Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Markus 11: 20 – 25 Ons praat geloof vanoggend. Prakties. Die doop is ook ‘n daad van geloof. En ons moet ons kinders leer om te glo. Ongelukkig het “om te glo” ‘n afgewaterde begrip geraak. Teveel mens glo in Jesus maar hulle glo nie vir Jesus nie. Kom ons vat die dissipels. Die vorige dag, dis kort voor daardie paasfees waar Jesus gekruisig sou word, het Jesus ‘n vyeboom vervloek. Nou is Jesus met sy dissipels oppad in die stad in, tempel toe. En Petrus maak die opmerking: (Vers 21): “Rabbi, kyk, die vyeboom wat U vervloek het, is verdroog.” ‘n Mens wil sê, nou maar Petrus wat het jy verwag? Die Here het dit dan vervloek. Maar dan bedink jy jouself as jy Jesus se antwoord sien. Want die antwoord sê eintlik Petrus, jy of enige van die ander wat glo, sou dit kon gedoen het. Nou draai almal se oë na my en jou. Ons glo mos, nie waar? Kyk mooi na vers 22: “22 Jesus sê toe vir hulle: “Julle moet geloof in God hê!” Jesus sê nog meer, maar ek wil dat ons eers net hierdie eerste sin absorbeer. Ons eie maak. “Julle moet geloof in God hê!” Geloof het ‘n gerigtheid. Geloof tap in op ‘n Bron ... (ek sê dit met groot omsigtigheid.) Nie ek of jy nie, maar God is die een met die vermoee om te kan doen. Net God kan sulke dinge doen. Ons moet absoluut oortuig hiervan wees. Hierdie is nie volmag om te doen net wat en soos jy wil nie. God is die een in mag en ek en jy is diegene wat moet vrugte dra. Ek en jy is op die heel meeste net arbeiders in God se wingerd. Maar sou God dit wil en ons vertrou Hom dan sou ons vir ‘n berg kon sê lig jou op en gaan val in die see, en dit sal gebeur. Jesus gebruik die term “en nie in julle hart twyfel nie maar glo dat wat jy sê sal gebeur, dan sal dit gebeur”. En Jesus brei dit uit. Jy moet so seker wees dat jy daarmee saam al vir God begin dankie sê vir die verwagte uitkoms. Dankie sê is nie een van die stappe wat ek moet gebruik om te kry waarvoor ek bid nie. Om God te dank vir die waarvoor jy sopas te bid is om eintlik te sê ek glo absoluut onwrikbaar dat dit U wil is en U dit so sal laat geskied. Ons het ‘n rukkie terug gepaat oor die gesprek by die muur. Oor Hiskia se vertroue in God en sy draai na God toe, al het alles gewys die hef is in die vyand se hand. Hiskia se vertroue in God, sy geloof in God, het die deurslag gegee. Nie Hiskia nie, maar God, het koning Sanherib van Assirie na sy eie land terug laat gaan, waar hy vermoor is, soos God dit vooruit gesê het. Onthou jy dit nog? Hebreers 11 is vol geloofs voorbeelde. En vol van mense wat gesterf het omdat hulle geweier het om hul geloof in God prys te gee. Geloof is die bakhand waarmee ons God se genade ontvang. En geloof is ons reaksie op God. Ek wil die preek hier onderbreek. Ek het gesê ons gaan prakties raak. Ek weet wat die slim mense sê: Dis post covid. Mense leef aanlyn. Moenie dink jy kan terug gaan na die ou manier van kerk wees nie. Wat hulle sê is eredienste gaan leeg loop. Of so iets. Vanoggend doop ons, so hier is meer mense as gewoonlik. Maar kyk die leë stoele. Ek het al in ‘n diens gesê ek glo God kan die stoele vul. Ek het daarna in gebed gestoei hiermee. Ek het die gebedsgroep gevra om te bid vir ‘n erediensbywoning van 200 plus mense gemiddeld per erediens. Die kerkraad is ook gevra. Hier is my punt: Hoeveel stoele is in die kerk? Verstaan asb hierdie is nie ‘n “stunt” wat ek trek nie. Ek is opreg hierin. Ek het Dinsdag ekstra stoele ingedra. Daar is nou, die moederskamer uitgesluit, 240 stoele hier. Want wat se geloof is dit om te bid vir 200 plus mense per erediens en ek maak nie seker dat hier genoeg stoele is vir hulle om op te sit soos God hulle inbring nie. Hier is nou meer as die 200 stoele want God gee meer as wat ons vra. Soos ek die stoele ingedra het het Handelinge by my opgekom en hoe die Heilige Gees mense by die gemeente gevoeg het. Omtrent 3000; en daarna daagliks nog meer en meer. Ons het te min stoele. Kom ons gaan sit dit nou teen hierdie deel. 22 Jesus sê toe vir hulle: “Julle moet geloof in God hê! 23 Dit verseker Ek julle: Elkeen wat vir hierdie berg sê: ‘Lig jou op en val in die see,’ en daarby nie in sy hart twyfel nie, maar glo dat wat hy sê, gebeur, vir hom sal dit gebeur. 24 Daarom sê Ek vir julle: Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit al ontvang het, en dit sal vir julle so wees. 25 “En wanneer julle staan om te bid, en julle het iets teen iemand, vergewe hom; dan sal julle Vader wat in die hemel is, julle ook julle oortredings vergewe.” Mark 11:22-25 In Johannes 14 tot 16 sê Jesus ‘n hele paar keer, en ek bedoel, ‘n stuk of 5 keer, dat wat julle die Vader ook al in My Naam sal bid, sal Hy vir julle gee. Die woorde verskil maar dit kom elke keer op dieselfde neer. Die sleutel is in Jesus se Naam. Nee, nie in ‘n formule soos, in Jesus Naam vra ek dit, maar in die sin van wat ek vra is iets wat Jesus sou vra. Wat ons voor bid gaan oor die koninkryk en oor ons opdrag van die Here af. Hier is nog iets belangriks. Iets wat vir Jesus baie na aan die hart lê. Ek praat van die vergewe deel. As ek vers 25 so bekyk moet ek die vergewe deel al uitgesorteer het nog voor ek kom bid. In die bergrede het Jesus gepraat van as jy op pad is om ‘n gawe na die altaar van God te bring, volgens die Ou Testament verbond, en jy onthou iemand het iets teen jou, dan moet jy jou gawe neersit en eers gaan reg maak. Op baie plekke, as Jesus oor gebed praat, dan praat Hy ook oor vergewe. Sonder vergewe is daar nie maklik gebedsverhoring nie. Vergewe is belangrik. Dit is die agterkant van die muntstuk van liefde. En liefde is die kern van wat God wil sien in jou lewe. Liefde en vergifnis kan nie losgemaak word van mekaar nie. Laat dit by jou insak: Dit is vir Jesus belangrik. Dit is wat Hy kom doen het: Liefhê en vergewe. In terme van ons beeld van ‘n vyeboom wat moes vrugte aan gehad het, as Jesus in ons lewens krap opsoek na vrugte, gaan Hy kyk of jy soos Hy vergewe. In daardie deel in Handelinge waar die Heilige Gees elke dag mense by die gemeente gevoeg het, lees jy ook van hoe die gemeente mense verras het met hoe hulle geleef het. Hulle onderlinge liefde. Hulle toeweiding aan God in gebed en in samekomste, hoe hulle hul toegelê het op die leer van die apostels. Ons lewens trek mense na God, of dit dryf hulle weg van God af. Daars hoop hier. Petrus het vasgekyk in die verkeerde goed. Petrus was verstom oor hoe gou die boom dood is. Asof hy nie verwag het die boom gaan dooi nie. En ook nie so gou verdor nie. En dan leer Jesus hulle oor die grondbeginsels van geloof en van gebed. Dieselfde grondbeginsels wat jou en my help om deur die Heilige Gees, vrug te dra. Dink aan die bekende deel van Jesus as die wingerdstok, en ons die lote. Daar sê die Here dat as ons nie vrug dra nie sal die Vader ons afsnoei. Vers 4: “Julle moet in My bly en Ek in julle. 'n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as hy nie aan die wingerdstok bly nie; en so julle ook nie as julle nie in My bly nie.” (Joh 15: 4) In Markus word daar nie gepraat van “in Jesus bly” nie maar van geloof in God. En dan maak Hy dit van toepassing op gebed ook ... wie bid moet glo dat hy dit al ontvang het. Petrus kon nie sy oë glo toe hy sien die boom het verdroog nie. Jesus se reaksie was: Glo in God. So eenvoudig: Glo in God. Dan met ‘n hiperbool verduidelik Hy presies wat geloof doen: Dat selfs die onmoontlike, die ondenkbare kan gebeur vir die wat glo. Daarom het ek ekstra stoele ingedra. Wat help dit ons bid vir 200 plus mense maar ons kry nie ekstra sitplekke gereed nie? Kom ons sluit met ‘n oefeningtjie. Kom ons ruil vir ‘n oomblik plekke. Nou is ek en jy, ons as gemeente, die vyeboom langs die pad. Ons staan daar met ons lewens, en dus ons geloof, soos dit nou is. Wat gaan Jesus doen of sê na Hy by ons kom vrugte soek het? Vra jouself af: Sal God in jou lewe nou vind wat Hy daar soek? Glo ons enigsins nog?