Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Jeremia 1: 4 – 10 Dit was so met Abraham (Gen 12). Dit was so met Moses (Eks 3). En ook met Samuel (1 Sam 3) en Jesaja (Jes 6). En in hierdie deel is dit so met Jeremia. En na Jeremia was dit so met Esegiel en so kan ons aanhou tot hier by jou en my. God knoop ‘n gesprek aan. En hierdie gesprek maak so ‘n indruk op jou dat jy jou lewe in lyn daarmee leef. Dit word meer male die koers wat jou lewe in gaan. God knoop ‘n gesprek aan met Abraham. En Abraham trek uit Ur van die Galdiers uit na ‘n land wat God hom nog sou wys. God praat met Moses by ‘n bos wat nie wou uitbrand nie, en Moses moet weer terug Egipte toe om die volk uit te lei. Elkeen se padjie is uniek. Elkeen, so geskep, nommerpas vir dit wat God van ons verwag. Jeremia vertel ons nie hoe sy gesprek met die Almagtige plaas gevind het nie. Soos jy die eerste hoofstuk lees kom jy agter dat sy sintuie deel was, sy ore, sy mond en sy oë. Al wat Jeremia vir ons sê is: “Die woord van die Here het tot my gekom.” Ek het besef, vandag kan so ‘n dag wees. Ek het gebid dat jy sal luister, want God se woord kom vandag na ons. Maar kom ons praat eers oor Jeremia. 1. God roep Jeremia. Dit is baie duidelik. Wat my betref is dit die maak en breek frase vandag. God roep. God se woord kom tot ….. ons. Uit dit, breek voort hierdie wonderlike perspektief op ons lewens. En ons moet dit nie mis nie. Ons begin, ons ontstaan, is iets besonders. Kom ek wys jou: God het hierdie prentjie van ‘n mens wat Hy Jeremia noem. En dan skep die Almagtige hierdie Jeremia volgens die prentjie wat God in Sy gedagtes gehad het. En eers hierna, hoor jy van gevorm in die moederskoot en toegewy wees. 5 Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; voordat jy gebore is, het Ek jou aan My gewy en jou as profeet vir die nasies aangestel. Jeremia 1:5 So beweeg God vir Jeremia vanaf jong priester na profeet. En Hy motiveer die jonge Jeremia met vier werkwoorde: geken, gevorm, gewy (geheilig) en aangestel (gegee/gekies). God roep nie Jeremia en gee hom ‘n opdrag, ‘n roeping, en los hom dan op sy eie nie. Die Here God bly met Jeremia besig. Bly in hom en deur hom werk. 2. Hoe het ons hier beland? Jeremia vra eintlik die vraag: Hoe het ons hier beland? Hoe het dit gekom dat ons as volk so vêr van God af opgeeindig het? Vir myself lê die antwoord in daardie vier woorde waarmee God vir Jeremia motiveer. Dit lê in: geken, gevorm, gewy (geheilig) en aangestel (gegee/gekies). Kom ek gebruik ‘n beeld: Iemand kan jou aanstel as die gesig vir hul maatskappy. Die skakelbeampte of woordvoerder van hulle besigheid. Jy kan met ‘n getekende aanstelling sit maar as jy nie opdaag nie, nie die koers verandering maak nie, beteken dit niks. Ons sit met ‘n aanstelling van God af. Selfs vanuit die Nuwe Testament is hierdie woorde tot vandag toe nog geldig: geken, gevorm, gewy (geheilig) en aangestel (gegee/gekies). Dit is alles dinge wat God doen. Gekontrakteer en geteken in die kruis en die opstanding en in jou doop. … Maar … as jy nie opdaag nie … Ons ken nie, of dalk het ons dit vergeet, die grootsheid wat in ons voorgeboorte storie al reeds ingebed is. God het ons geken nog voor ons storie in die moederskoot begin. In Efesiërs 1; 3 en verder: 3 Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy het ons in Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is. 4 So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees. 5 In sy liefde het Hy ons, volgens sy genadige beskikking, toe ook al daarvoor bestem om deur Jesus Christus sy kinders te wees. 6 Daarom moet ons God prys … Efesiërs 1:3-6 Kyk die roeping. Kyk waar begin jou pad met God. Nog voordat die wêreld geskep is. Sien raak, ons is van vroeg af bestem om God se kinders te wees. Dit word opgevolg met ‘n “daarom …”. ‘n Reaksie op ons roeping, ons uitverkiesing, word veronderstel. As ons nie die ruimte vir God skep om ons te vorm, en te heilig (deur die bloed van Sy Seun), en daarom getrou die keuse maak om toegewy aan God te leef, te leef as mense wat aangestel is om Sy getuies, Sy verteenwoordiger, Sy beeld te wees nie … gaan jy iewers vra: Hoe het ons hier beland? As indiwidu. As land. As wêreld. Hoe het ons hier beland? Ons het die geken wees en ons kindskap van die Almagtige, laat los. Ons het dit wat op die die “daarom …” volg, weg gevat. Geignoreer. En toe alles oor onsself gemaak. Toe Jeremia gebore is het die Assieriers se mag begin afloop en nuwe magte het opgekom. Daar was ook die opkoms van Egipte. Jeremia was ‘n seun van ‘n priester. En hyself was ook ‘n jong priester. Hy het geleef in ‘n tyd van politieke onsekerheid en, nader aan die huis, was gesinne wat verbrokkel en uitmekaar breek algemeen. Sedelike waardes het afgeneem. Moreel was hulle arm. Finansieel het dit sleg gegaan. Jeremia het nie net gevra hoe hanteer ons die probleme nie. Hy het gevra hoe het ons hier beland? Die antwoord wat Jeremia reg deur die boek gee is: • God sê die volk vertrou Hom nie meer nie! Hoekom? Hulle het hulle vertroue gestel in hulp en ooreenkomste met Egipte. Hulle vertrou op vals profete wat oorwinnings belowe het vir Juda ( Gananja vs Jeremia). • God sê hulle is aan Hom ontrou! God se verhouding met Sy volk word beskryf as n huwelik. En hulle was ontrou. • Hulle het nie meer respek vir God nie. Hulle sê die dinge wat God sê sal nie gebeur nie. Klink dit bekend? Vandag is nie veel anders nie. Nie veel het verander wat betref mense se ingesteldhede op die lewe nie. Ons kan vanoggend besig wees met hoe hanteer ons al hierdie dinge van vandag. Of ons kan vra, hoe het ons hier gekom? En dan ons fokus op God plaas. En op God se roeping vir ons elkeen. Wat ek bid sal lei tot ‘n gesprek van God se kant af met elkeen van ons. Ek gaan nie in op al Jeremia se verskonings nie. Ek gaan net dit sê, soos met Moses se verskonings, so met Jeremia, so ook met jou en my, verskonings werk nie by die Here nie. Hy vee verskonings summier van die tafel af. En as jy daaroor dink, met die Almagtige by jou, wie het nog verskonings nodig. En God verseker ons dit: Hy is by ons. Kyk wat doen die Here met die jonge Jeremia. Die Here raak sy mond aan, dié mond wat nie goed kan praat nie. Op hierdie manier kom staan die Here by Jeremia en maak seker dat God se gesag deur Jeremia se woorde sal skyn. 3. God het jou geroep. God roep mense. Sommer van die heel begin af. Regdeur die Bybel. En vandag nog steeds. Of jy dit wil weet of nie: Jy is geroep deur God. In die algemeen is ons roeping: Om as beeld van God te leef. Om God te verteenwoordig. Genesis 1. En in Romeine 8 is ons geroep om gelykvormig te word aan die beeld van Sy Seun. Ons is geroep om sout vir die aarde te wees, maw dit wat keer dat alles nie vrot word nie en dit wat smaak gee. En om lig te wees. Om lig te wees is om nie toe te gee aan ons sondige natuur nie. Al die goed gebeur nie want ons het ons roeping op die agtergrond geskuif. Geignoreer. Ons moet leer om van onsself weg te kyk en God raak te sien. Ons moet optree met die vertroue dat God wat ons roep, ons ook dit gee wat ons nodig het om ons roeping te leef. Of moet ek eerder sê: God bemagtig ons om te doen wat Hy ons gee om te doen. Die Here verseker Jeremia in vers 8 dat hy - ongeag sy tekortkominge - nie bang moet wees vir die mense onder wie hy moet gaan profeteer nie. Die Here gee Jeremia sy versekering: "Ek is by jou om jou uit te haal, om jou te red." Jeremia sê: "[Die Here] het sy hand uitgesteek, my mond aangeraak en vir my gesê: Kyk! Ek het nou my woorde in jou mond gelê." Die Here se woorde in Jeremia se mond . . . nie sy eie nie. Weet jy, ons is dikwels te vol van onsself en ons eie kennis, om regtig na God te luister en God te volg. Baie keer is ons so gewortel in hoe dit nog altyd was, dat ons nie kan sien, dat God iets nuuts doen. Of so gevestig in ons ou gewoontes, dat ons ons juis nie van die oue wil bekeer nie. Teveel kere praat ons eie kennis en ons eie stem en ons eie ervaring so hard dat ons nie meer hoor hoedat God roep nie, dat ons nie meer sy stem kan hoor sodat dit Sy woorde is wat in ons mond gelê word nie, want ons is te gemaklik met ons eie woorde. Die Here herinner Jeremia hier dat hy bloot die mond, die spreekbuis moet wees, maar dat dit die Here se woorde moet wees wat gespreek word. Al was dit moeilike, harde woorde. Verstaan tog asb. God is ernstig oor roeping Ons teks sê tog duidelik, as die Here 'n mens eers geroep het, aanvaar Hy nie sommer nee vir 'n antwoord nie. Ons sien dit hier in Jeremia se roepingsverhaal. God onderstreep die erns van sy roeping. Vra vir Jona. Kyk wat het met hom gebeur oor hy van sy roeping probeer wegkom het. En nee, dis nie maklik om te leef of te doen nie. Maar een ding kan jy weet: God is by jou as jy jou rooeping leef. Dit sal goed wees as ons van ons kant af die gesprek met die Here ons God, begin. Ek wil regtig vra twv jouself en van jou kinders en kleinkinders wat nog ‘n toekoms in hierdie land moet hê, begin met God praat oor sy roeping vir jou. Vra Hom: Wat wil U hê moet ek doen? Hoe moet ek, Here, hierdie roeping wat U vir my het, uitleef? Dalk ook opgewonde raak oor wat sal gebeur as ek God se roeping vir my op elke plek en faset van my lewe uitleef. Hoe sal dit jou huwelik verbeter? Jou verhoudings met jou kinders? Ek is jammer, maar ek moet ook vra: Wat is jou verskonings, die redes wat jy aanbied hoekom jy nié gehoorsaam is nie?