Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Johannes 1: 1 – 5 en ander tekste In die begin … netsoos Genesis se … in die begin … begin God se herskepping met lig wat deurbreek in hierdie donkerte in. Dit is belangrik om raak te sien dat Jesus is die Woord. Jesus is van die begin af daar en Hy is self ook God. Alles het deur Hom tot stand gekom. Nie die Bybel nie, maar Jesus is die Woord van God. Daarom aanbid ons Jesus en nie die Bybel nie. Kyk self. In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God. (1:1) Die Bybel het God se woord in en verhale oor God in mense se lewens. En dit is vir ons kosbaar en dit gee vir ons rigting. Baie soos ‘n kers of ‘n lamp. En God praat met ons oa ook deur die Bybel. Ek moet net vanoggend vers 4 uitlig: 4 In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. Joh 1:4 In Jesus is daar lewe en Hy is die lig vir die mense. Hierdie kers is nie lig nie. As ek al die ligte in die gebou afsit, sal daar steeds geen lig hiervoor skyn nie. Van buite af, met ‘n vuurhoutjie kan ek die kers aansteek en eers dan kan het die kers ‘n lig om te laat skyn. Jesus is die Een wat God se lig in ons aansteek en dit laat brand. Jesus is ons nuwe begin. Kyk asb saam met my na Matteus 5:14 tot 16 en so bietjie later ook na Efes 5: 8. 14 “Julle is die lig vir die wêreld. 'n Stad wat op 'n berg lê, kan nie weggesteek word nie; 15 ook steek 'n mens nie 'n lamp op en sit dit onder 'n emmer nie maar op 'n lampstaander, en dit gee lig vir almal in die huis. 16 Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.” Matteus 5:14-16 Kom ons praat weer oor ons kers. ‘n Kers is gemaak om lig in die donkerte te bring. Die lig van ‘n kers druk die donkerte weg van jou af. ‘n Kers help ook ander om lig te hê waarin hulle kan beweeg en wees. ‘n Kers wat nie lig laat skyn nie is nutteloos. Ek het, soos baie van julle groot geword met net kerse en parafienlampe in die huis. Jy is met ‘n kers gang af en kamer toe in die nag. Jy het jou pad gevind met ‘n kers. Jy het vroeg geleer om jou hand voor die vlammetjie te hou sodat jou beweging soos jy loop, nie die kers dood waai nie. Jy het daardie lig beskerm. Duidelik het ek groot geword op ‘n plaas waar daar nog nie elektrisiteit was nie. En voor loadshedding. Lig het gekom van ‘n kers wat brand. En as dit donker raak en die kerse brand nie reeds nie, dan is dit ‘n affere. Voel voel in die donkerte. Ek kan nie aan ‘n beter beeld dink as hierdie beeld van Johannes, dat Jesus die lig is vir die mense. Jesus kom verander ons en maak ons tot lig. Dit is die Jesus in ons wat maak dat ons lig vir die wêreld kan wees. Sonder Jesus is ons nie lig nie. Is ons nutteloos. Mag ek maar vanoggend vir jou sê, dit is iets wat ons ten alle koste moet bewaar. Ons verhouding met Jesus moet ons oppas soos goud. Dit is hoe Hy Sy vlam in ons, lewend kan hou en hoe ons werklik lig kan wees ook vir mense wat net donkerte en swaarkry ken. Kom ons gaan na Paulus se skrywe in Efesiërs 5.. 8 Vroeër was julle die ene duisternis, maar nou in die Here is julle lig. Leef dan as mense van die lig. 9 Uit die lig kom alles voort wat goed en reg en waar is. 10 Vra julle voortdurend af of iets vir die Here aanneemlik is, 11 en moenie meedoen aan die vrugtelose praktyke van die duisternis nie, maar stel dit eerder aan die kaak. Ephesians 5:8-11 Vroeër was ons die ene duisternis. Dalk was ons mense wat dit vir ander donker gemaak het. Ons was beslis mense wat nie vir God geleef het nie. Ons was teveel deel van die wêreld. Maar nou, na Jesus se mensword en kruisiging en opstanding, het God ons wedergebore. Nou is ons lig. Ek moet dit beter, duideliker, stel: In die Here is ons lig. Alles hang af of ons Sy lig lewe. In terme van ons beeld, is ons soos ‘n kers, ‘n kers van Jesus en Jesus gee ons die vlam wat lig maak om ons. ‘n Kers wat nie lig maak nie, nie vas gebind aan Jesus leef nie, is taamlik nutteloos vir almal om haar. Wat gevra word is dat ons oortuig sal wees, dit hier binne, koester, dat Jesus die Weg die Waarheid en die Lewe is. As ons ons lewens hierop bou, op Jesus en vanuit Jesus bou, dan is ons in Jesus lig vir die mense. Bring ons hoop. Maak ons die wêreld ‘n beter plek. Kom ek illustreer dit met ‘n storie. Ek weet nie of hierdie storie waar is nie. Maar dit verduidelik mooi aan dit wat ons vanoggend mee besig is. In Oostenryk het daar so 400 jaar gelede ’n koning in ’n pragtige paleis gewoon. Omdat sy onderdane so lojaal aan hom was, wou hy graag aan hulle iets nalaat. Hy het dikwels gesê dis darem ’n slegte beeld van sy Christenskap dat hy in so ’n pragtige plek woon, maar die kerkgebou waar die gelowiges die hemelse Koning aanbid, lyk so vervalle. Hy het besluit om hulle vervalle kerkgebou met ’n nuwe kerkgebou te vervang. Die eindproduk was ’n pragtige klipkerk. Die houtsneewerk aan die binnekant is met allerhande Christelike simbole versier. Die brandglas vensters het die hele verhaal van Jesus vertel. Die reuse kerktoring het soos ’n vinger vir almal na God gewys. Dit was ’n voorreg om in so ’n pragtige kerk te aanbid. ’n Mens het regtig naby aan God gevoel en Hom as werklik ervaar. Die mense was baie bly. Met die inwyding van die gebou het die koning se dogter in sy oor gefluister en gevra: “Maar Pa, daar is dan geen lampe in die kerk nie.” Toe wys die koning na die netjiese lamp houers teen die mure van die kerk. Hy het opgestaan en gesê: “Vriende, die kerk het geen lampe nie. Elkeen sal sy eie lig saambring. Terwyl die diens aan die gang is, sal al die lampe op die rakke teen die mure staan. Op hierdie manier sal julle die kerk verlig net soos julle die pad waarlangs julle na die kerk gekom het, verlig. Wanneer iemand nie erediens toe kom nie, sal sy deel van die kerkgebou nie verlig word nie ... en so ook nie die pad waarlangs hy gewoonlik kom nie. Onthou julle wat Jesus ons geleer het?” het die koning ter verduideliking afgesluit. “Julle is die lig vir die wêreld.” En so het dit gekom dat hierdie kerk in die volksmond bekend gestaan het as die ‘Kerk van die Lampe’. Jesus word sigbaar wanneer ons in Hom Sy lig laat skyn. In die week as elkeen besig is met sy of haar werk en dinge, skyn die lig van Christus nogsteeds waar ookal jy is. En Sondae, of met bidure as ons saam byeen is om die Here te aanbid en te loof, dan is die lig op sy helderste. Vir ons doopouers vanoggend: Laat julle lig voor julle kinders skyn sodat hulle in die lig mag leer lewe. Vir ons ander: Kom ons gaan wees in Christus die lig vir hierdie donker wêreld waarin ons leef. En onthou die kers. Die kers self is nie lig nie. God laat dit lig maak. Ons lig skyn in die Here. Kyk vir ou laas weer na vers 4: In Hom (Jesus) was daar lewe, en die lewe was die lig vir die mense. Soek jy lewe. Smag jy na lig in jou lewe en om jou? Draai na Jesus.