Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1. Japan se verrassingsaanval op Pearl Harbour het op 7 Desember 1941 plaasgevind. Wat hierdie dag gebeur het is algemeen bekend en vele films is al oor die slag by Pearl Harbour gemaak. Maar wat minder bekend is, is die omstandighede wat gelei het tot Japan se oorwinning oor Amerika op daardie dag. Die aanloop hiertoe het in Januarie 1932 begin, byna 10 jaar voor die slag van Pearl Harbour. 2. Amerika het besluit om in Januarie van 1932 die veiligheid van Pearl Harbour te toets deur skynaanvalle daarop te loods. Een deel van die Amerikaanse skeepsmag sou verantwoordelik wees vir die beveiliging van die hawe en die ander helfte sou verantwoordelik wees vir die skynaanval. Geen bedreiging nie. Slegs ‘n skynaanval en verdediging om die veiligheid van hierdie hawe in Amerikaanse vlootbasis in Hawaii te toets en op te skerp. 3. Die skepe wat verantwoordelik was vir die verdediging van die eiland was ingestel en gereed vir ‘n totale vlootaanval. Hulle het hul skepe strategies rondom die eiland opgestel. Duikbote het die ingang na die hawe bewaak en min aandag is gegee aan ‘n moontlike lugaanval. 4. In ‘n stap wat as rewolusioner beskou is het die leier van die aanvalsgroep, Adm Harry Yarnell, besluit om van die beplande aanvalsmetode af te wyk en die hawe met slegs 2 vliegdekskepe aan te val. Hy het al sy aanvalskepe agtergelaat en net met sy twee vliegtuigdraers die eiland bekruip. 5. En toe, op Sondag, 7 Februarie 1932, slaag Adm Yarnell daarin om die verdediging in Pearl Harbour totaal onkant te betrap en vanuit die Noordooste met sy bomwerpers laag in te vlieg en ‘n skynverwoesting te saai. Nie eens ‘n enkele vliegtuig van die verdedigingsgroep kon daarin slaag om op te styg nie. 6. Die sukses van hierdie skynaanval is deur die Amerikaners as ‘n gelukskoot afgemaak. Wat die Amerikaanse vloot egter nie besef het nie was dat elke beweging van daardie skynaaval in 1932 deur ‘n netwerk van Japanese spioene dopgehou is. Vanuit die bosse, vissersbote en uitkykpunte is hierdie skynaanval bestudeer deur die Japanese. 7. In Tokyo is die hele aanval later tot in die fynste besonderhede gerekonstrueer. En toe, op 7 Desember 1941, tydens die 2de wereldoorlog, het Adm Yamamoto die Amerikaanse vloot sy gevoeligste slag toegedien, en dit met ‘n plan wat die Amerikaners 10 jaar vroeer aan Japan op ‘n skinkbord aangebied het. 8. Deur bloot die Amerikaners se plan van 10 jaar vroeer in detail na te volg was Japan in staat om Amerika in Pearl Harbour te vernietig. 9. Vandag is die 2de wereldoorlog verby, en ons gaan aan met ons lewens. ‘n Elke dag se opstaan, werk toe gaan, huis toe kom, bad, eet, slaap, weer opstaan en werk toe gaan ens ens ens. Totdat ‘n nuwe jaar aanbreek, en dan, na die vakansie, gaan die ritueel weer Voort. En soms sukkel ons om hierdie lewe voluit te leef want ons weet nie werklik hoe ons al die situasies wat ons pad kruis moet hanteer nie. 10. Ons staan aan die begin van ‘n nuwe jaar. Wat le vir ons voor in 2023? Ons weet nie. En as ons nie eens weet wat voorle nie, hoe hanteer ons dan die krisisse wat op ons pad gaan kom? Geliefdes, ons moet miskien maar eerlik wees vanoggend. Aan die begin van 2022 het ons nie geweet hoe ons dit gaan maak nie en hier aan die begin van 2023 weet ons steeds nie. Die jaar wat voorle lyk vir baie mense vanoggend maar duister. 11. Maar Jesus gee in vers 12 van Johannes 8 vir ons ‘n geweldige stuk raad om na te volg aan die begin van 2023. Hier is dit: “Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig he wat lewe gee”. “WIE MY VOLG…”. Jesus se hier letterlik, “Wie my planne navolg…”. “Wie doen wat Ek doen….”, “Wie in My spore loop” sal sukses behaal. 12. Nou die ironie hier is dat Jesus na Homself in hoofstuk 7:37 as die Lewende Water verwys. Hier, in vers 12, verwys Hy na Homself as die Lig vir die wereld, vir hulle in donkerte. So ryk, so groot is hierdie Christus dat ‘n enkele naam, ‘n enkele metafoor, Hom nie kan beskryf nie. Hy is die weg, waarheid en die lewe, Hy is die lig vir die wereld, Hy is die brood van die lewe, Hy is die ingang vir die skape, Hy is die goeie Herder, Hy is die opstanding en die lewe, Hy is die ware wingerdstok, Hy is die water wat lewe gee, ens ens. 13. Hou in gedagte dat hierdie gesprekke van Jesus met sy volgelinge waarvan ons lees in hoofstukke 7-9 het plaasgevind tydens die viering van die Huttefees. Nou tydens die Huttefees is die 40-jaar lange reis van Israel in die woestyn gevier. Hierdie fees is vir 7 dae lank gevier. Dit was tydens hierdie reis wat God die volk met ‘n wolk- en vuurkolom gelei het. Nou ter herdenking hieraan het die Israeliete tydens die Huttefees groot lampe aangesteek wat reg rondom die tempel geplaas is. Hulle het dan in die lig van hierdie lampe deurnag gedans en feesgevier. 14. En uit simpatie vir hierdie mense wat steeds die lig gedenk wat hul voorvaders duisende jare gelede deur die woestyn gelei het, roep Jesus dit uit: “Ek is die lig vir die wereld! Volg MY”. En dis hier waar ons iets baie deeglik moet verstaan. Om Jesus te volg soos ons die opdrag vind in vers 12, beteken om Hom te vertrou en gehoorsaam in alle fasette van ons lewens. Dit beteken om Hom in alles te glo en vir alles te vertrou. 15. Maar Jesus keer eintlik die appelkarretjie om in hierdie teksvers wat ons gelees het. Hou in gedagte dat die Jode onder die indruk was dat Jesus HULLE Messias was, end at Hy gekom het om HULLE te verlos. Maar Jesus noem 2 dinge wat die teendeel bewys. Eerstens se Hy dat Hy die lig vir die WERELD is. Nie net die Jode nie. Maar vir almal. En Hy bevestig dit met sy opvolgwoorde wanneer Hy se dat WIE OOKAL Hom volg, die lig sal he wat lewe gee. 16. Christus het van die begin af duidelik gemaak dat Hy vir ALMAL gekom het. Want God het die WERELD so lief gehad, nie net die Jode nie, maar almal. 17. Maar Jesus se hier meer oor die feit dat Hy die lig vir die wereld is as wat op die oog af blyk te wees. Wanneer Hy die woord “WIE” gebruik, WIE My volg, impliseer Hy ook daarmee dat nie almal Hom volg nie. MAW dat slegs sommiges Hom volg. En ook dat nie almal Hom in die toekoms gaan volg nie. 18. Maar dit verander niks aan Jesus se oproep nie. Geliefdes, die Japanese was suksesvol tydens Pearl Harbour agv een rede: Hulle het die plan wat suksesvol was, stap vir stap nagevolg, tot in die fynste detail. Hulle het nie ‘n sentimeter afgewyk van die plan af wat hulle gesien het gewerk het nie. Daarom kon hulle suksesvol wees. 19. In die woestyn het Israel niks anders gedoen as om elke dag die wolkkolom en elke nag die vuurkolom te volg nie. Die manier waarop God die rigting aangedui het, het tot gevolg gehad dat hulle Kanaan kon bereik. En nou, aan die begin van ‘n nuwe jaar, met nuwe uitdagings, nuwe krississe, maar ook nuwe geleenthede, roep Jesus dit uit: “Volg My!”. Dit is al hoe julle sukses in 2023 gaan behaal, volg my net! 20. Maar hierdie volg moet in detail gebeur. Die Japanese vloot het die Amerikaners se aanvalsplan tydens die oefening tot in die fynste detail nagevors en bespreek. En hulle het besef hulle sal dit tot die fynste detail moet toepas om sukses te behaal. Die ISraeliete het nie opstandig geraak in die woestyn wanneer die vuurkolom nie wou beweeg nie. Hulle het geduldig gewag totdat dit sou begin beweeg en dit dan slaafs nagevolg. 21. Dit is ook nie genoeg om na die lig te kyk nie. Dis nie genoeg om dit te bewonder nie. Hierdie Lig is ‘n Lig vir ons voete, nie net vir ons oe nie. Wanneer ek dink oor 2022 dan kan ek aan geweldig baie geleenthede dink waar ek myself in die duisternis laat opeindig het. Maar saam met hierdie woorde gee Christus die belofte dat indien ons Hom volg, regdeur 2023, ons nie in die duisternis sal opeindig nie. 22. Luister na die Die Boodskap vertaling van hierdie teksvers: “Jesus praat toe verder met die mense: “Wat lig beteken vir iemand wat in die pikdonker sit, beteken ek vir mense op geestelike gebied. Daarom sal iemand wat my volg se lewe nie sinloos wees soos die van iemand wat in die donker rondstrompel nie. Hy sal sy lewe sinvol kan leef omdat hy salkan sien wat om te doen om God tevrede te stel.” 23. Dis die soort navolging wat Jesus van ons vra aan die begin van 2023 om suksevol te wees hierdie jaar. Om aan die einde van die jaar te kan terugkyk en te weet: Al het dinge nie altyd verloop soos ek dit wou he nie, sal ons ook aan die einde van 2023 okay wees. 24. Geliefdes, nie lank terug nie het ons di egeboortedag van die Verlosser gedenk. Laat die lig wat Hy na hierdie wereld gebring het vir u en my die rigting aandui in 2023. Sy belofte is nie dat alles net goed sal gaan nie, maar sy belofte is dat as ons nooit buite sy wil gaan nie, dit tot gevolg sal he dat u en ek in hierdie maar ook die lewe hierna okay sal wees.