Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Titus 3: 1 - 8 “Waar daar liefde is is God die Heer.” ‘n Pragtige lied. Ons sing dit graag. Dit is goed so. Want God het die kerk, en God het hierdie gemeente begin met die een groot doel: Liefde. God het in sy hart, hierdie idee gehad ... van liefde. So het die storie begin lang terug. En vandag is God se storie van liefde nog nie klaar geskryf nie. Ek en jy, die manne en vroue van God se gemeente, is in die middel van hierdie storie: Elkeen van ons is ‘n skakel in die ketting van God se liefde. En as ons dit nie verstaan nie, as ons ons harte hard maak, dan verstaan ons niks van God of van Sy kerk en gemeente nie. Vandag is jy deel van God se liefdesverhaal. Is jy deel van God se liefdesbrief aan die gemeenskap waarin jy bly. Mag hulle God se liefde sien en beleef. Hoe gaan hulle dit sien? In hoe ons deur God verander is en nou liefde leef. Jesus word in Johannes 13:35 aangehaal: ”As julle mekaar liefhet sal almal weet dat julle dissipels van My is.” As ons mekaar lief het soos Jesus ons lief het. Onthou nou: Die Bybel se prentjie van mense se lewens, van selfs jou en my lewe verskil dramaties van hoe die meeste mense oor hulself dink. Die meeste mense dink hulle leef ‘n okay lewe. Titus 3 sê nee. As jy kwaadwillig is, maklik kwaadwillige praatjies oor ander herhaal, graag rusie soek, skinder, jaloers is, en as daar mense in jou lewe is wat jy haat, dan is jy netsoos die wêreld. As jy om ons kyk na al die stukkende vriendskappe en stukkende huwelike en kwade gevoelens dan is die Bybel reg. Paulus raak ongelukkig oor al die vroom godsdienstige gebruike van sy tyd. Want hy kan geen verskil sien in hulle lewens nie. Hulle godsdiens is maar net so vol sonde gepomp soos die res van hulle lewe. Dit illustreer ook baie mooi die een groot waarheid van die doop: God doen alles. Die hele betekenis van die doop, alles wat die doop inhou, doen God. Hier is hoe ons vir God dankie sê vir die nuwe lewe en vir die doop. Ek verduidelik dit met ‘n storie. Daar was eendag ‘n arm dogtertjie, so vroeg in haar tienerjare. Regtig arm. Sy en haar ouers het letterlik geleef van dit wat hulle elke dag op ‘n manier kon bymekaar skraap. Die dogtertjie was aangegryp deur een van die vooraanstaande vroue in hul gemeenskap. Ek kan nie onthou of dit een van die Europese adelikes was nie. Dit was in die eerste helfte van die 1900’s. Wat sy gedoen het was om elke week te gaan kyk na ‘n standbeeld van die vrou, of as sy iewers in ‘n winkel ‘n foto kon sien. En by die geleenthede waar die dame die dorpie besoek het, dan was die dogtertjie daar. Dan het sy mooi na bv haar hare gekyk en dan huis toe gegaan en vir die volgende ruk probeer om haar eie hare ook so te sny en so skoon te hou soos die dame s’n was. Sy het probeer om met dit wat sy gehad het net so te maak soos die dame wat sy bewonder het. Stories oor hoe sy mense hanteer het, het sy ingeneem en dadelik haar dit begin nadoen. Sy het probeer om so goed sy kon soos die vrou te wees. Geloof is baie soos wat hierdie dogtertjie gedoen het. Geloof is om Jesus na te doen. En dan nog oor Jesus in die Bybel op te lees en dit dan ook te begin doen sodat jy al hoe meer soos Jesus op te treë. En om te keer dat ons groei en ons geloof nie na ons kop toe gaan nie, onthou ons waaruit God ons moes red. 1. Onthou. Netsoos die mense vir wie Paulus in die Titus brief skryf, moet ook ons sondes sonder dat ons dit verdien het, deur Jesus se bloed skoongewas word. Ook ons was so aaklig dat die Heilige Gees ons moes wedergebore het. Nuutgemaak het. En so het God ons gesit op ‘n pad van heiliging. Ons is heilig. Ons moet heilig wees. Ons is nuutgemaak. Ons moet nou nuut lewe. Ons moet nou dit word wat God ons reeds gemaak het. Wat ons nie moet doen nie is om te dink ek voeg ‘n bietjie Jesus en geloof by my lewe en nou is ek okay nie. Jesus is nie ‘n add-on by my lewe nie. Kom ons fokus soos die dogtertjie in my storie om soos Jesus te leef. Uit dankbaarheid uit. Omdat ons nuut gemaak is. Nuwe lewe het. God maak jou nuut en anders. 2. Wees. Kan ek iets vir ons uitwys? Hierdie mense was iets en nou is hulle iets anders. Vroeer was hulle so en so gewees. Duidelik nie aangename mense nie. Dalk maar tipies van die mense van hul tyd. Maar toe het daar iets in hulle lewens gebeur. God het in hulle lewens ingekom. En die gevolg daarvan was net iets om te sien. Hulle het verander. Hulle het so verander dat jy nie sou sê dis dieselfde mense van vroeer nie. Nou gaan jy anders oor hulle moet dink. Anders betwyfel jy God se vermoeens. Tegelyk moet Titus hulle herinner dat mense wat deur God nuutgemaak is ... soos nuutgemaakte mense moet optree. Mense moet kan sien dat hulle nuutgemaak is. As motivering word hulle herinner aan wie, en aan hoe hulle eens op ‘n tyd was. Glad nie aangenaam nie. Glad nie Christelik nie. Dink jy iemand wat net agter sy begeertes aanhardloop, en altyd net sy of haar sin wil hê, iemand wat altyd moeilikheid maak (kwaadaardig is) of jaloers, haatlik is en ‘n hele paar mense op sy of haar ek-haat-jou-lysie het, is enigsins anders as die wêreld? Kom ons maak seker dat ons nie meer hierdie dinge doen nie. Want dit is nie tot eer van God en dit is dinge wat van die meeste moeilikheid in gemeentes maak. Kan ek dit sê? Wie jy is en hoe jy is ... is een en dieselfde ding. Wees konsekwent soos Jesus. Daar het ‘n wonderwerk in jou lewe gebeur. Jy het jou lewe vir Jesus gegee, volledig. Hy het jou nuutgemaak. En die mense in ons gesinne en in ons vriendekring en by ons werk en die algemene ou op straat moet nou God se wonderwerk in jou kan beleef. Ons leef vir God. Ons is wie ons is ter ere van God. Ons verander van iemand wat eers ‘n “fan” was na iemand wat Jesus volg. ‘n “Fan” is iemand wat baie van Jesus af weet maar geen opofferings maak nie. Iemand wat graag lees oor Jesus maar nie graag doen soos Jesus nie. ‘n Volgeling is iemand wat Jesus volg maak nie saak waar Hy gaan en waarheen Hy jou stuur nie. En ons doen dit omdat God God is. En omdat God ons van die spreekwoordelike strate afgehaal het, en ons aangeneem het as Sy kinders. En nou word ons deur God oorlaai met liefde. Die doop herinner jou aan dit. Jy is gered. God het jou lief. Dit is alles God se werk. God wat jou wedergebore maak. 3. Gedoop. Soos Paulus in hierdie deel raak ek vanoggend opgewonde want ek besef God is in hierdie gebou vanoggend besig. By die doopbak, is dit God self wat Hom aan klein Abigail en WJ verbind het. Ons moet dit weet: Die doop is nie maar net ‘n ou gebruik of ritueel nie. God is hier in hierdie gebou. Hy is hier om te doop. Om Homself te verbind aan ‘n klein dogtertjie en aan ‘n seuntjie. Elkeen wat die doop sien gebeur moet besef dat iets anders vanoggend hier aan die gebeur is. Soos Abraham toe hy Isak moes offer. Isak het bly vra “maar pa, wat gaan ons offer.” En Abraham het bly antwoord: “Die Here sal voorsien, my kind. En toe op nommer 99 is daar ‘n ram om te offer.” En so vanoggend kan ons vra: Maar wie gaan ons saak met God regmaak? Hoe sal die Almagtige ons ooit kan vergewe? En dan kan ons kyk en die doopwater sien en weet: Dis afgehandel. Klaar betaal. Ons is skoongewas deur die bad van die wedergeboorte en deur die Gees. God het die inisiatief geneem met Abraham. God neem die inisiatief vanoggend. Alles in hierdie erediens gaan vanoggend oor God. God wat alles vir ons doen. God wat ons vernuwe. God wat van ons ander mense maak. Alles net genade. ‘n Wonderwerk. Die doop is die seël op ons kindskap van God. En die doop, veral die afhanklikheid van die twee klein mensies, sê ook ons moet netso in afhanklikheid van God leef. Die doop red nie. Die doop self was niks af nie. Die doop is soos jou trouring. Dit is ‘n belofte van trou aan mekaar. ‘n Belofte om mekaar lief te hê, te help en by te staan. Om saam dinge te doen. Die doop is God se ring aan jou. Dra dit met trots. Want dit is die duurste “ring” ooit. Gekoop met die bloed aan die kruis gegee deur Sy Seun. Daarom, onthou wat God jou alles vergewe het en leef met passie vir Hom wat jou vrygemaak het. Wees soos daardie dogtertjie, kyk na Jesus en leef Sy voorbeeld na.