Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1. U gaan met my saamstem vanaand dat ons slegs deur die Skrif hoef te te blaai om te verstaan dat vergifnis ‘n geweldige belangrike onderwerp van gesprek vir Jesus was. Dat ons mekaar sal vergewe. En as hier vanoggend iemand is wat nog nooit ‘n boodskap oor vergifnis gehoor het nie is u beslis ‘n nuwe kerkganger. Daarom gaan ek nie vanoggend weer hierop ingaan nie. 2. Ons weet ons moet vergewe. Dit was Jesus se opdrag en die grootste rede hiervoor is omrede elkeen van ons vergifnis ontvang het. Ons vergifnis wat ons moet bewys teenoor mense wat teenoor ons oortree is absoluut niks in vergelyking met die vergifnis wat ons daagliks van God ontvang nie. 3. En die boodskappe wat ons hoor oor vergifnis handel grootliks oor hoe ek ander moet vergewe wanneer hulle my seergemaak het. Wanneer hulle aan my verkeerd gedoen het. 4. MAAR, wat as…… Wat as ek die een is wat iemand anders te na gekom het. Wat as ek die skuldige persoon is wat vergifnis van iemand anders moet ontvang? 5. Dis miskien ‘n posisie waarin ons onsself nie graag sien nie. Ons sal gewoonlik ten sterkste ontken dat ons iemand kwaad aangedoen het. Nee man, jy is te fyngevoelig. Of liewer, was dit nou so erg? Of, “Die waarheid maak seer ne?”. Maar om te erken dat ons verkeerd opgetree het? Dis nie in mense se DNA nie! 6. En wanneer ons vanoggend na ons teksgedeelte kyk dink ek dis belangrik om net eers na die breer konteks te kyk. Vanaf vers 35 lees ons dat Jesus op pad is Jerigo toe. Hy en sy volgelinge is nog buite die dorp. En Hy kom ‘n blinde man tee. “Jesus, Seun van Dawid, ontferm U oor my” roep hy uit. En Jesus genees hom. En ‘n arm man wat buite die stad Jerigo gewoon het en sy verdienste moes verkry begin Jesus volg volgens vers 43. 7. Maar nou kom Jesus en sy gevolg in Jerigo in. Jerigo, ‘n pragtige stad. Die stad wat deur Herodes die Grote en sy seun Archeleus vol palmbome en roostuine geplant is. Hulle het ‘n pragpaleis in Jerigo gebou waar Herodes in die wintermaande gebly het. Klimaat was perfek en ‘n groot deel van die dorp se strate was vol wildevybome geplant. So mooi was hierdie stad Jerigo dat Mark Antony dit 30 jaar vroeer vir sy minnares Cleopatra as geskenk gegee het. 8. En dan lees ons vir die enigste keer in die NT van ‘n hooftollenaar. Hierdie was ‘n baie belangrike persoon. Tollenaars was Jode wat vir die Romeine tolgeld by die hekke ingesamel het. Hulle is gehaat deur die Jode en as verraaiers beskou. Maar wanneer jy die hooftollenaar geword het was jy fair game vir die Jode. Niemand is meer gehaat as hulle nie. 9. Saggeus is geplaas aan die hoof van die belasting distrik van Jerigo en omgewing. Om vir u ‘n idee te gee van hoe groot so ‘n belastingdistrik was moet ons in gedagte hou dat in die hele Palestina was daar slegs 3 sulke distrikte gewees. Een was in Seserea, een in Kapernaum en dan die een in Jerigo. 10. Jerigo het handelsooreenkomste gehad met Damaskus, Tirus en Sidon in die noorde, Seserea en Joppe na die weste en Egipte in die suide. Saggeus was ‘n man met geweldige verantwoordelikhede. ‘n Belangrike man hierdie Saggeus. Maar die Jode beskou hom as ‘n verraaier. Ironies genoeg beteken sy naam “die regverdige een”. 11. Maar hy was allermins regverdig. Dit was juis waarvoor tollenaars bekend gestaan het. Dat hulle uiters onregverdige belastings gehef het van die arm mense. Maar Saggeus ontmoet Jesus waar hy daar bo in die wildevyboom sit. En wanneer hy Jesus in sy huis onthaal, in die teenwoordigheid van die Verlosser, is dit ironies wat sy eerste optrede is. 12. Hy vra Jesus nie uit oor sy wonderwerke nie. Hy vra Jesus nie vir dinge wat hy nodig het nie. Hy vra nie dat Jesus vir hom moet vertel wat in sy toekoms gaan gebeur nie. Nee! Wat doen Saggeus? Vers 8 : “Maar Saggeus het opgestaan en vir die Here gesê: “Here, ek gaan die helfte van my goed vir die armes gee, en waar ek iets van iemand afgepers het, gee ek dit vierdubbel terug.” 13. Wat se Saggeus? Hy sê Here, waar ek verkeerd gedoen het aan iemand wil ek sê ek is jammer! En ek wil regmaak waar ek kan. Dis Saggeus se reaksie wanneer hy in die teenwoordigheid van die Verlosser kom. Hy le nie ‘n inkopielys voor Jesus neer met al sy behoeftes nie. Here, ek het mense ‘n onreg aangedoen en ek is jammer! Help my regmaak. En in teenstelling met ‘n arm man wat buite die stad in die woestyn homself moet onderhou, ontmoet ‘n ryk man in Jerigo Christus. En ook hy begin Jesus volg. 14. Is dit toevallig dat Saggeus se eerste en enigste begeerte in die teenwoordigheid van die Verlosser is om verhoudinge te herstel? Is dit nie juis wat Christus kom doen het nie? Die verhouding tussen ons en God kom herstel, maar in die proses ook die verhoudinge onder mekaar kom herstel het sodat ons ook in vrede met mekaar kan leef. 15. Dis tog waaroor die brood en wyn verlede week gegaan het. Gebreekte verhoudinge wat herstel is. Stukkende verhoudinge wat heelgemaak word. En toe Saggeus Jesus ontmoet, is dit die eerste ding wat hy wil doen. Here, ek wil regmaak waar ek gebreek het. 16. God verwag van u en my om gebreekte verhoudinge te herstel. Maar meeste van die tyd staan ons trots in die pad. My eie ego verhoed my om te gaan regmaak waar ek verbrou het. Jy hoor die HG in jou hart spreek dat jy moet gaan regmaak, maar trots en eiewil kry die oorhand. 17. Vers 3 van ons teksgedeelte se vir ons dat Saggeus net vir Jesus wou sien. Nie met Hom praat of redeneer of uitnooi vir ete nie. Hy wou Jesus net sien. En omrede hy te klein van postuur is klim hy in ‘n boom. Ek kan net dink dat hierdie klein mannetjie maar redelik belaglik moes gelyk het daar waar hy hoog in die boom sit. 18. En dan moet ons in gedagte hou dat hy ‘n geweldige hoë posisie beklee. ‘n Baie belangrike man! Maar sy ego en trots keer hom nie. Hy wil Jesus sien en hy sal enigiets doen om dit reg te kry. Selfs homself belaglik maak voor ander. Sy status en posisie gaan hom nie keer nie. Al maak hy homself lagwekkend, vir Jesus wil hy sien. 19. Is God se wil dat ons verhoudinge sal herstel nie baie belangriker as my eie ego nie? Wat gaan die mense se? ek gaan soos ‘n swakkeling lyk! Dit het egter nie vir Saggeus gepla nie. Hoekom pla dit ons? 20. En nadat Saggeus die Meester ontmoet, is sy eerste reaksie om te se: Here, ek het ander kwaad aangedoen, maar ek gaan regmaak. Ek is jammer! En Jesus se aankondiging kom dat daar redding vir hierdie huis gekom het. Die feit dat Saggeus nie toegelaat het dat sy trots en eiewil in sy pad staan om stukkende verhoudinge reg te maak nie, het geweldige implikasies gehad. Dit het redding vir sy huis tot gevolg gehad. 21. Verstaan ons werklik hoe belangrik die herstel van gebroke verhoudinge tussen God se kinders vir Jesus is? Dat alhoewel die mense buite Saggeus se huis oor Jesus geskinder het, het Hy steeds by Saggeus oorgebly. Desnieteenstaande die feit dat Saggeus as ‘n sondaar en verraaier beskou is nie. 22. Een van die mooiste verhale oor hierdie onderwerp kan u gaan lees in Genesis. Josef se broers het hom in ‘n put gegooi, verkoop aan slawe eienaars ens. Maar Jakob, Josef se pa, het geweet wat belangrik was. Hy het sy seuns opdrag gegee om vir Josef om vergifnis te gaan smeek. ‘Julle moet vir Josef vra om tog die groot misdaad teen hom, die onreg wat julle hom aangedoen het, te vergewe.- 50:17.’ En die gevolg hiervan se vers 20 was dat ‘n hele volk kon kos kry. 23. U sien geliefdes, om ‘n verhouding wat u gebreek het te gaan regmaak, om vergifnis te gaan vra, het soms verreikende implikasies. Om vergifnis te vra getuig van geestelike volwassenheid, dit getuig van liefde. 24. Geliefdes, kan u dink wat dit aan verhoudinge onder gelowiges kan doen as ons houding dieselfde as die van ‘n Saggeus kan wees? Dat ons enigste begeerte sal wees om te rekonsilieer met mense vir wie ek kwaad aangedoen het. Miskien het ek nie soos Saggeus onregverdig geld by iemand gevat nie. Miskien is dit iets anders. 25. As u iemand te na gekom het, gaan maak reg. Vra vergifnis. Vergeet van u posisie, status, wat die mense gaan se. Al wat saakmaak is dat God wil he dat sy kinders niks aan iemand anders verskuldig sal wees nie. Geen apologie, verskoning, verduideliking of wat ookal nie. Want verlede week het ons die feit gevier dat Christus ons verhouding met God kom herstel het. Hy verwag dieselfde van u en my.