Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
2 Korinthiers 5: 16 – 20 Wat maak ons vanoggend hier? Hou ons kerk? Nee. Ons is die kerk. So wat maak ons dan hier? Ons vier die versoening. Hoekom? Want die versoening is groter as ons self. Want dit wat God kom doen het is vêr buite menslike verstaan en so aangrypend en ingrypend vir my lewe dat ek nie anders wil as om hier te wees om saam met ander versoendes God te vier. En ja ons vier ook ons nuwe begin. Ons vier die nuwe lewe wat God uit die gemors van ons bestaan kom skep het. Ons vier tweede en derde en duisendste nuwe kanse. En ek wil dit nie alleen by die huis vier nie. Ek wil dit tussen die ander kinders van God vier. Saam met hulle want God het ook vir my ingesluit in sy genade. God sluit nie uit nie. God sluit ons in. So hoekom sal ek myself dan nou wil uitsluit van iets wat God my ingesluit het? 1. Versoen. Die Versoening is die goeie nuus dat God mense wat vêr van Hom af geleef het, Hom self gehaat het of net misken het, nader trek in liefde en vrede bring tussen Hom en hulle, tussen God en ons. Die versoening is die goeie nuus dat God nie meer mense oordeel en vernietig op grond van wat hulle doen of verdien nie. Nee. In Jesus het Hy die wereld met Homself versoen. In Romeine 5 skryf Paulus: Daar is nou vrede tussen God en ons. Die versoening is hoe dit gekom het dat God ons tot Sy kinders kon aanneem en ons toevou in Sy liefde. Die versoening is hoe dit gekom het dat die Heilige Gees nou in jou en my woon en ons lei op baie van voluit lewe. Die vrede, die versoening, dis alles Jesus se werk. Hy wat al jou foute en sondes vat, en myne, en in ons plek aan die kruis gaan sterf. Christus wat geen sonde gehad het maar deur God soos ‘n sondaar hanteer is in ons plek sodat ons deur ons eenheid met Christus vry gespreek kan word. Deur ons eenheid met Christus. Kan ek jou so beskryf? Een met Christus. So naby, so nuut in Christus dat ons ander dit kan sien? Ja ek kan. Deur die genade van Jesus wat ons vandag hier vier. 2. Wees. Ek kan nie met oortuiging oor iets praat as ek nie self eers met passie vir dit gevul is nie. Wees jy self eers die genade! Ons moet self die lewe in oorvloed leef wat Jesus gee, voor ons vir mense kan vertel van die lewe in oorvloed in Jesus. Ons moet self gelykvormig word aan die beeld van Christus voor ons werklik ander na Christus sal kan trek. Verskoon my Engels maar “You have to walk your talk”. Martin Laird vertel van ‘n jong man wat priester in ‘n klooster wou word. Hy vertel hoe die man hard geleer het aan die teologie en dinge verwant aan kloosterliefde. En toe hy dink hy is gereed en is deur al die kursusse toe gaan sien hy die hoof priester. Die man het hom ondervra en uitgeluister en diplomaties voorgestel, wat is jou haas. Jy het mos tyd aan jou kant. Wag nog ‘n rukkie. Drie keer of so het dit gebeur. Toe soek die jong man hulp by die skoenmaker. Die skoenmaker vra hom toe: Wie is jy? Vertel my wie jy is? En die jong man vertel sy geskiedenis en sy behoefte om priester te word en en sy prestasies en en en. Weer vra die skoenmaker hom: Ek hoor jou, maar wie is jy? Soos die gesprek en die stilword voor God verloop het, het die jong man besef dat wat die skoenmaker gesê het, is waar. Hy is nie al die goed wat hy vir die skoenmaker oor homself vertel het nie. Dit is soos klere wat jy kan uittrek. Hy is ‘n kind van God. ‘n Geliefde kind van God. Hy is iemand wat in genade leef en in God se liefde leef. En toe dit insak in hom, het alles verander en Christus het almeer uit hom gestraal. Die skoenmaker se volgende vraag was: Wie is Jesus? Die hoof van die klooster het dit ook gevra en toe in die jong man se oë gesien, hy ken Jesus werklik. Hy is deur God versoen. Ek vertel die storie, op my manier, nie net omdat dit my diep geraak het nie. Maar omdat ek en jy nie bedienaars van die versoening kan wees solank ons ons ou klere bly dra nie. Ons moet alles wat ons aan vasklou wat ons dink ons identiteit gee, laat gaan en die een groot waarheid oor ons lewens aanvaar en omhels en verbete aan dit vashou. Kom ek lees daardie waarheid in Paulus se woorde: 17 Iemand wat aan Christus behoort, is 'n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. 2 Korinthiërs 5:17 Wie is jy? Jy is ‘n nuwe mens. God het dit gedoen. God het jou nuut gemaak. Dit is wie ons is. Nuwe mense. Die oue is verby. Ons kon die oue in Christus uittrek en weggooi. God het dit gedoen. Nou is ons bedienaars van die versoening. As versoendes is ons ook nou die wat die versoening wat God bied na ander mense neem. Jy is ‘n bedienaar van die versoening. Dit is wat Paulus so mooi uitspel hier. Hy vertel hoe hulle nou anders is. Hy self, wat eers anti Jesus was, is nou pro-Jesus en jy kon dit hoor en sien. Paulus het selfs die littekens gehad van wat hy in Jesus se Naam oorgekom het. Paulus praat van hoe hulle na hul bekering radikaal anders was. Hoe hulle van te vore dalk nog mense volgens menslike maatstawwe gemeet het, maar nou nie meer. Ook oor Christus dink hy nou radikaal anders. En dan deel hy hierdie wonderlike nuus: Ons is nou anders. Dit is so mooi, laat ek dit hier op die bord gaan sit: “17 Iemand wat aan Christus behoort, is 'n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.” Wat ons vandag onder andere vier, en ek hoop jy besef dit, is … dat maak nie saak wat in jou verlede is nie, watter seerkry, of watter selfverwyte of foute, God vergewe jou en maak jou nuut. Jy kan wegstap van jou ou-menswees, van jou verlede. Vandag kan jy dit nog agter jou sit vir ewig. Jy kan nuut en vry en vars uitstap in Christus. Jy kan ‘n totale nuwe en heel mens wees. God doen dit. En God doen net kwaliteit werk. God het ons met Homself versoen deur Jesus Christus. God vat dit dan verder. Hy vat mense met die slegste CV vir die taak, en Hy stel ons aan. Ons ganse verlede skree uit: Net nie daardie een nie. Here hy / sy gaan jou in die steek laat. Maar God weet Hy het ons nuut gemaak. Hy gee aan jou en my die wonderlikste voorreg om as Sy gesante te mag optree. God vertrou aan jou en my toe die bediening van versoening hier in Deneysville en omstreke. Dit is wie ons is: Mense wat met God versoen is. En dit is wat ons leef: versoening. Ons vertel die hoe aan wie ookal wil hoor: Jesus Christus red jou! Hy maak jou werklik vry! Paulus skryf: “Die boodskap van die versoening het Hy aan ons toevertrou.”(v 19c) Jy is die Almagtige God se gesant. Besef jy wat God jou gun! Paulus skryf in Romeine 10: 15 “Hoe wonderlike klink die voetstappe van die wat die goeie boodskap bring.” (Ook in Jes 52: 7) Wat ‘n voorreg. As ons nie inkoop op wie ons ten diepste nou is nie, gaan hierdie roeping ons onderkry en ons gaan wil terugdeins en opgee en weer ons ou klere gaan aantrek om net weer in te kan pas in die wêreld. Die hartseer sal ook wees dat Iemand gaan uitmis op die wonderlik as jy swyg, of toegee aan jou vrese of selfgesentreerdheid. God het die uitdeel van Sy versoening in jou geplaas. Hy vertrou jou daarmee. Daarvoor het Hy jou ook Sy Heilige Gees gegee. 3. Onthou net: God doen dit. Die God wat jou ou klere uitgetrek het vir jou en vir jou herskep het tot Sy kind, ‘n geliefde kind, is ook die God wat deur die Heilige Gees in ons werk en ons help om die versoening te gaan bedien. Die vrede, die versoening, dis alles Jesus se werk. Daar is ‘n dringendheid in Paulus se taalgebruik. Kyk maar na die woord “smeek”. Dit is vir ons om by mense te gaan smeek: Aanvaar die versoening wat God jou bied. Moenie nou jou rug op God draai nie. Aanvaar die versoening wat God jou bied. Aanvaar God se liefde. “14 Die liefde van Christus dring ons, omdat ons tot die insig gekom het dat een vir almal gesterwe het, en dit beteken dat almal gesterwe het. 15 En Hy het vir almal gesterwe, sodat dié wat lewe, nie meer vir hulleself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en uit die dood opgewek is.” Ek hoop die liefde van Christus klop ook so sterk in jou are en lewe dat jy nie anders wil as om te gaan vertel en te gaan wys wat Hy in jou lewe gedoen het. Ek sluit: 2 Kor 6: 1 “1 As medewerkers van God doen ons 'n beroep op julle om te sorg dat julle die genade van God nie tevergeefs ontvang het nie.”