Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Kolossense 1: 15 - 20 Ek het al mense ontmoet en ‘n pad met hulle geloop en later eers begin besef wat hule alles bereik het. Hulle was net so nederig en gasvry dat jy nie agtergekom het nie, hierdie is iemand belangrik. Ek wil ‘n voorbeeld neem van iemand wat ons almal voel ons ken Hom goed, ons is naby aan Hom. Hy is een met ons. Jesus. Mag ek vra: Wie is Jesus volgens jou? Carolyn Brown, op haar webblad, Worshipping with children, lig in eenvoudige taal ‘n paar dinge uit. • Jesus is God in ‘n mens se lyf. Daarom, as jy wil weet hoe God is, kyk na Jesus. As jy wil weet wat vir God belangrik is, kyk na wat Jesus gedoen het. God het nie net die wêreld gemaak nie. Hy bring ook die wêreld terug na wat Hy dit wou hê. Jesus sit dinge weer terug in plek. Hy sit alles weer terug op hul oorspronklike plek. • Jesus is ‘n deel van God. Dit beteken dat Jesus was al voor die aarde daar, voor alle mense ook. En Hy sal lank na die aarde nie meer bestaan nie, steeds daar wees. Jesus is groter as enigiets wat ons ken. Groter as wat ek en jy ons kan indink. • Jesus is die hoof van die kerk. Nee, nie die Sinode nie, of die dominies, of die pous nie. Jesus is die hoof van die kerk. Die kerk is Jesus s’n. • Jesus se opdrag is om mense, eintlik alles terug te bring. Jesus bring mense nader aan God en nader aan mekaar. Het jy al so oor Jesus gedink? Eintlik moet ‘n mens gaan stil sit en lank dink oor elkeen van hierdie punte. En as jy elke punt na behore insien, selfs dan weet ons amper niks van hoe groot Jesus is nie. Hierdie deel wil ons verwonderd laat. Oorweldig laat voel. Dit kan nie anders nie, die besef en insig van wie ons Here Jesus in werklikheid is, wat Hy gedoen het en steeds doen, maak ons klein en stil. Jy kan nie help om jou eie nietigheid en kragteloosheid in te sien nie. Dit vat jou lus om alles oor jouself te laat gaan, en jou trots, summier weg. Maar, dit bou ook ‘n sekerheid in ons, ‘n soort vrede, rustigheid, of sal ek sê ‘n gevoel dat ek veilig geanker is in die groter geheel van dinge. ‘n Besef van dat ons sal okay wees. Okay, want kyk Wie is ons Koning. En jy wil net wees waar Jesus is. Daarom wil ek ‘n stelling maak vanoggend: Die eredienste is leeg want mense weet nie meer so mooi wie Jesus is nie. Vir baie mense is Jesus net die Baba in ‘n krip in Betlehem. ‘n Kersfees sprokie. Dalk sien hulle Hom ook as die Een na wie jy toedraai as alles om jou uit mekaar val. As al jou pogings op niks uitloop en jou moeilikheid is geboek. Dan soek jy liewe Jesus om te kom help. Vir baie gelowiges is Jesus die Verlosser. Die Man aan die kruis wat vir ons sondes sterf. Die Seun van God, ja. Vir baie is Jesus die Een in wie jy moet glo. Dit is soos ‘n lewensboksie wat jy moet kan afmerk. Jy moet in hom glo. Hierdie lied van die vroeë kerk, sê hokaai. Stop. Jesus is baie meer as dit. Ons verskraal ons geloof en ons eie lewe as ons nie ons gedagtes oopmaak dat die grootsheid van Jesus na ons kan deurdring nie. Ek wil probeer dinge eenvoudig hou. So, as jy na die erediens om jou kyk, in jou tuin, of soos jy huis toe ry en jy sien die grond, die gras, bome, voëls … alles wat jy sien het Jesus gemaak. Paulus herinner ons dat daar ‘n wêreld om ons is wat ons nie kan sien nie. Engele, geestelike magte. Ook dit het God deur Jesus geskep. Kyk na jou man of vrou, na mense, en besef ons is Jesus se handewerk. Alles is deur Hom geskep. Laat dit insink. Hierdie Jesus wat ek en jy aanbid, was al so wonderlik deel van ons lewens nog voor ons gebore was. Efesiers 1. En Efes 4 sê jy kan nêrens kom of wees waar Jesus nie reeds is nie. Hy vul alles met Sy teenwoordigheid. Voel tog aan Jesus se grootsheid. Die lekkerte is om te besef hierdie magtige Jesus, het vir jou en my lief. Onverklaarbaar vir ons, maar waar, Hy het jou lief. En jy vir Hom. Wat ons dikwels mis, of vergeet, of in ons selfgerigtheid bloot ignoreer is dat Jesus nie daar is vir ons nie. Dis eintlik nie hoe dit werk nie. Ja, Hy het mens geword en Sy lewe kom opoffer om ons te red en terug te plaas in die regte plek voor God. Ja. Wat ons vergeet is dat daardie regte plek by God is waar ons God dien. Waar ons vir God leef. Vers 16 se tweede deel en vers 17: “Alles is deur Hom en vir Hom geskep.” Toe God mense gemaak het, daardie besluit van God, was vir Jesus. Mense is ook deur Jesus geskep maar ook vir Jesus. Die “vir” is belangrik. Dit wys die verhouding uit. Dit beteken dat ons waarskynlik almal ‘n groot kopskuif moet maak: Jesus is nie daar vir ons nie. Ons is daar vir Jesus. Ons is vir Sy gebruik. Vir Hom om ons te geniet. Ons moet wyer kyk as Jesus se geboorte en aardse lewe as mens. En as jy wyer kyk dan word jy oorweldig deur die grootheid van wat Hy kom doen het as mens op aarde. Sy lewe gegee het om iets wat Hy geskep het en toe hulself gebreek het, weer te kom herstel en Syne te maak. ‘n Vriend sê my nou onlangs, tong in die kies, dat as hy ooit weer moes terug kom na aarde dan wil hy sy skoonsussies se hond wees. Want skoonsus piep en pamperlang en bederf daardie hond so baie. Alles draai amper om die hond. Natuurlik oordryf hy so ietwat. Ek weet mense is lief vir hulle diere en bederf hulle maar ek weet nie van enige eienaar wat hulle lewe vir hul dier sal opoffer nie. Jesus is die Eienaar van jou en my. Die kloof tussen Hom en ons is groter as tussen ons en ons troeteldiere. En tog gee Hy Sy lewe vir ons. Ek moet jou op vers 17 wys: 17 Voor alles was Hy al daar, en deur Hom bly alles in stand. Kolossense 1:16-17 Ons het al gewys op dat Jesus voor alles daar was. Sien nou raak dat deur Hom bly alles in stand. Ek wil nou soos ‘n tiener sê: Helloo! Ek en jy is deel van daardie alles wat Hy in stand hou. Hierdie Jesus is die hoof van die kerk. Hy het die kerk geskep. Die kerk bestaan oor Jesus en is vir Jesus. Die kerk is die produk van Jesus se werk. Hy is die hoof en die oorsprong. Dan wil ek huil as dominies van sy of haar gemeente praat. Of ander dreig om die kerk te skeur. Of mense sê hulle het Jesus lief maar wil niks met sy kerk uit te waai hê nie. Waarskynlik oor daar mense in die kerk is wat nes hulle optree. Die kerk is groter as ek en jy. Ons is maar ‘n klein deeltjie van die kerk. ‘n Deeltjie wat duurgekoop en deel gemaak is. Ons het nie iets om op te roem of grootmens agtig oor te raak nie. En ja, wat hier in ons saam wees gebeur is groter as ons. Ons saam wees is God self aan die werk hier. Ons is mense wat deel is van iets baie groters. Ons is deel van alles wat deur die bloed van God se Seun met God versoen is. Ons deel van dit wat reeds deur Jesus terug gesit is waar ons hoort. By God. Jesus is die Here. Ons Koning. Mag Hy ons snoei as ons weer wild weg van God af wil groei, en mag Hy ons snoei sodat ons VIR Hom kan vrugte dra. Ons is immers vir Hom geskep. Die doel van ons lewe is om vir Hom te bestaan. Hy is groter as alles wat ooit geskep is, groter as elke heelal en wat ookal wat nog mag bestaan of reeds bestaan. En die goeie nuus is, ons is Syne. Ons is met God versoen. Prys die Here, ons God.