Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
2 SAMUEL 5: 17 – 25 Die boek “Harte op papier”, saamgestel deur Marianne Hatting, het vir my ‘n ware verhaal uit ons “tyd” uit gegee om vanoggend se boodskap te help verduidelik. Dit is die storie van ‘n ma wat anoniem skryf. Sy begin met haar graad een juffrou. Juffrou Christine was betrokke by kunswedstryde en skoolkonserte. Sy het altyd met die konsertoefeninge gesê: “Julle moet nou smile, want as julle dit nie inoefen nie, gaan julle verseker op die groot aand, met die ligte en baie mense voor julle, nie onthou om wel te smile nie – so smile!” Sy skryf hoe hierdie sinnetjie haar bygeval en bygedra het in die hantering van “my seerste, mees vreesaanjaendste … oomblik in haar lewe. Ek wil haar aanhaal; (bl 43) “Indien jy nie in 'n persoonlike verhouding met die Skepper van die heelal staan nie; indien jy nie Sy Woord en Waarhede najaag nie en indien jy nie oortuig is van die kragtige werking van die Heilige Gees in jou daaglikse lewe nie, daar 'n kans is dat jy op die “groot aand” wanneer jou sewejarige dogtertjie stukkie-vir -stukkie haar seerkry onthul, jy nie gaan onthou wie jou Skepper en Helper is nie, jy gaan vergeet, jy gaan vergeet om die Heilige Gees toe te laat om jou te herinner …” (ek stop die aanhaling daar). “Jy gaan op die “groot aand” vergeet om te smile!” En dan vertel hierdie ma van haar sewejarige dogterjie “se blootstelling aan perversiteit, molestering en manipulasie. Sy vertel nog iets: Hoe God hulle gedra het. Hoe God vir haar woorde gegee het. Hoe God haar kind herstel het. Ek gebruik hierdie anonieme mamma se woorde om vanoggend se boodskap, om 2 Samuel 5: 17 tot 25, te illustreer met iemand van ons tyd. Ek gaan iets wys uit Dawid se lewe. En in ons lewe. En iets wat jy in Jesus se voorbeeld sien. As jy nie elke dag dit inoefen om met God te gesels en te luister nie, dan gaan op die groot dag wat jy 'n antwoord by God dringend nodig het, gaan jy niks hoor nie. Ons praat oor hoe om saam met God te lewe. Ek glo nie hier sit iemand vandag wat nog nooit God se leiding op die een of ander manier beleef het nie. Jy het dalk getwyfel, of dalk nie dadelik besef dit kon die Here wees wat met my gepraat het nie. Maar as jy terug gekyk het, het jy besef, dit was die Here. En ja, ons almal het dit al verkeerd gehad ook. Ek weet ek klink soos ‘n plaat wat vashaak, maar ek gaan dit weer sê: Dit gaan oor 'n verhouding met God. 'n Verhouding wat oor tyd gebou word. Dis soos die smile in ons storie wat die kinders moes inoefen ... ons gaan nie in die groot en moeilike oomblikke as alles raas en onstuimig is, skielik God se antwoorde vind nie. En soms leef jy naby die Here, maar dan kom daar ‘n oomblik of ‘n dag wat jy niks hoor en doof is. Bedoelende, jy wil nie weet nie. Kyk maar na Elia. Elia het in een so 'n oomblik gevlug voor Isebel en in die woestyn gaan lê om dood te gaan. En ek wonder of hy toe nie God kon beleef nie? Maar later in die stil aandbriesie het hy God se stem gehoor. Dawid. 'n Mens sou kon sê ... Dawid het die gewoonte gehad om vir God te vra, wat moet ek nou volgende doen. 'n Mens lees dit in die begin van die tweede Samuel boek raak. Kyk 'n bietjie na hierdie stukkie dialoog in 2:1: Dawid: “Moet ek na 'n stad in Juda toe gaan?” Die Here: “Ja, gaan!” Dawid: “Na watter plek toe moet ek gaan?” Die Here: “Na Hebron toe.” Dawid beplan die pad vorentoe. Hy het kort tevore gehoor Saul is dood. Die druk is af. Wegvlug vir Saul is nie meer nodig nie. Nou vra hy die Here hoe vorentoe. Kom ons kyk verder. 2 Sam 5: 19 ev Dawid: “Moet ek teen die Filistyne opruk? Sal U hulle in my mag oorgee?” Die Here: “Ja, trek op, want Ek gee hulle beslis aan jou oor.” Dawid: (Het weer die Here geraadpleeg.) Die Here: “Moenie optrek nie. Draai na hulle agterhoede toe en val hulle aan regoor die melkbosse. Wanneer jy 'n geritsel in die toppe van die melkbosse hoor, moet jy blitsvinnig aanval, want dan trek die Here voor jou uit om die kamp van die Filistyne te tref.” Dawid het gemaak soos die Here gesê het ... (5: 25) Wat sien u? Dawid vra en die Here antwoord hom. Die Here gee nie twee keer dieselfde raad nie. Dit het gewerk want Dawid het op die Here gewag en presies gedoen soos die Here gesê het. Iemand het iewers geskryf dat ons eers die geveg sal begin, en dan as dit moeilik begin gaan, sal ons bid. Of ons sal bid maar wat ons eintlik voor bid is nie vir leiding nie maar dat die Here ons planne sal maak werk. Ons bid soos toe ons raad by ons ouers gevra het maar eintlik klaar besluit gehad het wat ons gaan doen. 'n Mens moet met 'n oop gemoed, sonder eie planne en idees by God sit en vra: Hoe vorentoe? En iewers op die een of ander manier gaan jy antwoorde kry. Hetsy in iets wat iemand sê, of in 'n sekerheid wat in jou tuismaak; of in hoe omstandighede beweeg. Of in ... En soms is daar net stilte. En jy maak onder druk jou keuses na goeddunke en in die lig van wat jy uit God se Woord weet. En selfs as jy dit verkeerd kry sal God jou nie verlaat nie. 'n Mens leer gou God werk nie met 'n resep nie. Kom ek illustreer. Die eerste stad in die beloofde land wat Israel moes inneem, was Jerigo. Hoe het hulle dit gedoen? Hulle moes om die stad stap. Op die sewende dag moes hulle in stilte stap .... En toe val die mure in en hulle kon die stad in neem. Hoe het hulle die ander stede ingeneem? Nie op dieselfde manier nie. Hulle moes hard veg en hard werk. Ek wens hier het gestaan presies hoe het Dawid die Here se antwoorde gehoor. Die Here het met Moses gepraat soos 'n man met sy vriend. Maar hoe het die Here met Dawid gepraat? Ek weet nie. Ek weet wel dit was nie elke dag se gebeure nie. Want dan het hy dalk nie met die Filistyne saamgewerk en stil stil dorpies uitgewis nie. En anders sou Dawid nie die affere met Batseba aangevang het nie. Toe het hy skynbaar sy oog van die Here afgeneem. En ek vermoed dat in tye wanneer ons ook maar ons eie ding doen en nie op God gefokus is en nie ernstig probeer om Sy lig te leef nie, gaan ons ook niks hoor nie. Gaan God vir ons veraf voel. Ons moet tog nooit vergeet hoe dit met ‘n verhouding gaan. 'n Verhouding bou jy soos 'n huis, stukkie vir stukkie. Geloof is netso. Jy bou geloof deur kennis van God en deur vertroue in God. En hoe beter jy God leer ken hoe meer vertrou jy Hom en hoe meer jy God vertrou hoe meer gevestig, of gewortel is jou geloof. 'n Verhouding bou jy gesprek vir gesprek en met ‘n konstante stroom van klein dingetjies vir mekaar gedoen. God het die mens geskep ... God het vir jou geskep omdat Hy tyd met jou wil deurbring en met jou kuier en saamleef. Miskien moet ek dit omdraai want dit klink beter: God het ons geskep sodat ons met Hom tyd kan deurbring en met Hom kuier. Genesis. Maar ons probeer dit verander in 'n formule, want as ek dit reg toe pas, dan kry ek wat ek wil hê. Wat ons nie wil erken nie is dat ons onbewustelik probeer om God aan ons kant te kry. God moet ons help. Vir ons gee. Dit werk andersom. Ons dien God. Ons is daar vir Sy plesier. Ons is die een wat deur Hom gebruik word. Ons moet luister na Hom. En as ek “niks hoor nie” dan is daar baie om te “hoor” in Sy Woord en dit is dan waarvolgens ons koers kies en leef. Dawid het naby aan die Here geleef. Hy het God geeer. Hy het God getrou gedien en aanbid. Hy het reg voor God probeer leef. Hy het nie die Here gebruik soos 'n sterre voorspel nie. Ook nie die Torah, die Bybel van sy tyd so misbruik nie. Daarom, bou jou verhouding met die Here. Lees die Bybel. Maak dit wat jy lees deel van jou lewe. En besef tog net, daar is geen plaasvervanger vir gehoorsaamheid aan die Here nie. Ons is bevoorreg om in baie opsigte reeds te weet wat God sê: Dis opgeteken. Oefen dit in soos daardie kinders hulle smile moes oefen. En as ek jou gemoedsrus kan gee: As jy na God roep sal Hy antwoord. Psalm 3: 5; 18:4, 7 om net enkeles te noem. In Dawid het ons die bewys hiervoor gelees. En ja, die teendeel is ook daar. In Jeremia 11: 11 sal hulle na God roep en God sal nie luister nie oor hulle sondes en leefstyl. Soos Blackaby en King skryf: Nog elke persoon in die Bybel wat iets groots moes doen het geweet wat God sê en dat dit God is wat dit sê en wat hulle moes gaan doen het. Ek weet nog steeds nie hoe het Dawid God se stem gehoor nie. Ek weet wel Dawid het geweet dis die Here en hy het geweet wat hy moet gaan doen. En met God saam het hy die vyand oorwin. Wat ek wel weet is, Dawid vra die Here se insette. Dawid 'n gesoute vegter, met baie oorwinnings op sy kerfstok, wat eintlik goed weet hoe om oorlog te maak, gaan soek raad by God. En as ek so lees dan soek hy raad met die doel om dit uit te voer. Toegegee. Die Filistyne was 'n sterk groep as hulle so saamgestaan het en Dawid was nog 'n jong Koning. Maar Dawid het altyd deur na God geluister. En met die uitsondering wat hy nie geluister het nie het dit krissise in sy lewe veroorsaak. Dawid het aan God die eer en die erkenning bly gee. Die storie van ons anonieme mamma en haar dogtertjie. Smile, anders gaan jy op die groot aand vergeet om te smile. En net weer: “Indien jy nie in 'n persoonlike verhouding met die Skepper van die heelal staan nie; indien jy nie Sy Woord en Waarhede najaag nie en indien jy nie oortuig is van die kragtige werking van die Heilige Gees in jou daaglikse lewe nie, daar 'n kans is dat jy op die “groot aand” wanneer …” As jy nie 'n kind in die Vader se huis is nie waarheen en na wie gaan jy hardloop? As jy nie gewoond daaraan is om tyd met God te spandeer nie gaan jy nie in krisis tyd met Hom kan praat nie. En nog minder “hoor” wat Hy sê nie. Maak tyd om saam met die Here te lewe.