Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
EKSODUS 13: 17 - 22 Ek som vir ons Eksodus 13: 17 tot 22 op in 2 dele: Eerste deel: God is getrou. Hy leer ons om Hom te vertrou. Is jy leerbaar? God lei ons altyd. 22 “Die wolkkolom bedags en die vuurkolom snags het altyd voor die volk gebly.” Eksodus 13:22 Altyd. God lei ons altyd. Die vraag is: Volg ons Hom? Dit bring my by die tweede deel van my opsomming: God gee die volk ‘n wolkkolom bedags en ‘n vuurkolom snags om te volg. Die ouers en die leiers volg die wolk en die lig. Die kinders volg die ouers. Die kinders gaan uitkom waar die ouers heen mik en as dit nie agter die wolk en die lig aan is nie dan is daar ‘n probleem. Kom ons spring vorentoe in tyd sodat jy die probleem kan sien uitspeel. Die Here het die volk gelei tot by die beloofde land. Hy het 12 spioene laat uitstuur in die land in. Tien spioene sê dit sal onmoontlik wees om die land in te neem. Dis ‘n pragtige land met oorvloed maar die mense is reuse en die stede te sterk en en en … so begin die verskonings. Die Here sê terug woestyn toe met julle. Die volk, skynbaar, dink, o gits, ons het ‘n foutjie gemaak en hulle val die land binne. En kry die pakslae van hul lewe. Hulle word afgemaai. Sonder God misluk hulle klaaglik. Hulle is terug die woestyn in om daar te bly en rond te trek tot die geslag wat ongehoorsaam was uit gesterf het. Ek is dankbaar om te kan sê, daardie ongehoorsame mense se kinders het wel uiteindelik die beloofde land ingeneem. En hulle het ontdek dat God in die veertig jaar in die woestyn gesorg het dat hulle klere nooit verslyt nie, hulle voete het nie geswel nie. Hoor jy dit: Die Here was steeds getrou. Hy het steeds voorsien. Hy het hulle nie weg gegooi nie. Dit is ‘n moed skep oomblik vir ons. Die storie in Eksodus 12 het ‘n aanloop. 10 plae in Egipte wat God se mag onderstreep het. 10 Plae wat ons laat dink ons as ons dit beleef het sou ons geloof sterk gewees het, ons sou God vertrou het. Maar die Here het beter geweet. Hy het geweet as die Farao sou terug kom en met al sy strydwaens op hulle afstorm sal die volk se vertroue in die Here verdwyn. So wat doen die Here? Twee dinge gebeur. Die eerste is die farao word saam met sy weermag uitgewis in die see. Die tweede wat gebeur. Die Here vat nie kortpad na die beloofde land toe nie. Hy vat ‘n ompad. Hy leer hulle om Hom te vertrou. En die wat geleer het om die Here absoluut te vertrou, al het dinge nie altyd glad verloop nie, het geweet maak nie saak hoe groot en sterk die mense in die beloofde land is nie, God sal die oorwinning gee. Die wat vasgekyk het in alles wat skeefgeloop het, soos die bitter water by Mara, die kos skaarste in die woestyn, het skynbaar gou weer vergeet hoe die Here dit alles omgekeer het. Hulle het die les gemis. 1. Geloof is iets besonders. Geloof is iets besonders. Dit is tegelyk delikaat en robuust. Dit is ten alle tye gerig op God. Geloof is om te leer om God te vertrou. Geloof is om God te vertrou selfs wanneer dit geen sin uit maak nie. Selfs as logika jou geloof weerspreek. Geloof is heel eenvoudig gestel: Volg die Here. Jesus het baie keer net vir mense gesê: “Kom volg My.” Sy bedoeling was, kom dien soos Ek, kom dien die Here ons God en dien jou medemens. Dit is geloof. Maar ons leer nie ons kinders dit nie.. ‘n Baie slim man, Walter Bruegeman, het gesê dat geloof – die Bybel se geloof – is eintlik maar drie dinge: • Geloof is 'n uitnodiging om God se kind te wees. (Joh 1: 12) Hosea 14 vertel van verlore kinders ... weeskinders wat moet terugkeer na God. Hosea 14:4 sê so mooi: “By U alleen is daar liefde vir 'n weeskind.”(vers 4) • Geloof is in die tweede plek 'n uitnodiging om God se vriend te wees. Ek weet God het met Moses gepraat soos 'n man met sy vriend. In Joh 15 sê die Here, Hy noem ons Sy vriende. • Geloof is in die derde plek 'n uitnodiging om iemand te wees wat namens God, ter wille van God, ander dien. (Mark 10: 43 -44; Lukas 9 en Jes 42:1 – 4). Jy sien dit in Jesus se aardse lewe. “Kom, volg My.” Sy bedoeling was, kom dien soos Ek, kom dien die Here ons God en dien jou medemens soos Ek, jou Here vir jou die voorbeeld stel. Dit is geloof. Maar ons leer nie ons kinders dit nie. 2. Geloof is prakties. Geloof is om te weet God het altyd ‘n plan. As jy die uittog uit Egipte bekyk dan sien jy God is die Een met ‘n plan. En God maak Sy plan werk. God trek voor die volk uit. En as hulle ook in die nag moet trek dan is dit God wat die vuurkolom snags gegee het. God besluit op die roete. God sorg in elke krisis. Die volk moet dit leer en onthou. En om hulle te help onthou is daar feeste. En hulle moet hulle kinders dit vertel. Dit moet word soos: Dis ons ding. Dis hoe ons is. Ons is God s'n. Hy sorg vir ons. Hy red ons. Ons draai na Hom toe. Kan ek dit maar sê? As ons in Suid-Afrika wil oorleef en vrede hê, dan gaan ons God moet begin vertrou in alles. Leer God so ken dat jy met absolute sekerheid weet dat jy op Hom kan staatmaak. Hom kan vertrou. Ek bel 'n vriend met 'n probleem waarvoor ek hulp soek. Hy sê vir my: Jy het nie meer 'n probleem nie. Dis opgelos. Ek sit die foon neer en ek bel die mens vir wie ek hulp nodig gehad het en ek sê: So en so sal help. Ek ken hom. Hy doen wat hy belowe. Ons geloof in God moet so prakties en so eenvoudig en so reguit wees. En dit kom uit 'n verhouding waar jy naby aan God leef. Ons haal nie ons oë van God af nie. Ons maak seker ons bly by Hom. God moet vir jou so werklik word soos mense waarop jy staatmaak. Ek verstaan ons het nie ‘n wolkkollom wat in die dag voor ons uit beweeg nie. Ook nie ‘n vuurkolom snags nie. En dit is moeilik om te weet wat wil God vandag vir my sê. Maar ons het die Bybel. So ons leef wat ons weet. Byvoorbeeld: Ons leef liefde want God is liefde. Kan ek vanoggend net weer vir jou sê, sommer uit verlede Sondag se teksgedeelte (Titus 3): God het die Heilige Gees oorvloedig oor ons uitgestort deur Jesus Christus, ons verlosser. Ons het ons eie uittog gehad. God het ons nuutgemaak. God het vir ons gegee wat Israel van ouds maar net van sou kon droom: God se Seun, God se Gees, Die Bybel en God het ons ‘n nuwe begin gegee, wedergeboorte.. As jy nie weet wat om vandag te leef nie. Leef liefde. Wees liefde. Wees genade. Wees sout. Wees lig vir ander. Bring hoop. Jesus het God gevolg. Ons volg Jesus. Ons kinders volg ons. 3. Slawe van twyfel? Israel is bevry. Hulle beleef wonderwerk op wonderwerk. Net om die volgende dag weer slawe te word van hulle twyfel. God het geweet hulle gaan twyfel. Hulle gaan bang word vir die lewe en wil terug hardloop na Egipte. Ek dink hulle sou sê: Nooit gesien. Dit was net te sleg daar in Egipte. Nooit as te nimmer gaan ons terug. Die realiteit is hulle het gerebelleer. Nog nie eers twee maande uit Egipte uit nie en hulle wil terug want hulle kon daar by vleispotte aansit (16:3). God gee toe kwartels en manna. En so het dit aangegaan. In 15: 25 by Mara, toe die water daar bitter was het hulle ook’n gebrek aan vertroue gewys. Hulle het gekla. God se reaksie sê alles. Hy het die water soet gemaak. En toe gesê: 26 Hy het gesê: “Julle moet goed luister na wat Ek, die Here julle God, sê! Julle moet doen wat reg is in my oë, gehoor gee aan my gebooie en alles doen wat Ek vir julle voorskryf. Dan sal Ek geeneen van die siektes waarmee Ek Egipte getref het, oor julle bring nie, want dit is Ek, die Here, wat julle gesond hou.” Eksodus 15:26 Ek kon nie help om op te merk “… dit is Ek, die Here, wat julle gesond hou.” En dat ons moet luister. Luister is dalk ons grootste probleem want luister is ook om te doen wat reg is in God se oë. Daar is twee dinge wat ons dalk gouer as gou ons eie moet maak. Die eerste is om ‘n voorbeeld van geloof vir jou kinders en kleinkinders te wees. Anders eindig hulle op sonder God. Laat hulle sien jy het God se uitnodiging om Sy kind te wees aanvaar en jy gryp dit elke dag aan. Laat hulle jou vriend van God wees sien. Die tweede is dat al die negatiewe wat gebeur is geleenthede om te sien wat God doen. Dit is ook geleenthede om deur God gevorm te word. God gebruik dit om geloof te bou, of om geloof te suiwer soos Petrus dit skryf. Knoop dit vas en bou nou vorentoe daarop. Dit sal jou help om te vertrou op God alleen. As jy dit nie doen nie stel jy jou “beloofde land” net verder uit. God gaan nie groot deur ons werk voor ons nie volledig op Hom vertrou nie. God verwag dat ons Hom sal vertrou. Soos jou klein kinders jou vertrou om die regte ding vir hulle te doen, so wil God jou vertroue geniet. 'n Mens lees dat God aanstoot neem, kwaad word, as Sy mense Hom nie vertrou nie. Josef het geglo: Vers 19 God sal beslis later na julle omsien. Moses het geglo. Kyk maar na hoofstuk 14 vers 13 en 14. “Moenie bang wees nie. Staan vas, kyk hoe die Here julle vandag gaan red ...” Die Israeliete? Met die eerste teken van moeilikheid twyfel die Israeliete en is God vergete. Kom ons wees nie so nie. Ons land brand. Ons mense word vermoor. Kinders raak weg by die kerk. Mense versaak geloof. Volg jy nog die wolkkolom bedags en die vuurkolom snags?