Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Eksodus 12: Dink jou hierdie prentjie in. Jy word onderdruk in een van die magtigste lande van jou tyd. Dinge gaan moeilik. ‘n Tagtig jaar oue man daag op en sê die Here die Almagtige het ons gestuur om julle na vryheid te lei. Jy is bly. Moses, die gestuurde van God is skaars by die Farao weg of die swepe klap en die druk word meer en jy kan nie meer nie. Met elkeen van die 9 plae wat die Here teen die Farao gebring het, het jy hoop geskep en gedink hierdie keer sal ons vry gelaat word maar nee. Nou kom die 80 jarige oom, dis nou Moses, en hy sê, kry julle gereed, slag ‘n lam, berei dit so en so voor. Verf die bloed op die deurkosyne. Trek julle reisklere aan en bly die hele nag wakker. Wees gereed om te trek. Glo jy? Hierdie keer, na 9 magtige vertonings van God se krag, waarna niks gebeur het nie, glo jy? Doen jy presies soos Moses gesê het? Dit is ‘n geldige vraag. Ons is nie slawe nie maar die land het hierdie jaar halflyf oor die afgrond gehang. In baie mense se lewens het hartseer afgespeel. Ander het krisisse beleef of sit met onsekerheid. En ja, nie een van ons weet wat vannag inhou nie, nog minder wat in 2023 wag nie. Ek hoop en bid dat jy genoeg van God beleef het in die laaste klompie jare, genoeg God se hand en God se genade en liefde vir jou kon ervaar het dat jy sal verstaan wat ek nou gaan sê. 1. Ten spyte van al die emosionele op en af van die 9 plae en van hul swaarkry as slawe, het die volk genoeg van God gesien om hierdie opdrag te gehoorsaam. Om hul klere waarmee hul gaan reis aan te trek en aan te hou en die lam te slag en die bloed te verf op die deurkosyne soos Moses op bevel van God beveel het. Laat dit asb insink. Ons sit vanaand hier en ons het hierdie jaar oorleef. Deur die genade van die Here leef ons nog en glo ons nog. Deur die liefde van God is ons toegevou soms soos in watte en soms net beskerm. Maar danksy die Here is ons hier. Vanaand se nagmaal, kom na aanleiding van die teks wat ditself in my hart kom tuismaak het. In ons geval is dinge nie so dramaties soos in Israel se geval nie. Ons gaan net ‘n nuwe jaar in. Ek wil een van die ou kerkmoeders van eeue gelede parafraseer. Hierdie is ‘n nuwe jaar deur God moontlik gemaak. Ek het nog nie so ‘n jaar gesien nie. 2. God het toe met die Farao en met die Farao se gode afgereken. Voor enigiets nog gebeur het het die Here gesê: 1 Die Here het toe vir Moses gesê: “Met nog een plaag sal Ek die farao en Egipte tref, en dan sal hy julle hiervandaan laat gaan. Ja, hy sal julle onvoorwaardelik laat trek; hy sal julle selfs wegjaag hiervandaan. Eksodus 11:1 Dit is nie ‘n terugkyk op die gebeure en dan sê ek sien die Here se hand hierin nie. Die Here het vooruit gesê, vooruit beduie wat elkeen moet doen om gereed te wees en toe eers dit laat gebeur. Die Here is en bly in beheer. ‘n Mens besef dat deur die 9 plae heen het die Here ook vir Sy mense gewys wat Hy kan doen. En as hulle trek uit Egipte uit vat Hy hulle met ‘n ompad na die beloofde land. Hoekom? Sodat hulle kan leer om afhanklik van die Here te leef. Sodat hulle kan leer om op die Here te vertrou. In hoofstuk 12 lees ons hoe die volk moes voorbereidings tref en hoe daardie nag die eersgebore kind in elke Egiptiese huis gesterf het. Regdeur Egipte. Ook die Farao se eersgeborene. Die Israeliete wat gehoorsaam het wat die Here gesê het, se kinders is gespaar. Sien vanaand raak dat die Here met die Farao gespeel het soos ‘n kat met ‘n muis. Dat die Here met die plae vir die Egiptenare wou wys die groot wonders wat Hy kan doen. Daarom het die Here keer op keer die Farao hardkoppig gemaak. Tot op ‘n punt en toe was dit genoeg. As ek sê die Here het die Farao oorwin.1 Wel die Farao vra: 31 Dieselfde nag nog het die farao vir Moses en Aäron laat roep en gesê: “Gee pad onder my mense uit, julle twee en al die ander Israeliete! Gaan dien die Here soos julle gevra het! 32 Vat julle kleinvee en julle grootvee soos julle gevra het, en trek! En bid dan dat dit met my ook goed mag gaan.” En die Farao se mense vra: 33 Die Egiptenaars het sterk by die volk daarop aangedring om gou uit die land pad te gee, “want,” het hulle gesê, “anders is ons almal dood!” Exodus 12:31-33 Ons toekoms is nie in die hand van politici en wêreldse magte nie. Ons toekoms, ons lewens, is elke dag in die hand van die Here. En ons moet dit elke dag so hou deur God lief te hê, mekaar lief te hê en deur God te gehoorsaam. In 2023 is dit wat ons te doen staan. Hou jou oë op die Here. Vertrou die Here. Volg Hom. Dien Hom soos Hy gedien wil wees. Gee jouself as ‘n lewende offer wat vir die Here welgevallig is (Rom 12). Ek sê dit baie want ek herinner my baie daaraan: Geloof is om te glo dat Jesus beter as ek weet hoe om my eie lewe te leef. Daarom vertrou ek Hom ek volg ek Hom. Daarom maak ‘n mens jou keuses in lyn met God se wil. Dallas Willard het my dit geleer. 3. Die Here het hulle nie met leë hande laat trek nie. Hulle is weg met goud en silwer en klere wat hulle van die Egiptenare kon gaan eis. Kyk ek na die Nuwe Testament dan lees ek in Matteus 6 dat Jesus ons leer om nie te bekommer oor die dag van more nie. God sal voorsien. Ons moet eers fokus op God se koninkryk. Nee dit beteken nie alles word by ons deur afgelewer nie. Selfs die mossies moet uitgaan en kos inbring. Ons kan wel vertrou dat die Here ons sal bly help om die nodige te kan verkry. 4. Die bloed aan die deurkosyne is nie net ‘n teken vir die volk nie maar ook om die Here te herinner om daardie huis oor te slaan met die doodsengel. Oorslaan, of pass-over in Engels. Is ook waar die Joodse pasga of passover fees sy naam verkry het. Dit is die oorslaan van mense wat in God se opdragte en God se fees van versoening gaan wegkruip het. Gaan skuiling vind het. Dit is mense wat kies om God se pad met hulle te stap. Ek moet seker vra wat sou gebeur het as iemand, een van die Israeliete nie die opdragte daardie dag en aand uitgevoer het nie? Byvoorbeeld nie die bloed van die lam aan die kosyne geverf het nie? Die bloed aan die deurkosyne, die manier waarop die lam geeet is, die gehoorsaamheid aan daardie opdragte was om meer as gered te word. Daardie eerste pasga reeds was ‘n dankbare reaksie vir wat God daardie aand nog sou doen. 5. Die woord Eksodus beteken letterlik “’n pad of ‘n weg uit”. Ek sê dit vanaand sodat ons almal kan besef dat God ons weg uit is. Nie net ons weg uit die sonde uit nie en die weg in die ewige lewe in nie. Maar ook ons weg elke dag deur 2023. Ja, ons is vasgevang in ‘n land wat vasgeloop is. ‘n Land wat se agter uitgang ons sien. Ons wonder waar die keerpunt gaan wees. Kan dinge sonder teveel pyn omgekeer word. Ons weet nie. Maar God weet. En God het ‘n plan. God is ons pad uit en God is ook meer as dit. Hy is ons Vader en ons is Sy kinders vir wie Hy tot die uiterste toe lief het. Kom ek gee jou ‘n woord. ‘n Woord om jou te help fokus as dinge in 2023 jou onkant vang of probeer ontspoor. Die woord is padkos. Ek glo die meeste van ons hou van padkos. In Eksodus 12: 39 lees ons dat die Israeliete nie eers kans gehad het om padkos te maak nie. Hulle het met die deeg wat hulle uit Egipte saam gebring het, ongesuurde roosterkoeke gebak. Dit is teken van hulle lewens wat skielik omgedop is en hulle uit Egipte uit weg gejaag is sonder om kans te hê om padkos te pak vir die reis. Wel, onthou die woordjie padkos, as jou lewe omgedop word. God is op reis met jou haastig op pad na ‘n beter bestemming en lewe. Hou vas. Ek vra jou vanaand om lig te reis. Om 2023 as ‘n reis met God te beskou. En dit aan te pak saam met die Here met die vertroue dat die Here jou sal lei, bewaar en red. Dat daar by wyse van spreke altyd vir jou ten minste ongesuurde deeg sal wees om roosterkoeke te bak. Maw dat God sal voorsien. Mag in 2023 die woord padkos ons woord wees wat ons keer op keer herinner om gereed te wees om haastig te gaan waar die Here wys.