Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Esegiël 47: 1 – 12 Lees ook Esegiël 43: 1 – 5, Johannes 7: 38. Ek lees hierdie drie dele saam want dit gaan oor water en God wat nuutmaak. Ons bou voort op verlede week se kaal bene wat vleis en vel en dan gees ontvang. Daar was eendag twee windpompe. Dieselfde boer het hulle opgesit. Albei is opgerig op boorgate wat ewe diep geboor is tot in dieselfde sterk aar. Hulle het nie ver van mekaar gestaan nie. Hulle moes waterpomp vir die dam en die vee en vir die plante om hulle, vir alles op die plaas. Die Een was trots en vol van homself. Hy het dinge op sy manier gedoen. Hy is mos nie vandag se windpomp nie. Hy weet wat werk en wat werk nie. Niemand gaan hom voorsê wat om te doen en wat om nie te doen nie. Die ander windpomp het stil stil gedoen wat die boer van hom gevra het. Waterpomp vir die damme en die vee en die lande. Elke keer as die wind waai moes hulle hulself so draai dat hulle vinne die wind kan skep sodat die wind die windpompwiel kan draai en die water so van diep onder die grond uit kan pomp. Die Stil windpomp het baie water gepomp. Selfs al was dit maar ‘n ligte briesie wat gewaai het. Die boer het al hoe meer aandag aan hierdie windpop gegee het. Hy het gesorg dat alles geolie is. As dinge breek het hy dit dadelik reg gemaak. Die ander windpomp was nie so. Die boer was al spyt hy het die windpomp opgesit. Dit is nie dat daar nie wind was nie, dit was net dat die windpomp geweier het om sy kop na die wind te draai. Wie is die wind om vir hom te sê hoe hy sy kop moet hou? Hy sal water pomp as hy lus het. Sy boetie kan dit mos maar doen. As die wind vir hom reg waai en as hy die dag lus het sal hy pomp. So het die jare verby gegaan. Die hardekop windpomp het gekla dat die boer van hom vergeet het. Hy het begin roes. Die roes het alhoe erger geword. Hy het almal blameer. Die wind, die son, die reen ... Dit is hoekom hy roes. Selfs die boer moes hoor dat daar nie so iets is soos n boer nie want kyk hoe gaan dit met my, het die windpomp gesê. As daar n boer was sou ek nie geroes het of so gelyk het nie. Sou die wêreld om my ook mooi groen gewees het. Snaaks dat sy boetie nog so goed gelyk het. Om die windpompe was dit ook interessant. Langs die hardkoppige een het daar bitter min gegroei. Die bietjie plante wat daar was was verdroog. Om die ander windpomp was alles groen en mooi. Selfs die damme het oorgeloop. Kan ek net weer iets herhaal: Die Boer het die windpompe opgesit. Die Boer het gesorg dat hulle by die water kan uitkom. Die Boer het albei hanteer soos hulle hanteer wou word. En soos hulle hulle ding gedoen het, of nie gedoen het. Hulle bestaan was aan die Boer te danke. Selfs al het die een gesê daar is nie iets soos ‘n boer nie. Ek het my hierdie week moes afvra: Is ons so ingestel op die Heilige Gees dat Hy ons kan gebruik? Is ons harte so na die Gees gedraai dat Hy Sy lewende water deur ons kan uitpomp na ander? Die visioen wat Esegiel hier sien is pragtig. Dit is ‘n pragtige prent van heel word. God wat alles nuut maak. Van woestyn na lushof vol bome en groei en lewe. Ek wil die groot woord van Johannes 3 gebruik: ‘n wedergeboorte. Jy weet nie waar dit vandaan kom of hoe dit werk nie. Jy weet net dit gebeur. Dit gebeur by God. Waar God is. Esechiel sien in die visioen hoe die Dooie See omgekeer word in ‘n vars water meer, vol vis. ‘n Mens moet die oorvloed van die beeld raaksien. Baie vis. Net die kuile en moerasse om die Dooie See sal sout bly soos dit tans die geval is. Maar waar die water vloei kom daar lewe. Bome, groot bome. Vrugtebome wat dra en dra. Blare wat gesondmaak. Ons moet die beweging van die water raaksien. Waar dit vloei is daar lewe. Waar die water stilstaan soos in die kuile en moerasse, is daar niks lewe nie. Kom ons praat vir ‘n oomblik oor die water. In 36: 24 is dit reinigingswater. In 47 is dit water waardeur God alles vernuwe. In Johannes is die strome water waarvan Jesus praat die Heilige Gees waardeur God ons wedergebore maak. Wat jy ook vanoggend moet raaksien is dat God net teenwoordig hoef te wees vir al die dinge om te gebeur. Kom ek stel dit beter: God is die Bron van waar die water kom. God is die een wat die lewe gee. Waar God is, daar gebeur amazing dinge. Waar God is, is lewe in oorvloed! Wil jy regtig elders wees? 1. Oorvloed In Esechiel 43 is God in die tempel. Vol mag en glorie. Selfs net die visioen van God se verskyning het so ‘n effek op die profeet gehad dat hy plat neergeval het. So groot en oorweldigend is God. Soos die visioen verder ontvou sien hy die water wat onder die tempel se drumpel uitsyfer. En water syfer onder die Oospoort uit. En dan lees jy van water wat meer en meer word. Enkeldiepte. Kniediep. Halflyf en dan hopeloos te diep. Sover hierdie water gaan word alles heel en nuut. God laat groot hoë bome staan. Allerlei vrugtebome. Die vrugtebome se blare verlep nie en hulle vrugte raak net nie op nie. Die blare bring genesing. In Openbaring 22:2 lees ons ook van so ‘n boom en van ‘n vol rivier. “1 Toe het die engel my die rivier met die water van die lewe gewys. Dit is helder soos kristal en dit stroom uit die troon van God en van die Lam uit. 2 Tussen die hoofstraat van die stad aan die een kant en die rivier aan die ander kant staan die boom van die lewe. Hy dra twaalf keer per jaar vrugte: elke maand lewer hy sy vrugte. Die blare van die boom bring genesing vir die nasies” Tussen Esechiel en Openbaring staan Jesus Christus. In Hom, so leer ons by Johannes, in Hom is die Lewe. Lewe in oorvloed (Joh 10). In Jesus se woorde is God die Boer, Jesus self die wingerdstok en ons die lote wat moet vrug dra. In Johannes 4: 11 is Jesus die lewende water. As jy die lewende water drink sal jy nooit weer dors kry nie. In Johannes 7: 38 sê Jesus dat as ons in Hom glo dan laat Hy Strome lewende water uit ons vloei. “Op die laaste dag, die groot dag van die huttefees, het Jesus daar gestaan en uitgeroep: “As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink! 38 Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste vloei. ” 39 Hiermee het Hy na die Gees verwys, want die mense wat tot geloof in Hom kom, sou die Gees ontvang. Die Gees was nog nie uitgestort nie, omdat Jesus toe nog nie verheerlik was nie. Hou in gedagte dat Hy Sy Heilige Gees, die Gees van God in ons laat bly en ons liggame tot tempel van God maak. Sy lewende water sal uit ons vloei. Kyk vanoggend in jou gedagtes om jou rond. Hoe lyk die mense om jou? Hoe lyk die wêreld om jou? Lyk dit asof daar water is … water wat laat lewe en als groen maak? 2. Die Bron. Ek weet jy kan dit nie uit jouself doen nie. Wel ek kan nie. Ek het ‘n bron nodig. Ek het nodig om my oop te maak vir die Lewende God om beheer oor my te neem in elke aspek sodat die mense om my en my omgewing se dors geles kan kom. Ek het nodig om my hart die heeltyd na God gedraai te hou. Want die oomblik wat ek elders toe draai, stop die water. Esegiël wys vir ons iets belangriks: God is die bron. Waar God is gedy die lewe. Waar God weg gestoot word kom donkerte en slegte goed. Waar God geignoreer word en of net uiterlik gedien word, kry jy misdaad, ouens wat teveel drink, geweld, kinders wat verkrag word. Skeuring. Gaan lees maar Galatiers 5: 19 en verder. Ons het in hierdie land net die prentjie vererger. Nou is ons daar waar mense sê daar is nie ‘n God nie. God bestaan nie want kyk hoe lyk die wêreld. Waar is die lewende water? Waar is die waar word van Esechiel se visioene? Dalk moet ons aan diegene vra: Is dit omdat God nie wil doen soos jy wil nie? Daarom bestaan God nie meer in jou opinie nie. Hier teenoor is gelowiges wat in God go omdat Hy God is. En hulle wil net vir God in hulle lewe hê en Hom liefhê. Hulle ontdek dat daar strome lewende water ook uit hulle vloei. Dikwels sonder dat hulle dit besef. En stadig maar seker verander alles om hulle. As dit jy is, gaan jy deur God gebruik word om hoop te bring. En vrede. En heel word. Maar solank jy jou eie ding wil doen op jou manier, bly dit woestyn om jou. Ek hoop jy het raakgesien dat al het God alles in die dooie See verander, het die moerasse en fonteine sout en nutteloos gebly. God sal dit verander tot ‘n lushof met groot hoe bome, en vrugtebome. Die Dooie See sal vol vars water wees en vol vis. 3. God roep jou. God nooi jou vandag om deel te wees van Sy groot wonderwerk. Kla oor die land help nie. Ons doen dit al hoe lank. Niks gaan verander nie. Wat dinge gaan verander en hierdie land gaan red, is as ons, ek en jy, onsself totaal oopmaak vir God sodat Hy Sy lewende water deur ons kan stoot na alles en almal om ons. Sy vergifnis. Sy liefde, selfs vir ons vyande, deur ons geleef. Jy kan vandag kies vir die Lewe of daarteen. Jy kan vandag kies om die windpomp te wees wat stil stil doen wat die Boer vra of die hardkoppige een wat alles self soos hy wil doen. Dit is jou keuse. Wat jy nie kan doen is om God te verwyt vir hoe jou lewe lyk. Vir wat in die wereld gebeur. Lushof of woestyn. Lig of nag. Jou besluit. By God is die lewe.