Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Paulus se lyding in sy roeping Hand 26:16-18 & Fillippense 3:7-11 1. Paulus is sekerlik een van die interessantste karakters in die Skrif. Hy het dinge net heeltemal anders gedoen as die dissipels, en daarom het hy soms ook vasgesit met hulle en van hulle verskil. Ons dink aan die vergadering in Jerusalem en die voorval tussen Paulus en Petrus in Antiogië. 2. Maar Paulus het ‘n spesifieke roeping van God ontvang. Miskien het God hom gebruik omrede hy so ‘n sterk getuienis van bekering sou gehad het. Hy was ‘n vervolger van die kerk en skielik verkondig hy die evangelie wat hy wou uitroei. Hoe dit ookal sy, Paulus was deel van God se plan om die evangelie oor die hele wereld te versprei, veral onder die heidene. 3. Ons lees egter in Hand 13:46 dat Paulus eers die evangelie aan die Jode verkondig het en daarna na die heidennasies oorgegaan het. In Gal 1:16 skryf Paulus dat God besluit het “…om sy Seun aan my te openbaar sodat ek die evangelie oor Hom onder die heidennasies sou verkondig”. Uit Rom 11 blyk dit dat hy onder die heidene gewerk het met die doel dat sy sukses onder die heidene die Jode jaloers sou maak. 4. Maar daar is heelwat meer oor Paulus se roeping. En dis waarby ek wil stilstaan vanoggend. Ons moet onthou dat Paulus sy roeping onder erge lyding uitgevoer het. In Hand 9 het Christus self gese dat Hy self vir Paulus sal wys hoeveel Hy vir sy Naam moet ly. En Paulus het dit aan sy lyf gevoel wat Christus bedoel het met hierdie woorde. 5. En wanneer God in ons gelese gedeelte vanaand belowe dat Hy Paulus teen Israel en die heidene sal beskerm word daar alreeds gesinspeel op die lyding wat vir hom wag in die uitvoering van sy roeping. Die verhale wat in Handelinge vertel word oor sy lyding bevestig dat dit baie lyding was en ook baie erge lyding wat hy deurgegaan het. In 2 Kor maak Paulus self later ‘n lys van die lyding wat hy deurgegaan het ter wille van die evangelie. 6. Maar Paulus besef ook dat hy nie ‘n uitsondering is nie. Op die terugreis na sy eerste sendingreis besoek hy die gemeentes wat hy gestig het. Hy versterk hulle geloof en spoor hulle aan om getrou te bly in die geloof. In Hand 14:22 spreek Paulus hierdie gelowiges toe met die volgende woorde: “Ons sal eers deur baie verdrukking moet gaan voordat ons in die koninkryk van God kom”. Waarom het hulle sulke aansporing nodig? 7. Ons lees dan meer kere in Handelinge van die apostels en ander gelowiges wat ly terwille van hulle geloof, en selfs in hoofstuk 5 van die apostels wat bly was “…dat hulle bevoorreg was om terwille van die Naam van Jesus vernedering te ly”. 8. En noudat hierdie punt gemaak is wil ek die vraag vra? Ons hier in die 21ste eeu. Waarom volg ons Christus? Wat leer ons uit dit wat ons sopas oor Paulus en die apostels gelees het? Werk dit nie maar meestal andersom by ons nie? 9. Paulus vertel vir die jong Christene hoeveel hulle vir Christus sal moet ly. Maar wat vertel ons vir mense? Vertel ons nie eerder vir mense dat God alles vir hulle sal doen, hoe Hy hulle probleme sal oplos en bewaar en seën en voorspoedig maak as hulle Hom sou kies nie? En dan kies hulle Hom net om uit die moeilikheid uit te kom. Waarom anders sal mense kerk toe stroom as dit sleg gaan en wegbly wanneer dit weer goed gaan? 10. Maar ons mis iets baie belangriks uit die les van Paulus. Paulus se moeilikheid het eers begin toe hy Jesus begin volg het! Hy het Christus nie begin volg om uit die moeilikheid uit te kom en voorspoed en geluk te probeer kry nie. Hy het vir sy gemeentes verkondig : “Ons sal eers deur baie verdrukking moet gaan voordat ons in die koninkryk van God kom”. Maar waarom volg hy dan vir Christus? 11. Paulus skryf breedvoerig daaroor in Fillippense 3. Ons lees vanaf vers 5-11. Hy was ‘n gelukkige en voorspoedige man met die vooruitsig van ‘n pragtige toekoms in die Joodse godsdiens gemeenskap. Hy was besig om met oorgawe die wet van God tot in die fynste besonderhede uit te voer. Maar al hierdie dinge het hy prysgegee en wel om die volgende redes: Terwille van Christus Om Christus te ken Om Christus as enigste bate te verkry Om een met Christus te wees Om die krag van Christus se opstanding te ervaar Om deel te he aan Christus se lyding Om aan Christus gelyk te word in sy dood En omrede hy uitgesien het daarna om deel te he aan die opstanding (7-11) 12. Dit is heeltemal ‘n ander prentjie as die “liewe Jesus” wat al jou trane sal afdroog. Die beeld wat ons van Jesus uit die Kinderbybel gekry het. Paulus het by Christus sy trane gekry. Sy swaar het begin toe hy Jesus begin volg het. Maar waarom het hy Christus dan gevolg? Terwille van Christus self! Lees maar weer die lysie in Fil 3:7-11. Christus self kry ‘n greep op ‘n mens se lewe. Jy raak so uitverkoop aan Hom dat niks anders meer sin maak of nodig is nie. Hyself maak die verskil. 13. ‘n Mens kan van die ander kant af ook daarna kyk. Ons kan hierdie lysie van redes op ‘n ander manier opsom. Paulus het nie vir Christus begin volg omdat Hy al sy probleme sou wegneem en hom voorspoedig maak nie. Hy het Hom begin volg oor alles wat Christus klaar vir hom gedoen het, en ook oor dit wat die Here in die einde vir hom beloof het. 14. Wat het Christus vir hom gedoen? Fil 3:9: “Vrygespreek omdat ek in Christus glo”. Dit is redding, versoening, vergifnis deur die kruisdood van Christus. Dit alleen is oorgenoeg rede om Hom met jou hele lewe te dien, al kry jy net teenstand en lyding. En wat wag in die toekoms? Vers 11 en 14 van Fil 3: Die opstanding en die hemelse prys! Dit is gawes wat op ‘n heel ander vlak le as troos en voorspoed in hierdie lewe. 15. Miskien is dit nou die tyd dat ons Jesus ernstig moet opneem as Hy se dat om Hom te volg beteken dat ons ons kruis moet opneem. Dat om Hom te volg beteken kruisdra. 16. Daar is baie meer as net hierdie lewe. Deur die doop en die geloof deel ons nou reeds in sy opstandingslewe, al is dit onder baie verdrukking en lyding. Paulus het Jesus begin volg omdat die Here hom geroep het. Hy het wel geweet wat die Here klaar vir hom gedoen het. En dit was genoeg rede om Hom te volg, al het dit hom wat ookal gekos. 17. Is daar sterker getuienis nodig teen die voorspoedsevangelie wat so gereeld in ons kele op sosiale media afgedruk word, teen die gedagte dat jy net aan die Here gehoorsaam moet wees en dan sal al jou probleme verdwyn? Nee geliefdes, om Christus te volg, ek praat van waaragtig te volg, vra opoffering. Dit vra selfverloening. Dit vra dat ek meer sal gee as om bloot net my daaglikse dagstukkie te lees en gebedjie op te se. Volg vra alles van myself. ‘n Totale oorgawe. 18. Toe Dawid en sy manskappe by die dorsvloer van Arauna aankom en hom ‘n offer maak om dit te koop, het Arauna die dorsvloer vir Dawid gratis aangebied om ‘n altaar vir die Here te bou. Dawid se antwoord was: Ek bring nie ‘n offer aan my God wat my niks kos nie. Dis hoekom dit ‘n offer genoem word. Dit kos iets. Daar is ‘n prys wat betaal moet word. 19. Dieselfde Paulus gee die opdrag in Rom 12. Gee julleself as lewende en heilige offers wat vir God aanneemlik is. Miskien het ons die evangelie van Christus goedkoop gemaak sodat mense dit makliker aanvaar. Miskien omdat ons dink dat omrede Jesus die volle prys betaal het ons nou net in luuksheid en in die beloning kan leef. 20. In Lukas 14 bring Jesus hierdie idee nog sterker uit. Hy se aan sy dissipels dat indien hulle Hom nie liefhet bo hulle eie vader en Moeder en vrou en kinders nie, is hulle nie werd om sy dissipels genoem te word nie. IN die oorspronklike grondteks gebruik Jesus ‘n hiperbool om dit te verduidelik. MAW ‘n oordrewe vorm: Hy se in die grondteks dat as iemand nie vader en Moeder en vrou en kinders en broer en suster, ja selfs sy eie lewe HAAT nie, is hulle nie werd om sy volgelinge te wees nie. 21. Wat kommerwekkend is geliefdes is dat ons die evangelie vandag as ‘n tipe spaarwiel beskou. Om Jesus te volg is net nodig wanneer dit sleg gaan. Want dis hoe ons geleer is. Dis hoe die evangelie meestal van kleins af aan ons opgedis is. Jesus is daar om ons voorspoedig te maak, gelukkig te hou, ens. Maar dis nie die redes waarom Paulus Jesus gevolg het nie. 22. Toe Paulus Christus begin volg het het hy beslis eers ‘n kosteberekening gedoen. Dieselfde Lukas 14 gee ons goeie raad wat ons maar ter harte kan neem as ons besluit om Jesus te volg. Jesus sê voordat ons die besluit maak, gaan bereken eers die koste. Hy sou dit nooit gesê het as daar nie ‘n koste aan verbonde was nie. Voordat jy my volg, sê Jesus, gaan dink eers mooi daaroor. Gaan besluit of jy die prys gaan betaal. 23. Ek wil amper sê as ons nie besig is om ‘n prys te betaal bloot omdat ons Jesus voorop stel nie, in watter vorm ookal geliefdes, is ons glad nie besig om Hom te volg nie en bluf ons onsself. 24. Maar Paulus is duidelik. Al is die belangrikste rede om Jesus te volg dit wat Hy reeds vir ons gedoen het, gaan ons nie verniet ‘n prys moet betaal nie. Die heerlikheid wat wag is ver groter as die lyding wat ons nou moet verduur. Romeine 8. 25. Het u die kostes realisties bereken? Het u besef wat die prys is wat u en ek moet betaal om Jesus werklik te volg? En is u bereid om dit te doen? Om gespot en verneder te word deur vriende en kollegas, of selfs familie. 26. Kom ons gaan bereken die kostes weer. En as ons ja sê vir die prys wat ons moet betaal, moet ons sorg dat Christus ons alles word. Nie net wanneer dit sleg gaan of ons hulp nodig het nie. Hy moet altyd alles wees!