Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Markus 11:1-21 – Wees bekommerd oor die vyeboom 1. So in Mark 11 lees ons dat Jesus honger word, ‘n vyeboom sien en wanneer Hy nader gaan om vrugte te pluk kry Hy niks. En dan vervloek Hy die boom sodat dit sterf. Dit behoort elkeen van ons geweldig te bekommer. Was daar iets fout met die boom, was Jesus dalk net kwaad of is daar ‘n dieper betekenis hierin? 2. Ons gaan in hierdie geweldige interessante gedeelte sien hoe hierdie een oomblik deel is van ‘n baie groter verhaal wat Markus vir ons probeer vertel. ‘n Verhaal wat vir u en my geweldig beinvloed op verskeie manière. 3. Om te verstaan hoekom die verhaal van die vyeboom u en my so raak, moet ons eers kyk na die rede waarom hierdie insident tussen Jesus en die vyeboom afspeel. In die begin van hoofstuk 11 vind ons dat Jesus Jerusalem binnekom. Palmsondag. En hierdie is ‘n groot oomblik in Jesus se bediening. 4. En hier is Jesus besig om in Jerusalem in te ry soos ‘n koning. Maar hier is ‘n paar dinge wat ons nie moet miskyk nie. Jesus begin sy intog in Jerusalem op die Olyfberg. En die Olyfberg is ‘n plek waaroor daar reeds heelwat geprofeteer is, veral met betrekking tot die koms van die Messias. Sagaria het hieroor geprofeteer. 5. Maar Sagaria het in hoofstuk 9 ook geprofeteer dat Jesus op ‘n jong donkie sou ry, net soos dit besig was om te gebeur. So die Jode, wat goed onderlê was in die OT het geweet wat hier besig was om te gebeur. Die Een wat hulle gaan verlos is uiteindelik hier. 6. Maar Jesus is nie net besig om ‘n profesie te vervul nie. Hy is besig om iets te doen wat vir die mense van daardie tyd baie bekend was. U sien, wanneer ‘n bevelvoerder van ‘n weermag van ‘n oorwinningstog teruggekeer het, was die gewoonte om met groot fanfare en onder luide toejuiging op ‘n perd die stad in te ry. Sy lof sal besing word deur al die mense en hy sou beskou word as die een wat die koninkryk gered het. 7. En die mense sou dit herken het soos Jesus Jerusalem binnegery het. Maar hulle sou ook ‘n paar ander dinge raakgesien het. Sy vervoer is nie die van ‘n perd nie, en sy volgelinge ook nie die wat ryk van aansien was nie. Sy skare was nederiger. Hy was ‘n ander tipe koning wat ‘n ander tipe redding gebring het. 8. En alles wat ons tot nou toe oor gepraat het beklemtoon een belangrike ding: JESUS IS DIE MESSIAS!. En die skare verstaan dit. Hulle begryp dit nou. Hulle is gereed vir die Messias. Maar daar is een ding in Markus se evangelie wat ons sien wat Jesus kwaad maak, eintlik briesend maak. Iets wat hom kwaad maak vir godsdienstige leiers en selfs in sommige gevalle vir sy dissipels. En dit is wanneer iemand in die pad staan van God se koninkryk. 9. Wanneer hulle iemand, soos die mense in die straat, verhoed om Jesus te volg. En dis presies wat volgende gaan gebeur. Net hierna vind 2 gebeure plaas wat ons gewoonlik as verskillende voorvalle hanteer maar wat eintlik geweldig aan mekaar verbind is. 10. Eerstens, op die volgende dag, wanneer Jesus weer van Betanie af kom op pad Jerusalem toe, kom Hy op ‘n vyeboom af. Want Hy was honger. En Markus vertel vir ons dat toe Jesus by die boom kom vind Hy geen vye daaraan nie. En dan gee Markus vir ons ‘n stukkie inligting wat onbelangrik lyk maar waarvan ons moet kennis neem, want dit is baie belangrik. Hy se dat daar net blare aan die boom was. Niks anders nie. En wanneer Jesus dit sien word Hy so kwaad dat Hy net daar die boom vervloek sodat dit nooit weer sou vrugte dra nie. 11. Hierna deel Markus die tweede belangrike voorval met ons. Jesus kom in Jerusalem in die tempel aan. En skielik begin Jesus om diegene wat op die plein gekoop en verkoop het uit die tempel uit te dryf. Hy keer tafels om. Hy vertel vir hulle dat hulle van die tempel ‘n rowersnes gemaak het. 12. Maar hierdie lyk nie soos die Jesus wat ons ken nie. Nerens in die evangelie van Markus lees ons dat Jesus so verskriklik tekere gegaan het oor enigiets nie. Wat is fout? Is Hy steeds kwaad oor die vyeboom? Wat is die probleem? Is daar dalk iets baie groter wat hier besig is om te gebeur? En dis hier waar ons baie mooi moet oplet. 13. Maar om te verstaan waarom hierdie hele gedeelte van hoofstuk 11 op mekaar betrekking het, moet ons eers iets verstaan van die tempel en van vye. Hierdie is ‘n voorstelling van hoe die tempel in die tyd van Jesus gelyk het. Mens kan dadelik sien dat die tempel in dele opgedeel is waar slegs sekere mense toegelaat is. 14. Die Allerheiligste was waar slegs die hoepriester kon ingaan. Verder het ons die hof van die priesters, die hof van Israel, die hof van die vroue en buite dit alles, vind ons die hof van die heidene. En as jy nie Joods was nie was hierdie die enigste plek waar jy as heidense gelowige toegelaat is. 15. Hierdie hof van die heidene mag dalk baie groot lyk, en dit was groot. Maar gedurende die godsdienstige feeste was hierdie area gepak met mense. Dis hier waar die geldwisselaars en die wat handel dryf hulle tafels opgeslaan het en verkope gedoen het. Hier is die diere verkoop wat gebruik is vir offerandes. 16. Om u ‘n idee te gee van hoe vol hierdie area was tydens feeste skryf die Joodse geskiedskrywer Josephus dat gedurende een Paasfees week is 255 000 lammers in hierdie area verkoop en geoffer. En dit is wat Jesus en sy dissipels sien wanneer hulle die tempel binnekom, en dis hier waar Jesus begin om die tafels om te keer en diere te verjaag. 17. En die eerste vraag wat by mens opkom is waarom! Waarom het Jesus die tafels omgekeer en die diere verjaag? Maar voor ons daardie vraag antwoord moet ons eers vra waarom het Jesus so kwaad geword en die tafels HIER omgekeer? Hier in die hof van die heidene. 18. En dis die antwoord op daardie vraag wat ons gaan help om alles te verstaan. U sien, hierdie voorhof van die heidene was die enigste plek waar heidense gelowiges kon gaan om te aanbid. Dit was die naaste wat hulle aan God kon kom. Dit was die enigste plek waar hulle toegelaat is om te aanbid. 19. Duidelik was hulle nie deel van die gemeenskap van die gelowiges nie. Hulle was nie toegelaat om in die heiligste dele in te gaan nie. Maar die probleem was dat selfs in die enigste plek waar hulle toegelaat was om te aanbid, was hulle verhoed om dit te doen. Hierdie plek van aanbidding, waar die heidense gelowiges moes aanbid is verander in ‘n chaotiese rowersnes. 20. En dit maak Jesus briesend kwaad. Iets wat ons regdeur die evangelie van Markus vind is dat Jesus gedurig uitreik na die heidene, die deur oopmaak vir heidene om Hom te volg. Die besetene van Kapernaum, die Siro Fenisiese vrou, die besetene van Gerasa, almal heidene na wie toe Hy uitgereik het. Mense vir wie Jesus verlossing aangebied het. 21. God se koninkryk was nie net vir die Jode nie, maar vir almal. Sy koninkryk is baie groter as dit. En wanneer Hy sien wat in die tempel aangaan, hoe die heidene opsetlik daarvan uitgesluit word om God te aanbid ter wille van hulle wat wil geld maak, dan verloor Hy dit, met alle respek gese. 22. Hy begin om alles te vernietig wat die heidene verhoed om God te aanbid in die tempel. En dan gebeur iets baie interessant. Hy keer terug na Betanie en wanneer hulle by die vyeboom verbygaan, is dit verdroog. U sal onthou dat Markus gese het dat toe Jesus en sy gevolg die eerste keer by die vyeboom verbygegaan het dat dit nie vrugte gedra het nie maar slegs blare gehad het. 23. Vir ons lyk dit na geringe en niksseggende inligting. Maar die mense van daardie tyd wat vyebome geken het, dit geplant het, daarvan geleef het, het presies geweet wat aangaan. Sien, Midde Oosterse vyebome dra twee soorte vrugte. Wanneer ‘n vyeboom begin het om blare te kry het dit ‘n vrug gedra wat in engels as Nodules bekendstaan. In Afrikaans word dit kwaste genoem. Dit was gesond om te eet. En indien ‘n boom baie van hierdie kwaste gedra het, sou dit ook baie vye voortbring. 24. Maar hou in gedagte wat Markus gese het. Daar was net blare aan die boom want dit was nie die tyd vir vye nie. MAW daar was blare, maar geen kwaste nie, wat beteken dat hierdie boom geen vye sou dra in vyetyd nie. En omrede Jesus geweet het dat die boom nie vrug sou dra nie, vervloek Hy dit. 25. En hier kom ons by die kruks van die gedeelte. As jy een van Jesus se dissipels was wat saam met Hom gestap het, sou daar ‘n paar dinge gewees het wat skielik in jou gedagtes sou opkom. As jy terugdink aan dit wat in die tempel gebeur het en jy sien die vyeboom wat dood is tot in die wortels, gaan jy sekere dinge onthou. 26. Jy gaan onthou dat Jeremia verwys na Israel as ‘n vyeboom. En dan begin die laaste stuk van die legkaart sin maak. Jeremia 8:13: Wanneer Ek die oes by hulle kom insamel, sê die Here, is daar geen druiwe aan die wingerdstok en geen vye aan die vyeboom nie, selfs die blare is verdroog; daarom sal Ek my volk oorgee om vernietig te word. 27. En skielik besef jy dat dit waaroor Jeremia geskryf het besig is om voor jou oe af te speel. Jesus het nie sommer net ‘n vyeboom doodgemaak nie. Die hele ding, die vyeboom, die tempel en dan weer die vyeboom, dit alles wys heen na iets groters. 28. En vandag verstaan ons dat die vyeboom het heengewys na die Joodse volk, veral die leiers van Israel. Hulle het in die pad van God se koninkryk gestaan. Dit is hulle wat gekeer dat mense soos die heidene Hom aanbid. Hulle het gedink hulle is die enigste mense wat gered kan word. Hulle het gedink verlossing is net vir hulle want hulle volg die wet en alles wat daarmee saamgaan. 29. Hulle was van mening om deel te gewees van die Joodse volk het hulle meer waardig as die heidene gemaak om in God se koninkryk in te gaan. Maar Jesus se daar is iets fout met hulle. Hulle lyk goed aan die buitekant maar hulle dra nie vrug nie. Hulle is dood tot in die wortels in. Iets is fout met hulle en God reik sy uitnodiging uit na diegene anderkant die Joodse volk. Iets wat hulle almal gedink het behoort slegs aan die Jode word nou vir die heidene aangebied. 30. En hier is die rede waarom ons baie bekommerd moet wees oor die vyeboom wat vervloek is. Die mense in die tempel was God se hoop om Hom na die wereld toe te neem. God se vir Abraham dat deur sy nageslag sal alle nasies geseen word. In Jesaja 49 se God dat Hy sy heerlikheid deur die Joodse volk aan ander toon. 31. Dit was die Jode se verantwoordelikheid om God se heerlikheid aan die wereld bekend te stel. Hulle hele geskiedenis het die verhaal vertel van wie God is en wat sy doel met die wereld is. Maar hulle was net bekommerd oor hul eie aanbidding. En die res was vergete. 32. In plaas daarvan om te fokus daarop om ander na God toe te trek was hulle net bekommerd oor hul eie verhouding met God. Die heidene se enigste plek van aanbidding is weggeneem en in ‘n rowersnes omskep en so het hulle selfs die heidense gelowiges in die tempel verhoed om by God uit te kom. 33. En hier is ons, 2000 jaar later. En ons moet onsself die volgende vraag vra: Het ons dooie vyebome geword? Het ons as kerk so behep geraak met ons eie aanbidding, tradisies, gewoontes, moets en moenies, dat ons vergeet het wie ons geroep is om te wees? Ons het vergeet dat die eerste woord van Jesus se groot opdrag is GAAN! 34. Het ons vergeet dat die verantwoordelikheid van dissipels is om meer dissipels te maak? U sien, Jesus wil seker maak dit gebeur nie met ons nie. Dat ons nie maar vyebome gaan word wat ons doel vergeet nie. Dat ons nie so gefokus sal wees op ons eie dinge en wat ons in ons kerk doen en ons eie verhouding met Christus dat ons vergeet ons word geroep om buite die mure van geboue te beweeg en God se koninkryk na die wereld te neem nie. 35. Ons moenie toelaat dat ons net dooie vyebome word nie. Ons moenie toelaat dat die kerk net ‘n dooie vyeboom word nie. Hierdie is ‘n geleentheid wat Jesus ons gegee het om anders te wees, getransformeerd, sodat die wereld Hom in ons kan herken. As ons nie die koninkryk van God na mense buite hierdie mure neem nie, is ons niks anders as ‘n dooie vyeboom nie. En ons het gesien wat Jesus daarvan dink….