Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Galasiers 1: 1 – 5 As ‘n mens hierdie eerste hoofstuk lees dan kan jy nie anders as om verwonderd te voel oor God. ‘n Mens voel intens dankbaar teenoor die Here Jesus Christus. My gedagtes spring terug na verlede Sondag se diens oor Kolossense 1 oor hoe groot Jesus is. God self in ‘n mens se liggaam. Dat God alles deur Jesus en vir Jesus geskep het. In Galasiërs 1 hoor ek opnuut wat dit Jesus gekos het om ons terug te sit in die regte plek voor God. Terug te sit waar God ons van die begin af wou gehad het. As ‘n mens hierdie eerste hoofstuk van Galasiërs 1 lees kom jy agter dat Paulus is nie op ‘n goeie plek nie. Jy hoor sy frustrasie. Jy voel aan dat Paulus is besig met selfbeheersing hier. Nee, hy praat nie daaroor nie. Hy pas dit self toe. Vers 6 6 Dit verbaas my dat julle so gou van God wat julle deur die genade van Christus geroep het, afvallig word en 'n ander evangelie aanneem. 7 Daar is geen ander evangelie nie! Tog is daar mense wat die evangelie van Christus probeer verdraai, en dit is hulle wat vir julle in verwarring bring Galasiërs 1:6-7 Eina. Geen gemeente wil dit hoor nie. Mag die Heilige Gees so in ons werk dat dit nooit vir ons gesê hoef te word nie. Dit is nie ‘n goeie verbasing nie. Jy hoor dit sommer. En dit is nie net ‘n verdraaing van die evangelie nie, dit is ook ‘n persoonlike aanval op Paulus. Hulle het skynbaar laat weet ons dink nie meer dat jy ‘n regte apostel is nie. En ons glo nie meer alles wat jy ons geleer het nie. Nou dink ons anders. Nou glo ons alle nie Jode moet eers die Joodse wette begin naleef. Christus alleen is nie genoeg nie. Dit is die hart van Paulus se preke en skrywes. Naamlik dat die wet jou nie kan red nie. Joodse tradisies en gebruike kan jou nie red nie. Christus red. Ons leef uit die genade uit. Maar nee. Die Galasiers wil weer slawe van die wet word. Die einste wet wat hulle gaan veroordeel. As jy dink wat Paulus alles gelos het in sy bekering, sy loopbaan en aansien in die Joodse gemeenskap. ‘n Welaf lewe waarskynlik ook. En wat hy al alles gely het twv Christus. Dan moes dit hom diep seer gemaak het. Ons glo soos Paulus. Christus alleen. Genade alleen. Geloof alleen. So wat het hierdie deel vir ons te sê? Daar is ‘n hele paar goed wat ons vandag hier kan leer. Kom ons vat dit vers vir vers. 1. Vers 1. Daar is altyd mense om jou wat deur die Here daar geplaas is. As hier staan broers dan sluit dit vrouens ook in. Maw medegelowiges. Ek sê God plaas mense om jou want die evangelie is ‘n tesame ding en God is prominent in hierdie eerste vyf verse. Die Here is die een wat doen. Die Here het vir Paulus geroep. Die Here gee genade en vrede. Die Here red ons uit die wêreld uit. Die Here verlos ons van ons sondes. Trouens, Paulus sluit hierdie aanhef van sy brief af met ‘n lofbetuiging aan God. “Aan God kom die heerlikheid toe tot in alle ewigheid! Amen. Die amen, sê Paulus onderstreep dit, hy, Paulus stem saam met hierdie lof aan God. Dit kom God toe tot in alle ewigheid. Kyk uit vir God aan die werk in jou lewe. Al maak mense dinge vir jou moeilik, al frustreer ander jou hoe, al maak hulle al jou harde werk en opofferings tot niet, onthou hierdie deel. Kyk om jou en sien raak die mense wat God om jou geplaas het. Medegelowiges, broers en susters in die geloof. 2. Vers 2: Die feit dat ek vandag van jou kan sê, ogv jou geloof, jy is ‘n kind van God, dit is God aan die werk. God maak jou in Jesus ‘n kind van Hom. God roep jou en wedergebore jou en maak jou nie net ‘n kind nie, maar ook Sy beelddraer en Sy verteenwoordiger. Ons is geroepenes van God en so ook gestuurdes. Die wêreld wil dit nie weet nie en hulle sal jou daaruit wil praat. Vra vir Paulus. Hulle wou ‘n streep deur sy roeping trek. En as hy besluit om homself te verdedig wys hy op God se werk in hom. God het vir Paulus nog voor sy geboorte al uitgesonder vir God en Hom in genade geroep (1: 15). En in Efesiers 1 sê Paulus dat voor die Here nog enigiets geskep het, het Hy jou al bestem om Sy kind te wees. En om heilig en onberispelik voor Hom te wees Efes 1:4, 5). Mag ek maar sê wees so ‘n bietjie meer sag op jouself. Draai jou aandag weg na God toe en sien raak God maak ons Sy kinders. God gee die genade. Dit is wat Paulus oor en oor sê: Dit is nie wat ek en jy doen wat tel nie. Dit is wat God doen in Jesus Christus wat tel. Kyk maar na 2 Tim 1: 9 en verder. Vers 3 en 4. Hier is ‘n mondvol in hierdie verse. Kyk eerstens die prys. Wie het al na ‘n kledingstuk wat jy regtig graag wil hê in ‘n winkel gekyk en as jy die prys sien dan sê jy, nee, die kleur is nie reg nie. Ek het al gehoor van verkoopsmanne wat sê as jy die prys moet vra dan kan jy dit nie bekostig nie. God gee vir ons iets want ek en jy kan dit nie bekostig nie. God gee dit verniet, gratis, vir ons. Die prys was Jesus wat Homself vir ons sondes gegee het om ons te verlos. Ons ken die evangelie. Jesus is kruis toe oor ons sondes. En God het Hom uit die dood opgewek. Ons vier dit volgende Sondag DV as ons saam nagmaal gebruik. Wie het gesê dat vir elke aksie is daar ‘n gelyke en teenoorgestelde reaksie? O, ja. Sir Isaac Newton se 3rde wet oor beweging. Wel, dit is die aksies wat God geneem het: God het in Jesus Christus ons van ons sondes en van hierdie goddelose wêreld gered. Ons teenreaksie is om vanuit die genade en vrede wat God bewerk en gee, te lewe. Om genade en vrede te lewe ook teenoor die mense wat ons frustreer, kwaad maak, ons werk ongedaan wil maak. Soos Paulus kies ons eerder om ten spyte van ons gevoelens te bid dat hulle genade en vrede by God mag vind. Genade en vrede hou handjies vas. Hulle loop saam. Die genade wat jy ontvang by God is ook die genade wat jy nou vir ander gee. Die vrede kom ook van God af. Vrede is ‘n toestand. ‘n Innerlike tot rus kom in God wat dan na buite toe werk. Johannes 14: 27 “Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie John 14:27 Jesus plaas Sy vrede binne ons. En daarom vanuit hierdie vrede, vergewe ons, deel ons genade uit, het ons lief. Dit is ‘n vrede wat alle verstand te bowe gaan, skryf Paulus in Fil 4: 7. En hierdie vrede van God sal oor ons harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus. Hoor net weer: Dit gebeur in Christus Jesus. En dit is anders as die wêreld s’n. Daarom loof en prys ons God. Daarom leef ons anders as die wêreld. Want ons vrede is van God af en het niks uit te waai met omstandighede nie. En ons is verlos van hierdie sondige wêreld. Dit is belangrik. Ons is verlos uit hierdie goddelose wêreld. Petrus skryf ons is vreemdelinge in hierdie wêreld. Hier is sy woorde: 17 Aangesien julle Hom as Vader aanroep wat oor elke mens onpartydig volgens sy dade oordeel, lewe dan in eerbied vir Hom gedurende die tyd van julle vreemdelingskap in die wêreld. 18 Julle weet tog dat julle nie met verganklike middele soos silwer of goud losgekoop is uit julle oorgeërfde sinlose bestaan nie. 19 Inteendeel, julle is losgekoop met die kosbare bloed van Christus, die Lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is. 1 Petrus 1:17-19 En in 1 Petrus 2 vers 11 word gesê ons kan maar oor onsself dink as bywoners en vreemdelinge in hierdie wêreld. Dit is soos om in die buiteland te reis en goed te sien wat jou jou kop laat skud en te dink hierdie is nie my sirkus nie en ook nie my apies nie. Miskien moet ons dit meer ons eie maak. Meer hierdie besef laat insink: Ek hoef nie in te pas nie. Ek is vrygemaak van die wêreld af. Ons kies om in eerbied vir God te lewe.