Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
EFESIERS 4: 17 – 24 Konstant. As ek na mense luister, kry ‘n restaurant een kans, en as die kos telleurstel, gaan soek die mense ‘n ander plek om te gaan uit eet. Of kom ek stel dit anders. Mense wil kan sien iets werk. So waarna kyk mense om te sien of iets regtig werk? Konstantheid. Ek onthou ‘n wermagkamp met ‘n mislike sersant. Een oggend kom hy die bungalow in en vertel hoe hy tot bekering gekom het. Hulle het vir hom gebid en sy een been het langer geword. Kyk, seg hy, ek dra nie meer ‘n opgeboude stewel nie. Dis wonderlik. Die man was ook anders in sy gedrag. Twee weke later merk ons op die opgeboude stewel is weer terug en die ongure persoonlikheid ook. Hy het ‘n wrang smaak in onns gemoed gelaat. Hy was nie konstant nie. Nie reelmatig of getrou aan sy belydenis nie. Wat God in ons doen, is radikaal, en dan groei daardie radikale verandering konstant in die rigting van om al hoe meer soos Christus op te treë. Romeine 8:29; Gal 4:19. Ek weet dit is moeilik. Ek weet dit is soos ‘n taal, as jy daardie taal nie daagliks praat nie, verloor jy dit, dan soek jy al hoe meer na woorde en val dan terug op jou ou bekende taal. As ek dit deurtrek na ons teks: As jy nie konstant Jesus naleef nie, elke dag hard werk daaraan om soos Hy mense lief te hê en te hanteer nie, gaan jy soos ‘n ongelowige mens reageer op wat ander doen en sê. Ek wil jou ‘n geleentheid gee om hieroor te dink, voor die teks ons verder vat. Kyk weer na hoe Paulus hierdie deel begin: 17 In die Naam van die Here doen ek 'n ernstige beroep op julle: Moenie langer soos heidene lewe nie. Hulle gedagtes lei tot niks, Efesiërs 4:17 In die Naam van die Here. Ter wille van die Here. Sodat jy self nie God se genade aan jou tevergeefs ontvang het nie (2 Kor 6:1). Nie alleen net “ in die Naam van die Here” nie, maar ook is dit ‘n ernstige beroep. Wat ons van praat is belangrik. Dit lê aan die hart van die evangelie: Die evvangelie van genade gaan oor ‘n veranderde lewe oa. Jou en my lewe wat anders en beter is nou dat Christus in ons lewens is. ‘n Nuwe lewe lyk nie soos die oue nie. Treë nie op soos die oue nie. Wat die gemeente van Christus nie kan bekostig nie is as ons ou gedrag bly terugkom. As ons meer soos die wêreld is as wat ons soos Jesus is tussen mense. Kom ek herinner ons aan wie ons is. Jesus het gekom en Hy het ons vry gekoop uit die mag van sonde. Hy maak van jou 'n nuwe mens. 'n Kind van God. Hy maak ons deel van Sy liggaam met Hom as Hoof. Jesus trek ons in God se koninkryk in. Nou is ons nie meer in die eerste plek, Suid-Afrikaners en Afrikaans sprekendes, of Sotho sprekendes nie. Ons is Koninkryksburgers. Dit is ons identiteit. Nou moet ons die “hemelse taal en gebruike” aanleer. Vers 21 Hy leer ons om volgens die Bybel te leef (vers 21). En ons moet nou al minder vasval en terug val op ons ou manier van doen. Paulus doen 'n dringende beroep in hierdie deel. In vers 17: “Moenie langer soos heidene leef nie!” Want hulle leefstyl is nie naby God nie. Hulle het geen deel aan die lewe wat God gee nie. (Vers 19) En as ons soos hulle leef dan wys ons ook nie dat ons die lewe vanaf God ontvang het nie. Trouens ons maak skade aan dit wat Jesus kom doen het. Ons sit mense af. So erg af dat hulle niks van Jesus wil weet nie. Dis nie dat ons dit so bedoel nie. Dis net dat as ons ons weer kry dan praat en doen ons nes die res van die gemeenskap. Dis asof ons nie die siek geneigdheid tot sonde kan verbreek nie. Kom ek gebruik nog ‘n beeld. Ek vertrou dit kan ons help om met die geneigdheid tot sonde te kan breek. Ek was verlede week in en om Kaapstad. So, kom ons sê ons gaan Kaapstad besoek. Ons vat 'n kaart saam want ons ken nie die stad nie. Ons verdwaal lekker. Dadelik val ons terug op ons kaart. Ons kyk daardie kaart op en af en ons probeer allerhande roetes. Maar niks help nie. Ons probeer ons gesindheid verander. Ons lag en is bly. Ons geniet onsself. Maar weet jy wat? Ons is nogsteeds hopeloos verdwaal. Lekker verdwaal want ons geniet dit nou. Wat nou? Check jou kaart. O Gits. Dis 'n Vaaldriehoek kaart. 'n Kaart van ons ou lewens. Geen wonder ons verdwaal. En elke keer as ons vashaak – dan, sonder om te dink, ruk die brein jou ou taal uit, of jou ou kaarte – en begin daarvolgens reageer. En as jy nou bysit dat die meeste kaarte kom uit ons voor Jesus dae, dan is dit geen wonder dat ons aanhou met sonde doen en dink dis nie so erg nie ... of darem nie so verkeerd nie. Ek het via Kimberley terug gekom. Ons tik Deneysville in op die gps van die motor. Want, ons het meer as drie jaar laas die roete wat ons in ons kop het, gery. So die gps moet help met die regte afdraaie. Kan ek net sê, daardie gps wou my halstarrig massiewe ompaaie laat ry. Soms direk terug van waar ek was. En elke keer as die gps herbereken, word ons verwagte tyd van aankoms al hoe later. Maak seker watter gps of kaart jy gebruik. Maak seker dat dit regtig Jesus is wat jou koers aandui. En nie ‘n vals instelling, of jou eie verkeerde idees oor wat die Bybel sê. Moenie nou sleg voel nie. Dit gebeur met die bestes ook. Dis hartseer om te sê maar alle mense leef volgens 'n kaart sonder om dit te besef. Die kaarte is gevorm deur ou ervarings. En deur jou ouers en die gemeenskap. Die kaart vertel jou sonder om eers te dink maar dis hoe 'n man moet wees. En dis hoe 'n vrou moet wees. En sit nou maar al die ongeskrewe reels van die samelewing by. En moenie dink die kaarte is sondermeer reg nie. Kom ek gee 'n bekende voorbeeld. Daar is 'n kaart wat voorskryf: Moenie aan iemand iets doen wat jy nie aan jouself gedoen wil hê nie. Dis 'n ou kaart. Ek het hierdie kaart by my ouers geleer. In die koninkryk van God sal jy verdwaal met daardie een. Want die Bybel sê: Doen aan ander wat jy aan jouself gedoen wil hê (Matt 7). Groot verskil. My ou kaart sê as jy niks doen is jy okay. God se roetekaart sê as jy nie lief het en goeie dinge doen aan ander nie dan is jy verdwaal. Dan ken jy nie vir God nie. Hoe wil ons met God leef maar ons gebruik ons-ou-lewe kaarte? (Of wêreldse kaarte). Wat ons moet doen is om ‘n definitiewe skuif te maak. Kom ons begin fokus om meer en meer keuses te maak ogv die koninkrykskaart. ‘n Goeie begin is: Ons bid elke oggend dat die Here ons sal help om ons ou keuses te laat vaar en op hierdie dag onder leiding van die Heilige Gees as koninkryksmense te reageer op mense. Nou kies ons om met die vrug van die Heilige Gees te reageer. Met liefde. Met selfbeheersing. Met geduld. Vriendelik. Goedhartig. Nou straal ons vreugde en vrede uit. En ons is getrou in alles wat ons doen en is. En ons bly nederig ongeag alles wat ons bereik. Paulus wys ons ‘n nuwe logika, ‘n nuwe manier van dink. Kom ons pas dit toe. Hy skryf in vers 20. “Maar dis nie hoe julle Christus leer ken het nie.” Ons het nie by Hom geleer om so in die sonde te leef nie. Omdat ons Jesus se volgelinge is het ons geleer die waarheid is in Hom. Die waarheid is om te lewe soos Hy voor God gelewe het. En daarom moet ons juis ophou om te lewe soos ons voorheen gelewe het. Breek met die ou sondige mens in jou wat al agter die sonde aanloop. Gaan leef as die nuwe mens wat God jou maak. Jy is anders, Jy is nuut. Leef dit. Paulus gaan verder: (Vers 21) “Julle gees en gedagtes moet nuut word.” As jou kop verander dan volg jou lyf. Ou gesegde “Where the mind goes the body follows.” Dis hoekom ons nuwe denkpatrone moet vestig. Maniere van dink en doen wat wys dat God alles in ons lewens is. Want anders gaan ons slawe bly van ons eie siek gedagtes. Jou brein gaan altyd die ou kaarte gebruik tensy jy ingryp. Efes 4 sê dan reguit: “Julle gees en gedagtes moet nuut word.” Net God kan dit doen. Nee, dit is nie ‘n ontsnap klousule of a “get out of jail free” kaartjie nie. Net God kan ons nuutmaak. Net God alleen. Ons, ons gee onsself elke dag opnuut vir Hom. Ons gee ons self as lewende offers vir God. Ons doen dit in gebed. Met herhaling elke dag. En ons fokus daarop. Ons bid dat God ons gedagtes gevange moet neem; elkeen van hulle. Daardie gedagtepatrone wat te make het met woede, agterdog, bitterheid en onreinheid moet keer op keer ontmasker word en vir die Here gegee word. Ek sluit met Efes 4:17 en 24 volgens die Bybel vir Almal / dowes: En dit is ons motivering. 17 Ek sê nou vir julle iets wat baie belangrik is vir die Here …. 24 Ja, God het julle verander en Hy het julle nuwe mense gemaak. Nou moet julle lewe soos nuwe mense. Julle moet waarlik lewe soos God wil hê en julle moet doen wat Hy wil hê. Daar is geleentheid vir gebed.