Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1 Petrus 4: 7- 11 Vers 7a: “Die einde van alles is naby. Daarom … “ Ek moet vanoggend my woorde tel. Waar ek veral versigtig gaan moet wees is om ‘n direkte sprong te wil maak tussen vers 7 en vandag. Vers 7 sê: Die einde van alles is naby. Dit is meer as 2000 jaar later en hier is ons nog. Daar is baie tekens rondom ons dat hierdie vers dalk nou meer as ooit kan inskop. Dat die einde van alles inderdaad naby is. Maar ek kan dit nie met sekerheid sê nie. Wat ek wel met absolute sekerheid kan sê is dat ons nou al so moet leef soos iemand wat weet die einde is dalk net vir my al voor die deur. En dalk is dit ook die einde van alles. Daarom leef ek nou elke dag so dat as die Here onverwags by my opdaag, by wyse van spreke, Hy my besig sal vind om God te verheerlik deur wat en hoe ek dinge doen. Daarom. Vers 7 het ‘n “daarom”, direk na die sinnetjie: Die einde van alles is naby. Jesus het ‘n gelykenis vertel van ‘n eienaar wat op reis gaan en sy werkers opdragte gee. Hy het lank weg gebly. Toe dink die manne in beheer die baas kom nie terug nie en hulle hou partytjies en mishandel die ander werkers. En dan kom die eienaar onverwags terug en dan is daar moeilikheid. In sy boek Seven habits of highly effective people skryf Stephen Covey praat oor die wet van die plaas. Hierdie wet werk anders as wat baie studente te werk gaan. Sommige studente sal heel jaar kuier en jool en klas bunk en dan so ‘n week voor die eksamen skrik hulle wakker en begin notas by mekaar maak en leer dat dit klap want, oor ‘n week is dit eksamen. Dink jou in ‘n boer werk so. Heel jaar kuier en braai en laat slaap en dan ‘n week voor oestyd dan spring hy in en bewerk die lande. Daar word geploeg geskoffel gesaai dat die stof so staan. ‘n Week later kom die stropers uit want nou gaan ons oes. Die wet van die plaas wat sê jy hou nie op met werk nie. Jy doen elke ding op sy tyd. Jy ploeg wanneer daar geploeg moet word, jy saai wanneer dit saaityd is. Dan sal jy met die Here se seën op jou deurlopende werk ‘n oes kan inbring. Hierdie deel begin met die wet van die plaas. Hierdie deel sê laat God jou besig vind met die regte goed. Moenie uitstel nie. Bly gefokusd op die Here en dit wat Hy van ons vra. Hier is ‘n dringendheid by Petrus. Doen die werk. Doen jou deel. Die tyd loop uit. More is nie nog ‘n dag nie want more is nie ‘n gegewe nie. Petrus gee ons ‘n verdere motivering. Ek sê juis ‘n verdere motivering want, kom ons gebruik ons voorbeeld van studente, sommiges word gemotiveer deur die tyd wat uitgeloop is en die groot eksamen is hier. Maar daar is ander studente wat gemotiveer word deur die begeerte om hul ouers trots te maak, studente wat trots is op hul werk en die geleenthede wat hul kry met albei hande aangryp. Wel, Petrus sê gryp jou geleenthede om God en mekaar te dien aan want so kan jy God verheerlik. Die doel van ons lewens is om God te verheerlik. Vir ons moet die woorde “Die einde van alles is naby” nie ons groot dryfveer wees nie. Ons moet elke dag so leef dat die Here onverwags kan opdaag en ons besig kry om vir Hom te werk en leef. Ons groot dryf is om God te verheerlik. Om God vreugde te verskaf. Om in Paulus se woorde seker te maak dat God se genade aan ons nie tevergeefs was nie. Ek en jy bekommer ons nie oor die nabyheid van die Here se koms nie. Ons sien uit daarna. Ons fokus is eerder om hier en nou elke kans aan te gryp om God te verheerlik. Kom ons gaan terug na die daarom van vers 7. Daarom ... omdat die einde van alles naby is ...daarom … en dan gee Petrus vir ons ‘n klomp fokuspunte. Kritiese prestasie areas dink ek word dit in die korporatiewe wêreld genoem. 1. Wees selfbeheersd en nugter. Selfbeheersing is natuurlik deel van die vrug van die Heilige Gees in ons. As jy die gedeelte vooraf lees dan besef jy hoekom ons nou juis nugter en selfbeheersd moet wees. Want die ou begeertes sleep jou in plekke en dinge in waar jy God nie kan verheerlik nie ... plekke waar God jou nie wil sien nie. Op al die ander plekke vra ons: Hoe kan ek God regtig verheerlik? Is woorde goed genoeg? Sal so 'n dan en wan loflied of gebedjie wat God prys op vae algemene maniere die ding doen? Of is daar iets meer aan? Wat Petrus hier skryf sou 'n goeie antwoord kan wees. Kyk maar na vers 11c: “So moet julle God in alles verheerlik deur Jesus Christus, aan Wie die heerlikheid en die krag behoort tot in alle ewigheid! Amen.” Alles in ons lewe moet God verheerlik. En in alles wat Petrus in hierdie paar verse skryf kry jy God as die krag en motiveerder agter alles. Petrus skryf daar is dinge waaraan ons moet aandag gee. En in al hierdie dinge moet jy dit vanuit God doen. Bv. • As jy die gawe het om te preek dan moet God deur jou aan die woord kom. God ... moet aan die woord kom. Dit gaan nie oor jy wat preek nie maar oor God wat gehoor moet word. Jy is die spreekbuis, die klanksisteem vir God se boodskap. • Nog 'n voorbeeld. As jou gawe is om die gemeente te dien dan moet jy dien vanuit die krag wat God jou gee. God gee die krag. Ons doen alles in afhanklikheid van God. Tot eer van God. Kom ek pluk die mat onder ons uit: God word verheerlik as ons mekaar dien. Nee, God word nie verheerlik as ons mekaar veroordeel nie. Of ignoreer nie. God word nie verheerlik as ons iemand anders reel om iets te doen wat God deur ons gedoen wil hê nie. Maar as ons self moue oprol en vir mekaar dinge doen. Dan word God verheerlik. En soos ek jou ken is dit mos wat jy wil doen: jy / ons wil God verheerlik. Wel, dien mekaar. As ek oor die evangelie dink dan weet ek God bedoel oa ook jou vyande. Doen selfs aan hulle goed. Dink maar aan Romeine 12 en aan Matteus 16. Maar dis nie waaroor ons vanoggend praat nie. Ons praat vir eers net oor om God te verheerlik. 2. Dien mekaar. Kom ons noem dit ons tweede kritiese prestasie area. 'n Mens kan hierdie veldtog begin waar jy ander begin dien ... dan merk jy dit iewers af. Ek het so en so gedien en ek het dit en dat gedoen so asof mens punte vir die hemel probeer opstapel. Ons sal natuurlik dit nooit erken nie, nie eers teenoor onsself nie. Maar ons doen dit. Of jy kan ander onder dwang uit dien. Soos as ‘n regter jou tot gemeenskapsdiens vonnis. Jy doen dit omdat jy moet. Dis pligpleging. Ons moenie na hierdie “dien mekaar” kyk as 'n wet nie. As jy na vers 8 kyk dan sal jy verstaan wat ek probeer oordra: “Bo alles moet julle mekaar harlik liefhê, want die liefde bedek baie sondes.” Jy kan nie iemand anders opreg dien ... op die manier wat God verheerlik ... dien ... as daar nie iets van God se liefde vir daardie mens in jou eie hart klop nie. Dis nie die bedoeling dat jy ongevoelig ander dien nie. Dit verheerlik God nie. Dit wys nie dat God Here is oor jou lewe nie. Dien moet in liefde geskied, uit omgee uit. 3. Verheerlik. Kom ek breek die woord op .... ver --- HEER --- lik. Maw God moet HEER wees oor elke aspek van jou lewe. Petrus skryf ook hoe ons mekaar moet dien. Nie net vanuit die liefde nie, maar ook met ons genadegawes. Dit is gawes van die Heilige Gees wat God aan elke gelowige gegee het. Die punt hier is net dit: God het vir jou die “tools” gegee ... die middele gegee ... waarmee ons mekaar moet dien. Elke mens wat Jesus Here van sy of haar lewe noem, het iets wat God gegee het waarmee ons mekaar moet dien. Die Griekse woord vir gawes wys dis soos 'n geskenk wat God jou gee wat jy nou kan gebruik om die mense om jou – die ander deeltjies van die gemeente te dien en op te bou en te bemoedig en watter gawe ook al ter sprake mag wees. 'n Gawe is 'n uitsonderlike vermoë wat die Heilige Gees aan elke gelowige gee, om haar toe te rus en te motiveer om ander op spesiale wyses te dien ter ere van God. Sodat God daardeur verheerlik kan word. Mense kan sien God is die Here oor jou lewe. Die Bybel leer ons dat die Heilige Gees oa drie dinge met die gee van gawes wil bereik: • Sodat ons God kan eer en verheerlik • Mekaar kan dien en dra • Sodat die liggaam van Christus opgebou kan word. Het ek al gesê dat mens die dinge doen sonder om te kla. As gasvryheid jou gawes is dan doen jy dit sonder om te kla (vers 9). Wat ook al jy mee dien ... dien sonder om te kla. Jy doen dit vir die Here. Jy wil Hom ver-heer-lik. Die Heilige Gees ken nie 'n nuwe lewe wat nie dien nie. Geen diens, hoort by die ou lewenstyl ... die lewe wat dood is en saam met Christus aan die kruis gesterf het. Die nuwe lewe, dit wat jy ogv geloof van God ontvang het is 'n lewe wat sinoniem is aan dien. ... Ander dien ... mekaar te dien. Soos Jesus hier op aarde nie vir Homself geleef het nie maar die heel tyd mense gedien het ... en daarop ingestel was om in alles net God te verheerlik ... so is ons nuwe lewens ... ingestel om God te verheerlik deur mekaar te dien met die gawes wat die Heilige Gees ons gee. Mag die Heilige Gees ons gedagtes open dat ons Sy stem in hierdie proses mag hoor.