Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Markus 1: 1 (lees 1: 1-4) Hierdie is ‘n teks wat my nie wil los nie. Dis groot. Vol impak. Daar is gesegde wat sê “dit of die een of ander iets, spreek boekdele”. Een sin wat jou omtrent alles sê wat jy moet weet. Een van die kragtigste sinne wat ek nog ooit gelees het. Dit som Markus se hele boek op. Dit sê sommer van die begin af hier is die goeie nuus. Die beste nuus ooit. Markus begin sy begin anders. Hy maak seker dat een belangrike feit nie verlore gaan nie en dat ons dit van meets af aan besef. ‘n Mens kan sê, Markus begin ook met die einde in gedagte. Wat is hierdie een groot sin? “1 Die evangelie van Jesus Christus, die Seun van God, begin só:” Kort en saaklik. Sy volgende sin anker Jesus en Sy goeie nuus in die groter geskiedenis vas. Markus vertel van Jesaja wat in sy tyd voorspel het dat daar ‘n boodskapper sou kom om die pad vir die Here gereed te maak. Hy maak dit vas aan Johannes die Doper. Dit is die evangelie van Jesus Christus, die seun van God. Hierdie woorde is baie meer as ’n inleiding tot die evangelie, of ’n opstapeling van titels van Jesus. Dit vat as ’t ware die evangelie wat Markus vertel, saam. Die verhaal wat volg gee inhoud aan wat hier staan. Markus wil elkeen wat sy boek lees saam neem en ons betrek by die verhaal. Geen liggies en kosbare stukkies geskiedenis rondom Johannes die Doper se pa wat met stomheid geslaan is oor hy nie die engel se woorde wou glo nie. Net Johannes het gedoop en die mense opgeroep om hulle tot God te bekeer. Markus vertel hoe Johannes die Doper self weggeskram het en bly wys het na die Een wat na Hom sou kom ... die Een wie se voete Johannes nie werd was om Sy skoen vas los te maak nie. Nie eers werd om ‘n dienskneg te wees vir die Een wat kom. Die Een wat kom? In die hoofsin, die eerste sin is reeds gesê: “Die evangelie van Jesus Christus, die Seun van God begin so ...” Dit is duidelik: Hierdie boek gaan oor Iemand groots! Groots en meer. Seun van God. God self. Lees die boek. Reg deur die boek gaan jy ontdek hoe Markus gebeure uit lig, wonderwerke wat onderstreep, wat wys dat Jesus is alles wat hierdie eerste sin sê en meer! ‘n Mens vra jouself af: Is Jesus dit alles? Is Markus reg in dit wat hy hier geskryf het? Kan ons hierdie oog getuie verslae aanvaar? Ja? Dien Hom dan. Gee Hom die eer wat Hom toekom. Daar is in Engels ‘n gesegde: “Imitation is the most sincere form of flattery.” Wel om Jesus na te leef is nie net ‘n teken van bewondering nie maar ook ‘n verstaan van waartoe God ons roep en herskep: Om soos Sy Seun te leef. Om gelykvormig te word aan die beeld van Sy Seun (Rom 8:29). Dit alles begin by ‘n nuwe begin. ‘n Nuwe kans vir jou en my. 1. ‘n Nuwe begin. Veral hierdie tyd van die jaar wil mense die oue laat gaan en regmaak vir ‘n nuwe begin. Party moet dit noodgedwonge doen. Hoor vanoggend met Wie saam, sou jy regtig wou, kan jy van die grootste nuwe beginne maak wat daar ooit sal wees. God self maak ‘n nuwe begin met die mensdom. En omdat God hierdie nuwe begin geskep het kan ek vanoggend vir jou sê hierdie een sin kan ook vir jou die begin van ‘n nuwe lewe wees. Opnuut weer selfs wees. Sommige geleerdes praat van ‘n nuwe Genesis. Hierdie keer kom daar wedergeboorte deur die Gees. En uiteindelik, ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde (Openb 21). God skryf dus nie Sy skepping af nie. God gaan hierdie keer nie die mens summier uitwis soos in Noag se tyd nie. Markus plaas die gedagte voorop: want die woord evangelie is eintlik maar ‘n Griekse woord wat beteken die goeie nuus. Die goeie nuus is dat God jou nie volgens jou sondes gaan hanteer nie. En dat God ‘n nuwe begin met elkeen van ons maak. Dat Hy ons verledes en ons foute in Jesus se kruisoffer vernietig en ons vry laat gaan ... om oor te begin in Hom. Net eers die spreekwoordelik fyn skrif. ‘n Nuwe begin is vir alle mense ongeag wie hulle is of nie is nie, moontlik. Daardie moontlikheid word eers werklikheid as jy agter Jesus aan leef. Hy het keer op keer vir mense gesê: Kom. Volg My! Jesus het ook die versekering gegee dat wie ookal in Hom glo sal die ewige lewe ontvang. 2. Die Christus Jesus. ‘n Algemene Joodse naam van daardie tyd. Wat vir ons herinner dat die Seun van God werklik een van ons geword het. Jesus se naam beteken: “Die Here is heil.” Christus. Dit beteken ook die gesalfde van God. Die Een wat as Middelaar vrede bring tussen God en ons. Vir die Jode, ook die groot Koning, Bevryder, na Wie hulle so verlang het. Christus is ‘n titel. Seun van God. Deel van die Drie-Eenheid. Dus ook God self. As Jesus die Christus is, die gesalfde van is, dan is Hy ons Koning in die volste sin van die woord. Dan het Hy volledig seggenskap oor ons lewe. Of ons leef of sterf is in Sy hande. As Hy ons roep vir diens dan kan jy nie weier nie. Dis soos die oproepinstruksies wat baie van ons gekry het jare gelede. Diensplig. Jy het nie ‘n keuse gehad nie. Jy moes aanmeld of daar was slegte konsekwensies. In die Bybelse tyd was ‘n koning se opdragte nog meer vas. Jy moes doen, jy moes gee wat hy vra of eis. Of jy is dood. Jesus is ons koning. Daarom leef ons nie asof Jesus net ‘n “add on” in jou lewe is. Hy is nie net nog iemand belangriks nie. Hy is ook nie vêr af of vir eendag nie. Hy is nou en Hy is werklik en Hy is die Koning oor ons lewens. Hy is jou nuwe begin. Hy is jou weg tot lewe. Baie mense glo in Jesus. Maar hulle bly op ‘n afstand. Hulle wil los van Jesus as wingerdstok leef. Dan verstaan hulle nie as hulle lewe se vrugte nooit uitgroei en ryp word nie. Hulle smag na ‘n kwaliteit en na die vrede wat alle verstand te bowe gaan (Fil 4) maar hulle mis uit daarop, want hulle wil glo en leef volgens hulle eie goeddunke. Ek wonder, as ek leef volgens my eie goeddenke, is ek dan nog op Jesus se weg? Hy is die Weg die waarheid en die lewe. Kom ons dien Hom met oorgawe. Soos Hy wil. Orals en ten alle tye. Want so wys ons dat ons glo dat Hy, Jesus, is die Seun van God. Ons wat Markus se belydenis deel, ons gee ons hele lewe uit liefde vir Hom geleef. So geleef dat dit so goed is asof ons nie meer leef nie maar dis Jesus se lewe wat ons nou leef. Daarom hoor ons ook Johannes die Doper se stem weerklink: Bekeer jou tot God. En ons keer na die Here toe. Elke dag. Keer op keer ... na die Here toe. Want Hy is die Christus. Hy is die Seun van God. Ons glo dit. Ons leef dit. 3. Die eindspel Ek wil skaak as ‘n beeld gebruik. Nou nie dat ek meer kan skaak speel nie, of ooit regtig kon nie. In skaak het jy opening skuiwe. Dan is daar die sg middelspel en die eindspel. Elkeen van hierdie aspekte van skaak bou opmekaar en plaas jou in ‘n posisie waar jy as oorwinnaar kan uittree. Ons is nie meer by die begin waarvan Markus hier skryf nie. Die doel van Jesus se menslike begin is verwesentlik deur die kruis en opstanding en hemelvaart. Die meeste van ons het al ons lewe volledig in God se hand geplaas (Ps 31:6). Ons het beleef dat God self ons vrykoop en genade gee en met liefde toevou en ons tot Sy kinders maak. Dit is die beginspel. Die middelspel is waar ons leef bewus van God se teenwoordigheid by ons. Immnuel: God by ons. Jesus is alleen ware Koning. Ons leef soos Hy dit wil hê. Ons streef daarna om soos Hy lief te hê, soos Hy mekaar te vergewe, soos Hy ander te help en goed te doen aan wie ookal ons hulp nodig het. Want Hy is ons Here. Ons Koning en ons volg Hom want ons weet Sy tweede koms is voor die deur. Soos Johannes weet ek ook nie wanneer Hy kom nie. Ek weet net ek moet praat. Dit is wat ons in terme van ons beeld die eindspel kan noem. Ons wat volhard. Ons wat God in alles volg. Ons wat onsself bly herinner: God eerste. God se wil alleen. Dit is duidelik dat ons tot met Jesus se wederkoms hierdie evangelie moet verder vat. Na ‘n kragtige belydenis as begin sin, eindig Markus half vreemd. Asof hy nie ‘n slot het nie. Die "oop einde" van die Markus evangelie leer ons die eind spel van ons lewe speel. Hierdie eind-sin is nie ‘n belydenis nie. Dit wys net wat mense doen wat die begin sin verstaan het. Dit wys wat doen mense wat in Jesus, die Seun van God, die Christus, ‘n nuwe begin ontdek het. 20 Hulle het toe die evangelie oral gaan verkondig, en die Here het met hulle saamgewerk en hulle prediking bekragtig deur die wondertekens wat daarop gevolg het. Nou word dit ons begin sin. Nou is dit ons beurt. Nou is dit ons wat mag uitgaan om te gaan vertel, die koninkryk van God het in Jesus die Christus, die Seun van God tussen ons kom woon. Gaan maak die pad vir die Here se tweede koms gereed!