Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
2 Petrus 1:3-11 Fokus op vers 8 - 11 Eendag was daar ‘n man wie se bootjie gesink het. Hy het uitgespoel op ‘n eiland. ‘n Klomp eilandbewoners storm op hom af, gryp hom en dra sleep hom terug na hulle hutte toe. Sy eerste reaksie was dat hulle kannibale is en dat hy nou die hoofgereg gaan word. Hy ontdek toe dat hulle hom koning maak. Sy elke wens het hulle waar gemaak. Dit was te lekker. Maar hy was ‘n denkende man. So hy het versigtig uitgevis en agtergekom dat dit hulle gebruik was om iemand koning vir ‘n jaar te maak. En sodra die jaar om is word daardie mens verban na ‘n eiland daar naby waar daar net mooi niks op is nie. Om daar dood te gaan. Die man kry toe die skrynwerkers om kanoes te bou. En hy stuur mense oor na die eialnd waarheen hy uiteindelik verban sou word om daar huise te bou, putte te grawe vir vars water, groentetuine en vrugteboorde aan te lê, sodat wanneer sy koningskap beeindig word, hy ‘n plek van oorvloed kan hê om na te gaan. Jy kan sê hy het visie gehad. Jy kan nie sê dat hy kortsigtig was. Wat Petrus ons roep om aan te bou is vers 11: Vers 11: 11 En dan sal daar vir julle vrye en feestelike toegang wees tot die ewige koninkryk van ons Here en Verlosser, Jesus Christus. 2 Petrus 1:11 Ek wil nog ‘n beeld gebruik. Nog elke paartjie wat ek getrou het wou vir ewig en altyd gelukkig saam geleef het. So stap die jare aan. Baie mense wat eens heel gelukkig getroud en verlief was, het al geskei omdat hulle te besig geraak het met ander dinge, met werk en oorlewing en vooruitgaan dat hulle die mekaar vergeet het. En sodoende ‘n deel van hul verhouding minder belangrik laat word het. Die gevolg? Hulle het nie meer moeite gedoen om elke dag vir mekaar te wys hoe lief hulle mekaar het nie. Met die gevolg hulle het mekaar iewers agter gelos. Iewers was die woorde maar ek het jou lief, nie meer genoeg nie. Al was die persoon se hart daarin. Dit kan ook gebeur met mense se liefde vir God. En dit is deels die punt wat Petrus wil maak. Kyk na vers 10 en 11: 10 Daarom, broers, moet julle julle des te meer daarvoor beywer om deur julle lewe te bewys dat God julle geroep en verkies het. As julle hierdie dinge doen, sal julle nooit struikel nie. 11 En dan sal daar vir julle vrye en feestelike toegang wees tot die ewige koninkryk van ons Here en Verlosser, Jesus Christus. 2 Petrus 1:10-11 Dit is die teenvoeter wat moet help dat God nie beleef dat ons woorde leeg geword het nie. Of nog erger, dat ons sover van God af wegdryf dat God sê maar Ek ken jou nie. Petrus vat ‘n mens in sy motivering terug na ons begin: “Iemand wat hierdie dinge nie sy eie gemaak het nie, is kortsigtig; nog erger, hy is blind en het vergeet dat hy van sy vroeer sondes gereinig is.” (v. 9) Dit sou goed wees as ons elkeen terug dink aan hoe ons gevoel het, voor en ook direk na ons bekering. Daardie wonderlike gevoel van verligting, vrede, hoop wat oor ‘n mens gespoel het. Selfs ‘n asof jy op wolke kan loop gevoel. Op daardie oomblik was die genade vir jou alles. Oor tyd raak ‘n mens dit gewoond. Laat jy toe dat die wêreldse so effe terug kruip in jou lewe in. Begin jy vergeet dat God ook Regter is en dat Hy rekenskap eis. Dink aan die gelykenisse van ‘n man wat op reis gaan en alles onder die bestuur van sy mense laat en dan terugkeer en verantwoording vra vir wat gedoen en nie gedoen is. Of dink aan die gelykenis van die muntstukke. Hoe die eienaar vir die een slaaf vyf goue muntstukke gegee het, vir ‘n ander twee en vir nog ‘n ander een. En toe hy terugkom moes hulle verantwoording doen vir wat hulle daarmee gemaak het (Matt 25:14 ev). Petrus sê dis kortsigtig om net vir die oomblik te leef asof daar geen more gaan wees nie. Kortsigtig om Christus as Verlosser te bely maar iets totaal anders te leef. Sy slotsom is dan in vers 10: 10 Daarom, broers, moet julle julle des te meer daarvoor beywer om deur julle lewe te bewys dat God julle geroep en verkies het. As julle hierdie dinge doen, sal julle nooit struikel nie. Dit is die hier en nou deel. Vers 11 gee die eind doel. Die doel waarheen ons mik. Dit waar na toe ons werk en leef. 11 En dan sal daar vir julle vrye en feestelike toegang wees tot die ewige koninkryk van ons Here en Verlosser, Jesus Christus. 2 Peter 1:10-11 Dit is belangrik vir die tye waarin ons tans leef. Mense het hulle uitsig op God verloor en so ook die rede vir hul lewens. Mense het nodig om ‘n voorbeeld van geloof te hê om te kan naleef. Ek en jy is waar na toe hulle kyk vir voorbeelde. Die storie van ons eiland koning verduidelik mooi die punt wat Petrus wil maak. Hy het op daardie eiland besef, dit gaan nie vir altyd hou nie. Daar moet meer aan dit wees. En hy het positief gewerk na uitkoms toe. Daardie uitkoms begin vir jou en my by die punt waar ons weet wie ons is. En dat die hier en nou, tydelik is. Kom ons kyk na wat Petrus sê van die mense aan wie hy hier geskryf het. • Hulle is mense wat soos hy “dieselfde kosbare geloof” ontvang het. • God het aan hulle goed gedoen in Jesus Christus. • Hulle is deur God geroep en verkies. • God werk met Sy groot krag in hulle lewens. • God het vir hulle alles gegee wat hulle nodig het om tot Sy eer te leef. Ek vermoed dis hoe hy wou gehad het hulle oor hulself moes dink. Want as hulle so oor hulself sou dink dan sou hulle hulle beywer om so te leef. Jy tree nie maklik anders op as hoe jy werklik oor jouself dink nie. Behalwe as jy nie eintlik dink oor wie jy is nie. Dan doen jy maar soos die oomblik jou dryf. Wie is jy? Jy is iemand in wie se lewe God werk. Jy is iemand wat deur Jesus gered is en nuut gemaak is. Jy is skoon gewas van sonde. Jy is “reg gemaak vir die ewige lewe.” Jy is iemand vir wie God alles gegee het wat jy nodig het om Hom te kan dien. Jy skiet niks te kort nie. Jy is iemand by wie God altyd is met sy groot krag. Dit is wie jy is. Gelowiges is mense wat ontdek dat God vir hulle gee dit wat hulle nodig het om Hom mee te eer. Nou word 'n paar dinge moontlik: Ons het nou die vermoë om nee sê vir allerlei versoekinge. Eintlik sê Petrus: Gee dadelik pad van die versoekings af. Moenie naby plekke gaan waar jy dalk sal swig voor jou versoekings nie. Wat gevra word is om nie 'n enkele oomblik agteroor te sit en te vergeet dat Jesus die spil is waarom jou lewe draai nie. Petrus sê: Sorg dat jou geloof elke dag sterker word. En ‘n mens groei jou geloof deur jou in te span om altyd net te doen wat Christus wil hê. So leer jy Jesus beter ken en hoe meer jy Hom leer ken hoe meer wil jy alles doen soos Hy weet dit gedoen moet word. Vat jou ywer nog verder: Werk aan jou selfbeheersing. Moenie toelaat dat sondige begeertes jou onderkry nie. Dit maak dat jy meer vas sal staan teen allerlei dinge en idees wat jou enige plek toe wil sleep, want sien jy weet wie jy is en jy ken jou Here. So 'n standvastige lewe verheerlik God. So 'n lewe laat die wêreld sien hoe wonderlik God is. Wys dit in alles wat jy doen. En hoe sal die wêreld dit sien? Vers 7 sê: deur die liefde wat ons teenoor mekaar uitleef. Maar hierdie liefde moet groei tot dit Jesus se liefde is wat ons teenoor alle mense uitleef. Beywer is dan om hard te werk om by hierdie punt van liefde uit te kom. Eintlik beteken beywer hier om alles te gee om soos Jesus te wees. Om sodoende te wys ek ken Hom! God help ons hiermee. Vers 3 en 4 sê: God het dit wat Hy belowe het vir ons gegee! Hy het ons reeds gered. Ons is klaar nuut gemaak. Ons moet nou net leef dit wat God ons gemaak het. God het reeds Sy woord gehou. Nou moet ons ons s'n hou. En as ek ons kan wys op vers 8, dis duidelik in vers 8 is dat mens nooit arriveer nie. Jy is nooit klaar gegroei nie. Die koninkryk het nie 'n graad vang oomblik na vier of vyf jaar nie. Dis werk en leef end-uit. Jy vang graad aan die einde van jou lewe as God vir jou die oorwinnaarskroon gee. Vers 8 verwys terug na 'n pad van groei en dan word daar gesê: As jy dit nou bemeester het, dan moet jy met ywer Jesus leer ken. Ons het gedink ons ken die Here. Nou moet ons ontdek jy ken Hom eers regtig as jy dinge doen soos Hy dit sou gedoen het, as jy Sy gesindheid het teenoor alle mense, as jy jouself onvoorwaardelik gee t.w.v ander mense. As jy liefhet soos Jesus. Vergewe soos Jesus vergewe. Vers 10 is sterk: Jy moet jou beywer om deur jou lewe te bewys dat God jou gered en geroep het. Let wel: Petrus sê nie jy moet jouself red deur reg te lewe nie. Hy sê: Bewys dat God jou gered het. Kyk vorentoe. Herontdek weer jou kindskap van God. En sien jou toekoms. En beywer jou vir God.