Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Esegiël 37: 1 – 14 I do not wrestle anymore, I only wait, only wait for You to bring my dry bones into dancing once again. Joyce Rupp Ek het dit verkeerd gehad. Ek het na die land gekyk, soos met Israel, so met SA. Verdor, so diep in die moeilikheid dat dit soos ‘n laagte vol doodsbeendere begin lyk. Ek meen vers 11 wys ‘n mens tog in daardie rigting: 11 Die Here het vir my gesê: “Mens, al hierdie bene stel die hele Israel voor. Hulle sê: ‘Ons bene is uitgedroog, ons het geen hoop meer nie, dit is klaar met ons.’ Eseg 37:11 En dit was waar, want dis teen die einde van die jaar 586 V.C., rondom die val van Jerusalem en ballingskap is op hulle. Slegter as dit kan jy jou moeilik indink. Dis nag in hulle lewens. ‘n Mens moet hulle angs aanvoel. Probeer om hulle angs te verstaan. Hulle verloor alles. En baie sterf. Hulle besef, dis klaar met ons. Nou vat die Here sy profeet, en Hy bring hoop. Ek het dit verkeerd gehad in die beweeg van Israel na ons situasie. Ons kyk teveel asof ons van buite af na binne kyk, van buite af kyk na waar mense verkeerde dinge doen, ander hul lewens verloor, geloof verloor of net laat los, en ons sien van buite af hierdie toneel waar mense word soos doodsbeendere. Die fout is dat ons in die middel van hierdie slegte goed sit. Leë eredienste, misdaad, korrupsie, alles wat verkeerd is in hierdie land. Ons leef elke dag tussen mense wat vêr van God is, selfs al is hulle lewens mooi. Dit raak ons direk. Dink jou in as ‘n gelowiges wat aan God vashou, God is jou alles. Jy glo. Jy het Hom lief. En dan val jou stad en ballingskap is dalk net jou toekoms. Dit maak dat hierdie boodskap is ‘n boodskap vir my, vir jou en dan vir die res. Wat moet ons hoor? Dat ons deel van die probleem is? Dat ons mense se sondes en onverskilligheid jeens die Here, ons gaan raak? Dis moeilik om te sê. Dis moeilik om te weet tot ons daar is. Maar God weet. Dit is okay om nie te weet nie solank God weet. Wat ek dood seker is ons moet hoor is dat God het ‘n plan. God het ‘n plan toe gehad en vir vandag het God ‘n plan. God weet wat wat Hy gaan doen. Hy is reeds besig met dit. Ons moet hoor dat dit God is wat die plan het. ‘n Plan vir herstel. ‘n Plan vir nuwe lewe. ‘n Plan waarin Sy kinders Hom weer passievol kan dien. In hoofstuk 36 word ‘n klomp beloftes gegee. Dis dalk beter om van uitkomstes te praat. Want God sê dit is hoe dit gaan wees. Kyk self. • 36: 25 Ek sal reinigingswater oor julle uitgooi sodat julle rein kan word. • Ek sal julle reinig van al julle onreinheid en van al julle afgodery. • 36: 26 Ek sal julle 'n nuwe hart en 'n nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle 'n hart van vleis gee. • 36: 27 Ek sal my Gees in julle gee en Ek sal maak dat julle volgens my voorskrifte leef en my bepalings gehoorsaam en nakom. • 36: 28 Julle sal in die land woon wat Ek aan julle voorvaders gegee het, julle sal my volk wees en Ek sal julle God wees. • 36: 29 Ek sal julle bevry van alles waarmee julle julle verontreinig het, Die hartseer is dat vir baie mense dit is wat hulle juis nie wil hoor nie. Hulle soek materiële dinge. Dis tog wat mense najaag. God onderneem ook dit: • 36: 29 Ek sal die graan aanspreek en sorg dat dit baie is; • Ek sal nie weer hongersnood oor julle bring nie. • 36: 30 Ek sal sorg dat daar baie vrugte aan die bome is en groot oeste op die lande … • 36: 33 Ek sal sorg dat julle stede weer bewoon word … Dit alles begin by ‘n nuwe hart, ‘n hart wat voor God rein is. Esegiël 36 sê nog iets wat ons aandag aan moet gee, en dit is God se motief om weer goed te doen aan sy weerbarstige mense. Dit gaan ons help om nie ander te wil veroordeel of self verwaand te word oor ons sg geloof nie. Ek wil dit vir ons lees: 22 Daarom, sê vir Israel: So sê die Here my God: Dit is nie ter wille van julle dat Ek optree nie, Israel, maar ter wille van my heilige Naam wat deur julle oneer aangedoen is onder die nasies waar julle gekom het. 23 Ek sal die heiligheid van my groot Naam laat blyk wat onder die nasies in oneer gekom het. Julle het my Naam oneer aangedoen onder die nasies. Wanneer Ek my heiligheid laat blyk in wat Ek met julle doen voor die oë van die nasies, sal hulle besef dat Ek die Here is,” sê die Here my God. Esegiel 36:22-23. Daarom het ek hoop. Hoop vir die gemeentes van die Here, ook vir ons as een van Sy gemeente hier in Deneysville, en vir die land. Maar, kom ek maak die hoop nog duideliker. Ons verdien nie die genade nie. Ons verdien nie die herstel en goeie toekoms nie. God gee dit, God doen dit omdat dit is wie God is. En ook sodat die nasies Hom reg kan leer ken en leer liefkry. Wat sê die Here nou eintlik hier? Waaroor gaan Esegiël 37? Die Here sê: Ek het ‘n plan. Al lyk die wêreld chaoties, Ek het ‘n plan vir jou lewe. En vir My volk se lewe. Ek is in beheer. Wat ek en jy moet besef is dat God se plan dramaties en drasties anders is die tipe planne wat ons sal maak. Dit is ‘n plan wat ons nie kan uitvoer nie. ’n Plan wat net God kan uitvoer. Esegiël 37 sê God voer self die plan uit. As dit God se plan is, wat dan van ons as mense? Wat verwag Hy van ons? Die Here roep Esegiël om as profeet, die Here se woord te spreek sodat sy Gees die bene kan laat lewe. Hy moet dus aktief deelneem aan die herstel van Juda. Die Gees van die Here gee nie net vir die profeet krag nie, soos in, om hom die krag te verskaf om op sy voete te kom nadat hy platgeval het op die aarde in 2:2 en 3:24. Maar ook krag om te profeteer en as profeet oor die beendere op te treë. So gee die Gees ook nuwe lewe aan sy volk. Vers 7 tot 10 - Die Woord van die Here veroorsaak ’n beweging, ’n gedreun – die bene word weer ’n liggaam van vleis, sening en vel. Woody Allen sou gesê het: “80% of life is just showing up!” Om deel te wees van God se plan, moet ons daar wees…beskikbaar wees. Opdaag om deur Hom gebruik te word. En dan, nadat jy opgedaag het, wag jy op God. Die doodsbeendere moes wag op God! Wag op God, in die Bybel, beteken, wees besig om jou geloof te lewe, bv doen liefde aan ander, wees by die samekomste met die Here, hou aan met bid. Leef die Here. Joyce Rupp se woorde maak nou selfs nog meer sin: Ons worstel nie langer met alles wat verkeerd loop nie. Ons wag op U Here, om ons droeë beendere weer in beweging te bring en te laat dans vir U. Ons wag op U Here, om vir my, vir elkeen van ons hier, met hart en siel aan U te bind en ons U passievol te laat liefhê. Ons wag op God want dit is God se inisiatief. Ons reageer op God met die nuwe harte, die sagte harte, wat Esegiël 36 ons belowe het. En Jesus ‘n werklikheid in ons lewens maak. En ons bly bid en ons bly beskikbaar vir die Here te wees. Kan iets vandag nog verander? Jy vra my of dinge kan verander. Kan mense wat weg gedryf het van God af, Sy gemeentes versaak het, God weer vind en liefhê. Kan mense wat teen die sg kerk gedraai het, weer tuiskom in God se eredienste? Kan die haat wat in die land is weggespoel word? Gaan misdaad onder beheer gebring word? Kan ons God nog vind of is dit te laat? En ek antwoord met Esegiël se woorde in vers 3: “Nee, dit weet net U, Here my God.” Daar is ‘n nederigheid, dalk selfs ‘n gevoel van oorweldig wees, in hierdie woorde van Esegiël. Tog is die woorde van iemand wat weet God het die antwoorde. Dit moet ons vanoggend leer by Esegiël: God weet wat aangaan. God weet wat volgende gaan doen. By Paulus leer iets wat ons kan dra deur ons tyd van wag op God: God se genade is ook vir ons genoeg: Sy krag kom juis tot volle werking wanneer ons swak is. (2 Kor 12). Net God weet of ons weer, en wanneer dit weer so sal wees, dat ons bv vroeg sal moet kom om sitplek hier te kry, want die gebou gaan te min plek hê vir mense wat God aanbid. Net God weet of ons weer in vrede en voorspoed in hierdie land sal kan leef. Maar ons sien ook dat God ‘n plan het en ons wag op God. Ons wag op die Here om Sy Naam in ons en in ons gemeenskappe te kom herstel. En ons treë op soos Hy ons voor sê. Want Hy alleen weet. En Hy alleen is God.