Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
2 KONINGS 6: 1 – 7 (Teen die agtergrond van 4: 1 tot 8: 7). Dit is al ‘n hele paar weke wat Elisa se verhaal bly op kom by my. om oor te preek. Spesifiek rondom 2 Konings 6: 1 - 7. Wat my terug gehou het, en ek is eerlik hieroor, ek het nie geweet hoe om dit deur te trek na ons toe nie. Hoe bly ons getrou aan die teks, maar op ‘n manier waarop die teks in ons tuiskom asof dit met ons aan die gebeur is. Dit is ‘n groot opdrag. Ek besef die sleutel is dalk net in die ander wonderwerke wat die Here deur Elisa gedoen het. En dit is wat ons nou gaan doen. Daarom vra ek, gaan lees asb 2 Konings 4 tot 8 vers 6. Soos jy lees, kyk verby Elisa, en kyk in die omstandighede in, voel dit, ervaar dit so goed jy kan, en besef dan dat God vandag steeds die Onveranderlike is. Besef dat God steeds vandag aan die werk is al probeer mense Hom wegredeneer en afmaak. God is nie te ignoreer nie. God se hulp aan gewone mense kan nie gekeer word deur selfs regerings en konings nie. Ek wil dit waag om te sê dis net ons eie ongehoorsaamheid en kleingeloof, of selfs ongeloof, wat God laat terughou. Maar dan weer, in Christus Jesus sien ek genade op genade en God wat eerste uitreik en van Sy kant af eerste alles doen om ons te red. Tog is gehoorsaamheid en geloof groot in die Elisa verhaal. So groot dat Elisa kon sien die vernieting en wreedheid wat ‘n nuwe koning sou bring, en steeds gaan om die wreedaard as koning te salf, want God het gesê hy moet dit doen. Dit is gehoorsaamheid. Kom ons dink gou oor ons tye. Ek weet nie hoe jy na die toekoms kyk nie, of selfs na hoe jy na jou huidige omstandighede kyk nie. Die ekonome in die nuus hierdie week maak ‘n mens erg depressief. Wat ek wel weet is dat ons nie almal dieselfde dinge ewe positief beleef nie. Nie eers geloof nie. Ons kyk nie almal deur ‘n bril van geloof nie. Vir sommiges is geloof amper in hoofsaak, iets wat jy net met jou verstand deurdink. Vir ander is dit meer 'n emosionele belewing. Vir sommiges is dit net 'n saak vir die ewigheid. Raak nie veel my lewe elke dag nie. Dit, terwyl geloof elke dag anders wil inkleur. 1. Geen resep. Geen 5 stappe tot … Ek kon nie help om raak te lees dat daar ‘n hele paar keer wonderwerke gebeur, sonder dat ons lees Elisa het tot God gebid. In 2 Konings 2: 19 kla die inwoners oor die water by hul stad Jerigo. Jerigo wat vervloek was met die inval in die beloofde land in. Volgens die inwoners was die water giftig. Elisa sê toe hulle moet vir hom ‘n nuwe skottel bring met sout daarin. Hy het uitgegaan na die plek waar die water uitkom en die sout daarin gegooi met die woorde: “So sê die Here: Ek maak hierdie water bruikbaar sodat dit nie meer dood of onvrugbaarheid sal veroorsaak nie.” 2 Konings 2:21 By Mara het die Here die bitter water soet gemaak. Daar moes Moses ‘n spesifieke stuk hout wat die Here vir hom gewys het in die water gooi. En die water was soet. Ek hoor gehoorsaamheid. En ek onthou dat Moses in die moeilikheid by God gekom het omdat hy die rots geslaan het sodat daar water kon uitkom en nie net met die rots gepraat het soos die Here hom beveel het nie. In 2 Konings 3, op versoek van koning Josafat van Juda, na die konings teen Moab opgetrek het vir oorlog en toe in die woestyn sonder water vasgeval het, raadpleeg Elisa eers die Here volgens die manier van die profete van daardie tyd en sê toe wat die Here gaan doen. En die volgende more was daar water orals al het hulle geen wind of reën gesien nie. God het voorsien. Geen resep. Geen reëls. Net verhouding met die Here. En vertroue en gehoorsaamheid. So ook met die weduwee van ‘n profeet wat kom hulp soek het. 2 Konings 4. Dit is asof Elisa net weet wat gedoen moes word. Hy vra haar wat het sy in haar huis? Niks nie. Net ‘n erdekannetjie olie. Elisa stuur haar om soveel leë kruike te gaan leen as wat sy kan en dit agter geslote deure te vul uit haar erdekannetjie olie. God vat die bietjie wat sy het en maak dit baie. God doen dit nie Elisa nie. Dit is asof Elisa net weet wat God sal doen. Soos ‘n mens lees besef jy die Here is met Elisa. So ook met die giftige bredie wat eetbaar word. En die geleende byl wat in die water val. 2. God is daar vir gewone mense. Klein onbenullige mensies. Dink oor van die mense wat deur die Here gehelp is. Die weduwee van ‘n profeet wat deur skuldeisers uit haar huis gesit sou word. God het haar gehelp. Die man wat ‘n byl geleen het om te help om hout te gaan kap vir ‘n groter plek om in onderrig te ontvang. Toe val die geleende byl in die water. Elisa het gvra waar die byl ingeval het. Toe kap hy ‘n stuk hout af en gooi dit in die water en die byl het gedryf. Die man is in die verhaal so onbelangrik dat sy naam nie eers genoem word nie. Net dat hy ‘n byl geleën het. As jy so voel, gesigloos, naamloos amper tussen al die mense om jou, hoor dan vanoggend: Die God van Elia en Elisa, die God van ook ons, sien jou raak en ken jou krisis. En as jy om jou rondsoek vir ‘n Elia of ‘n Elisa, dink aan die woorde in Jakobus 5: Elia was ‘n mens netsoos ons. En hy het gebid en … dan volg dit wat God gedoen het. ‘n Gewone mens soos ek en jy. Was Jesus self nie ook baie duidelik oor Sy Heilige Gees wat in elkeen wat glo sal woon nie? Yster kan op water dryf. God wil in jou werk. Dink oor 2 Koning 4: 42. Daar lees ons hoe ‘n man, geen naam, ons weet net hy kom uit Baal-Salisa, en hy bring 20 garsbrode vir Elisa. Elisa het gesê: “Gee dit vir die mense om te eet.” 43 Maar sy slaaf het beswaar gemaak: “Hoe kan ek die bietjie kos aan 'n honderd man voorsit?” Maar Elisa het weer gesê: “Gee dit vir die mense om te eet, want so sê die Here: Hulle sal eet en nog oorhou.” 44 Die slaaf het dit vir hulle voorgesit. Hulle het geëet en oorgehou, net soos die Here gesê het. 2 Konings 4:42-44 Moet nie vaskyk teen mense nie. Leer om dinge te sien soos die Here dit sien. Bid dat Hy ons oë sal oopmaak en ons sal laat anders kyk. 20 Garsbrode vir 100 mense? Geen probleem vir die Here. Miskien lê die sleutel vir ons verder in hoofstuk 6. 15 Die môre vroeg het die slaaf van die man van God opgestaan, en toe hy uitgaan, sien hy 'n leër rondom die stad, met perde en strydwaens. “Ag, Meneer!” sê die slaaf vir Elisa, “wat gaan ons nou maak?” 16 Hy het geantwoord: “Moenie bang wees nie, dié wat by ons is, is meer as wat hulle is.” 17 Elisa het gebid: “Here, maak tog sy oë oop dat hy kan sien.” Die Here het die oë van die slaaf oopgemaak, en hy het gesien: die berge rondom Elisa was vol perde en strydwaens van vuur. 18 Toe die Arameërs op hom afstorm, het Elisa tot die Here gebid: “Slaan tog hierdie mense met blindheid!” Die Here het hulle met blindheid geslaan net soos Elisa gevra het. 2 Kings 6:15-18 Here, maak tog ons oë oop sodat ook ons kan sien. 3. Bid werk. As jy net verder lees in hoofstuk 6, net verby die byl wat dryf episode, dan ontdek jy dat alles anders is as wat die gewone oog kan sien. Gaan lees dit asb. Ek het net tevore ‘n kort aanhaling gegee. Ook hierdie keer is die verskil tussen Elisa en Elisa se slaaf, geloof. Geloof wat Elisa meer laat sien as wat ander sien. Die koning van die Arameërs stuur ‘n sterk mag met ruiters, strydwaens en meer om Elisa te gaan vang, waar Elisa in die dorpie Dotan bly. Toe Elisa hulle wakker word is die dorp omring van die vyand. Ek gaan dit kort hou. Hier word drie keer in hierdie gedeelte gebid. Al drie gebede is hiper kort. Nie een van die gebede gaan regtig oor die probleem of omstandighede as sulks nie. Hier word nie gebid dat die vyand moet weggaan of vir uitkoms nie. Net: dat die slaaf kan sien. En toe die vyand storm: Dat hulle nie kan sien en later in die verhaal dan weer kan sien. Soos jy later ook hierdie deel lees, kyk uit vir wie het die mag. Want die een wat jy dink het die mag, is die een wat jy gaan glo, nie waar? Eers het die koning van Aram die mag. Die Israelietiese koning moet net heeltyd vlug. Later het die koning van Israel die mag as die soldate van Aram as blinde krygsgevangenes in Samaria aankom. Hy het hulle weerloos in sy hande. En eintlik het niemand die mag nie, behalwe God want die koning van Israel mag nie die krygsgevangenes leed aandoen nie. In teendeel: hy moet aan hulle goed doen. Hy moet hulle kos gee, 'n fees gee, en weer vrylaat. Op die end sien die koning van Aram dinge anders want hy trek weg en los Israel in vrede. God is betrokke in ons lewens. Sien jy dit? Nie? Bid dan tot die Here om jou te wys. En nee, Job het nooit ‘n antwoord gekry nie maar sy storie het omgekeer en verbeter. Sien raak dat God steeds by Sy kinders is. En jy is deur geloof in Jesus ‘n kind van God. Ek is seker dat as Jesus jou en my oë oopmaak ons verbaas sal wees oor Wie by ons is. Ons is nie so alleen soos dit dalk vir jou voel nie. Ons storie, ons situasie definitief nie so hopeloos soos wat dit van buite af lyk nie. Onthou Jesus se woorde in Johannes 14: 1 Glo in God. Glo ook in My.”