoort aan U. Ook ek en jy. Dit is hoekom ek so opgetrek is met die woorde van Paulus: Die God aan wie ek behoort en wat ek dien. (Handelinge 27:23). Kom vanoggend uit die verstand uit en wees verwonderd soos ‘n kleuter oor God. Die God wat mens word en aan ‘n kruis Sy lewe gee om vir jou, en my, aan te neem as Sy kinders. Dit is deel van nagmaal. God wat Sy liefde voel-baar en proe-baar maak sodat ek en jy kan ervaar: God het jou lief. Hier by die Almagtige is genade. Die kruis: Dit is vir jou! Proe dit in die brood en die wyn. Nagmaal sluit ‘n geweldige stuk dankbaarheid in. Dit laat my net meer verwonderd oor God. 1 Kronieke 29 gaan oor die skenkings vir die bou van ‘n tempel. Die Almagtige wou nie dat Dawid die tempel bou nie. Hy het teveel bloed op sy hande gehad. Maar sy seun Salomo kon. Dawid begin met die insameling. Vanaf vers 10 bid Dawid. 2. Van U! Hy het met verwondering begin oor God. En nou raak hy verwonderd oor alles wat gegee en gedoen word. Kyk wie kry die eer. 12 Van U kom rykdom en eer. U heers oor alles. Mag en krag word deur U geskenk, en dit berus by U om enigiemand groot en sterk te maak. 13 En nou loof ons U, ons God, ons prys u glansryke Naam, 14 want wie is ek en wie is my volk dat ons die vermoë sou hê om sulke gawes te bring? Alles kom tog van U af en ons gee aan U wat ons van U gekry het. 15 Net soos al ons voorvaders is ons by U sonder reg of aanspraak. Ons tyd op aarde is soos 'n skaduwee, dit gaan verby. 16 Here ons God, al hierdie goed wat ons bymekaargemaak het om 'n huis vir u heilige Naam te bou, het ons van U gekry en dit behoort aan U. 1 Kronieke 29:12-16 Sit nou jou lewe in hierdie verse in. Ek wonder, verward, hoe kry ons dit reg om ooit te dink ons is darem so oulik en doen so baie? Dit terwyl ons net vir God gee van dit wat Hy vir ons gegun het. Die mens wat ons is, is net genade. God se genade en God aan die werk in ons. Soos Paulus in Efesiërs 2 skryf, ons het regtig niks om op te roem nie. En ons het niks om oor neer te kyk op ander nie. Daar is ‘n ou gesegde, ek ken dit net in Engels, van ‘n dominie in Engeland in die 18de eeu (?) wat oor ‘n man wat weereens dronk in die afvoerslote lê: “There, but by the grace of God, lies I.” Dit kon net sowel ek gewees het, as ek sy bedoeling reg vertaal.. Van God, kom, rykdom en eer. Mag en krag, dis iets wat God gee. God maak mense groot en sterk. As jy wil, God maak mense suksesvol. Dit maak ‘n mens nederig. Regtig klein voor die Skepper van alles en Hy sit sovvel in ons in. Dit laat ‘n mens bid om tog net altyd in die regte verhouding met God te leef. Om nooit die Vader en ons die klein kinders verband te verloor nie. 3. Versoek / Gevra. Ek voel ek moed drie dinge uitlig in Dawid se gebed: God kyk na jou hart. Hy ondersoek ons harte om opregtheid daar te vind. (vers 17) 17 Ek weet, my God, dat U die hart ondersoek en dat U opregtheid wil hê ... 1 Kronieke 29:17 Dawid bid in vers 18: 18 Here, God van ons voorvaders Abraham, Isak en Israel, behou vir altyd hierdie gesindheid in die gemoed van u volk. Rig hulle hart op U. 1 Kronieke 29:18 God wil jou hart, die diepste setel van wie jy is, op Hom gerig hê. En dit is waarvoor Dawid hier bid. Dit is waarvoor ons ook moet bid: Dat ons harte op God gerig sal bly. Jesus sê ons moet soos kindertjies word. Nie selfvoldaan oor ons geloof en vermoens nie. Maar afhanklik van God. Vol vertroue in God. Ek het met iemand hierdie week gesels oor oa haar bekommernisse. Sy was bekommerd oor haar seun se gesondheid. Oor die vloede. En en en. En ek kon toe sê: Vertrou God. Vandag kan ek vir jou sê dit is okay om nie te weet wat die toekoms inhou nie, hoe more gaan wees nie, want kyk Wie is in beheer. 11 Die grootheid, Here, die krag, die glans, die roem en die majesteit behoort aan U, ja, alles in die hemel en op aarde. Aan U, Here, behoort die heerskappy; U is bo almal verhewe. (1 Kronieke 29:11) Vertrou Hom. Loof en prys Hom. Hy is Ewig God en Hy is ons Vader.