Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Lukas 15: 1 -7 Dit is een van drie gelykenisse oor hoe God is. En ons ontdek God is regtig anders as wat die Fariseers en Skrifgeleerdes gedink het. Natuurlik gaan iets verlore in al drie hierdie gelykenisse. Kom ons kyk na die eerste een. Een dag was daar ‘n skaap. Hierdie skaap was nie eintlik ‘n moeilikheidmaker nie. En al was hy, sou dit ook nie ‘n verskil aan my storie gemaak het nie. Hierdie skaap het eintlik net, so ingetrek geraak met die lekker gras. Hy is van hierdie pol na daardie een wat selfs nog groener en sappiger gelyk het. En so het hy al verder gewei van die ander af.. Dalk was die stilte om hom vir hom lekker. Niks van die trop se onderlinge dinge en geite nie. Hierdie skaap was nes die ander 99 skape in sy kudde. Niks beter. Niks slegter. Op daardie dag was hy weer besig om die lekker gras te geniet. Hy sou jou nie, al wou hy ook, vir jou kon sê op watter oomblik hy stoksiel alleen en baie weerloos begin voel het nie. Hy het vir ‘n oomblik om hom gekyk, nie die ander skape gesien nie, maar die gras was lekker en hy het verder geeet. Kop omlaag besig om sy eie ding te doen. Dit was lekker. Wel, tot hierdie koue gevoel teen sy rugstring begin ontwikkel het. Dit was toe hy bewus geword het dis net te stil, toe het hy begin besef het hy is werklik alleen. Hy het verlate gevoel. Die trop was weg. Hoe kon hulle dit aan hom doen? Eers baie later sou hy besef dat die herder het bly roep en hy het niks gehoor nie. Die ander het die herder se stem gehoor en het getrou agter die herder aanbeweeg. Die Herder was op pad na die kraal. Sy kudde was, selfs vir daardie tyd, ‘n groot kudde en hy het hulp gehad. So staan hy en kyk na die skape en hy ken hulle elkeen se naam. Al 100 skape, wag, maar hier is net 99. Waar is Elias met sy een weglê horing? Hy kyk weer. Nee. Elias is nie hier nie. Hy roep een van die hulpe nader en sê vat die trop in. Ek moet hierdie skaap gaan soek. Die veld is groot, sê die hulp. Hoe gaan jy ooit daardie enetjie kry? Die herder is weg. Terug op sy spore. Orals waar hy weet ‘n skaap heen sal afdwaal agter gras of iets aanlokliks aan, kyk hy. Na ‘n lang soektog kry hy vir Elias. Bang en benoud en hard aan die blêr. Verlig en baie bly gaan die herder na sy skaap. So bly dat hy nie eers raas en skel nie, dis in elk geval nie sy manier nie, hy tel bloot die angstige skaap op sy skouers en dra hom terug. Soos hy terugstap dink hy aan ander wat al agter geraak het. Party het nie eers agtergekom dat hulle alleen agtergebly het en verlore geraak het nie. Maar hy het elkeen wat aan hom toevertrou is gekry en behou. Toe hulle weer terug is by die trop roep hy al die ander helpers byeen, en sommer die bure ook, en sê: wees saam met my bly. Ek het my skaap wat verlore was gevind. Jesus begin sy reaksie met die woorde, "watter een van julle". Dit klink asof die agterlaat van die nege en negentig skape die normale manier van doen was. Jesus beklemtoon die kosbaarheid en die waarde van die enkele mens wat dalk mag verlore raak. Ek sou baie graag vanoggend, wou kon sê, dat die ander 99 skape ook bly was oor die een wat verlore was en weer terug gevind is. Maar Jesus se gelykenis sê net daar sal groter blydskap in die hemel wees oor die een wat gevind is as oor die ander 99 wat nooit weg was nie. En ervaring het my geleer dat die ander 99 die verdwaalde een baie vuil sal uitkyk. My vraag vanoggend aan jou is: Oor wie gaan hierdie gelykenis? Ek meen, jy kan jouself op vele plekke sien. As deel van die 99. Of as die een wat verlore was en toe deur die Herder gesoek en gevind en gered is. Ons kan die vriende en bure wees van vers 6 wat gevra word om saam met die Herder bly te wees. Of ons kan soos die Fariseërs en die skrifgeleerdes wees wat ‘n probleem het met Jesus oor wie Hy mee meng, of wil red. Jesus maak dit persoonlik. Sê nou net een van julle. ... Sê nou net dis een van jou skape, sal jy dit net afskryf of sal jy gaan soek? Daarmee saam: Ons is tegelyk skaap en herder. Jesus het ons uitgestuur om te help soek. Om vir die wat afgedwaal het, te gaan sê, jy mis uit op die beter wat God vir jou bied. Jesus sê indirek daar waar jy op jou eie jou ding doen, verdiep in jou wêreldjie, gaan die wolwe jou kry, en daarom kom soek Hy na jou. Die gelykenis is ongelooflik skerp. Dit word by die regte adres afgelewer ook. By die Fariseers en skrifgeleerdes wat die leiding moes neem om tot seën van al die mense te moes wees. Die Here het al in Genesis vir Abraham gesê deur hom sal al die nasies geseën word. Maar hulle het dit vir hulself gehou. Hulle het reels gemaak hieroor. Vir mekaar gesê jy moet nie eers ‘n sondaar se skaduwee op jou laat val as jy dit kan verhelp nie. En baie van hulle het na ‘n oggend op die markplein, die vuil wat dalk op hulle geval het van die stof van sondaars se voete af, gaan afwas. In hierdie deel gaan dit oor hulle wat beswaar maak oor die mense met wie Jesus meng. Die tollenaars en sondaars het almal die gewoonte gehad om na Jesus te kom luister. Ek sou gedink het dit is ‘n goeie ding. Hulle gaan die pad na God terug vind. Maar vir die Fariseers en skrifgeleerdes was dit die mense wat buite die tempel gebly het en dan gaan staan Jesus nog en eet saam met hulle. Vir die fariseers was dit: Hoe kan Hy! Hulle ingesteldheid is verkeerd. Hulle sluit uit. God sluit in. Jesus is die goeie Herder. Hy gaan soek en vind en bring terug. En Hy doen dit in liefde en met liefde. Daar is dae wat ek dink die grootste verskil tussen fariseers en skrifgeleerdes, en van vandag se gelowiges, is liefde. En as ons nie liefde leef nie en nie stukkende eenkant mense lief het nie, dan is ons net dit: Fariseers en skrifgeleerdes. En ek praat nie net van dominies en pastore nie. Vers 3: Toe vertel Jesus vir hulle hierdie gelykenis …”. Kom ek maak dit duideliker: Toe vertel Jesus vir hulle hoe God is. Dit is die punt wat Jesus wil maak met die gelykenis. Dit is hoe God is. Soos hierdie herder. Hy gaan soek tot Hy jou gevind het. Van die begin af was God die goeie Herder. Van die begin af het Hy mense kom roep en haal. Jesus het mens gekom juis om na die verlorenes te kom soek en haal. Dit is wie God is. Hy gaan soek en haal. Hy skryf nie sommer net af of ignoreer of gooi sommer net weg nie. Sy liefde laat dit nie toe nie. Terwyl daar nog tyd is, is dit wat God doen, Hy kom soek die afgedwaaldes. Hy gee hulle kans om gered te word. Hierdie is een van drie gelykenisse wat Jesus vertel het en wat Lukas vir ons rug teen rug kom gee. In al drie raak iets verlore. ‘n Skaap, ‘n muntstuk en ‘n seun. Eers is dit een uit 99 skape wat wegraak. Dan is dit een uit 10 muntstukke wat wegraak. En die laaste is een van twee seuns. Eers is dit wyd: die veld is groot. Dan kleiner, beperk tot die vrou se huis en laastens is dit die seun wat terug kom in die hart van sy pa. Elkeen het ‘n eie klem. Maar elke keer is daar groot blydskap. Fees word gevier. Die getal honderd kan ook simbolies verstaan word. ‘n Mens kan dit sien as die volle getal van God se kinders. As een weg is, is die getal nie meer vol nie. Daarom soek God die een wat nie daar is nie. God soek. Dit laat ‘n mens radikaal anders dink oor jou eie bekering. En bekering in die algemeen. Die prentjie wat Jesus van God teken, is totaal anders as dit wat die Fariseërs ooit oor God gehad het. Jesus beklemtoon dat God regtig na elke sondaar kom soek. God sit nie en wag totdat hulle na Hom kom nie. God bly klop aan mense se harte. Daar is vreugde in die hemel saam met die engele voor God oor een sondaar wat "gevind" word. God soek die verlore mens. Dit behoort vir ons te sê dat ons wat nou God se kinders is, Sy voorbeeld moet volg en self ook uitkyk en gaan soek vir mense wat weg geraak het. Daar is ‘n swaarte in my hart as ek wonder oor die 99 se reaksie op die een skaap wat weg was. En as ek dink aan die oudste broer se harde koue reaksie, nee, bitter reaksie op sy broer se terug koms, dan raak ek benoud en bid dat ons tog nie so sal reageer nie. Want dan is die verlore een sommer klaar weer weg. Hoekom het die skaap verlore geraak? Ek lees dat Howard Thurman, hy is reeds in 1981 oorlede geskryf het: Hier is nie swaar teologie nie. Niks moeiliks om te verstaan nie. Jesus sê daar was ‘n skaap. Toe hulle by die kraal kom sien die herder een is afwesig. En hy het die skaap gaan soek en gevind en op sy skouer terug gedra. En toe sê Jesus: Dit is hoe God is. En die een skaap? Hy was maar nes die ander. Niks beter of slegter nie. Het maar net koers verloor. Die herder uit die oog en oor verloor. En toe is dit so: hy is weg. Verlore. As jy al ooit gewonder het oor gemeente wees, oor hoekom sit God ons in ‘n gemeente, dan hoop ek hierdie gelykenis van Jesus sê vir jou iets. Ek moet iets sê oor die woordjie “beswaar gemaak”. Die Fariseers en die skrifgeleerdes het beswaar gemaak oor al die sondaars wat om Jesus saamgekom het. Ons moet die oproep tot bekering hoor. Ons moet hoor dat as ons dit moeilik maak vir mense wat verlore is, om gevind te word, dan trek ons ’n streep deur God se genade vir die wat verlore geraak het. Maar ook ‘n streep deur die genade van God vir ons. Ons moet nie mense uitsluit of afkraak net omdat hulle anders as ons sondig nie. Want wie hier is sonder sonde? Die enigste verskil is dat ons deur God gevind en in liefde terug gedra is na God se kudde. Daarom die vraag aan die Fariseërs en skrifgeleerdes: Wat was vir hulle die belangrikste – die nood van ander of die bewaring van dié wat reeds gevind is? Wie is vir jou die belangrikste? Die wat reeds gered is? Of die een wat nog verlore is? Wie hierdie gelykenis lees, moet weet: Dis ‘n oproep tot bekering. Dis ‘n pleidooi dat God my weer moet kom haal. Terug in Sy kudde in. Vir ons is dit ander dinge om van te bekeer: van die eie ek, kritiek op ander, beterweterigheid, onsensitiwiteit, neersien op ander. Dit is ‘n moeilike bekering. Lees maar in die derde storie hoe die oudste broer aan sy eie bitterheid gesluk het oor sy verlore broer weer terug is. Daar is mense wat ons dalk eerder in die hel sal wil sien as op die Here se skouers terug na die kudde gebring word. Ons moet dit erken en bely. Dis ons pad terug.