Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Efesiërs 2: 1 – 10 Party van julle ken die storie wat ek nou gaan vertel. Ek stap een oggend by Groenpunt se Maksimum gevangenis in. Ek sien in die binneplaas een van die jong manne wat na die Bybelstudie kom en ek roep hom. Hy sê hy kom, hy is nou daar. Ek kry die ander en ons gaan na ons gewone bymekaar kom plek. Die outjie en nog so ‘n ander jong lat kom laat in. Gaan staan so half strategies, een regoor my en die ander links van my in die groepie. Hulle loer so half vir mekaar. En ek besef, hier kom ‘n ding. Bid so ‘n vinnige een sin gebedjie om wysheid van Bo. So die meneer vra of ek weet wat ‘n ateis is. Ek sê dis iemand wat nie eerlik met homself is nie. Natuurlik ruk die ou hom op en vra wat ek bedoel. Dis eenvoudig sê ek. Elke mens wat ek ken glo in iets of iemand. Party mense glo in geld. Ander in mag. Nog ander glo daar sal altyd iemand wees wat jou help. Nog ander glo in hul self en hul eie vermoeens. Ek weer glo in God. So waarin glo jy? Vra ek hom. Ek glo in myself, sê hy. Werk dit vir jou, hierdie geloof in jouself, werk dit vir jou? Ja sê hy. En ek vra, is dit hoekom jy so jonk reeds in maksimum gevangenis sit? Kan ek jou vanoggend vra: In wie of wat glo jy? Hierdie geloof van jou, werk dit? As jy als verloor en alles word van jou afgestroop, gaan jou geloof jou dra? Selfs deur die dood heen? Paulus begin hierdie deel met die mense van Efese se verlede. Hy doen dieselfde in die Romeine brief. Almal het gesondig. Almal is ver van God af. In Eksodus sê die Here, “Ek, die Here, is die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou. 7 Ek betoon my liefde aan geslagte en geslagte. Ek vergewe ongeregtigheid, oortreding en sonde, maar Ek spreek niemand sonder meer vry nie. Ek reken kinders en kleinkinders die sondes van vaders toe selfs tot in die derde en vierde geslag.” Exodus 34:6-7 Ek spreek niemand sonder meer vry nie. Wel as almal gesondig het, ons ook, en ons word nie gestraf oor ons sondes nie, moet ons vra, as dit nie ek is wat gestraf word nie, wie dan? Kyk na vers 4 en verder: 4 Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief. 5 Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered! 6 Ja, in Christus Jesus het Hy ons saam met Hom opgewek uit die dood en ons saam met Hom 'n plek in die hemel gegee, 7 sodat God ook in die tye wat kom, sou laat sien hoe geweldig groot sy genade is deur die goedheid wat Hy in Christus Jesus aan ons bewys het. Ephesians 2:4-7 Jesus Christus, die Seun van God. Sien jou toekoms, ‘n plek in die hemel op grond van wat Jesus ook vir jou gedoen het. Kan ek soos Paulus maak en net eers terug gaan na ons verlede. Wel waar ons nou is in ons lewens. Speel hoofregter oor jouself en kyk of jy skuldig is of onskuldig. Hier is ‘n deel van die klagstaat: 1. Julle het gelewe soos hierdie sondige wêreld Efes 2:2 2. Ons is deur ons sondige begeertes oorheers. 3. Ons het gedoen net waartoe ons luste (waarvoor ons lus was) ons gelei het en wat in ons gedagtes opgekom het. Voor jy weghardloop hiermee, dink net oor die frase, dit waarvoor ons lus was. Het dit jou nader aan God gebring of nie? Het jou lus om nog ‘n bietjie te slaap nog ‘n bietjie te sluimer, jou uit eredienste gehou? Al die dinge waarvoor jy lus raak, die dinge waartoe jou luste jou gelei het, wat het dit jou gekos? Jou huis? Jou lewe? Jou huwelik? Wat? Het daardie luste tussen jou en God ingeskuif? Hier is Paulus se uitspraak in die saak teen jou en my: Vanweë ons sondige natuur sou ons net soos die ander mense deur God gestraf moes word. Ephesians 2:3 Skuldig. Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief. En dan vertel Paulus hoe God se Seun Sy lewe opgeoffer het om jou en my te red. Ons moet glo in Jesus. Ek wil graag iets demonstreer. Hierdie stoel, kan dit my gewig dra? Glo jy hierdie stoel kan my gewig dra? Dankie. Jou geloof dat hierdie stoel my gewig dra, werk dit? Nee. Want ek is nie eers naby die stoel nie. Sit een been op? Steeds nie. Gaan sit? Werk dit nou? Nee. Vir geloof om te werk vra dat ek my hele gewig op die stoel plaas. (Staan op die stoel). Nou werk jou geloof dat hierdie stoel my gewig kan dra eers regtig. Moet asb nie so vinnig sê maar ek glo nie. Want daar is ‘n wêreld vol van mense wat sê ek hulle sien iets anders. Hulle sien mense wat met die een voet in geloof staan en die ander voet stewig in die wêreld. Met die mond sê ons glo en met die lyf in die week wys ons vertrou op ons self, of op geld (as ek maar ‘n miljoen of twee gehad het dan …), mag, werk of wat ookal. Kom ons praat nou verder oor geloof. Die Heidelbergse Kategismus sê geloof is ‘n vaste vertroue wat die Heilige Gees in ons werk … naamlik dat God ook vir my genade gegee het en so my sondes vergewe het. Jesus het gesê: 47 “Dit verseker Ek julle: Wie in My glo, het die ewige lewe. John 6:47 Jesus kan dit sê want Hy het ons vrygekoop uit die dood uit. Hy het ons straf gedra. Johannes skryf dat as ons ons sondes bely, God is getrou en regverdig en Hy vergewe ons al ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid. (1Joh1:9). Efesiers 2:8 – 10 8 Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is 'n gawe van God. 9 Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie. 10 Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het. Ephesians 2:8-10 Lees dit weer. Jy kon jouself nie red nie en jy sal jouself ook nooit kan red nie. Dit is alles God se werk in Jesus. Jy kan nie vir jou ‘n plek voor God verdien nie. Jy het in God se oë niks om op trots te wees nie. Nie eers wat jy van jou lewe gemaak het of wat jy bereik het nie. Dit is alles God se werk. God maak ons dit wat ons nou is. Ons geloof is ‘n persent wat God ons gegee het. God se Gees wat in ons werk help ons geloof lewe. Kyk na vers 10: 10 Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het. Dit is hier waar ons ons koppe moet laat swaai. God het jou en my in Jesus gemaak om ons lewe te wy aan die doen van goed. Goeie dade. God het ons bestem hiervoor. Dit is God se doel en droom met jou lewe: Om goeie dade te doen. Die HK sê mooi dat goeie werke is dinge wat uit geloof, volgens die wet van God, tot eer van God gedoen word. En nie uit eie goeddunke nie (So 33 Vr 91). En ons doen dit omdat Christus ons, nadat Hy met Sy bloed vrygekoop het en deur die Heilige Gees nuutgemaak het sodat ons met ons hele lewe bewys dat ons God dankbaar is … Of, anders gestel, ons is herskep om ons lewe te wy aan die doen van goeie dade. Waaraan wy jy jou lewe? Of in wie of wat glo jy regtig?