Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Hosea 6: 1- 6 (lees vanaf 5:15) Dit hoef nie te gebeur het nie. Die ballingskap hoef nie te gebeur het nie. Hosea 7: 1 “1 Terwyl Ek die lot van my volk wil verander, terwyl Ek bereid is om Israel te herstel, kom die oortreding van Efraim en die sonde van Samaria aan die lig. Hulle belieg mekaar, hulle breek in en steel, hulle beroof mekaar op straat. 2 Hulle dink nie eens daaraan dat Ek al hulle sonde ken nie. Nou het hulle optrede hulle ingehaal, dit lê oop en bloot voor My. Israel se geskiedenis kon heel anders verloop het. Dit was nie nodig om hul huise en grond te verloor nie. Dit was nie nodig dat hulle soos slawe weg gevoer moes word na ‘n vreemde ver land nie. Dit was nie nodig om alles waarvoor hulle so hard in hulle lewens gewerk het en opgebou het, vernietig te sien nie. Die ballingskap hoef nie te gebeur het nie. Die lewe kan ander uitkomste hê, ook vir jou en my. God wil mense se lot verander. En dit is nie leë praatjies soos die van politici nie. God wil Sy mense se lot verander. Israel se probleem was dat hulle verhouding met die Here oppervlakkig was. Tipies van 'n wats-in-dit-vir-my manier van leef. Of, 'n leefstyl wat kyk waarmee jy kan weg kom. Of selfs, hoe-min-hoef-ek-te-doen om moeilikheid te vermy. Hulle was verbruikers van God. Dit is moontlik dat die agtergrond vir wat Hosea hier moes sê, die groot boete was wat Israel na die Siro -Efraimietiese oorlog moes betaal. ‘n Mens hoor soms mense sê: “wat gaan dit my kos om die probleem te laat weg gaan?”. Wel, dit is wat Israel hier doen. Hulle betaal en maak die regte geluide om uit die moeilikheid uit te kom. Miskien het vandag se mense ‘n meer verfynde weergawe: Mense draai na die Here om hulle probleem te laat weggaan. Skielik is God hulle alles, en as die krisis verby is, dan word geloof weer weg gepak en God word ‘n kennis van hulle. Die probleem is dat hierdie manier van leef dieper gegaan het as net die politiek van hul tyd. Israel het dit met die Here ook probeer doen. Hulle reaksie op God wys dit mooi uit. Die Here het vir hulle gesê: (5:15) 15 Ek gaan My in my woonplek terugtrek totdat hulle hulle skuld bely en vra na my wil. In hulle nood sal hulle my hulp kom vra. Hosea 5:15 Wat sê die Here? Hy sê Hy gaan Hom onttrek van hulle. Hy weet hulle gaan as dinge erg skeefloop kom hulp vra. Daar is ‘n totdat in die versie (5:15) ‘n Voorwaarde. Tot hulle hulle skuld bely en na God se wil vra. Die bedoeling met vra is nie om navraag te doen nie, maar om te vra met die doel om dit te leef. Totdat hulle vra met die begeerte om God se wil te leef. Die mense se reaksie is op die oog af baie mooi. Ek lees dit vir ons: 1 “Kom ons gaan terug na die Here, want Hý het ons verskeur maar sal ons weer gesond maak, Hý het ons geslaan maar sal weer ons wonde verbind. 2 Hy sal ons na twee dae 'n nuwe lewe laat begin. Hy sal ons op die derde dag weer krag gee sodat ons in sy teenwoordigheid kan leef. 3 Kom ons wy ons aan Hom toe, kom ons streef daarna om ons aan die Here toe te wy. Die Here sal verskyn, so seker as die son opkom, Hy sal na ons toe kom soos stortreën, Hy sal ons verkwik soos lentereëns die grond verkwik.” Hosea 6:1-3 Maar as jy verder lees dan kom jy agter dit is meer iets soos: “Okay, as dit is wat dit ons gaan kos om die probleem op te los, kom ons gaan dan terug na die Here. Hy sal ons na twee dae 'n nuwe lewe laat begin.” Oppervlakkig. Met die bedoeling om God te paai? Of dalk net om die moeilikheid oor en verby te kry. Dan kan hulle gouer terug gaan na hulle ou dinge toe. Israel sê al die regte dinge om te kry wat hulle wil hê. En hulle doen sekere dinge, ek neem aan dinge wat hulle pas, reg. Die probleem is net: Dit werk nie met God nie. Hy sien alles raak. Hy kyk dwarsdeur hulle. Hy ken hulle binnekante. Kyk na vers 4. God vra: “Wat moet ek met jou doen, Efraim? Wat moet ek met jou doen, Juda? Julle liefde is soos 'n môrewolkie: dit verdwyn so vinnig soos dou.” Ons kan mense dalk nog flous. Ons kan onsself flous. Maar nie vir God nie. God weet alles. Hy weet as jou liefde vir Hom soos die mis op ‘n vroegoggend is. Netnou as dinge aangenamer is, dan is jou liefde vir God weg. Die Here sê hier iets wat elke mens kop toe moet vat. Hy sê Hy verwag liefde en toewyding. Soos jy verder lees besef jy God verwag dit nie net op Sondae of in ‘n 5 minute oggend stil word nie. God wil jou liefde en toeweiding ervaar reg deur die dag. God is orals en orals wil Hy sien hoe ons leef volgens Sy wil. In Hosea lees ons oor Israel se swak gedrag. Hoe hulle lieg (7:1) en roof (7:1) en inbreek en selfs moor (6:9). Dit sluit die priesters in. Daardie samelewing het so siek geword dat die manne wat die voorbeeld moes stel, die priesters, die voorbokke in kwaaddoen was. Hierdie keer is dit God wat dit uit wys. Die oplossing vir so ‘n samelewing is nie om dit in ander raak te sien en uit te wys nie. Maar vir elkeen wat dit sien, om te bekeer en hart en siel in liefde met God te leef. Ons moet soos Moses doen toe die volk in verset gekom het. Hy het vir hulle by God ingetreë. Hy het gepleit dat God hulle nie moet vernietig nie. Het hulle dit verdien? Nee. Hulle het verdien om uitgewis te word. Maar Moses bid en bely om hulle onthalwe. Nehemia (1: 6, 7) doen dit ook. Paulus skryf in sy briewe bid vir die leiers. Dit is veilig om te sê dat God graag wil hê dat ons eerlik oor ons eie sondes en gebreke moet wees. En dit ook te bely teenoor Hom. Maar ook dat ons namens ons land se mense sondes bely en by God pleit om genade. Ons moet meer intreë by God vir ons gemeenskappe en land. So vra iemand, maar wat as ons deel van die probleem is? Sê nou net ons het 'n aandeel? Nee, dalk nie skuldig aan al die lelik wat die koerante haal nie, maar wat van liefdeloos met geen gevoel vir iemand anders nie. Wat van al die lelik wat ons ander kan toesnou. Is ons regtig so onberispelik en skoon voor God? Kom ek ilustreer dit: In my kampe dae met die weermag het ek gedrag en taalgebruik gesien en gehoor wat ek doodseker was dat daardie manne nooit by hulle huise sou leef nie. Ek het gedink hulle vroue sal hulle nie nou aan hulle gedrag kon herken nie. Dis waarvan ek hier praat. Mense skep boksies vir hulle lewens en die boksies hou hulle weg van mekaar. So is iemand vandag by die erediens. More by die werk. Dinsdag dalk gou in die winkels. Saterdag by die rugby en dan weer in die verkeer. En nie op al die plekke tree hulle 100 persent dieselfde op nie. Jy weet natuurlik dat al hierdie plekke verband hou met mekaar? En dat ons by al die plekke God se wil moet leef? Dat ons liefde vir God, en God se liefde vir ons, by al daardie plekke deur ander raakgesien kan word. Jy het nie ‘n geestelike lewe en ook ‘n fisiese lewe nie. Jy het een lewe en dit is of deur die Gees van God deurdrenk of deur die wêreld. Dit is waaraan ons meer moet aandag gee. Dat ons ten alle tye geloof uitstraal en dit self ook lewe. Ten alle tye Jesus sigbaar maak deur hoe ons is en leef. Die Here het dit teen Israel se oppervlakkige aanbidding. In hoofstuk 1 en 2 beskryf Hy hulle as 'n los vrou. Selfs 'n prostituut. Vandag is hulle ewe liefies die goeie huisvrou wat tog so getrou is aan haar man ... maar haar man is nog skaars by die spreekwoordelike deur uit dan is sy 'n kat van 'n ander kleur. Niks getrouheid nie. Net los. Ek dink die Here vra vandag dat ons met Hom moet praat oor hoe Hy wil hê ons gedrag moet wees by die werk en by die winkels en in die verkeer, ag orals. Hoe wil die Here hê moet ons Sy lig orals ewe helder laat skyn. Hosea help ons om dieper te kyk. Om die hart van God raak te sien. Hy help ons om te besef dat dit vir God om ander dinge gaan as wat vir mense belangrik is. God “spel” sukses anders as ons. Vir God gaan dit oor om Hom werklik te ken. Om te honger daarna om God nog meer en beter te kan ken. Eerstehands self te ken. Om so deurdrenk van Sy liefde te wees dat ons hele lewe in liefde vir Hom geleef word. Ons doen nou alles asof vir die Here. Ek het hierdie week vir ‘n engelsprekende dame gesê dit gaan oor “awareness”. Bewus wees. Bewus wees dat God ten alle tye by jou is. Bewus dat jy nou alles saam met die Here doen. Hosea begin waar God sy verhouding met Sy volk met die verhouding tussen 'n man en vrou vergelyk. As jy lief is vir God dan wil jy als van Hom weet wat jy kan. Dan is jy gretig om te leer waarvan hou God en waarvan nie. En wat maak Hom bly en wat nie. Want jy het Hom lief. Dit is hoe ‘n mens met God saamleef. Hosea 2:15: “Dié dag, sê die Here, sal jy vir My sê: “My man,” en My nie meer as 'n Baäl beskou nie.” God wil nie hê jy moet na Hom kyk as Iemand by wie jy iets kan kry nie. Maar eerder as Iemand vir Wie jy onvoorwaardelik lief het. Vir so iemand is jy altyd dieselfde en altyd ewe lief. Orals het jy Hom ewe lief en is jy ewe getrou aan Hom. Orals is Sy belange jou belange. Want jy is toegewyd aan Hom. Jy het Hom lief. Ek het begin met “dinge kon anders gewees het.” Ek het aan die hand van Hosea se woorde vir ons gewys hoe om met die Almagtige saam te leef. Nou is dit vir ons om te ontdek net hoe anders kan ons lewens in Hom wees. Ons lewens kan anders wees. Gebed.