Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
MATT 12: 46 – 50 en Efesiërs 2: 19 Jesus se kruisdood en opstanding het alles verander. Dit is die begin van die Christelike kerk. Die Beweging vn Christus, of sal ek sê die golf, wat mense oor die wêreld heen omgedop het en nuut gemaak het, innerlike genees het en hoop gebring het vir hulle. Vir ons. Jesus se dood en opstanding het verander hoe God na mense kyk wat in Sy Seun glo. Dit het ook verander hoe ons na mekaar kyk. Aan die kruis het Jesus Sy moeder gesien waar sy langs Johannes gestaan het en Hy het vir haar gesê: 26 Toe Jesus sy moeder sien en die dissipel vir wie Hy baie lief was, wat by haar staan, sê Hy vir haar: “Daar is u seun.” 27 Daarna sê Hy vir die dissipel: “Daar is jou moeder.” Van daardie oomblik af het die dissipel haar in sy huis geneem. Johannes 19:26-27 Terwyl ons vanoggend die Here se kruisdood en opstanding herdenk, dink ons ook aan 'n ander familie verband wat deur Sy dood verander is. Die nagmaal is ‘n gemeenskapsmaal. ‘n Saamwees maaltyd. Ons word ten nouste verbind aan Jesus en aan wat Hy gedoen het. En ons word aan mekaar verbind. Sonder om melodramaties te wees: Kyk om jou. Dit is jou broers en jou susters. God gee ons aan jou. Die formulier sê so mooi op grond van die Bybel, en ek lees dit: Verder word ons deur die Heilige Gees ook weer met mekaar verbind, soos die apostel sê” Omdat dit een brood is, is ons, al is ons baie, saam een liggaam, want ons het almal deel aan die brood (1 Kor 10:17). Johannes moes Jesus se ma versorg. Ons word aan mekaar verbind om vir mekaar te sorg. Sien in jou geestesoog Jesus aan die kruis hang. Jy – ons almal saam met jou – sien ons daar aan die voete van die kruis staan. Jesus kyk van die kruis af, af na ons en met moeite sê Hy: Broer daar is jou familie en suster daar is jou broers. Jesus se kruisdood en opstanding verander ons van vreemdelinge en individue in een groot familie in. Dink aan wat ek vroeer gelees het. Een van die betekenisse van die nagmaal is dat die Heilige Gees ons saambind aan mekaar. Tot een liggaam. Ons moet ons uitkyk op die mense hier om ons verander: Ons is een. Een in Christus. Ons deel een geloof, een doop en ons is deel van die een liggaam van Jesus Christus. As ons mooi kyk na Matt 12: 46 – 50, sien ons dat geloof in Christus ons laat deel in hierdie sterk familieverband. Ons moet nie die konsekwensies hiervan onderskat nie. Laat jou gedagtes so bietjie deur die evangelies blaai. Het Jesus nie mense wat Hom wou volg gewaarsku om eers goed te gaan nadink oor hulle begeerte om Hom te volg nie. Moenie vaskyk in al die wonderlike seëninge wat jy ontvang nie. Sien ook raak die verantwoordelikhede wat daarmee saam kom. In Jesus se familie gebruik ons die lewensmiddele wat ons het anders. Dink aan die die sg ryk jong man wat so graag wou deel wees maar hartseer omgedraai het toe hy al sy goed moes gaan verkoop en vir die armes gee. Ek dink hy het in sy hart gesê ek sal alles vir God doen maar net nie dit nie. Want sien, in Jesus se gesin is daar mense wat jy gaan moet liefhê en geduldig mee moet wees terwyl jy hulle eerder sou wou dood wens. En in Jesus se familie is ons verantwoordelik vir mekaar. Ons kan nie maar net 'n ander se nood ignoreer nie. Ons kan nie van veeleisende mense ontslae raak nie. Al is hulle jou hoe vyandig gesind jy moet hulle liefhê. Die wêreldse mense kan. Maar ek en jy wil nie meer mense afskryf nie. Ons is deur Jesus gered en nuutgemaak. Ons is koninkryksmense. In ons Vader se huis tree ons anders op. Weet jy, iewers begin ‘n mens besef dat jy nie 'n sê gaan hê in wie jou familie gaan wees nie. Dit is Jesus wat besluit wie Hy toevoeg tot die familie. En berus jy jou daarin. Maar dis eintlik alles baie wonderlik. God pak wereldwyd mense om jou wat jou gaan help om te kan bly staan as die lewe jou probeer platslaan. En God sit mense om jou wat jou jou foute en jou onnoselhede sal vergewe – al het dit hulle ook hoe diep seer gemaak hierbinne. Mense wat vir jou gaan lief wees en geduld met jou geite gaan hê. Maar ook mense wat soos in enige aardse familie ook vir jou gaan sê waar die streep getrek is. Nie enige streep nie maar waar Jesus die streep getrek het. Mense wat jou tot verantwoording gaan roep. En as jy wil weet hoe leef nagmaalgangers – hoe leef kinders van God – gaan lees die bergrede. En laat Jesus jou daar challenge om meer te wees as wat jy tans is. Die kosbare is dat as jou aardse familie of selfs jou vriendekring jou uitstoot en die lewe vir jou ondraaglik maak dan is hier die huisgesin van God waar jy nog steeds tuis kan kom. Klink dit te idillies en te ver van die realiteit? Dan moet ons almal opnuut gaan dink en bid oor hoe God ons sien. En dan moet ons opnuut ons verantwoordelikheid opneem teenoor almal wat ons geloof deel. Kyk weer na Matt 12: 50 “... Elkeen wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is, die is my broer en my suster en my moeder.” Vir wie dit misgekyk het: In 'n antieke wêreld waar vroue erg misken is en nie eers getel is nie kom Jesus en Hy verwys pertinent na vroue wat God se wil doen as Sy susters. Om deel van God se gesin te wees is kosbaar. En besonders. En ja soms kners mens op jou tande. En nes met ons aardse familie is ons soms ook sielsongelukkig met mekaar. Maar God se teenwoordigheid by ons maak dit net te besonders om van weg te stap. Want op die end is dit wie ons is: die huisgesin van God. Luister na die beelde gebruik om ons te beskryf in Efes 2: 19 - 22 “18 Ja, Christus het gesterf, en nou kan ons almal, Jode en heidene, kom by God die Vader, want ons almal het die Heilige Gees gekry, en daar is net een Heilige Gees. 19 Daarom is julle nie meer soos vreemdelinge nie, soos mense wat nie ’n eie plek het nie. Julle is nou ook mense wat aan God behoort, julle is soos sy eie huisgesin. 20 Julle is die kerk, julle is soos ’n gebou. Die fondament van die gebou is die apostels en die profete, en Christus Jesus is self die belangrikste klip in die gebou. 21 Hy, Christus, hou die hele gebou regop en Hy maak dit sterk. Hy, die Here, laat die kerk groei en Hy maak dit ’n tempel wat aan die Here behoort. 22 Christus het die Heilige Gees gestuur, en die Heilige Gees maak julle ’n deel van hierdie gebou, die gebou wat die woonplek van God is. Kom ons stop net hier. Die Woord van God sê: Jy is die woonplek van God. Dit is God se Woord oor jou!