Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Handelinge 10: 1 - 22 Kom ons begin met ‘n beeld. Ek verkoop my motor aan jou. Jy betaal die hele bedrag. Eintlik betaal jy baie duur vir die stuk skroot wat ek aan jou verkoop. Die papierwerk is afgehandel. Nou wil jy die motor gebruik. Ek weier egter om die sleutels vir jou te gee. Ek bly agter die stuurwiel inklim. Ek sê selfs waarheen wil jy ry. Ek sal jou soontoe vat. Jy is geduldig met my. Jy sê Vereeniging toe maar ek draai links af om Koppies toe te ry want ek is vandag regtig nie lus vir Vereeniging nie. Sê my hoe lank voor jy my iets aandoen? Verlede Sondag het iets skerp uitgestaan. Handelinge 27: Die God aan wie ek behoort en wat ek dien. As iets aan jou behoort dan is dit jou reg om daarmee te maak wat jy wil. Jy mag. Mense sal dit ook vir jou sê: dis immers joune. Jy het dit gekoop. Maak daarmee wat jy wil. Skynbaar dink mense dit geld nie vir God nie. God mag nie dit wat Hy gekoop het gebruik soos Hy wil nie. Mense maak met God soos in my beeld van my motor wat ek verkoop. Hulle sê hulle is vrygekoop. Maar hulle wil steeds maak en breek soos dit hul pas asof hulle nog aan hulself behoort. Ek het hierdie week baie stil gestaan by “die God aan wie ek behoort en wat ek dien.” Ek het oa besef dat ek gerieflik van die dien deel vergeet het. En toe begin redeneer maar ek dien Hom mos. Net om te besef ek mis nou die behoort deel. Behoort en dien gaan saam. Ons moet kom waar ons met ‘n blydskap geleenthede aangryp wat God ons gee om Hom te dien. Waar die behoort deel van “die God aan wie ek behoort en dien”, ons identiteit is. Hier is die probleem. God kyk anders en doen anders en dink anders as ‘n mens. En dit is waarna ons kyk vanoggend. Ons kan dit so opsom: Selfs gelowiges moet verander. Petrus is deur die Here Jesus self, opgelei. En tog staan Petrus na alles in die pad van die evangelie. Petrus kon sê hy het nog nooit in sy lewe iets geeët wat onheilig of onrein is nie. Petrus staan by dit wat hy mee groot geword het. Hy staan by die wet. Maak nie saak of dit verkeerd is nie, maar dis hoe hy groot geword het. Jy is ‘n Jood en jy meng nie met Grieke en ander sg heidene nie. En jy eet nie die vleis van onrein diere nie. Maar wat van Abram wat tot seën moes wees vir al die nasies? Wat van God se liefde vir alle mense? Wat het geword, Petrus, van Jesus het ons vrygekoop uit die mag van sonde uit. Ons is dan nou God se eiendom. In 1 Petrus is ons God se eiendomsvolk, ‘n heilige priesterdom. Afgesonder vir God se gebruik. Ek bid dat ons almal net sal begeer dit wat God begeer. Want ons is dankbaar dat God ons vrygekoop het en ons glo dat God beter as ons weet hoe om ons eie lewe te leef. Daarom is ons tot beskikking van die Here. 1. Die Here aan die werk. Dalk het jy gedink God is daar vêr. Hy is nie. Hy is orals en Hy is besig. En ek het ‘n voorbeeld hiervan vir jou. God wat mense antwoord en ander stuur. So bid ‘n heiden, met die naam van Kornelius, tot God. Dit was hoe Kornelius was: Hy het gereeld tot God gebid. Hy en sy hele huisgesin. Kornelis en sy gesin was godsdienstig en godvresend. Jy kan hoor dat hy ernstig was oor God. Hy het baie gedoen om armes te help. Ons lees in vers 3: 3 Een middag teen drie-uur het hy in 'n gesig duidelik 'n engel van God na hom toe sien kom wat na hom roep: “Kornelius!” Acts 10:3 Drie uur in die middag was vir die Jode een van drie vasgestelde tye om te bid. In so ‘n tyd van gebed kom die Here na Kornelius. Die engel sê vir hom: “God het gelet op jou gebede en op wat jy vir die armes doen, en Hy het aan jou gedink. 5 Stuur nou dadelik mense na Joppe toe en laat daar 'n sekere Simon haal wat ook Petrus genoem word. 6 Hy is tuis by 'n ander Simon, 'n leerlooier, wat by die see woon.” Acts 10:4-6 Die volgende ding wat God doen is om Petrus te gaan verras terwyl Petrus aan die bid was. Kan ek sê Petrus het al groot skuiwe in sy lewe gemaak. Hy gaan tuis by ‘n leerlooier. Dit is ‘n beroep, die werk met dooie diere se velle, wat sou maak dat mense jou as onrein beskou. So ‘n goeie Joodse man sou nie by iemand soos Simon tuisgaan nie. Petrus is by hom tuis. Petrus skop nog vas oor wat jy mag eet en nie mag eet nie. En die Here weet dat Petrus nie na iemand soos Kornelius se huis sal gaan nie. Vandaar die visioen met die laken vol onrein diere. Dit is God wat Kornelius kry om Petrus te laat haal. En dis God wat Petrus se kop swaai sodat Petrus gewillig gaan na die huis van die heiden en soldaat Kornelius. En dit is God wat die gesin van Kornelis bekeer en doop met die Heilige Gees. Petrus was nog besig om te praat toe onderbreek God hom en stort sy Gees oor die mense uit. Dit is God wat dit doen. En as ons ons oë sal oopmaak, sal ons God besig sien in ons en om ons. 2. Gehoorsaamheid. Dit is waar my beeld van kar verkoop inkom. Dit is hier waar jy die sleutels van jou lewe 100% vir God gee en nie weer terug vat nie. Dit was jou ou lewe. Nou is dit ‘n nuwe lewe en 100% God s’n. Gehoorsaamheid aan God is niks anders as om jou lewe wat God so duur voor betaal het, in Sy hande te los dat Hy daarmee kan doen wat Hy wil. En jy doen net wat Hy sê. God se liefde is so groot vir jou dat Hy niks kwaads of leliks oor jou wil bring nie. Jy is immers nou Sy kind. ‘n Kind vir wie Hy baie baie lief is. Petrus het die sleutels van sy lewe in God se hand geplaas en God het Sy kop geskuif en Petrus kon ‘n wonderwerk beleef. Petrus het nie toegelaat dat sy Joodse groot word in die pad kom staan van dit wat God wil doen nie. Ek dink Hy het behoort en dien verstaan. Ons moet ook raaksien die rol van gebed. Albei kry reaksie van God in hul gebedstyd. Albei se lewe wys oorgawe aan God. Kornelius se oorgawe kon gesien word in sy omgee vir die armes, sy godvresendheid en sy ritme van gebed. Petrus s’n ken ons. 3. Behoort en dien Die vraag op ons tafel is nie of ons beskikbaar is vir die Here nie. Die vraag is ook nie wat ons moet doen om sulke wonderwerke te kan beleef nie. Wat op die tafel is vanuit hierdie deel is twee dinge. Een: Ons geloofs ritmes. Of ons getrou tyd met die Here spandeer. En of ons geloof oorgaan tot dade. Twee: Wat in ons, watter sieninge, gewoontes wat ons het, keer dat die Here ons kan gebruik. Dit is nie nodig om te wag vir ‘n spesifieke opdrag nie. Ons weet wat God wil hê. Soos Kornelis hou ons ons besig met die dinge van God. Met liefde, genade, omgee en barmhartigheid. God wil dat alle mense gered word. Bly ons besig om die vrug van die Gees te word.