Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
HANDELINGE 27: 13-44 Die agtergrond van my Skyfiereeks is ‘n skildery van Ivan Aivazovsky. Die Reënboog. “Die reënboog” is ‘n aangrypende werk. Ek het lank voor dit gestaan en twee keer terug gegaan om weer en weer te kyk. As jy mooi kyk sal jy die reënboog raak sien. Dit is vir my ‘n prentjie van ons lewens. Baie dae voel ‘n mens so. Is die storms te groot. Voel dit vir jou of jou wêreld sink. Maar in die storm is daar ‘n reënboog. Soms moet ‘n mens mooi kyk om dit raak te sien. Die ander ding van storms is dat die son steeds bo die donker onheils wolke skyn. En ‘n Storm kan net solank dit reën en wind waai. Ons het gelees van ‘n storm ter see wat Paulus oorleef het deur die genade van God. Want nie net die storm het sy lewe bedreig nie, maar ook die Romeinse soldate. Op ‘n stadium wou hulle hom dood maak. Die ding wat uitstaan is dat Paulus se teenwoordigheid op daardie skip beteken het dat al die ander mense nie omgekom het nie. In ons land, met al die storms wat ons tref, mag ek vra, vir wie was jy soos ‘n stukkie reënboog? Vir wie het jou teenwoordigheid hoop beteken? Die Here wil hê die lig van die evangelie moet vanuit hierdie gemeenskap, van jou en my af, uit gaan na alle mense. Die Here het ons herskep as Sy verteenwoordigers en Hy verwag dat ons Hom sal verteenwoordig, orals en by almal. En nee ek het nie ‘n stem uit die hemel gehoor nie. Die Skrif sê oor en oor: Julle is die lig vir die wêreld, moet nie jou lig wegsteek nie (Matt 5: 14 ev); gaan na al die nasies en maak dissipels (Matt 28); julle sal krag ontvang en My getuies wees in julle tuisdorpe, streek, land en tot selfs in die uithoeke van die wêreld (Hand 1: 8). Sommer vroeg in Genesis lees jy ons, ook ek en jy, verteenwoordig God. En toe God vir Abraham seën toe sê Hy “in jou sal al die nasies van die aarde geseën wees. Genesis 12. In Romeine 4 skryf Paulus dat Abraham is die voorvader van al die gelowiges. En ons verstaan dat ook ons nou tot seën moet wees vir die mense om ons. In Johannes sê Jesus: “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.” En wie was tot ‘n groter seën vir elkeen wat Sy pad gekruis het as juis die Here Jesus self. Ons Here Jesus. Die Here aan Wie ek en jy behoort. Jesus is ons voorbeeld. 1. Ons weet dit reeds! Ons almal weet ons verteenwoordig God. Wat ons vergeet is dat ‘n verteenwoordiger nie van diens af gaan nie. Orals, altyd, verteenwoordig ons God. Is ons namens die Here op ‘n plek en by mense. Koning Jesus, die Christus, het ons uitgestuur in Sy naam. Uitgestuur om Sy goeie nuus oor te vertel en te wees by mense. Ons weet almal ons moet soos Jesus liefhê, soos Jesus vergewe Efes 4, 5). Ons weet ons moet omgee soos God omgee. Heilig leef want God is heilig (1 Petrus 1: 16). Ons weet dat God Sy Heilige Gees in ons laat woon juis sodat ons die krag kan hê om Sy getuies te wees. En die woorde. Ons weet dit alles. So, waarvoor wag ons? Die skippie wat ons Suid-Afrika noem, is besig om te sink en steeds sit ons in ons hoekies, te beangst, of dalk net te onaangeraak, om ons mandaat, roeping, uit te leef. Jesus maak ons lewende getuies van Hom. Die opgestane Jesus. Die Lewende. Ons Koning, ons God en Here. As ek terug dink oor die jare dan het ons al baie hieroor gepraat. Projekte gehad. Die Jesus film projek. Getroue Getuies. Wit klippie projek. Die hartjies wat ons elkeen vir iemand moes gaan gee. Ons het al by ‘n paar geleenthede prakties gepraat oor hoe ‘n mens tot seën kan wees vir die mense om ons. Ons het die BELLS projek gehad. Iemand het daardie jare gereken dit laat hom net aan whiskey dink. Hy is ook nie meer met ons nie. Kom ek verfris jou geheue: Hier is die BELLS een ... want dit is ‘n eenvoudige manier waardeur ons ons gehoorsaamheid aan die Here kan vergroot en waardeur die Here ons harte en lewens kan verander. So ek gee dit weer ... met die verwagting dat ons elkeen dit elke week sal leef. (B = “Bless” / seen; E = “Eat” / eet saam met iemand / koffie/; L = “learn” / leer meer van Jesus; L= “listen” / luister , word stil voor Jesus en luister; S= “Send” / sien jouself as ‘n gestuurde. Vanoggend vra ek jou aandag vir ‘n eenvoudige praktiese voorbeeld van hoe jou lewe, net deur te bestaan, reeds vir iemand anders tot seën kan wees. 2. Jou verhouding met God. Jou verhouding met God bepaal hoe jy leef. Of God se tipe omgee en of tot seen wees, net ‘n opsie vir jou is en of dit die enigste manier van wees vir jou is. Toe menslik gesproke alles vasdraai en almal hulpeloos uitgelewer was aan die storm, was Paulus se verhouding met God, van so 'n aard, dat God 'n boodskap van hoop vir almal op die skip kon gee. Paulus het geweet dis 'n engel van God wat met hom praat en kon met sekerheid sê: Die God aan Wie ek behoort ... Wat ‘n stelling! Die God aan wie ek behoort! Maak hierdie een werklik jou eie. Veral die behoort deel. Dit is meer as ‘n vrou wat met trots en deernis sê, dis my man hierdie. Die God aan wie ek behoort. Paulus kon netso wel gesê het: Die God met wie ek in ‘n aktiewe verhouding saam leef. En die gevolg? 22 Maar selfs in hierdie omstandighede vra ek julle: Hou moed! Niemand van julle sal sy lewe verloor nie. Net die skip sal vergaan. 23 Verlede nag het daar 'n engel aan my verskyn van die God aan wie ek behoort en wat ek dien. 24 Die engel het vir my gesê: ‘Moenie bang wees nie, Paulus. Jy moet nog voor die keiser verskyn. En ter wille van jou spaar God in sy goedheid die lewe van almal wat hier saam met jou op die skip is.’ 25 Daarom, hou moed, manne! Ek vertrou op God dat alles net so sal gebeur soos Hy vir my gesê het. 26 Dit is so bestem dat ons êrens op 'n eiland moet strand.” Acts 27:22-26 Hoop. Moenie bang wees nie. Almal op hierdie skip se lewens word gespaar. Die Here kon net Paulus se lewe gespaar het. Hy kon al die ander, hulle was nie gelowiges nie, maar gelos het om te verdrink. Dit was hulle dom besluit om daardie tyd van die jaar die tog aan te pak. So, kry vir julle. Maar nee. God is liefde. God gee om ook vir nie-gelowiges. Netso gebruik God Sy verhouding met Paulus om te waarsku teen die matrose se plan. Hulle wou die die boot skelm verlaat en die ander mense aan hul eie lot oor te laat. Sonder die matrose was die res se kans op oorlewing baie skraal. Ter wille van God se plan met Paulus se lewe, het God almal op die skip gered. As ek nou aan ‘n ander Bybelse tyd mens kan dink wat iets soortgbelyks deur is, dan sien ek net self behoud en eie wil. Ek sien iemand wat gedink het dat dit wat God sê, werk nie vir my nie. Ek sal my eie ding doen. Ek sal regtig nie tot seën wees van daardie spul mense nie. Ek praat van Jona. Hy het tog ook al in sy lewe beleef dat God met hom praat. Weet u waar lê die verskil? Die een het weg gehardloop van sy roeping, weg gehardloop van God se pad en die ander een het sy God se pad gewillig gestap. Paulus in sy gehoorsaamheid was tot seën vir die mense om hom. Letterlik is hulle lewens gered agv Paulus wat op hul skip was. Kyk! Ons moenie Hand 27 se verhaal romantiseer nie. Dit het nie afgespeel in ideale omstandighede waar jy skerp en gefokus op God leef nie. Die omstandighede was baie sleg. Paulus was 'n gevangene. Waarskynlik was elkeen van hierdie gevangenes aan 'n soldaat vasgeketting. Dit was 'n slegte tyd van die jaar om 'n seereis te onderneem. Meeste skepe het 'n hawe gekies om te oor winter. Die matrose wou Feniks toe om daar te oorwinter. Paulus het gewaarsku dat hulle eerder in Mooi hawens moes oorwinter. Lg het hulle met groot moeite bereik. Paulus waarsku ook oor skade aan die vrag en boot en van lewensverlies. Die seisoene was teen so 'n vaart in laat herfs. Daardie see was bekend daarvoor dat 'n mooi suidebriesie skielik kon omswaai in 'n verwoestende noordooster. Nie net het dit gebeur nie maar was hulle skynbaar ook binne enkele ure van Feniks af waar hulle gehoop het om te oorwinter toe die Noordoosterwind hulle tref. Hierdie een het hulle so 475 seemyle of 885 km van koers af gedryf. Veertien dae lank het die storm gewoed. Op een stadium wou die soldate die gevangenes doodmaak. Dit het so gewerk: As 'n gevangene ontsnap dan moet die soldaat wat hom moes oppas, sy plek neem. Die soldate sou jou eerder doodmaak as om daardie risiko te loop tydens die skipbreuk. Daar sit Paulus, 'n gevangene en hy hoor wat die soldate beplan. Nie ideale lewensomstandighede nie, stem u saam? Dit lyk asof Paulus baie gebid het. Veral ook oor die ander mense op die skip se veiligheid. God verhoor sy gebed en kies om almal se lewens te spaar. Was dit Paulus se roeping om daardie mense se lewens fisies te help red? Nee. Dis maar iets wat gebeur het op sy pad na Rome. Dis maar 'n newe-effek van die eintlike doel van God met sy lewe. 3. Omrede jou geloof Dalk sê ons te maklik my omstandighede laat dit nie toe nie. Of, wat kan ek doen? Ek is maar net een enkele mens. Ek kan tog nie 'n verskil maak nie. Ek hoor jou. Maar Paulus was alleen. Net Hy en God tussen al die ander daar. En kyk die verskil wat Hy gemaak het. As hy nie gepraat het nie, nie hoop gebring het nie, nie gewaarsku het nie, het hy dalk ook omgekom. Oor wat dan sy ongehoorsaamheid sou gewees het. Een Christen op die regte plek, saam met ons Here, is meer as genoeg. Dit kos net een kind van God om sy omgewing te verander. Hoe? Deurdat God op jou pad van gehoorsaamheid met Hom, kies om die mense langs jou pad, te seën. Leef jy net ten nouste met God.