Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Psalm 107 Vandag loof ons die Here. Dit is die hele doel van ons saam wees vanoggend. Om die Here te loof. En hoekom sal ons nie die Here loof. Hy is amazing. Hy is wonderlik. Sy persoonlike betrokkenheid by ons elkeen. Sy liefde. Die feit van die genade op genade, tweede, derde, hoeveelste kanse wat God ons gee, maak dat ‘n mens net wil jubel en juig oor Hom. Ons wil vir U, Here, dankie sê vir soveel mooi in ons lewens. Ons wil U, Here, dankie sê vir gister se Somerfees. Vir U teenwoordigheid. Ons loof U Here vir Wie U is. Vir U grootheid en dat U so absoluut wonderlik en met soveel liefde ons hanteer. En as jy wonder of ek nou gebid het, nee nie per definisie nie, ek verseg net om dit vanoggend oor die Here in die 3rde persoon te sê terwyl Hy hier teenwoordigheid is. Dit is tog ons belydenis: God is hier teenwoordig. Ons wil soos Paulus, sê, dankie Here, dankie vir elkeen wat gister gewerk het of op die een of ander manier bygedra het tot die sukses van die dag. Ons loof die Here vir antwoord op gebede. Vir uitkomste. Genesings. En genade op genade. Ek wil jou uitnooi om iewers vandag te gaan nadink oor jou lewe tot hier toe, oor die feit dat jy hier is. Daar is ‘n rede hoekom jy dit gemaak het. God is daardie rede. Ek wil jou aandag trek na God se vermoeëns. 33 Hy verander waterryke gebied in woestyn, fonteinwêreld in dorsland, 34 Hy maak vrugbare grond brak oor die slegte dade van dié wat daar woon. 35 Hy verander woestyngebied in rietvlei, dor land in fonteinwêreld Psalm 107:33-35 ‘n Totale omkeer. Kom ek gee jou nog voorbeelde: Jesus is by ‘n troue in Kana. Die wyn raak op. Maria vra haar Seun om die bruidegom se verleentheid te red. Jy ken die deel. Jesus wat die klipkanne vir reinigingswater laat vol maak en die water in goeie wyn verander. Tussen 540 en 600 liter goeie wyn. (Joh 2). Die klem op die goeie is belangrik. En dink aan die siekes gesond gemaak, die skares wat kos gegee is deur ‘n wonderwerk. Luister weer: 19 Hy het die menigte beveel om op die groen gras te gaan sit om te eet. Toe neem Hy die vyf brode en die twee visse, kyk op na die hemel en vra die seën. Daarna het Hy die brood gebreek en dit aan sy dissipels gegee, en hulle het dit aan die mense gegee. 20 Al die mense het geëet en genoeg gekry, en hulle het nog twaalf mandjies vol bymekaargemaak van die stukke brood wat oorgebly het. 21 Daar was omtrent vyf duisend mans wat geëet het, afgesien van die vrouens en kinders. Mattheus 14:19-21 Jesus wat die storm stil gemaak het. Matteus 28: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. …. 20b En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.” Mattheus 28:18 + 20b. God is groter as wat ons ons kan indink en niks maar niks is vir God onmoontlik nie. Hy is by jou. Hy het jou lief. Met herhaling hoor ons in psalm 107 van God wat uitkoms gee. God wat red. Selfs mense wat hul rug op Hom gekeer het, Sy leiding in die wind geslaan het en hulle verset het teen God, ontdek dat Hy hulle red. God is net aangrypend!! Die vlakke van Sy omgee vir die wat arms is, vir mense in nood, en as ek mag byvoeg, vir mense in die algemeen, is kosbaar. As ek dink hoe Hy ons as klein, baie klein ou deeltjie van Sy liggaam deur die jare en nou onlangs nog deur Covid gedra het, dan raak ek oorstelp met lof en dank. Ons dink te klein oor God. God is groter. God is nader aan jou en my as wat jy besef. God se vermoeë om die natuur te kan omkeer, om te demonstreer dat Hy kan ons red en help in alles, is aangrypend. Dit maak ‘n mens intens dankbaar dat die Almagtige God ons tot Sy knders aangeneem het, vir ons intens liefhet en ons help. Gister se Somerfees is vir my net nog ‘n rede tot lof en dankbaarheid. Hy het ons gehelp. Hy het ons die krag gegee om te werk. Hy het Sy hand sagkens oor ons gehou. God kan omstandighede verander. Ook die natuur. Hy vat vleilande en maak dit woestyn. Woestyn en keer dit om in rietvlei en fonteinwêreld. God kan en wil jou lewe verander. Positief maak. Jesus se mens word is die sterkste bewys van God se liefde vir jou en die mooi wat Hy jou wil bied. Ek wil sê, uit my eie ervaringe ook: hou op spook en spartel en op jou eie vermoeens staatmaak. Gee jou oor aan God. Waar jy ookal in jou lewe is … gee jou oor aan God. Hy doen die onmoontlike. Hy maak heel. Hy vertroos. Hy gee hoop. Hy laat lewe. Die wêreld waarin ons lewe is nie maklik nie. Die Somerfees het sy probleme gehad. Maar ons stap weg van dit met ‘n dankbare hart oor God se genade en seën. En ek bid dat jy so deur jou lewe beweeg: Met dankbare hart teenoor die Here. Al jubelend en juigend oor Hom. Ek wil eindig waar die digter mee begin. Aan God se liefde is daar geen einde nie! Dit is Psalm 107: 1. Psalm 118 sê dit ook. Johannes 13 vers 1, skryf Johannes oor Jesus: Hy het sy eie mense wat in die wêreld is, liefgehad, Hy het hulle tot die uiterste toe liefgehad. Joh 13:1. En dan begin die kruisverhaal waar God Sy liefde tot die uiterste toe neem. Psalm 107 volg “aan sy liefde is daar geen einde nie” op met vier verhale van mense wat in groot moeilikheid beland het. Party deur hulle eie toedoen, party agv rebellie, storms in die natuur, en elke keer staan daar: “In hulle nood het hulle na die Here geroep en Hy het hulle veilig uit hulle ellende gelei.” Keer op keer: Hulle het in hulle nood na die Here geroep. En keer op keer: Die Here het hulle gered uit hulle ellende; hulle op die regte pad gebring (7); hulle boeie gebreek (v 14); hulle gesond gemaak; en selfs die stormwind stil gemaak (v29). Wat my aangryp is dat dit oa mense is wat hulle teen God verset het. Vers 11. Hulle het God se bevele geignoreer en die leiding van God in die wind geslaan. Dit is moeilik om te bepaal of die rebelse optrede in vers 17 ook direk teen God was soos die geval is in vers 11. ‘n Mens hoor dat al het jy selfs jou rug op God gekeer, en al is dit wat jy beleef ‘n straf wat God oor jou gebring het, as jy tot God roep om genade, ontvang jy dit. Ons moet die Here loof. Ons moet doen wat vers 21 en 22 sê: 21 Hulle moet die Here loof vir sy troue liefde, vir sy wonderdade wat Hy aan mense doen. 22 Hulle moet dankoffers bring en met blydskap van sy dade getuig. Psalm 107:21-22 Die lof aan God is meer as net sing in ‘n Sondag erediens. Meer as net privaat dankie sê gesprekke tussen jou en God. Ons moet die oorvertel aan mense. Getuies wees van hierdie wonderlike God wat ons red en ons dra in goed en sleg. Dit is kosbaar om te sien in die Psalmbundel, hoe die digters keer op keer onderneem om in die samekoms van die gemeente, God se lof te besing. Nie net in eie huise. In die samekoms. God is die rede hoekom ons kan sing. Gaan lees asb die Psalm in sy geheel. Sien die uitkomste en die ommekeer. God is die rede dat dit kon gebeur. En dan, as jy deur die vier groepe mense gelees het, dan draai die Psalm. Vers 33 – 41 vertel vir jou nog iets meer van God. En ons moet kennis neem hiervan en dit vasknoop in ons. Let op wat God doen. Maak jou oë oop. Sien dit raak. En gee jou oor aan Hom. Dis die boodskap van Psalm 107. Kom ons loof die Here. Ek gee geleentheid vir gebede van lof en dank.