Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
MATTEUS 23: 1 - 12 Ek wil hierdie deel net eers in konteks plaas. Dit is deel van die laaste groot openbare preek wat Jesus, volgens Matteus, gelewer het. Waarskynlik in die tempel. Ek sê dit sodat ons besef dat hierdie is iets wat na aan die hart van Jesus gelê het. Daarom het Hy in Sy laaste paar dae voor die kruisiging, juis hieroor gepraat. Dit lê aan die hart van kerkwees. Ons praat dus oor kerkwees, en oor hoe ons geloof oorspoel op die sypaadjies. En al word van die Skrifgeleerdes en Fariseers van Jesus se tyd hier skerp aangespreek, behoort ons almal regop te sit en kennis te neem van wat Jesus hier leer. In wese sê die Here: Doen wat die Skrifgeleerdes julle in die wet van God leer. Maar moenie hulle voorbeeld navolg nie want hulle doen self nie wat hulle sê nie. Hulle is volgens Hom onsimpatiek en afwyserig. Hulle godsdiens gaan meer oor gesien te word en vernaam te wees as oor ware diens aan God. Hulle stel meer belang daarin dat mense beïndruk moet wees met hoe godsdienstig hulle is ... as dat God sou kon sê “goeie en getroue dienskneg ...” Moet dus nie vir die skare op die paviljoen speel nie. Leef vir God. Moenie mense probeer beindruk nie. Vergeet van wie jou sien. Beter nog, hoop dat niemand jou sien nie. Maak 'n punt daarvan om nie dinge in die gemeente of vir ander mense te doen om erkenning te kry nie. Doen dit uit die hart uit vir die Here. Ons is nie in die “game” om naam te maak as sg groot christene nie. Ons hou ons koppe laag en ons dien die Here met ons hart en siel. Ons gee onsself vir die Here omdat Hy die Here ons God is, en ons Hom baie lief het. Wat Jesus in hierdie deel dus veroordeel is 'n hunkering na mense se bewondering en erkenning dat jy eintlik iemand spesiaals is. Die verlange om oral hierdie vername mens te wees wat hierdie spesiale behandeling moet kry. In die ou taal: Jy is darem die dominee. Of mev doktor dominee so en so. Of ouderling so en so. En daarom moet jy voorkeur behandeling kry en almal moet na jou luister en jy moet die ereplekke by alle funksies kry. Deel van dit wat die Heilige Gees in ons bewerk is oa nederigheid. Ons is nederige mense wat agter Jesus aan leef. Jesus is belangrik. Kom ons dink dieper. Wat moet ons vandag in 2022 met hierdie teksgedeelte maak? Eerstens: Raak opgewonde oor jy nie iets spesiaals of besonders hoef te doen of te wees in die gemeente nie. Hier is nie 'n kompetisie aan die gang nie. En niemand probeer iemand anders die loef afsteek nie. Dit gaan hier oor God. Eintlik vat die Here al ons ambisie en energie en kanaliseer dit op 'n nuwe manier. En Hy laat ons vergeet wie ons is en wat ons sg sosiale status sou mag wees of vereis: En Hy sit al daardie energie in om Jesus na te leef. Dan kry jy direkteure van firmas en ambagsmanne en klerke en alle vorme van werkers en predikante wat saam moue oprol en 'n verskil maak vir God se Koninkryk. En mense staan verwonderd. Dit gebeur omdat ons besef daar is net een Baas in die gemeente, net een Direkteur, net Een wie se wil en wense belangrik is en dis ons Leier, Jesus Christus. Al ons ander is Sy dienswerkers. Dit is wat mense in hierdie gemeente moet ontdek en ek wil glo, konstant kan verwag. Jesus as hoof en die res van ons doodgewone, gelyke, arbeiders in God se wingerd. Waar kerkverbande aan hulle titels en goed kom, weet ek nie. Ek weet net dis nie God se wil nie. Hier volg ons saam die Here. En ons dien saam die mense van hierdie gemeenskap. En niemand is meer spesiaal as iemand anders nie. Dit meen ek, is die hart van hierdie deel. Tweedens. As jy nie die Skrifgeleerdes en die Fariseers se voorbeeld moet na leef nie, wie s'n dan? Jesus s'n. Die Here het homself en Sy ereplek by God prysgegee om mens te word. Hy het op 'n baie nederige wyse hier tussen ons kom woon. Geen fanfare en limo's en media bekendstellings nie. Suiwer net gedien. Sy lewe gegee om ander se lewe beter te maak. So het jy Hom dan gekry dat Hy: ● Sy dissipels se voete gewas het voor hul laaste maaltyd saam. ● Weg gestap het toe die skares Hom met alle geweld wou koning maak. ● Siekes gesond maak. ● Bekommerd was oor die skares wat honger en dors was en toe vir hulle brood vermeerder het. ● Besorgd was dat die mense soos skape sonder 'n herder was en hulle toe begin leer het. ● Kindertjies geseën het (al het almal gedink Hy is te belangrik om aandag aan hulle te gee). ● Sondaars en uitgeworpenes vergewe. ● Hy het tyd gehad vir die vir wie die gemeenskap dikwels geen ooghare voor gehad het nie. ● En aan die kruis het Hy gesterf sodat ons vergifnis vir ons sondes mag kry en die ewige lewe as geskenk. Paulus skryf dat Jesus, as Seun van God Homself verneder het om ons onthalwe. En dat Hy nederig geleef het. Die punt is: Ons behoort Sy voorbeeld na te leef. Soos Johannes dit onthou het, het Jesus na Hy die dissipels se voete gewas het, gesê: “Ek het vir julle 'n voorbeeld gestel, en soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen.” Sy voorbeeld is duidelik in die Nuwe Testament. Volg Hom na. En in Johannes 20 hoor ons Jesus sê: “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.” Ten laaste: Sien raak dat die grootstes onders ons moet juis bereid wees om ander te dien. Dit lyk vir my dat wat ons oa moet raaksien is die woordjie dien. Meer spesifiek “om die ander te dien”. Godsdiens is nie om gesien te word op straat hoe jy bid of allerlei tosseltjies te dra, meer indrukwekkend as iemand anders s'n, of om jou te roem op al jou opofferings of heilighede nie. Miskien sal sulke toeweidings-vertroon mense beïndruk. Maar dit beïndruk nie die Here nie. Ware godsdiens is ook nie om ander te veroordeel en versies opmekaar te stapel as bewyse vir jou standpunt nie. Ware godsdiens, dus ook ware geloof is om God lief te hê en ‘n hart te hê vir die weerloses en armes. Want meneer, mevrou, jou Leier verwag dat jy sal dien. Nie sal probeer groot wees of ander probeer beïndruk nie, maar net dat jy nederig, soos Hy die ander sal dien.